Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense het al etlike kilometer in die aardkors geboor en op geen hel afgekom nie. Beteken dit dat dit nie bestaan nie? Indien wel, waar is die hel dan? Reg aan die einde van ‘n Christuslose lewe.
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (8)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
GESLAAGDE TEGNIEKE OM BEWIND TE BEMAGTIG
"Aangesien hierdie heerskappy op geweld gebaseer is, en aangesien geweld onvermydelik opstand veroorsaak, is 'n tweede voorsorg wat die Kommuniste tref, om die potensiële leiers van 'n teenrevolusie te vernietig voordat so 'n revolusie kan plaasvind... Die Kommuniste het in China aan die bewind gekom agter die verleidelike beloftes van grondbesit en afskaffing van skuld."
Die Kommunistiese poging om die bewind te bemagtig deur die beheer van die vakbonde het nog nie vir die Kommuniste in enige land volkome oorwinning besorg nie. In die lande waar hulle wel hul heerskappy gevestig het, was die middele wat hulle gebruik het, heeltemal verskillend. In Rusland, China en Tsjeggo-Slowakye het hulle die mag in die hande gekry deur gebruik te maak van bedrog, hulleself met geweld ingewerk, en hul diktatorskap gehandhaaf deur hulpelose mense geheel en al te verslaaf.
Veral in China was die verowering 'n klassieke manifestasie van die vyf stappe van Kommunistiese verowering:
- Die verowering van studentegemoed;
- Die organisasie van studente in die Kommunistiese Party;
- Die wetenskaplike uitbuiting van 'n groep se eiebelang om daardie party tot populariteit en mag te voer;
- Revolusionêre verowering van bewind;
- Kommunistiese diktatorskap en algemene slawerny.
VERSTEWIGING VAN GESAG
Wanneer die Kommuniste eers eenmaal aan die bewind gekom het, of dit nou in Rusland, China, Tsjeggo-Slowakye of Amerika is, is die volgende stap die vestiging van die diktatorskap van die proletariaat. Lenin het dit beskryf as "die heerskappy – onbeteueld deur die wet en gebaseer op geweld – van die proletariaat oor die bourgeoisie, 'n heerskappy wat die simpatie en steun het van die werkende en uitgebuite massas". Hierdie heerskappy word teoreties uitgeoefen deur die proletariaat, of, met ander woorde, deur die swoegende massas van die volk. Maar aangesien die Kommunistiese Party homself beskou as die uitvoerende gesag van die proletariaat, word hierdie heerskappy in die praktyd deur die Kommunistiese Party uitgeoefen. Die definisie van die diktatorskap van die proletariaat is dus "die heerskappy – gebaseer op geweld en onbeteueld deur die wet – van die Kommunistiese Party oor alle ander mense." Aangesien hierdie heerskappy op geweld gebaseer is, is die eerste daad van die Kommunistiese gesag sonder uitsonder om die volk te ontwapen, soos in China gebeur het.
Aangesien hierdie heerskappy op geweld gebaseer is, en aangesien geweld onvermydelik opstand veroorsaak, is 'n tweede voorsorg wat die Kommuniste tref, om die potensiële leiers van 'n teenrevolusie te vernietig voordat so 'n revolusie kan plaasvind. Enige persoon met leierskapkwalifikasies wat nie aan Kommunistiese dissipline onderworpe is nie, word gearresteer en tereggestel. Of hy pro- of anti-Kommunis is, maak geen saak nie. As hy hoedanighede van leierskap besit waarvan gebruik gemaak kan word wanneer die volk ontwaak en verlang om 'n einde te maak aan die Kommunistiese heerskappy, is hy 'n gevaar en moet uit die weg geruim word.
Die diktatorskap van die proletariaat gaan gepaard met 'n monopolie van die kommunikasiemiddele in die hande van die Kommunistiese Party. Elke medium van massakommunikasie word oorgeneem. Elke nuusblad is 'n Kommunistiese nuusblad. Elke radiostasie, elke beeldradiokanaal, elke uitgewersmaatskappy, elke boek, elke tydskrif, elke skoolklas word volkome beheer deur die Kommunistiese Party.
Onder die diktatorskap van die proletariaat word 'n ekonomiese monopolie langsamerhand geskep waardeur die Kommunistiese Party die enigste werkgewer word. 'n Persoon het dus maar een keuse – hy werk vir die Kommunistiese Party waar hy aangesê word om te werk, of hy kom om van honger. Hy mag nie sy werk verlaat en 'n ander aanvaar nie want daar is maar een werkgewer – die Kommunistiese Party.
Nog 'n kenmerk van die diktatorskap van die proletariaat is die skepping van 'n uitgebreide interne netwerk van spioenasie. Hierdie spioenasiestelsel is geskoei op die patroon van die menslike liggaam. Die liggaam is saamgestel uit biljoene selle. Die liggaam beskerm homself teen die uitwendige magte wat hom bedreig, deur 'n uitgebreide groepering van spioene. Sekere selle word verklikkers. Fisiologies heet hulle sintuigreseptors en word aangetref in die vel, spiere en verskillende organe. Hierdie sintuigselle bespeur warmte, koue, pyn, en aanraking met ander voorwerpe. Met ander woorde, hulle versamel informasie in hulle omgewing en stuur dit na die brein. Die brein ontleed die berig en stuur bevele langs 'n ander senukanaal na die uitvoerende gesag, die spiere, waarop spierwerking plaasvind in verhouding tot die informasie wat deur daardie sintuigselle in die omgewing bespeur is. Die eenvoudige daad van die oë te knip om die sensitiewe oog teen 'n naderende vreemde voorwerp te beskerm, is 'n goeie vorobeeld van so 'n meganisme.
