FEES VAN LUPERCUS - VALENTYNSDAG

Februarie is om die draai en Valenstyndag op die 14e is jare lank ook in Suid-Afrika ‘n instelling. Tog weet bitter min mense waar hierdie dag sy oorsprong het.

Eeue voor Christus het die Romeine 14 Februarie as ’n afgodiese fees ter ere van Lupercus, die jagter van wolwe, gevier. Hierdie fees het op drankmisbruik en onsedelikheid uitgeloop. Voor die fees is etlike bokke asook ’n hond geoffer.   Die priesters het rieme uit die diere se velle gesny en tydens die fees meisies gejaag en met so ’n riem ’n hou op die agterstewe gegee wat haar glo vrugbaar sou maak. Dis waar Februarie vandaan kom - van die Romeinse februa, die dun rieme wat uit die velle van die offerdiere gesny is.

Alhoewel hierdie feeste aanvanklik as geestelik beskou is, het dit later ’n geleentheid geword om op ’n kru wyse uiting aan permissiwiteit en geslagsdrange te gee. ’n Mens kan maar net bespiegel oor hoeveel onsedelikheid daar nie jaarliks op Valentynsdag plaasvind nie!   Dis in werklikheid ’n voortsetting van ’n heidenfees met al die vergrype.

Valentynsdag is ’n nuwe gestalte van die ou Romeinse fees; die fees van Lupercalis en word steeds jaarliks op 14 Februarie gevier.  Die Roomse Kerk het dit later ter ere van Valentyn, ’n Roomse martelaar, Valentynsdag genoem. Valentyn was ’n priester wat in die geheim huwelike voltrek het nadat dit deur keiser Claudius verbied is omdat te veel jongmans militêre diensplig ontduik het deur te trou. Destyds kon slegs ongetroude mans by die weermag aansluit.

Toe Valentyn betrap is dat hy huwelike voltrek is hy ter dood veroordeel. Terwyl hy op die voltrekking daarvan gewag het, het talle jong verliefdes hom glo besoek met briefies oor die verkieslikheid van liefde bo oorlog. Dit laat ’n mens aan die slagspreuk van die vervloë Hippie-kultuur dink: Make love, not war.Valentyn is op 14 Februarie 269nC tereggestel.

Hy het glo net voor sy teregstelling ’n nota aan sy vriendin, die dogter van ’n gevangene, gestuur wat gelui het: “Van jou Valentyn”, ’n frase wat eeue later steeds prominent in kaartjies gebruik word. Valentyn word al eeue lank deur die Roomse Kerk as die beskermheer van verliefdes gehuldig.

Toe keiser Konstantyn die Christendom die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk gemaak het, het die Christene gevoel dat die feesdag vir Lupercus weens sy vergrype afgeskaf moes word. Die heidense Romeinse burgers wou niks daarvan weet nie!   Dis toe as vakansiedag behou, maar sonder die gebruiklike vergrype. Dis in 469 n.C., 200 jaar na Valentyn se teregstelling, deur pous Gelasius tot ’n godsdienstige vakansiedag in die Roomse Kerk verklaar. Dis vir 15 eeue as ’n heilige dag gevier en eers in 1969 van die amptelike Roomse kalender verwyder.  

Maar hoe het dit gekom dat die fees van Lupercus na Valentynsdag verander is? Was daar ’n ooreenstemming? Ja, daar was. Valentyn (Valentino) was ’n baie algemene naam onder die Romeine wat baie van hul seuns die naam gegee het ter ere van ’n beroemde Valentyn in die geskiedenis.   Hy was Lupercus, die jagter, meer bekend as Nimrod van wie ons in Genesis lees. Hy was die eerste koning op aarde.

Wat het Rome met Nimrod te doen gehad?   Hy was tog van Mesopotamië.   Valentyn kom van die Latynse woord Valentinus, ’n voornaam wat van die werkwoord valens kom en beteken “om sterk te wees”.  

Dit laat ’n klokkie lui!

In Gen.10:9 lees ons dat Nimrod ’n geweldige jagter was.   Hy het sy onderdane teen wilde diere beskerm en is as held daarvoor vereer. Hy was hulle sterk man, hulle held, hulle Valentyn.   Nimrod, die aartsvader van afgodery, was dus die oorspronklike Valentyn.   Wie Valentynsdag vier, vereer Nimrod!

Nadat Nimrod in ’n skermutseling met vyande gesneuwel het, het sy vrou, Semiramis, van ’n Babiloniese priester swanger geraak en voorgegee dat Nimrod haar bo-natuurlik bevrug het en ’n seun, Tammuz,op 6 Januarie van daardie jaar gebaar. Satan wou Jesus se geboorte naboots.

