Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou lewe vanoggend? Is jy in ’n doodloopstraat? ’n Doodloopstraat is natuurlik die beste straat om ’n U-draai in te maak; so ook in die lewe. Dink maar aan die verlore seun wat tussen die varke in ’n doodloopstraat beland en toe die U-draai in sy lewe gemaak het, terug na sy vaderhuis.
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (2)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
VREDE, WAARHEID, GEREGTIGHEID EN LIEFDE
" Volgens kommunistiese definisie is "vrede", kommunistiese wêreldverowering. Wanneer hulle jou van jou land en voedsel beroof, jou tot rasende, hopelose opstand prikkel, en dan uitmoor, is hulle besig om 'vrede' te bewerkstellig. Ons is die slagoffers, nie van hulle huigelary nie, maar van ons eie onkunde."
VREDE
Aangesien die Kommuniste in 'n staat van oorlog verkeer begeer hulle natuurlik vrede. Waar jy ookal 'n Kommunis vind, vind jy 'n voorstander van 'vrede'. "Vrede" is een van die goue woorde van hulle woordeskat.
Hulle het allerhande soorte "vredes"-beweging; hulle het vredeskampanjes, vredespryse, vredeskonferensies, vredesoptogte. Elke Kommunis is 'n aanhanger van vrede.Die meeste mense wat die militêre voorbereidings van die Kommuniste gadeslaan, wat let op die geweldige persentasie van hulle begroting wat aan militêre doeleindes bestee word, wat let op hulle meedoënlose, wrede onderdrukking van enige poging deur hulle verowerde nasies om hulle vryheid te bekom, klassifiseer die Kommuniste as skreeuende huigelaars. Dit is ver van die waarheid. Die Kommuniste is geen huigelaars nie. Hulle is opreg en eg toegewy aan vrede. As 'n mens 'n gevorderde Kommunis met sy leuenverklikker sou toets en hom sou vra of hy met sy hele hart vrede begeer, sou hy met vlieënde vaandels slaag. Hulle léwe vir vrede; hulle verlang na vrede; hulle sou gewillig sterwe vir vrede.
Wat is hierdie vrede wat hulle begeer? Geurende die oorlog met Japan wou die meeste Amerikaners ongetwyfeld vrede hê. Vrede was die gedagte wat moeders wie se seuns op die slagvelde daar ver in gevaar verkeer het, getroos het; vrede was die woord wat eensame en angstige vroue sonder hulle mans, gesterk het; vrede was die doelwit wat soldate wat bekend was met die verveling, die eensaamheid en die gevaar van oorlog, besiel het. As hulle gevra sou word om vrede te definieer sou hulle dit ongetwyfeld beskryf het as die beëindiging van vyandelikhede in die neerlaag van die vyand deur die geallieerdes. Onder geen omstandigheid sou oorwinning deur Japan vir hulle vrede beteken het nie. Vir die Amerikaanse volk het vrede net een betekenis gehad – Amerikaanse oorwinning.
Die Kommuniste glo dat hulle in 'n oorlog verkeer. Hulle begeer vrede met hulle hele hart. Maar vir hulle is vrede daardie gulde einddoel wanneer die opklimmende mag van die Kommunisme die Amerikaanse imperialisme totaal oorweldig en sy toppunt bereik in 'n kommunistiese wêreldverowering. Volgens definisie is "vrede" vir hulle, kommunistiese wêreldverowering.
Aangesien dit waar is, is elke daad wat die Kommunistiese verowering bevorder, 'n vreedsame daad. Wanneer die leërs van die Chinese Kommuniste die Tibetane omring, hulle van hul land en voedsel beroof, hulle tot rasende, hopelose opstand prikkel, en hulle dan uitmoor, is hulle besig om vrede te bewerkstellig. Toe Chroesjtjof tenks na Boedapest gestuur het om op woonhuise te skiet, hulle tot puinhope te verwoes en manne, vroue en kinders daaronder te begrawe, was daar 'n lied van vrede in sy hart.
Die Kommuniste gebruik die woord "vrede" volgens hulle eie opvating met die grootste opregtheid. Ons vertolk dit volgens ons opvatting. Ons is die slagoffers, nie van hulle huigelary nie, maar van ons eie onkunde.
