Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek moes eers alles van my nietigheid leer ken voor ek die grootheid van my Skepper kon begryp.
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (6)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
TEGNIEKE OM DIE BEWIND TE BEMAGTIG
"Die vervanging van die bourgeoisie-staat deur die proletariese staat is onmoontlik sonder 'n gewelddadige revolusie... daar bestaan geen twyfel nie: die revolusionêre diktatorskap van die proletariaat is geweld teen die bourgeoisie... 'n Revolusie is bepaald die mees outoritêre ding wat daar is; dit is die daad waardeur een seksie van die bevolking sy wil op die ander seksie afdwing deur middel van gewere, bajonette en kanonne – want... . Die doel van die revolusie is nie om die beheer oor die Staat te bemagtig nie maar om die Staat te vernietig ".
FILOSOFIE VAN GEWELD
Die kommuniste het beide teoretiese en praktiese tegnieke uitgewerk vir die bereiking van hulle doel van wêreldverowering. Een van hulle fundamentele teoretiese handboeke is Lenin se boek, Die Staat en die Revolusie, wat vandag die wêreld se mees vertaalde boek geword het.
Lenin was besig om die boek te skryf toe hy Switserland in 1917 verlaat en na Rusland teruggekeer het om die Kommunistiese bemagtiging van die bewind te organiseer. Die revolusie wat die Russiese Tsaar in Februarie 1917 tot 'n val gebring het, was geen Kommunistiese revolusie nie maar 'n spontane massa-opstand deur die verskillende groepe mense gesteun. Toe die egte revolusie plaasgevind het, is 'n politieke amnestie verklaar. Daarop het Bolsjewiste en revolusionêre wat deur die wêreld heen verstrooi was, na Petrograd teruggestroom. Stalin het uit sy ballingskap in Siberië teruggekeer om die redakteurskap van die Kommunistiese Party se blad, Prawda, op hom te neem. Trotski het uit Nieu-Skotland gekom, en Lenin van Genève, Switserland, waar sy pen 'n vloedgolf van leesstof uitgestort het om burgeroorlog in Rusland aan te moedig. By sy aankoms in Petrograd het Lenin die revolusionêre werkers meegedeel dat hy gekom het om Rusland te verower en te regeer. Sy aanspraak het heelwat verbasing gewek, veral in die geledere van die ortodokse Marxiste. Daar moet onthou word dat die Bolsjewiste waarvan Lenin die leier was, maar 'n klein partytjie was van sowat twintigduisend lede. Toe Lenin se Marxistiese kritici hierdie aanspraak verneem, het hulle gesê: "Vaarwel, Lenin die Marxis; welkom, Lenin die anargis!"
Nietemin het Lenin die onmoontlike gedoen. Binne ses maande het hy met 'n klein bende getroue volgelinge die wettige vrugte van die revolusie gesteel, die werkers van Rusland verraai, en die grootste tirannie en diktatorskap wat die wêreld ooit geken het, tot stand gebring. Die Staat en die Revolusie wat hy destyds geskryf het, word nog steeds as 'n fundamentele teoretiese handboek beskou. Daarin sit hy uiteen hoe die Kommuniste die bewind binne-in die Staat moet bemagtig, en wat hulle moet doen wanneer hulle eenmaal aan die bewind is.
Lenin konsentreer hier op die noodsaaklikheid van geweld. Hy beskou regering as die instrument waarmee die heersende klas die onderworpe klas beheer en uitbuit. Alle regering is klasregering, en die instellings van 'n staat soos die wetgewende, uitvoerende, regterlike magte, die polisiemag en die opvoedkundige inrigtings, is almal die instrumente van die heersende klas om die onderworpe klas uit te buit. Volgens Lenin se stelling was die regerings van Amerika en Europa bourgeoisie-regerings wat net bestaan het om die volk uit te buit. Hierdie regerings kon alleen deur geweld en bloedvergieting omvergewerp word. (Hier is die ANC in 2012 'n uitstekende voorbeel d van die bourgeoisie en sal die proletariaat – die swart massas – in afsienbare tyd met groot geweld die staat omver probeer werp).