Die Kommunisme sien die Staat nie as 'n massa enkelinge nie maar as 'n organiese eenheid, 'n hoër vorm van bestaan. Net soos die liggaam sintuigreseptors het, so is daar dwarsdeur die Staat verklikkers wat informasie in hulle omgewing versamel en dit terugstuur na die sentrale senustelsel – die geheime polisie. Kinders word gebruik om op hulle ouers te spioeneer, vrouens op hulle mans, werknemers op hulle werkgewers, pastore op hulle gemeentes, gemeentelede op hulle pastore. Elke groep, klein of groot, het 'n aantal verklikkers in sy midde. Nie een van die verklikkers weet wie die ander is nie. As een van hulle iets sou aandra, en die ander nie, sou diegene wat versuim het om inligting oor te dra so ontdek word. So vloei daar 'n stroom van informasie van elke seksie van die gemeenskap terug na die sentrale gesag.
Met die bestaan van so 'n stelsel is dit onvermydelik dat 'n opstand wat hoegenaamd enige organisasie het, reeds by sy geboorte ontdek en sommer as babatjie onderdruk wou word.
In die dae van die Tsaar was 'n duisend man met stokke en klippe gewapen, sommer 'n gedugte mag. As revolusie in Siberië uitgebreek het, het dit drie maande geduur vir die tyding om Moskou te bereik, en ses maande vir die troepe om daar te kom en die opstand te demp. Danksy die moderne kommunikasiemiddele was die tyding binne sekondes in Moskou, en binne minute was 'n lugmagafdeling daar om die oproer te onderdruk. Die volk was hulpeloos teen masjiengewere en bomme. Die vraag is dikwels gestel: "Is dit waarskynlik dat die mense van Rusland sou rebeleer?" Natuurlik sou hulle. Maar die opstande was spasmodies en ongeorganiseerd, en hulle is sommer so terloops uitgewis.
Die stappe waardeur die diktatorskap van die proletariaat in China tot stand gekom het, toon die situasie baie duidelik. Die Kommuniste het in China aan die bewind gekom agter die verleidelike beloftes van grondbesit en afskaffing van skuld. Onmiddellik nadat hulle die bewind verower het, het hulle woord gehou; die landhere is uitgewis en hulle grond aan die kleinboere uitgedeel, terwyl alle skulde tegelykertyd gekanselleer is. Vir een kort tydjie het geluk en blydskap die land vervul. Die kleinboere het aan die werk gespring om die grond wat nou aan hulle behoort het, te bewerk.
Intussen het die Kommuniste hulle mag verstewig in afwagting van die dag wanneer hulle die grond van die kleinboere sou afneem. Hulle geweet dat daar teenstand sou kom en dat sulke teenstand leiers sou nodig hê. Hulle het die gemeenskap deurgekyk om potensiële leiers te ontdek. As hierdie mense nie aan die Kommunistiese dissipline onderworpe was nie, is hulle onder een of ander voorwendsel gearresteer en van kant gemaak.
Die Kommuniste het te werk gegaan om die volk volkome te ontwapen. Groot belonings is betaal aan diegene wat kon meedeel waar wapens weggesteek was, dan daar was 'n stormloop om verborge wapens in te lewer. Hulle het 'n stelsel van algemene spioenasie ingevoer waarin elkeen op elke ander een gespioeneer het. Dit het veral te doen gehad met die kinders, wat aangemoedig is om hulle eie ouers te bespied en te kom verslag lewer.
Vryheid van beweging is stopgesit en binnelandse paspoorte is ingevoer. Niemand kon van dorp tot dorp gaan sonder amptelike toestemming nie. En wanneer 'n besoeker by 'n dorp aangekom het, het dit hom nie vrygestaan om by vriende te gaan bly nie maar hy moes tuisgaan in 'n herberg wat deur die Kommuniste daarvoor aangewys is en wat hulle fyn dopgehou het. Hulle het vryheid van omgang stopgesit. Geen groep kon byeenkom nie behalwe onder amptelike Kommunistiese toesig en beheer.
Elke individu is gedwing om al die misdade wat hy gedurende sy hele lewe begaan het, skriftelik of mondeliks in besonderhede te bely met die name van alle persone wat daarin betrokke was. Dit het die Kommunistiese regering 'n ontsaglike skat van informasie verskaf wat teen enige individu gebruik kon word wanneer hulle wou.
'n Groot aanslag is gemaak op die kindergemoed. Die kinders is met hoogmoed vervul. Hulle liefde is van hulle ouers afgelei na die Staat. Hulle is met gewere bewapen en as wagte aangestel met die opdrag om grootmense tot halt te roep en, indien nodig, te skiet. Die skoolkinders is uitgeneem en die taak is aan hulle opgedra om al die winkels in die area te deursoek vir wapens en geld, en om alle grootmense in die area aan te spreek en te deursoek.
Die dag van massaverhore en teregstellings breek aan... vervolg