Die Kommuniste is nie huigelaars nie. Hulle ly aan waansinnige sinsbedrog van 'n intense opregtheid. Hulle is so verstrik in die begoëling van die Marxisme-Leninisme, dat hulle buite die bereik is van rasionele argument en oortuiging. Alle verskynsels wat hulle waarneem, word vertolk binne die raamwerk van hulle vooropgesette gevolgtrekkinge. As hulle huigelaars was sou dit baie makliker wees om met hulle te handel. Met 'n huigelaar kan jy 'n oorkoms tref; jy kan 'n huigelaar die skrik op die lyf jaag. Wanneer jy te doen het met waansinniges van hoog georganiseerde bedrieglike patrone, is jou enigste toevlug om hierdie patrone te erken en te verstaan en doeltreffende middele te tref om jouself te beskerm teen die gedrag wat die gevolg is van die sinsbedrog.
WAARHEID
Die Kommuniste vertel sonder uitsondering die "waarheid", maar dit is die Marxistiese-Leninistiese "waarheid". Mense wat glo dat die Kommuniste sal lieg in belang van die Kommunisme, slaan die bal mis. Trouens, dit is nie moontlik vir 'n Kommunis om in die belang van die Kommunisme te lieg nie. Volgens definisie, as 'n stelling in die belang van die Kommunisme is, is dit die waarheid.
"Wat is die waarheid?" het Pilatus eenmaal gevra. Christene glo dat God Waarheid is. Waarheid is 'n eienskap van God self. Waarheid is. Die Kommuniste beweer dat dit onsin is. Daar is geen God nie; daar is niks absoluuts nie; alles is relatief, die Waarheid self is 'n relatief van die klassestryd. Lenin het gesê: "Die kommunistiese Party is die verstand, die gewete, en die sedes van ons tyd. Proletariese sedes word bepaal deur die vereistes van die klassestryd." Waarheid is 'n wapen van die klasse-oorlog, en enige stelling wat die kommunistiese verowering bevorder, is "waarheid". Ons kan die Kommuniste vertrou om altyd die dinge te sê wat die kommunistiese verowering bevorder. Ons kan hulle vertrou om altyd die Marxistiese-Leninistiese "waarheid" te vertel.
Miljoene dollars word bestee aan die produksie van pragtige literatuur wat hierdie "waarheid" vertel. Die waarheid, volgens hulle literatuur, is eenvoudig: Waar Kommunisme aan die bewind kom, is almal "gelukkig, welvarend en vry"; daarenteen is Amerika die vuigste, skandelikste en mees ontaarde volk wat die wêreld ooit gesien het.
'n Pragtige voorbeeld van die Marxistiese-Leninistiese waarheid is vervat in 'n lieflike fotografiese tydskrif wat deur die Kommuniste van Noord-Korea in Engeland gepubliseer is. Die grootste gedeelte van die tydskrif is gewy aan foto's van die stralende geluk en heerlike voorspoed van Noord-Korea onder die Kommunisme. Maar teen die einde hang hulle 'n prent op van Amerika. Op 'n bladsy met die opskrif "Bloedbad Begaan deur Amerikaanse Verwoesters", verskyn daar ses foto's van 'n massagraf se lyke wat langs mekaar op die grond lê. Hulle families ween oor hulle. Onderaan staan die volgende te lees:
"Die mensdom onthou die skokkende wreedhede wat die Hitleriete begaan het in die konsentrasiekampe in Majdanek en Oswiencim.
Onlangs is 'n ander geval in Korea ontdek van wreedhede deur die Amerikaanse moordenaars begaan, wreedhede wat die geweldige omvang van die Hitleriete oortref.
In 'n skag van die Rakjoemyn, Jangjoedistrik, Suid-Hwanghaiprovinsie, is daar sowat 800 lyke ontdek.
Gedurende die tydelike besetting van die Jangjoedistrik tydens die Koreaanse Oorlog, het die Amerikaanse moordenaars die mynwerkers van die Rakjoemyn en die boermense van die aanliggende dorpies aangekeer en hulle gruwelik gemartel. Daarna het die Amerikaanse duiwels die gefolterde mynwerkers en boere in die skag van 100 meter diep geskop.
