Gedagtes vir elke dag
As jy gedink het dat trane net negatief is, is dit tyd dat jy leer dit is God se manier om ons oë 'n slaggie skoon te was en deeglik uit te spoel sodat ons weer goed kan sien.
NABETRAGTING VAN BRICS-KONFERENSIE IN SA
Met dank aan die INSTITUUT VIR KULTUUR EN GESKIEDENIS
Die BRICS-konferensie het gekom en gegaan. Pres Vladimir Poetin is toe nie in Suid-Afrika gearresteer soos die anti-Russiese koalisie van Amerika, Brittanje en NAVO dit wou hê nie. In die proses moes SA se Ramaphosa aansienlike toegewings maak. Een daarvan was om die deelname van Rusland aan BRICS te verswyg en dit as van minder belang af te maak. Dit het die gevolg dat die ware rede vir SA se lidmaatskap van BRICS duidelik geword het, naamlik die baie noue verhouding tussen die ANC-bewind en kommunistiese Sjina. Dié verhouding dateer al sedert die ANC se terreurstryd in die vorige eeu, en veral ook na 1994 in die “transformasie” van die RSA se buitelandse beleid. Onder Jacob Zuma is die bande tussen die ANC-regime en Sjina grootliks versterk, en dit was duidelik uit die onlangse formele staatsbesoek van Sjina dat dit die hoof-platform is waarop die ANC graag wil staan, en nie noodwendig by Rusland nie. Ramaphosa was as adjunk-president onder Jacob Zuma ook dikwels na Sjina gestuur; en dan het ons nou die afgelope drie jaar met sy staatsrede telkens gehoor van die groot nuwe stad wat in die gebied tussen Johannesburg en Pretoria opgerig sou word, met behulp van Sjina. Sjina het reeds miljarde Rand geskenk om ESKOM in sy nood by te staan, en sodoende ’n voet in die deur gekry op die terrein van energieverskaffing ̶ sigbaar op die patroon wat die Sjinese elders in Afrika volg.
Ons mag ook nie vergeet van die vreemde verhouding wat Sjina met die RSA aangeknoop het ten opsigte van die ontginning van ons seebronne nie. Jacob Zuma en ’n Sjinese afvaardiging enkele jare gelede samewerking aangekondig om Suid-Afrika se hulpbronne aan ons Ooskus te ontwikkel, veral ten opsigte van gas en die benutting van vis-bronne. Dit is toe onder groot fanfare bekendgestel as die Ocean Economy van die toekoms. Natuurlik sal die Sjinese daardie gaping gretig aangryp; en dit sit agter die naderskuiwery wat ons tydens BRICS opgemerk het.
Kortliks meer oor BRICS en die RSA
Die onsteltenis van die media en politieke waarnemers na aanleiding van BRICS is werklik baie laat. Suid-Afrika het reeds teen die draai van die eeu diplomatieke verhoudings met Nasionalistiese Sjina (Taiwan) verbreek en dit vervang met ‘n langtermyn verbintenis met Rooi Sjina.
Klaarblyklik het die druk van die kant van Amerika en verskeie NAVO-lande bygedra daartoe dat die ANC hulle bande met Rusland so ver moontlik uit die openbare oog geskuif het. Selfs tydens die sogenaamde Afrika-vredesending na Kiev en Moskou, het Ramaphosa probeer klink soos ’n neutrale stem, wat albei kante van die saak wil respekteer. In Moskou het president Poetin die afvaardiging uit Afrika baie gou vasgevat en gewys op Oekraïne se verbreking van skikkings-ooreenkomste wat Kiev se verteenwoordigers in 2022 onderteken het. Die ooreenkoms is egter oorboord gegooi toe Boris Johnson dit summier gestop het.
Die media wat so bekommerd was oor Rusland se teenwoordigheid (Rusland se buitelandse minister, Sergei Lavrov was wel in Suid-Afrika) het die Sjinese bedreiging totaal misgekyk. Verder hoor mens min oor die nuwe dimensie wat binne BRICS geskep word. Nadat dit blyk dat Iran en Saudi-Arabië toegelaat sal word as lede van BRICS, is daar net hier en daar stemme wat waarskuwend daarna verwys. Dié toetrede beteken in kort dat Suid-Afrika in die toekoms wyd oop sal staan vir invloed vanuit die kringe van Islam, beide deur handelsbande, maar veral ook deur toerisme, godsdienstige-verbintenisse met Islam in Suid-Afrika, en deur sogenaamde “kulturele uitruiling”. Immigrasie en toerime vanuit Islamitiese lande sal heel waarskynlik vinnig toeneem.
Alles dui daarop dat BRICS nog groot opslae gaan maak in die politiek van ons land. Uit die deperate posisie waarin die ANC-bewind homself bevind (finansieël en ekonomies), sal die BRICS-vennote probeer om groot munt te slaan. Die hulpbronne en die markte van Suid- Afrika sal geteiken word. Dit is noodsaaklik om te besef dat die mense in ons land nie gereed is om te kompeteer in die vreemde ekonomieë wat in BRICS saamgetrek word nie.