SA TEEN ISRAEL IN INTERNASIONALE GEREGSHOF…

…DIE BETEKENIS VIR DIE AFRIKANERVOLK

Dr Danie Theron

Die saak wat Suid-Afrika teen Israel aanhangig gemaak het in die Internasionale Geregshof, het wȇreldwye reaksie ontlok. Dis te verstane. In Suid-Afrika het persone soos Steve Hofmeyr en prof Koos Malan en ook die organisasies waarby hulle betrokke is en/of aanhang, hewig beswaar gemaak dat Suid-Afrika dit durf waag het met onder andere argumente dat Suid-Afrika, met sy eie bewese rekord van die vertrapping van volkere se regte, vermetel is om Israel daaroor aan te vat. 

Ek gee toe dat dit bitter ironies is dat (die huidige) Suid-Afrikaanse regering juis die saak aanhangig maak. Mens sou eerder verwag dat ‘n “Westerse staat” dit doen. Probleem is, daardie Westerse state is almal Joods-Amerikaanse kolonies. Hulle sal dit nie doen nie want hulle politici is omgekoop. 

Ek het self maar net die grootste minagting vir die ANC-regime se skynheiligheid enersyds en andersyds die feit dat daar miljoene bestee word op “onbenullige” aangeleenthede en dit deur ANC-politici terwyl hulle eie mense krepeer en hulle tot misdaad moet wend om aan die lewe te bly.

Voormelde is afsonderlike aangeleenthede met baie meriete.

Maar ek dink hierdie saak voor die internasionale hof het meer voordele as wat ons dalk ooit besef. En dis allermins onbenullig. Feit is dat die voorlegging ‘n briljante stuk werk is. Die 84-bladsye daarvan getuig van juriste wat hulle deeglik van hulle taak gekwyt het. Prof John Dugard is uiters liberaal en ek het geen waardering vir wat hy byvoorbeeld oor dr Verwoerd kwytraak nie. Maar die punt is, die internasionale reg is sy vakgebied en hy tel seker onder een van die bestes wat Suid-Afrika ooit opgelewer het. Boonop het hy waarskynlik, soos regter Goldstone, Joodse bande en het dit waarskynlik baie geverg om hom op hierdie omstrede terrein te begeef.

Die regspan sluit ook senior advokate in waaronder advokaat Max du Plessis en lede van die Britse“Kings Council”. Soos prof Hennie Strydom, verbonde aan die UJ dit stel, “dit maak ‘n baie sterk saak uit en verg ‘n antwoord”.

Nou sien ons reeds dat Israel druk op regerings uitoefen om hulle te distansieer van die saak. Dus, daar moet politieke druk uitgeoefen word op die hof. Prof Norman Finkelstein, ‘n Jood wat bekend is vir sy kritiek op Israel en onder meer met prof Alan Dershowitzh van Harvard die vloer gevee het in verskeie debatte en onderonsies, is ook van mening dat die regters polities beïnvloed gaan word. Hy is trouens van mening dat vir Suid-Afrika om die saak te wen, hulle dalk die onverwagte steun van een of twee regters sal moet kry wat hy meen op hierdie stadium eerder vir Israel gaan stem. Sy voorlopige beraming is dat die meerderheid regters in Israel se guns gaan beslis.

By die skryf hiervan is Israel se verweer nog nie beskikbaar nie. Ek dink Israel gaan aanvoer dat sy optrede in selfverdediging geskied het. Met die feite in gedagte sal hulle moeilik daarin slaag om te bewys dat hulle optrede “imminent” en “necessary” was, en wat die proporsionaliteit betref is daar geen twyfel dat dit alle perke oorskry het nie. In die verlede kon Suid-Afrika nie eers die VN oortuig dat optredes teen ANC-basisse in die buiteland “sefverdediging” was nie. Boonop, as die teenoptrede volgehou word, word dit beskou as bestrawwend en nie meer as selfverdediging nie.

Wat word beskou as ‘n volksmoord?

Volgens artikel II van die Konvensie op die Voorkoming en Bestrawwing van die Misdaad Volksmoord van 1948 is enige handeling wat gepleeg word met die bedoeling om ‘n groep volledig of gedeeltelik uit te wis en/of ernstige liggaamlike leed aan te rig of omstandighede daar te stel wat hulle lewens ondraaglik maak, volksmoord. Ook state wat Israel sou steun kan hulle skuldig maak aan mede-aanspreeklikheid. Hier word veral aan die VSA gedink.