In die skag het die lyke opmekaar gelê, en die verbryselde liggame was vol koeëlgate en bajonetsteke. Baie moeders het daar gelê met hulle babatjies op die rug vasgemaak. Die skag het 'n uiters grusame toneel gebied.
Regskape mense kan nie help om die Amerikaanse Imperialistiese moordenaars wie se bloeddorstigheid geen einde ken nie, te haat en te veroordeel nie.
Begrafnisdienste vir die slagoffers is in die Rakjoemyn gehou te midde van kinders wat ween oor hulle verlore vaders, ou vrouens wat huil oor hulle seuns. Die mense se haat en vervloeking van die Amerikaanse duiwels het deur die lug weerklink: 'Wreek ons op die Amerikaanse imperialiste!'. Dit was die geroep van die 800 vermoorde slagoffers.
Maar nog op hierdie oomblik is die Amerikaanse moordenaars in Suid-Korea besig om ons broers en susters te vermoor. Dit kan ons nie toelaat nie.
Amerikaanse kannibale, verlaat Korea dadelik! "
Dit is die Marxistiese-Leninistiese waarheid. Die objektiewe waarheid is natuurlik iets heel anders. Toe die Kommuniste hulle in Noord-Korea teruggetrek het, het hulle alle frisgeboude mense met hulle saamgevoer om as arbeiders te dien. Diegene wat nie die strengheid van die reis na die noorde kon verdra nie – ou manne en vroue, swanger vroue, jong kinders en babatjies – het hulle vermoor en in 'n massagraf gegooi as hulle aan die onbetroubare sosiale klasse behoort het. Die aanrukkende Amerikaanse troepe het keer op keer massagrafte teengekom gevul met die lyke van die vermoorde slagoffers van die Kommuniste. Die Kommuniste het eenvoudig een van hulle eie massagrafte opgegrawe en, met morele verontwaardiging, Amerika voor die gewete van die wêreld die skuld daarvoor gegee. Hulle morele verontwaardiging was werklik, nie nagemaak nie. Dit is amper onbegryplik.
Hitler het glo te werk gegaan volgens dié beginsel: Vertel 'n leuen, herhaal dit dikwels, en die meeste mense sal jou glo. Die Kommuniste het hierdie opvatting veel verder ontwikkel. Enige leuen wat die kommunistiese verowering bevorder is volgens definisie, nie 'n leuen nie maar die Marxistiese-Leninistiese waarheid. Die volwassenheid van 'n Kommunis kan geoordeel word aan die mate waartoe hy hom kan skei van die getuienis van sy sintuie en hom geheel en al kan vereenselwig met die uitspraak van die kommunistiese Party. As hy voor die keuse gestel word tussen die getuienis van sy oë en die uitspraak van die kommunistiese Party, sal die volwasse Kommunis met só 'n oortuiging glo wat die Party gesê het, dat, as hy getoets sou word met 'n leuenverklikker, hy met vlieënde vaandels sou slaag. Hy sou al die emosies aan die waarheid verbonde ondervind, as hy aan die besluit van die Party sou dink.
Ons staan verbaas as ons die bewyse hiervan sien. 'n Amerikaanse vliegtuig is oor Sowjet Armenië neergeskiet. Die Amerikaanse magte het die gesprek van die Russiese vlieëniers aangeteken toe hulle die vliegtuig neerskiet. Toe Mikojan, wat op besoek in Amerika was, voor hierdie bewyse gestel is, was hy nie in die minste verleë nie. Hy het dit net nie geglo nie. Dit was nie waar nie. Hy was 'n Kommunis, 'n Marxis-Leninis. Die kommunistiese Party het gesê dat dit nie gebeur het nie, en die uitspraak van die Party is die Marxisties-Leninistiese waarheid.
Alle Kommuniste bereik nie hierdie volwassenheid nie. Baie van hulle sou in so 'n situasie moontlik 'n mate van twyfel voel. Finale volwassenheid word bereik met die vermoë om jou emosies volkome met die uitspraak van die Party te vereenselwig.
Kommunistiese wetenskaplikes ontleen hulle "waarheid" uiteindelik aan die uitspraak van die kommunistiese Party. Proefneming in die laboratorium is ondergeskik en moet verklaar word in ooreenstemming met die beleid wat deur die Party aangedui is.
