Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons volk se harte nie gaan verander nie, sal niks verbeter nie, eerder versleg! God gee ons ʼn kragtige Gees om ons te help om ons harte skoon te maak – die Heilige Gees. Laat jou hart in lyn met God se doel kom. Daarvoor moet ons wakker wees en nie toelaat dat verkeerde dinge ʼn tuiste in ons hart vind nie. Dis ʼn daaglikse stryd wat ons slegs met die hulp van die Heilige Gees kan stry.
DIE “AFRIKA RENAISSANCE”
Deur Mike du Toit
Inleiding
Wat is die "Afrika Renaissance" of die "Eeu van Afrika". Wat presies word bedoel wanneer die begrippe gebruik word? Bestaan daar 'n verband tussen die Europese en die "Afrika Renaissance"? En hoe suksesvol is die "Afrika Renaissance" waarvan so baie gepraat word?
Die begrip "Renaissance"
Die woord "Renaissance" beteken letterlik "wedergeboorte." Dit verwys na 'n tydperk in die Europese geskiedenis wat van ongeveer 1300 tot 1650 gestrek het. Aanvanklik het historici gemeen dat die Middeleeue 'n tydperk van beskawingsduisternis was en dat die Renaissance 'n tydperk van hernieude belangstelling in die klassieke beskawings van Griekeland en Rome was. Later het sekere historici egter daarop gewys dat die Renaissance se oorsprong in die Middeleeue lê en dat dit as 'n tipiese geestesproduk van die Europese mens beskou behoort te word. Die Renaissance word dus deesdae gesien as 'n produk van intense belangstelling in die ou klassieke beskawings van Europa, fasette van die Middeleeue en ook as iets nuuts en unieks in die ontwikkeling van Europa.
Die kulturele prestasies van die Renaissance
Wat veral nuut was in die ontwikkeling van Europa was die prestasies op die gebied van die kuns, letterkunde, filosofie, wetenskap, opvoedkunde, argitektuur, musiek en medisyne.
Op die gebied van die Renaissance beeldende- en skilderkuns het onder andere die volgende persone besondere bydraes gelewer: Giotto di Bondone (fresko muurskildertegniek, lig-donker skildertegniek, muurskilderye en mosaïek in die St. Franciscus-kerk en die Arena-kapel in Padua), Fra Angelico, Fra Filippo Lippi, Leonardo da Vinci (beeldhouer, skilder, argitek, musikus, uitvinder, goudsmid, ingenieur en filosoof, skilder "Avondmaal" en "Mona Lisa"), Michelangelo Buonarotti (skilder, argitek, beeldhouer, fresko in die Vatikaan se Sixtynse Kapel), Titiaan (skilder "Bacchus en Ariadne" en "Heilige en Profane Liefde"), Sandro Botticelli (skilder "Primavera"), Raphael Sanzio (skilder "Die Madonna van die Stoel"), Giorgione (skilder "Pastorale Simfonie"), Carpaccio, Tintoretto, Paolo Veronese, Albrecht Dürer (skilder "Die Maagd en Kind met die Heilige Anna", houtsneekuns, koper graveerwerk), Hans Holbein, Lukas Cranach, die broers Huybrecht en Jan van Eyck (skilder "Die Maagd en Kansekier Rolin"), Pieter Brueghel (skilder "Die Oesters"), Andrea Pisano, Lorenzo Ghiberti, Donato Donatello (marmer- en bronsbeelde, ruiterstandbeeld van die condottiere, Gattemalata, in Padua), Verrocchio, Cellini en Domenikos Theotokopolis.
Enkele belangrike Renaissance skrywers, digters en politieke- en humanistiese filosowe is: Dante Alighieri (skryf "Die Goddelike Komedie"), Francesco Petrarca, Coluccio Salutati, Giovanni Boccaccio (skryf "Decamerone"), William Shakespeare (skryf tientalle literêre werke), Geoffrey Chaucer (skryf "Canterbury Tales"), William Grocyn, Thomas Linacre, John Colet, Thomas More (skryf "Utopia"), Edmund Spenser (skryf "The Fairie Queene"), Desiderius Erasmus (humanis, filosoof, joernalis, dosent), Rudolfus Agricola, Sebastiaan Brant (skryf "Die Narreskip"), Johann Reuchlin, Ulrich von Hutten, Krotus Rubianus, Guilllaume Budé, Francois Rabelais (skryf "Garqantua," "Pantagruel"), Pierre de Ronsard, Michel de Montaigne, Juan Luis Vives, Miguel de Cervantes (skryf "Don Quixote"), Félix Lope de Vega en Niccolo Machiavelli (politiek filosoof en skrywer van "Die Prins").
