Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is nog 'n kwaad wat ons aan mekaar doen wat so deel van ons natuur is, ingebore is, dat ons nie eers besef hoeveel kwaad ons doen nie. Calvyn waarsku teen die saak dat elkeen wil hê dat alle ander mense moet leef volgens sý mening. En hier gaan dit nie om die waarskuwing teen 'n sondige lewenswyse nie; dit is bloot die oplegging van ons eie daaglikse lewensreëls wat ons so graag op ander afdwing. God het ons verskillend geskape en in verskillende omstandighede geplaas – ons het geen reg om ons mening op ander te forseer nie.
DAG- EN NAG-EWENING EN PAASFEES
RONDOM 21 MAART OP DIE DAG VAN DAG- EN NAG-EWENING IS DIT PRESIES EWE LANK DWARSOOR DIE WÊRELD
WAT HET DIT MET PAASFEES TE MAKE?
’n Dag- en nag-ewening, soms net ’n nagewening genoem (Latyn: aequinoctium, "gelyke nag"), is wanneer die son loodreg bo die ewenaar skyn. Daar is twee nagewenings elke jaar, op of rondom 21 Maart en 22 September. Omdat hulle in die Suidelike Halfrond onderskeidelik die begin van die herfs en lente aandui, word hulle ook soms die herfs-nagewening en lente-nagewening genoem. In die Noordelike Halfrond werk dit andersom: die Maart-ewening is die begin van die lente en die September-ewening die begin van die herfs.
Met die dag- en nag-ewenings is die lengte van die dag en nag oral op die aarde ewe lank en kom die son presies in die ooste op.
’n Uitsondering hierop is by die Noord- en Suidpool: daar kom die son met een ewening op en sak hy met die volgende ewening..
Nou sal jy wonder wat op aarde het die ewenings met Paasfees te make. Daar is 'n interessante verbintenis.
Die Jode het Pasga op 15 Nisan volgens hulle maangebaseerde kalender gevier. Hoewel die vroeë Christene graag hulle Paasfees so na as moontlik aan die Joodse Pasga wou hou (aangesien Jesus volgens die evangelies immers net vóór die Pasga gekruisig is), wou baie dit graag op ’n Sondag hê, aangesien dit die dag was waarop Jesus uit die dood opgewek is. Hulle het dus by hulle Joodse bure uitgevind wanneer die Week van die Ongesuurde Brood (waartydens die Pasgamaal geëet is) sou wees, en dan op die Sondag in daardie week hulle Paasfees gevier.
Ander Christene, veral in Klein-Asië, het egter Paasfees op 14 Nisan begin vier, of dit nou op ’n Sondag geval het of nie. Hulle het daarom as Quartodesimane bekend gestaan. Polikrates van Efese (130-196 nC) was ’n groot voorstander hiervan. As gevolg van sy siening, het Pous Victor hom byna uit die kerk verban. Slegs bemiddeling van Irenaeus het dié situasie gered.
Die Joodse kalender was egter nie altyd akkuraat nie, en volgens die kerk soms deurmekaar. Daarom was daar teen die einde van die derde eeu ’n groeiende drang om die datum van Paasfees onafhanklik van die Joodse kalender vas te maak. Tydens die Konsilie van Nicea (325 nC) is besluit om ’n eenvormige metode te vind om dit te doen. Dit was egter makliker gesê as gedaan. Dié skynbaar eenvoudige takie sou nog etlike eeue neem om te voltooi.
’n Hele dissipline, genoem computus, het rondom die vasstelling van die datum van Paasfees ontstaan. Regoor die destyds bekende wêreld, van Rome tot in die Ooste, van Spanje tot Brittanje, van Alexandrië tot Konstantinopel, het mense hulle met die berekening van die Christelike kalender en die datum van Paasfees besig gehou.
’n Berekeningsmetode gebaseer op die verskil tussen die maankalender (354 dae) en die sonkalender (365 dae) wat in Alexandrië ontstaan het, het uiteindelik die basis gevorm van die metode wat redelik algemeen aanvaar is.