In 1940 het daar in Rusland 'n groot debat ontstaan op die gebied van die Biologie. Dit het gaan oor die oordraagbaarheid aan die kroos van eienskappe wat die ouer in sy lewe verwerf het. Die meeste bioloë van naam leer dat sulke eienskappe nie oorgedra kan word nie.
Die Kommuniste skryf hierdie teorie toe aan Mendel en Morgan en noem dit Mendel-Morgan-genetika. 'n Russiese bioloog, Mitsjoerin, het 'n teorie ontwikkel wat in stryd was hiermee. Sy teorie is verdedig deur 'n kweker van plante met die naam van Lysenko.
Die biologiese seksie van die Russiese Akademie van Wetenskappe het vergader om hierdie saak te bespreek. Die pers van Moskou het 'n volledige rapport van die konferensie gepubliseer onder die titel: "Handelinge van die Akademie van Wetenskap ten opsigte van die Leer van die Akademielid Lysenko." Die toesprake van die toonaangewende Russiese Wetenskaplikes is woord vir woord gepubliseer. Baie van hulle het, op grond van hulle lang ondervinding in die laboratorium, betoog dat die Mitsjoerin-Lysenko-skool misgetas het. As wetenskaplikes het hulle die bewyse waarop hulle hul bevindinge gebaseer het, in besonderhede voorgelê.
Die saak is baie eenvoudig opgelos. Aan die einde van die verslag was daar 'n hoofstuk getitel: "Slotopmerkings van Akademielid L.D.Lysenko." Hy rapporteer: "Kamerade, in 'n nota wat aan my oorhandig is word gevra: Het die Sentrale Komitee van die Party enige standpunt ingeneem in verband met u rapport? Ek wens hier te verklaar dat die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party my rapport gelees en goedgekeur het." (Groot toejuiging, almal staande).
Hoe snaaks die nadraai! Die leidende Russiese Wetenskaplikes wat die Lysenko-standpunt bestry het op grond van hulle laboratoriumondervinding, het 'n krisisopenbaring gedurende die nag gekry. Die volgende dag het hulle verlof gevra om verklarings af te lê. Verlof is toegestaan en hulle het opgestaan en te kenne gegee dat hulle dwaling nou aan hulle geopenbaar geword het. Hulle het berou betoon vir hulle vorige diens aan imperialistiese biologie en trou gesweer aan ware proletariese biologie.
Die sinikus mag sê: "Dit is maklik om te verstaan. Hulle was verskrik. Hulle het geweet wat om te verwag as hulle nie met die beleid van die Party saamstem nie." Maar die vraag gaan dieper as dit. Hulle was eers Kommuniste en daarna wetenskaplikes. As Kommuniste het hulle geglo dat die kommunistiese Party die "verstand van ons tyd is", die bron van alle "waarheid". Die uitspraak van die Party moet voorrang geniet bo die ondervinding van die sintuie, selfs in die wetenskaplike eksperiment.
Daar mag teengewerp word dat hierdie toestand nie meer bestaan nie maar die saak gaan nie oor die reg of verkeerd van Lysenko se teorieë nie maar oor die reg van die kommunistiese Party om wetenskaplike waarheid deur 'n edik te bepaal. Daardie situasie het nie verander nie. Russiese wetenskaplikes mag hulle sienswyse verander het maar alleen omdat hulle deur die Party toegelaat is om dit te doen. "Waarheid" bly die uitsluitende gebied van die Party.
GEREGTIGHEID
Die Kommuniste eis en ontwikkel karakters van "geregtigheid", dit is, Marxisties-Leninistiese geregtigheid. In sy boek, 'Hoe om 'n goeie Kommunis te wees', sê Lioe Sjaotsji, destydse president van Kommunistiese China, en 'n briljante teoretiese skrywer:
"Maar as daar opoffering gemaak moet word vir die Party ter wille van klasse- en nasionale bevryding, dit is, vir die vrymaking van die mens, vir sosiale ewolusie, en vir die belange van die groot meerderheid van die mensdom wat ontelbare miljoene mense insluit, dan sal talle lede van die kommunistiese Party die dood met gelykmoedigheid tegemoet gaan en enige opoffering sonder die minste weifeling maak. Die meeste lede van die Party sal dit as vanselfsprekend beskou 'om jou lewe vir 'n goeie doel neer te lê', of ' om vir geregtigheid te sterwe' indien nodig."