Verskeie regsgeleerdes het baie oor die saak geskryf waaronder prof William Schabas in sy boek Genocide in International Law: The Crime of Crimes. Ook is ons almal bewus van wat in Rwanda gebeur het tussen die Tutsi’s en die Hutu’s met Paul Kagane aan die spits. Die misdryf word as die ernstigste misdryf gesien wat teen ‘n volk of groep gepleeg kan word.

En dan is daar natuurlik die sogenaamde Holocaust waarvan die amptelike weergawe vandag nog bevraagteken word, maar waarin die Jode aanvoerdat 6 miljoen aan die hand van die Duitsers gesterf het tydens die Tweede Wȇreldoorlog. Miskien eis hulle die alleen reg op op die gebruik van die woord?

Ek lees dat sekere mense beweer dat Suid-Afrika geen belang by die saak het (wat hy nou namens die Palestyne ingedien het nie) en dus nie vir Israel kan “aankla” nie. Dis onwaar. Artikel VIII van die Konvensie stel dat enige party (staat) die hof kan nader. Nog ‘n argument is dat die ANC die aandag wil aftrek van sy eie wandade teenoor ons volk. Dit mag so wees, maar dit raak geensins die meriete van die saak nie.

Wat baie miskyk is dat as dit wat Israel doen teen die Palestyne nie volksmoord is nie, dan is wat die ANC teen ons volk doen ook nie volksmoord nie. Ek dink die ANC pluk (onwetend) ‘n lat vir homself en die Afrikaner kan dit gebruik om die ANC by dieselfde hof aan te kla van volksmoord.

Waaroor dit gaan is dat daar die bedoeling (spesifieke opset) moet wees om volksmoord te pleeg. In die voorlegging word elke uitspraak van Israeliese politici en weermaglede in besonderhede aangehaal wat ten doel het om Gaza uit te wis, ‘n bevolkingsverskuiwing van die Palestyne daar te stel, na Palestyne as diere verwys, en diesmeer.

Prof Koos Malan merk op daar blykbaar nog nie genoeg Palestyne vermoor is om ‘n “volksmoord” daar te stel nie. Blykbaar moet eers so 200 000 vermoor word. Ek kon nie glo wat ek lees nie. So, daar is ook nog nie genoeg Afrikaners vermoor nie? Waar kom hy aan sulke twak? Dit gaan tog oor die bedoeling van Israel se aksies soos dit oor die bedoeling van die ANC se aksies gaan. Dan merk hy ook op dat uitsprake van politici in Israel nie aan die regering toegedig kan word nie. Dis ook onwaar want dis juis bevelvoerders in die weermag en ministers wat meeste van hierdie uitsprake gemaak het en wat dus die bedoeling verder beklemtoon. En wat maak ons dan van Malema, en veral baie ANC-lede se uitsprake oor ons eie volk soos “kill a boer”? Moet dit ook nou as onbenullig beskou word? Sover ek weet steun Afriforum juis daarop om aan te toon dat dit swartes aanmoedig om blankes te vermoor? En dan was die inwoners van Gaza mos gewaarsku wat gaan gebeur, so hulle moes eenvoudig gedweë padgee? Rasionaliteit het by sekere mense by die agterdeur uitgestap!

Wat ek wel merk is die pro-Israel onderrok by baie mense uithang. Hetsy dit is dat hulle glo dat Israel die verbondsvolk is (‘n fatale mistasting) of weens ‘n anti-ANC retoriek wat bloot alles wat die ANC doen afwys as sou dit boos is en teengestaan moet word. Dieselfde het gebeur met BRICS en die Russies-Ukraïense konflik. Stadig maar seker moet mense begin toegeedat BRICS dalk wel die antwoord is as teenvoeter van die Amerikaanse model wat elke land eenvoudig aan die Sionistiese ideaal wil onderwerp. En reeds het baie ingesien dat Rusland wel korrek was om op te tree toe 14 000 Russe in die Russiese gebiede vermoor is en die VSA sy rug gedraai het op die Minsk-verdrae.

