Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag ook op God staat maak dat Hy ons liggame beskerm - Dawid sê God is vir hom alles, sy Erfenis, Onderhouer van sy hele toekoms, en hy weet dat God sy siel nooit aan die doderyk sal oorgee nie, daarom skuil hy by Hom, en, sê Dawid, "...ook sal my vlees in veiligheid woon."
DIE LEUEN OOR “MILJOENE JARE”…
Die ontstellende waarheid is dat ons kinders al jare lank die leuen in die skole leer dat daar geen God is nie en dat die aarde deur ‘n misterieuse slag ontstaan het. Hoe dom kan die satan, vader van die leuen, tog wees om so ‘n onbewese stelling as die waarheid aan te bied!
Dit alles het begin toe die moderne wetenskap ongeveer 200 jaar gelede aan die gang begin kom het en duisende mense deur die leuen van ʼn aarde wat miljoene jare oud is, meegevoer is. Dit was die gevolg van ʼn tuin wat deur die ateïs Charles Darwin omgespit is om sy ongeloofsgemanipuleerde saad in te saai. Die wrange vrugte wat dit voortgebring het, word kortweg ewolusionisme genoem. En wêreldwyd glo die jonger geslagte hierdie leuen wat in almal se kele afforseer word, ook hier in Suid-Afrika waar die staatsskole hulle aan die geldmag se ewolusieleer verbind het. Maar kom ons kyk na werklike feite, nie die onbewese leuens wat die satan mense wil wysmaak nie:
Volgens die Darwin-teorie het dinosourusse ongeveer 220 miljoen jaar gelede op die aarde begin verskyn en teen 65 miljoen jaar uitgesterf. Mense wat deur die verhale van dinosourusse meegevoer is, het vas geglo dat die aarde miljoene jare oud is. Dis ʼn leuen. Die Bybel gee ʼn duidelike tydsraamwerk van duisende jare se geskiedenis waarbinne die dinosourusse ook val:
“En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was” (Gen.1:24-25).
Talle mense glo egter dat die bestaan en uitsterwe van dinosourusse in so ʼn geheimsinnigheid gehul is dat niemand ooit sal weet waarvandaan hulle gekom, wanneer hulle geleef en waarom hulle uitgesterf het nie.
Volgens die ewolusie-hipotese het dinosourusse lank voor die mens op die aarde verskyn en later weens ʼn katastrofiese gebeure in geheel uitgesterf. Oor die aard en omvang van hierdie katastrofe word wyd bespiegel. Een van die mees lagwekkende sienings is dat hul uitsterwe die gevolg van ʼn impak van ʼn asteroïde was wat die aarde getref en ʼn omwenteling in die natuur veroorsaak het.
Daar word basies twee denkrigtings gehuldig.
Eerstens diegene wat die Bybel glo en dit die uitgangspunt van hul denke maak – die Christenwêreldbeskouing.
Tweedens dat menslike kennis die grondslag van alle denke vorm – die sekulêre wêreldbeskouing.
Ongelowiges moedig mense aan om ʼn sekulêre wêreldbeskouing te huldig maar loop hulle telkens in hipoteses (onbewese stellings) vas. Die Christenwêreldbeskouing het nie hierdie probleem nie omdat hulle by God en nie by die mens begin nie:
“Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis” (Spr.1:7).
Diegene wat die sekulêre wêreldbeskouing huldig, het geen stawende getuienis of enige geskrewe rekords van waarin hulle glo nie.
Met hul Bybelse wêreldbeskouing het gelowiges nie hierdie probleem nie omdat hulle ʼn gesaghebbende Ooggetuie van alle gebeure in die geskiedenis het – God Self.
Die Bybel handel nie net oor godsdiens nie, maar is ook die geskiedenisboek van die heelal; van dinge wat aan die begin gebeur het en tot die einde nog gaan gebeur. Dit vertel ons wanneer tyd begin het en deel die geskiedenis in hooftrekke mee. Dit begin by die begin oor die sondeval en hoe die dood daarna vir die eerste keer in die wêreld gekom het.
Dit vertel die verhaal van hoe die aarde deur water verwoes is, verskillende tale ontstaan het en hoe God in Jesus mens geword het, gekruisig is, opgestaan en ten hemel gevaar het. Die Bybel sluit met die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde af.
God het alle diere, ook die dinosourusse, op die sesde dag van die skepping gemaak. Dis volgens Bybelse berekening ongeveer 6,000 tot 7,000 jaar gelede. Ná die skepping het God vir Adam en Eva opdrag gegee om oor al die diere op die aarde te heers:
“En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen.1:28).
God het die hele skepping vooraf beplan en so uitgevoer:
“Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is ... “ (Ex.20:11).
“Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh.1:3).
“...want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (Kol.1:16).
Alle diere is dus deur God geskape; elkeen volgens sy eie soort; ook dinosourusse. Fossiele wat later ontdek is, kom uit die sondvloed. Diere wat in water versink en waarvan die beendere deur lae modderslyk bedek word, versteen met verloop van tyd weens die druk daarop.
So het talle fossiele van dinosourusse behoue gebly en is dus niks ouer as 4,500 jaar nie. Alles dui daarop dat hulle vinnig toegeval is. Dit kan maar net die gevolg van ʼn reuse vloed wees. Gevolglik slaan die ewolusioniste met hul aanspraak dat dinosourus-geraamtes miljoene jare oud is, die bal ver mis.
Let daarop dat dinosourus-geraamtes hoofsaaklik op plekke gevind word waar daar op daardie stadium nog geen mense gewoon het nie. God het hulle weggeneem voordat mense daar sou woon.
God het die dinosourusse op die sesde dag saam met al die ander diere gemaak. Dis ook dieselfde dag toe Hy die eerste mensepaar geskep het. Gevolglik was die dinosourusse dieselfde tyd as mense op die aarde en nie miljoene jare vóór hulle soos wat ongelowiges glo nie.
Dinosourusse kon nie voor die skepping van die mens bestaan het nie omdat die dood eers ná die sondeval ʼn werklikheid geword het:
“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het “ (Rom.5:12).
“Want die loon van die sonde is die dood...” (Rom.6:23).
Gevolglik kon daar geen dood en dus dinosourus-sterftes voor die sondeval gewees het nie.
Die ewolusie-hipotese het ʼn uiters nadelige impak op mense wat nie na die Woord van God wil luister nie en dit kweek ongeloof. As mense die geskiedenis van die Bybel nie meer glo nie, waarom sal hulle dan die sedelike lesse daarvan sowel as die pad na saligmaking glo?
Wie die ewolusie-hipotese aanhang, minag die Bybelse verslag van die mensegeskiedenis en kan enigiets waarmee hulle in die Bybel ongemaklik is, verwerp.
Petrus waarsku:
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” (2 Pet.3:3).