Wat is hierdie geregtigheid waarvoor hulle gewillig is om te sterwe? Geregtigheid is gedrag wat die kommunistiese wêreldverowering sal bevorder. Volgens hierdie definisie was Josef Stalin die verpersoonliking van Marxisties-Leninistiese geregtigheid. Die baie mense wat glo dat Chroesjtsjof vir Stalin aangeval en veroordeel het, het die kern van sy toespraak totaal gemis. Chroesjtsjof het twee dinge gedoen: Hy het hom beskrywe, en hy het hom geprys. Sy beskrywing het 'n man geskets so vuig, dat die meeste mense dit as veroordeling aangesien het. Wat hy gesê het, het hierop neergekom: Stalin was 'n moordenaar; hy was nie 'n teensinnige moordenaar nie maar 'n entoesiastiese moordenaar. Hy het moord geniet. Hy het hom verlustig in die marteling van sy eie vriende. Toe die Joodse dokters gearresteer en daarvan beskuldig is dat hulle Zjdanof vergiftig het, het Stalin die man ingeroep wat verantwoordelik was om hulle te ondersoek en aan hom beduie watter tipe marteling elkeen van hulle moes ontvang. Hy het drie fundamentele reëls gegee om belydenisse te verkry: "Slaan, slaan, en slaan weer."
"As jy op hierdie datum nie 'n belydenis verkry het nie, sal ons jou 'n kop kleiner maak."
Chroesjtsjof het te kenne gegee dat Stalin 'n stapelgek, rasende kranksinnige was. "As jy in die oggend ingegaan het om hom te spreek het hy jou aangegluur en gesê: 'Wat skeel jou vanoggend? Daar is 'n sluwe uitdrukking in jou oog.' Jy het nooit geweet of jy daardie kantoor as 'n vriend sou verlaat, of onder 'n gewapende wag om geskiet te word nie."
Hy teken die prentjie van 'n moordenaar met 'n oneindige aptyt, 'n prent van grootheidswaansin en sadistiese kranksinnigheid. Maar dan sluit hy af deur te sê: "Moenie my misverstaan nie. Stalin was 'n goeie man. Hy was 'n Marxis-Leninis. Hy het hierdie dinge as 'n Marxis-Leninis gedoen." Hoër kon Chroesjtsjof hom nie geprys het nie.
Hoe kon hy die beskrywing sowel as die aanprysing regverdig? Kom ons kyk na Stalin in die historiese perspektief. Stalin het die bewind aanvaar toe die Kommuniste 'n beleërde garnisoen was, en hy het hulle tot op die drumpel van wêreldverowering gevoer. Dit was Stalin wat hulle opvoedkundige program opgestel het wat vandag soveel meer ingenieurs en wetenskaplikes voortbring as die Amerikaanse program. Dit was Stalin wat die beskermheer van wetenskaplike navorsing geword het. Dit was Stalin wat hulle duikboot- en projektielprogramme opgestel het wat in die skaduwee van dreigende dood oor die lewe van elke mens in die Vrye Wêreld laat val het. Dit was Stalin wat die verowering van China georganiseer het. Dit was Stalin wat die staatsliede van Amerika en die Vrye Wêreld om die bos gelei het. Stalin het die Kommunisme tot op die drumpel van wêreldverowering gevoer. Aan die einde van hierdie verowering sal dit die naam van Stalin wat so baie gedoen het om dit te verwesenlik, wees wat geëer en gehuldig sal word. Sy persoonlike eienaardighede sal verontagsaam en vergete wees. Dooie mense kla nie. Wie bekommer hom oor verlede jaar se gevalle blare? Stalin is die voortreflike voorbeeld van Marxisties-Leninistiese geregtigheid.
LIEFDE
Ons kan die Kommuniste vertrou om suiwer Marxisties-Leninistiese "liefde" te openbaar.
