Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.
Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?
Numeri 23:19
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (1)
Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
Die stelling van hierdie opskrif is baie eenvoudig – dit is dat Kommuniste Kommuniste is. Dit is my voorneme om te bewys dat hulle presies is wat hulle voorgee om te wees: hulle glo wat hulle herhaaldelik aan die wêreld verkondig; hulle organisasie ís die organisasie wat hulle in die fynste besonderhede beskryf het; en hulle morele kode ís die kode wat hulle sonder skaamte aangekondig het. As ons eers eenmaal die feit dat Kommuniste Kommuniste ís, aanvaar het, en die wette van hulle gedagtes en gedrag verstaan, verdwyn alle geheimsinnigheid en kom ons te staan voor 'n beweging wat skrikwekkend is in sy voortreflike organisasie, strategiese beweeglikheid en universele program, maar wat volkome verstaanbaar is en byna matematies voorspelbaar.
Spesifieke kennis onontbeerlik
In die stryd teen die Kommunisme is daar geen plaasvervanger vir noukeurige, spesifieke kennis nie. Onkunde is boos en verlammend. Die beste voornemens verenig met die mees opregte motiewe is ondoeltreffend en vergeefs as hulle geskei is van toereikende kennis.
So is die kennis van Kommunisme van lewensbelang vir voortbestaan. Niks anders kan ons uit die vernietigende kloue van Kommunisme red as deeglike kennis daarvan as vertrekpunt nie.
Soos jy 'n kankersel kan vertrou om die wette van sy wetlose groei te gehoorsaam, so kan jy 'n Kommunis vertrou dat hy sy vernietigingswerk ten alle koste sal uitvoer en sal handel volgens die wette van hulle wese. Wanneer ons die filosofie van die Kommunisme begryp word die verenigende doel wat verborge lê in hulle dikwels chaotiese en teenstrydige gedrag, openbaar.
Wat is Marxime-Leninisme?
Ons kan die Kommuniste vertrou om Marxisme-Leninisme te beoefen. Afgestroop tot op sy blote kern is Marxisme die leer van die algemeenheid van klasse-oorlog, en Leninisme die leer van die geskiedkundige rol van die Kommunistiese Party om die algemene klasse-oorlog tot 'n kommunistiese wêreldoorwinning deur te voer. Die basiese leer van die Marxisme-Leninisme is dat daar so 'n staat van oorlog bestaan, en dat die Kommunistiese Party in die lewe geroep is om hierdie oorlog te wen. Die oorlog is oorspronklik deur Karl Marx ontdek, nie verklaar nie. Dit is 'n stryd tussen twee klasse van die samelewing wat hy die proletariaat en die bourgeoisie genoem het. Die bourgeoisie is die besittende klas, die klas wat die middele van produksie besit . En die proletariaat het hy omskryf as die klas van loonarbeiders. Marx het beweer dat hy tussen hierdie twee klasse 'n staat van oorlog ontdek het. Die bourgeoisie begeer wins; die proletariaat begeer hoë lone. As die lone styg, daal die winste. As die winste styg, daal die lone. So is daar dan 'n fundamentele stryd tussen die twee klasse.
Hierdie stryd het Marx die klasse-oorlog genoem
Marx het geleer dat die bourgeoisie die gevestigde klas in die Kapitalistiese samelewing is. Dit het die Staat gevorm as 'n instrument om die proletariaat te onderdruk en uit te buit. Die proletariaat reageer deur die kommunistiese Party te stig om oorlog te voer teen die Staat. Die klasse-oorlog manifesteer hom dus as 'n oorlog tussen die kommunistiese Party en die Staat. In die loop van die geskiedenis het die kommunistiese Party aan die bewind gekom in Rusland, China en Oos-Europa. In Amerika en sy bondgenote bly die mag in die hande van die bourgeoisie. Die klasse-oorlog het dus van die nasionale na die internasionale vlak verskuif. Die fundamentele leer van die Marxisme is dus dat Rusland en Amerika met mekaar in oorlog verkeer; dat China en Amerika met mekaar in oorlog verkeer – nie dat hulle moontlik in oorlog kan, of mag, of sal verkeer nie, maar dát hulle in oorlog verkeer. Hierdie oorlog is histories verklaar; dit is algemeen; dit omvat elke aspek van die samelewing; daar kan geen greintjie van 'n wapenstilstand in wees nie. Die Kommuniste het dit nie gekies nie; hulle het dit maar net erken. Hulle plig is om die oorlog deur te voer tot 'n totale en volkome oorwinning.
Die wapens in 'n kommunistiese oorlog
Die wapens van hierrdie oorlog is nie maar net die klassieke wapens van kanonne tenks, bomme en vliegtuie nie. Die wapens is universeel. Opvoeding is 'n wapen, taal is 'n wapen; handel is 'n wapen; diplomasie is 'n wapen; godsdiens is 'n wapen; kulturele wisseling is 'n wapen.