Vir Lenin moes mag en geweld nie maar net 'n reaksie wees teen die mag en geweld wat die Kapitaliste gebruik het nie. Vir hom was geweld 'n instrument van positiewe doelstelling en hy was absoluut sonder enige verontskuldigende houding ten opsigte van die gebruik daarvan. Hy verklaar nadruklik dat geweld essensieel is vir hulle doel: "Die vervanging van die bourgeoisie-staat deur die proletariese staat is onmoontlik sonder 'n gewelddadige revolusie."
Waar hy dit sê, gaan Lenin verder as sy mentor, Karl Marx. Marx het die moontlikheid van 'n bloedlose revolusie in Engeland en Amerika toegegee. Marx het beweer dat, aangesien die burokrasie in hierdie lande nie tot dieselfde mate ontwikkel het as in ander Europese lande nie, en aangesien die polisie- en militêre mag van hierdie state nie so groot was nie, daar die moontlikheid bestaan het van 'n vreedsame oorgang na Sosialisme. Lenin het beweer dat daardie toestande nie meer van toepassing was nie. In Europa en Engeland en Amerika moes die revolusie wat die oorgang van die bourgeoisie-staat na die proletariese staat moes bewerkstellig, gewelddadig wees. Daar kon geen sprake van 'n vreedsame, suksesvolle revolusie wees nie.
Een van die bepaalde misdade waaroor Lenin vir Karl Kautski, die leidende Marxistiese teoretikus van die Tweede Internasionale, meedoënloos gekasty het, was die feit dat hy gedurig vasgeklem het aan die moontlikheid van 'n vreedsame oorgang na Sosialisme in Engeland en Amerika, soos deur Marx erken. In sy tirade, Die Proletariese Revolusie en die Renegaat Kautski, skryf Lenin:
"En dan, was daar in die sewentiger jare enigiets wat Engeland en Amerika uitsonderlik gemaak het ten opsigte van die dinge wat ons besig is om te bepreek? Dit sal vir almal wat enigsins bekend is met die vereistes van die wetenskap met betrekking tot die probleme van die geskiedenis, duidelik wees dat die vraag gestel moet word. Om te versuim om dit te stel is dieselfde as om die wetenskap te vervals, om met drogredenering vorendag te kom. En as die vraag gestel is, kan daar geen twyfel bestaan omtrent die antwoord nie: die revolusionêre diktatorskap van die proletariaat is geweld teen die bourgeoisie; en die noodsaaklikheid van sulke geweld word insonderheid geskep, soos Marx en Engels dit herhaaldelik in besonderhede verduidelik het, deur die bestaan van 'n militêre kliek en 'n burokrasie. Maar dit is presies hierdie instellings wat presies in Engeland en Amerika en presies in die sewentigerjare, toe Marx sy waarnemings gedoen het, nie bestaan het nie. Vandag bestaan hulle wel in Engeland en Amerika."
Die Kommunis se houding ten opsigte van geweld word dikwels verkeerd verstaan. Selfs die teenstanders van die Kommunisme meen dat die Kommuniste nie noodwendig geweld wil hê nie, dat hulle geweld alleen gebruik omdat die uitbuitende klas hulle aanvaarding van die bewind weerstaan. Dit was nooit die opvatting van die Kommunistiese leiers, veral van Lenin en Engels, nie. Kautski, wat die reputasie gehad het dat hy al die werke van Marx van buite geleer het, is skerp deur Lenin aangeval weens sy loue houding ten opsigte van geweld. Kautski se houding was dat dit mag nodig word om geweld te gebruik, maar as dit moes gebeur, sou dit te betreur wees, want geweldpleging was sleg en het diegene wat hulle toevlug daarheen neem, bederf. In antwoord daarop het Lenin aangehaal uit Engels se boek, Anti Dühring:
"...Daardie geweld speel egter ook 'n ander rol (behalwe van 'n duiwelse mag) in die geskiedenis, 'n revolusionêre rol. Dit is, in die woorde van Marx, die vroedvrou van elke ou samelewing wat swanger gaan met 'n nuwe; dit is die instrument met die hulp waarvan maatskaplike voortgang sy weg deurforseer en die dooie, versteende politieke vorme verbrysel. Hiervan is daar geen woord in Herr Dühring nie. Dit is alleen met sugte en steune dat hy toegee dat geweld miskien mag nodig wees vir die omverwerping van die ekonomiese stelsel van uitbuiting – ongelukkig, omdat alle gebruikmaking van geweld dan kwansuis die persoon wat daarvan gebruik maak, demoraliseer. En dit ten spyte van die geweldige morele en geestelike stoot wat elke suksesvolle revolusie gegee het! En dit in Duitsland, waar 'n gewelddadige botsing – wat inderdaad op die volk afgedwing kan word – ten minste die voordeel sou hê dat dit die onderworpenheid wat die nasionale bewussyn deurtrek het as gevolg van die vernedering van die Dertigjarige Oorlog, sou uitwis. En hierdie dominee se gedagtegang – leweloos, laf en magteloos – eis die reg op om die weg aan te wys vir die mees revolusionêre party wat die geskiedenis ooit geken het."