In die Ou Nabye-Ooste was die gebruik dat ’n vrou eers 40 dae na haar kind se geboorte as rein beskou is.   Hierdie reiniging is dikwels feestelik gevier.   So was dit ook in die geval met Semiramis. (In die Ou Nabye Ooste het ’n nuwe dag reeds die vorige aand om 18:00 begin. So het die Joodse Sabbat bv. op die Vrydagaand om 18:00 begin). Veertig dae na Tammuz se geboorte het Semiramis vir die eerste keer met haar seun in die openbaar verskyn. Dit was op 14 Februarie van daardie jaar!

Toe Pous Gelasius hierdie heidense fees in ’n Christelike konteks probeer plaas, het hy dit die fees van die reiniging genoem. Klink dit nie verdag nie? Ja, dit is.   Dit verwys na Semiramis se reiniging, die fees wat in Babilon gehou is. Die Roomse Kerk is ’n herlewing van die ou Babiloniese godsdiens.

Tammuz het ook as Kupido bekend gestaan, die Babiloniese woord vir begeerte.   Hy was glo so asemrowend mooi, dat Semiramis hom met wellus bejeën het. Hy is later met haar getroud!

Daar word vertel dat Tammuz so bekoorlik was, dat beelde van hom gemaak en verkoop is.   Die Bybel praat ook van hierdie beelde. In Eseg.8:5 lees ons van die afgodsbeeld van ywer wat ywer verwek.   Dis nie ’n juiste vertaling nie.   Ywer moet eerder met wellus vervang word – die afgodsbeeld van wellus wat wellus verwek. Dan.11:37 noem hom “die liefling van die vroue”.

Tammuz is enersyds as ’n reïnkarnasie van Nimrod gesien en as ’n magtige vereer.   Andersyds is hy ook as Kupido, die seuntjiegod met sy blou oë en blonde krulle geskets. Om met sy vader, die magtige jagter, te identifiseer is hy met ’n pyl en boog uitgebeeld. Kunstenaars beeld hom graag as ’n goedige stouterd uit wat mense met ’n pyltjie skiet en koorsig verlief maak.

Sy ma is as die godin en hy as die god van liefde vereer. Na al die eeue leef Tammuz as Kupido in skilderye, liefdesliteratuur en romantiese kaartjies voort.   Dis in werklikheid afgodies!

Valentynsdag het ook eie simbole soos die hart.   Die hart is reeds vroeg as die setel van emosies beskou en later slegs met dié van liefde. Die tekening soos ons dit vandag ken, was ’n vroeë poging om ’n orgaan te teken wat mense nog nooit gesien het nie.  

Dis met verloop van jare as die simbool van liefde aanvaar sonder dat mense geweet het waar dit vandaan kom. Al die simbole wat vir Valentynsdag gebruik word, kan na die Babiloniese afgodsdiens teruggespeur word.   Die Babiloniese woord vir hart was bal. Nimrod het onder sy mense as Baäl bekend gestaan. Dit kom op “man van ons hart” en derhalwe afgodiese verering neer.

Nog ’n simbool van Valentynsdag is die gee van rooi rose. Waarom?   Rooi rose was glo die gunsteling blom van Venus, die Romeinse godin van liefde.   Rooi is ook die kleur wat sterk gevoelens vereenselwig.

’n Latere simbool wat bygevoeg is, is die bekende “X” as teken van ’n soen.   Dit het in die Middeleeue ontstaan. Mense wat nie kon skryf nie is toegelaat om dokumente met ’n X te teken waarna die ondertekende ’n soen op die X geplaas het om sy opregtheid te bewys.

Valentynsdag is in wese heidens. Dit kan op geen manier op godsdienstige wyse gevier word nie en word selfs deur ander godsdienste verbied. In Indië word ’n Hindoe wat Valentynsdag vier, vervolg. So ook Moslems in Saoedi-Arabië.

Die handelswêreld het Valentynsdag so beset, dat niks wat ’n mens ook al mag sê, dinge sal verander nie.   Nie eens Bybelse aanhalings nie.   Daar word soveel geld uit Valentynsdag gemaak, dat kritiek as geestelike oorgevoeligheid afgemaak word.

Dis te verstaan dat dit vandag, veral in die tydsgewrig waarin ons verkeer, belangrik is om aan verhoudings te werk, veral getroudes.   Dis belangrik dat ons vir mekaar tyd moet maak.   Ons kan op ’n spesiale dag besluit waarop ons geliefdes wil bederf sonder om Valentynsdag of die simboliek van die ou Babiloniese afgodery daarvoor te gebruik.