Terug by die voorlegging. Suid-Afrika stel dat Israel se aksies in Gaza ‘n prima facie saak van volksmoord daargestel het en dat dit verg dat Israel dit dadelik moet stop. Dit vra dat na afloop van hierdie saak, ‘n volwaardige ondersoek na volksmoord teen almal betrokke, ingestel moet word. Dit vra dus vir ‘n voorlopige bevel waarin die bewyslas nie so swaar is soos wanneer vir ‘n finale bevel gevra word nie.

Wat is die feite?

  • 70% van die 21 110 mense wat reeds gedood is, is vrouens en kinders
  • 85% (1,9 miljoen) van die inwoners se huise is verwoes
  • Hongersnood is reeds aan die orde van die dag en Israel weier dat voorrade deurgelaat word
  • Infrastruktuur soos paaie, skole, hospitale, universiteite, kerke moskee’s en ambulanse is verwoes
  • Net 13 van die 36 hospitale funksioneer nog
  • Voortdurende bombardering (6 000 per week) met bomme wat soveel as 900 kg weeg is aan die orde van die dag. Die bombardering word trouens beskou as “the heaviest conventional bombing in the history of modern warfare”.
  • Neem in ag dat Gaza maar 365 vierkante kilometer groot is en 2,1 tot 2,3 miljoen mense daarin woon.
  • Die hele Gaza is onveilig
  • Siektes breek uit.

Sien u waarom, as Israel dan nie volksmoord pleeg nie, die Afrikaner dit kwalik sal kan aanvoer?

Uitsprake deur politici en andere

Netanyahu het gestel dat die “vyand” met “unprecedented might” geslaan sou word. En dat dit ‘n “struggle between the children of light and the children of darkness” is. Hy noem die Palestyne barbare. En dat Israeli’s moet onthou wat Amalek aan hulle gedoen het. En dat niemand gespaar moet bly in Israel se aanval op Gaza nie. Komende van die Eerste minster van Israel dink ek prof Koos Malan se geheue het hom dalk sleg in die steek gelaat!

Die president van Israel, Isaac Herzog hou die hele Palestynse bevolking verantwoordelik en nie net Hamas nie.

Die Israeliese minister van verdediging stel dat Israel “human animals” as vyand het en dat dienooreenkomstig opgetree moet word. Hy stel dat alles in Gaza vernietig sal word en dat alle beperkings op Israel se optrede in Gaza opgehef is.

Talle ministers en woordvoerders is namens Israel op rekord met wat hulle bedoeling is met Gaza. Daar kan net geen twyfel wees nie!

Israel het sedert 1948 toe dit onafhanklik geword het, die Palestyne stelselmatig uit wat Israel as “die grondgebied van Israel” beskou, verdryf en derduisende Palestyne vermoor. Die volksmoord het dus al in 1948 begin. Miskien het Israel nou net sy hand oorspeel want state wȇreldwyd het Israel nou veroordeel waaronder die Russiese president, Vladimir Putin.

Dit kan nie genoeg beklemtoon word dat wat nou in Gaza afspeel, ‘n volksmoord is nie. Die bedoeling is duidelik, die inwoners moet padgee of hulle sal sterf as hulle bly. En as wat in Gaza gebeur nie volksmoord daarstel nie, is ons eie volk nog baie ver van ‘n volksmoord af.

Ek het oor baie jare betoog en gepleit dat daar erkening is dat ons volk onderwerp word aan ‘n volksmoord. Ek verskil met die Palestynse Moslems oor baie sake. Dis nie werklik ter sake as mens oor volksmoord praat nie want elke volk het die reg op bestaan en op oorlewing. Die Palestyne ook. As ons as Afrikaners die reg van die Palestyne om te bestaan ontken, wat maak ons van nasionale Afrikanerleiers se leuse deur die jare: Leef en laat leef!?

Terloops: Dit gaan mens nie verby, by alles wat mens waarneem, dat dit juis Sionistiese Jode soos Oppenheimer en andere was wat ons volk ondergrawe het en die ANC gesteun het in hulle terroriste stryd nie. Nou draai die ANC die rug op sy voormalige ondersteuningsbasis en bowenal, sy beursie! Ek kan nie dink dat Israel dit ooit gaan vergeet nie. Dalk sien ons ‘n verdere aanslag op die Rand?

Feit bly dat die saak meriete het. Myns insiens moet ons die geleenthede daarin raaksien om die moord op ons eie volk op dieselfde basis voor hierdie hof te bring!

Intussen is die wȇreld in afwagting op wat op 11 en 12 Januarie 2024 gaan gebeur!