Lenin was 'n entoesiastiese voorstander van geweld. Sy revolusie moes geen vreedsame oorgang wees nie. Dit is moontlik om die genoeë aan te voel waarmee hy Engels se leer oor hierdie onderwerp verkondig het:
"Het hierdie here (die anti-outoritêre mense) ooit 'n revolusie gesien? 'n Revolusie is bepaald die mees outoritêre ding wat daar is; dit is die daad waardeur een seksie van die bevolking sy wil op die ander seksie afdwing deur middel van gewere, bajonette en kanonne – outoritêre middele, as daar ooit so iets is. En as die seëvierende party nie tevergeefs wil geveg het nie, moet hy sy heerskappy handhaaf deur middel van die skrik wat sy wapens sy teensstanders inboesem. Sou die Paryse Kommune een enkele dag stand gehou het as dit nie gebruik gemaak het van hierdie gesag van die gewapende bevolking teen die bourgeoisie nie?Inteendeel, moet ons dit nie die verwyt toeslinger dat dit nie 'n ruimer gebruik van die gesag gemaak het nie?"
DOEL VAN GEWELDDADIGE REVOLUSIE
Die tweede kenmerk van die revolusie wat Lenin in Die Staat en Revolusie beskryf het, was sy doelstelling. Die doel van die revolusie was nie om die beheer oor die Staat te bemagtig nie maar om die Staat te vernietig. Die grootste gedeelte van die boek is gewy aan die tesis dat die Staat vernietig moet word. Die Staat funksioneer op baie maniere. Dit funksioneer deur die grondwet; deur die uitvoerende gesag – die President, die Kabinet, die Departement van Justisie, Polisie en Verdediging; dit funksioneer deur die wetgewende liggaam, deur die regbank, deur die staatsdiens.
Die doel van Kommunisme was nie om 'n president daar te stel wat die konstitusionele gesag uitoefen nie. Dit was nie om die kabinetslede aan te stel nie. Die benoeming van regters was nie hulle doel nie. Die doel was om die konstitusie, die wetgewende stelsel, die regterlike stelsel, en die administratiewe stelsel geheel en al te vernietig, om die Staat uit te wis en 'n nuwe Staat van 'n gans ander vorm op te bou.
Lenin se argument was gebaseer op Marx se ontleding van wat in 1871 in die Franse Kommune plaasgevind het, toe die Kommunarde probeer het om die Kapitalistiese Staat oor te neem en dit as 'n instrument van regering te gebruik. Die Kommune is spoedig omvergewerp. Lenin het gesê dat, wanneer 'n Staat toegelaat word om voort te bestaan, dit onvermydelik die saad van 'n teenrevolusie in hom omdra. Sy lede het hulle gevestigde belange in die ou samelewing. Die Staat moet vernietig word. So het William Z Foster, Voorsitter van die Kommunistiese Party van Amerika gesê in sy verklaring:
"Geen Kommunis, ongeag hoeveel stemme hy in 'n nasionale verkiesing sou kry, kan, selfs al wil hy, President van die huidige regering word nie. Wanneer 'n Kommunis aan die hoof van 'n regering in die Verenigde State te staan kom, sal daardie regering nie 'n kapitalistiese regering wees nie maar 'n Sowjetregering, en agter hierdie regering sal die Rooi Leër staan om die Diktatorskap van die Proletariaat af te dwing."
VEROWERING VAN GESAG... Vervolg