Die Kommuniste beskou elke daad en elke situasie deel van die klasse-oorlog.Wanneer die Bolsjoi-ballet in die Verenigde State optree is dit 'n daad in die klasse-oorlog; wanneer 'n groep Amerikaanse predikante Rusland besoek is dit 'n daad in die klasse-oorlog; wanneer die Sowjet deelneem aan onderhandelinge vir 'vrede' lewer hulle 'n slag in die klasse-oorlog. Hulle deelname aan die verrigtinge van die VVO is deel van hierdie oorlog. Die basiese kommunistiese leer is: "Ons verkeer in 'n oorlog!" Dit is die raamwerk van raadpleging waarin elke daad en gedagte se waarde bepaal en beoordeel moet word.
Dit kos nie twee om te twis nie. 'n Idee in die gemoed van een is genoeg. Laat my illustreer: Gedurende die oorlog teen Japan was ek dokter in die Algemene Hospitaal in Brisbane. Brisbane, die hoofstad van die staat Queensland in Noordoos-Australië, was die hoofkwartier van generaal MacArthur en die Amerikaanse troepe wat sou opruk na die Filippyne en Japan. Eendag kom daar 'n man die hospitaal binne en sê vir my dat hy sy vinger in sy keel gesteek het om te vomeer want die Amerikaners wou hom vergiftig. Ek het hom met 'n mate van verbasing aangekyk.
"Hoe weet jy dat hulle jou wil vergiftig?" vra ek.
"Ek het gesien hoe hou hulle my dop toe ek my middagmaal nuttig."
"Waarom wil hulle jou vergiftig?"
"Ek weet nie".
Ek het 'n verklaring vir sy houding gesoek.
"Het jou vrou met die Amerikaners uitgegaan?"
Dit was die enigste keer dat hy emosie getoon het. Hy het hom gruwelik vererg en gesê:
"Nee, nee, niks van dié aard nie."
"Hulle wil jou nie vergiftig nie."
"Ja, hulle wil."
"Ek weet hulle wil nie."
"Ek weet hulle wil."
Hy was nie kwaad nie, het nie gegil, gegier of geskreeu nie. Hy het nie skerp, starende deurdringende oë gehad nie. Hy het geen uiterlike kenmerke van kranksinnigheid getoon nie. Nietemin het ek hom gediagnoseer as 'n swaksinnige en hom na die saal vir swaksinniges gestuur. Hy was egter nie 'n ernstige geval nie. Sy vrou het hom kom haal en huistoe geneem.
'n Paar dae later het 'n Amerikaanse offisier 'n openbare ruskamer in Queenstraat, Brisbane, binnegegaan en is op die plek doodgeskiet met 'n afgesaagde haelgeweer. Sy aanvaller het weggehardloop. Die polisie, wat normale motiewe soos roof, wraak, alkoholiese woede ens vir moord gesoek het, se ondersoek was onsuksesvol.
Agt dae later is nog 'n Amerikaanse offisier in 'n voorstad van Brisbane met dieselfde haelgeweer doodgeskiet. Hierdie keer het hulle die aanvaller gevang. Dit was die man wat ek in die hospitaal behandel het. Hy was in diens van 'n bakker en het van huis tot huis gegaan om brood aan huisvroue af te lewer, die geld hanteer, die kleingeld uitgekeer en met die kinders gespeel. Skynbaar was hy heeltemal normaal. Maar in sy onderbewussyn het hy 'n leuen geglo. Hy het geglo die Amerikaners wou hom doodmaak en het homself met die haelgeweer beskerm oral waar hy gegaan het. Toe hy die Amerikaanse offisier sien het hy geglo sy lewe is in gevaar – toe skiet hy hom dood; so ook die tweede. Hy is na 'n gestig vir kranksinniges gestuur.
Dit het nie twee gekos om rusie te maak ne. 'n Idee in die gemoed van een was genoeg. Daardie Amerikaanse offisiere het die man nooit tevore gesien nie maar hy het geglo dat hulle daar is om sy lewe te neem.
Die Kommuniste glo dat hulle met ons in 'n staat van oorlog verkeer. Hierdie oortuiging sal nooit in die allerminste verander deur die optrede van die Vrye Wêreld of wat nog daarvan oor is nie. Al sou daar aan elke eis van die Kommuniste toegegee word sal hulle maar net glo dat dit nog 'n oorwinning in hulle klasse-oorlog is. Ons moes dít besef het en ons daarteen verdedig het in plaas daarvan om Suid-Afrika op 'n skinkbord aan hulle te oorhandig het. Maar ons het verkies om dit te ignoreer en daarom is ons besig om verdelg en uitgemoor te word.
JY KAN DIE KOMMUNISTE VERTROU (2) - Vrede... vervolg