Een van die beste voorbeelde hiervan blyk in Klementi Worosjilof, voormalige president van Rusland, se spoggery teenoor William C Bullitt, Amerika se eerste ambassadeur in die Sowjet-Unie. Op 'n feesmaal in Rusland in 1934 het Worosjilof aan Bullitt vertel dat hy in 1919 elfduisend Tsaristiese offisiere te Kiëf oorreed het om hulle oor te gee deur te beloof dat hulle sowel as hulle vroue en kinders toegelaat sou word om na hulle huise terug te keer. Na die oorgawe het hy die elfduisend en al die seuntjies omgebring en die vroue en dogters na die bordele gestuur vir die gebruik van die Russiese leër. Hy het terloops opgemerk dat die behandeling wat hulle in die bordele te beurt geval het van so 'n aard was dat nie een dit langer as drie maande oorleef het nie.
Worosjilof het eenvoudig opgetree in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die Marxisties-Leninistiese "liefde". Waar hy geglo het soos hy geglo het, was sy optrede betroubaar, regverdig en liefdevol. Daar het hy gestaan, een van die geskiedenis se gesalfdes, toevertrou met die bestemming van wêreldverowering en die herlwing van die mensheid. Daar het 'n groep manlike en vroulike diere gestaan waarvan hy op selfsugtige wyse gebruik kon maak deur sy belofte na te kom en self goed te voel volgens die opvatting van die bourgeoisie, of waarvan hy gebruik kon maak vir die uiteindelike wedergeboorte en geluk van die hele mensheid deur hulle te vernietig. Sy plig het duidelik voor hom gelê. As 'n Kommunis het hy geen keuse gehad nie. Hy was niks, hierdie mense was niks; die wil van die geskiedenis was alles. Sy plig was duidelik. Na die beule met al die mans, na die bordele met al die vrouens! Die Rooi Leër is versterk, wêreldverowering was 'n dag nader, menslike vernuwing was digterby, en Worosjilof het 'n gewete gehad so rein soos fonteinwater en 'n gevoel dat hy sy plig edel nagekom het. Hy is getroos deur 'n sterk bewustheid van die betoning van Marxisties-Leninistiese "liefde".
Kommuniste glo dat hulle 'n bestemming het. Hulle is bestem om 'n nuwe wêreld te skep en die mensheid te vernuwe. Om hierdie doel te bereik moet hulle die wêreld verower, die Kapitalistiese stelsel vernietig, en deur 'n kommunistiese diktatorskap, die vernuwende omgewing van Sosialisme teweegbring. Hierdie nuwe omgewing sal die jeug tot volmaaktheid opvoed.
'n Onvermydelike stap in hulle wetenskaplike program vir die vernuwing van die mensheid is die uitskakeling van die oorblywende sieklike sosiale klasse ná die wêreldverowering. Jare gelede het die Ameriaanse Kommunistiese Party openlik erken dat, wanneer hulle die land verower het, hulle noodwendig een derde van die Amerikaanse volk sal moet ombring. Dit is nie strafvoltrekking nie; dit is Sosiale Wetenskap. Dit is nie wreedheid nie; dit is "liefde". Dit is asof die snydokter sy mes neem en op 'n liefdevolle manier die bedorwe weefsels wegsny sodat die nuwe en volmaakte vlees ongehinderd kan ontwikkel.
Kommunisme is toegepaste godlose materialisme. Paulus het geskrywe:
"Omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid." (Rom 1:21-25).
Gekleed in die gewaad van wetenskap kom die Kommunisme te voorskyn uit sy lêplek van godlose materialisme en verlei die jeug en maak gebruik van hulle verdraaide godsdienstige entoesiasme om die wêreld te verower. Deur voort te bou op die leerstellinge van godlose materialisme het die Kommunisme die betekenis van ons basiese morele terme totaal omgekeer. Wanneer ons in ons onkunde omtrent hierdie feit volhou om hulle woordkeuses te vertolk asof hulle glo in die Christelike filosofie waaraan ons ons basiese begrippe ontleen het, help en steun ons hulle in hul program vir ons neerlaag en vernietiging.
As dit eers eenmaal bekend is wat die Kommuniste glo, is dit nie moeilik om hulle gedrag te verstaan, te vertolk en te voorspel nie. Op die fondament van kennis, en alleen op daardie fondament, kan 'n gebou van voortbestaan opgerig word.