In ongeveer 390 nC het biskop Teofilus die Aleksandrynse Paastabelle saamgestel. Berekenaars in Konstantinopel het skynbaar ook, onafhanklik van die Aleksandryne, datums vasgestel wat met die Aleksandryne s’n ooreengekom het.
In 525 nC het Dionesius Exiguus in Rome berekeningstabelle gepubliseer wat uiteindelik wyd aanvaar is. Hy het daarin geslaag om die Aleksandrynse kalender en metode in die Juliaanse kalender, wat in Rome in gebruik was, te inkorporeer. Dit het vir alle praktiese doeleindes daarop neergekom dat Paasfees op die eerste Sondag ná die eerste volmaan ná 21 Maart gevier word.
In Dionesius se tabelle is die Christelike jaarteling (die konvensie om die geboortejaar van Christus as berekening van die jaartelling te gebruik) die eerste keer ingevoer. Weens ’n fout in sy berekeninge word Jesus se geboortedatum op ongeveer ses vóór Christus gestel.
In 1583 het daar egter ’n radikale kalenderhervorming ingetree. Daar is opgemerk dat die dag- en nagewening (Engels equinox) van Maart al hoe vroeër skuif – met implikasies natuurlik vir die vieringsdatum van Paasfees. Kundiges, onder andere Aloysius Lilius (Lilio), het toe vasgestel dat ’n jaar nie uit 365.25 dae bestaan nie, maar wel uit 365.2425. Waar die dag- en nagewening in 325 nC met die Konsilie van Nicea op 21 Maart geval het, het dit in 1583 reeds op 11 Maart geval – ’n verskil van tien dae.
Pous Gregorius het op 14 Februarie 1582 ’n edik (pouslike bul) met die titel Inter Gravissimas geteken waarin bepaal word dat ’n nuwe kalender in plaas van die Juliaanse kalender gebruik sou word, en dat 5-14 Oktober 1582 verwyder word. Mense het dus op die aand van 4 Oktober 1582 gaan slaap en die volgende oggend op 15 Oktober wakker geword! Dié nuwe kalender staan bekend as die Gregoriaanse kalender.
Die enigste probleem was dat die nuwe kalender deur ’n Rooms-Katolieke pous ingestel is. Dit het veranderings nie net aan die kerklike kalender aangebring nie, maar ook die burgerlike kalender geraak. Die pous het nie noodwendig gesag oor die burgerlike owerhede gehad nie. In sommige lande waar die Rooms-Katolieke in die meerderheid was soos Spanje, Portugal en die grootste gedeelte van Italië, is dit onmiddellik geïmplementeer. Ander Rooms-Katolieke lande het dit mettertyd eers gedoen.
Lande waar Protestante in die meerderheid was, het dit aanvanklik geweier of bloot geïgnoreer. Hulle het dit gesien as ’n ingreep van Rome om almal weer onder die gesag van die Katolieke Kerk te bring. Tussen 1753 en 1845 het die meerderheid Protestantse lande ter wille van eenvormigheid dit egter ook aanvaar.
Rusland en Griekeland het die nuwe kalender eers in die 20ste eeu aanvaar. Teen daardie tyd moes hulle reeds 13 dae uit hulle kalender verwyder. Die Oosterse kerke volg egter nog steeds die Juliaanse kalender in hulle berekening van Paasfees. Daarom vier hierdie kerke Paasfees gewoonlik op ’n ander datum as die Westerse kerke.
Die rede dat Paasfees soms heelwat later plaasvind soos in 2011, is dat die eerste volmaan ná 21 Maart 2011 eers op 18 April verskyn het. Die eerste Sondag ná 18 April was 24 April. Dit beteken dat Pinkster ook later as gewoonlik sou plaasvind, aangesien Pinksterfees 50 dae ná Paasfees gevier word.
Vandag hou ons nog by bogenoemde instelling en hoef daar nie verwarring oor die datum van die Paasnaweek te wees nie. U kan nou self die Paasnaweek en Pinksterfeestyd vooraf gaan bereken: die eerste Sondag ná die eerste volmaan ná die 21 Maart-nag-ewening, en Pinkster 50 dae later.