Op wetenskaplike gebied het die volgende persone gepresteer: Nikolaas Kopernikus (bevestig die heliosentriese teorie, skryf "Oor die Omwenteling van die Hemelliggame"), Galileo Galilei (grondlegger van die eksperimentele metode, formuleer wet van vallende liggame), Francis Bacon (ontwikkel induktiewe metode en metode van waarneming en eksperimentering, skryf "Nuwe Werktuig"), Johannes Kepler, Johannes Müller (stel trigonometriese tabelle op sodat seevaarders 'n breedtegraad kon vasstel), Geronimo Cardano (skryf "Die Groot Kuns"), John Napier, Christiaan Huygens (ontwikkel die pendulum klok), Otto von Guericke (ontwikkel die lugpomp), Zacharias Janssen (bou eerste mikroskoop), Evangelista Torricelli (ontwikkel die barometer) en Hans Lipershey (bou eerste teleskoop).
Die volgende persone het in die opvoedkunde 'n belangrike bydrae gelewer: Vittorino de Feltre en Guarino van Verona (liggaamlike sowel as intellektuele opleiding) en Baldassare Castiglione (skryf "Die Howeling"). Met betrekking tot die geskiedskrywing het Lorenzo Valla en Francesco Guicciardini (skryf "Geskiedenis van Italië") bydraes gelewer. Sovêr dit die argitektuur betref het Michelangelo Buonarotti en Leonardo da Vinci weereens gepresteer maar ook Filippo Brunelleschi (ontwerp koepel van 'n katedraal in Florence), Donato Bramante en Palladio. In die musiekwêreld het Guillaume de Machaut, Palestrina, Jan van Ockeghem, Josquin des Prez en Orlandus Lassus belangrike bydraes gelewer. Ontwikkelinge in die veld van die medisyne is gelewer deur Ambroise Pare, Andreas Vesalius (ontleed kadawers, skryf "Oor die Bou van die Menslike Liggaam"), Gariello Fallopio (bestudeer menslike fetus, beskryf fallopiaanse buise in die vroulike anatomie), Michel Servetus (ontdek dat bloed tussen die hart en longe sirkuleer) en William Harvey.
Bogenoemde is maar net 'n baie kort opsomming van sommige mense se prestasies. Benewens hulle is daar ook baie ander mense wat gedurende die Renaissance aktief was.
Die lewensbeskoulike prestasies van die Renaissance
Wat veral uniek was van die Renaissance was die lewenshouding van optimisme, sekularisme, humanisme en individualisme.
In die geval van die humanisme is die waarde van die mens beklemtoon en is die mens self as die belangrikste fokuspunt van die intellektuele denke gestel. Saam met die humanisme het die ontwikkeling van die individualisme gegaan. Die mens het homself nie meer net as gemeenskapsgebonde beskou nie, maar ook as 'n vrye individu met eie voorkeure, behoeftes en gevoelens. Boonop is in hierdie tyd die basis gelê van die nominalisme. Die nominaliste het die gedagte van "universele" verwerp en gestel dat slegs die "individuele" werklik is.
Hierdie lewensbeskoulike prestasies van die Renaissance het verder prakties neerslag gevind in die opkoms van nuwe groot stede, universiteite, die moderne nasiestate en uiteindelik die Hervorming.
Die begrip Afrika Renaissance
In dokumente van die Suid-Afrikaanse regering word daar in werklikheid twee begrippe op 'n gereelde basis gebruik, naamlik die "Afrika Renaissance" en die "Eeu van Afrika." Volgens die gebruikers van die begrippe was daar eens op 'n tyd "groot ryke" en "beskawings" in Afrika wat ineengestort het omdat "buitelandse magte" Afrika binnegeval en gekolonialiseer het. Baie miljoene inwoners van Afrika is as slawe weggevoer terwyl diegene wat dit ontsnap het in die woude gaan wegkruip het uit vrees dat hulle ook gevange geneem gaan word. Na dié gebeure het Afrika 'n agterlike kontinent geword, een waarin sy inwoners permanent geaffekteer word deur slawerny, oorlog, armoede, siektes, geweldsmisdade en 'n onmenswaardige bestaan.
Volgens die gebruikers van die begrip "Afrika Renaissance" gaan al hierdie probleme en teëspoed met die begin van die nuwe eeu en millennium tot 'n einde kom en gaan daar dan as gevolg van die optrede van die inwoners van Afrika self 'n nuwe glorieryke en voorspoedige tydperk in die geskiedenis van Afrika aanbreek. Die inwoners van Afrika (en Suid-Afrika) gaan sulke groot prestasies op die gebied van die kuns, letterkunde, filosofie, wetenskap, opvoedkunde, argitektuur, musiek en medisyne lewer dat daarna verwys gaan word as 'n "Afrika Renaissance." Verder gaan Afrika (en Suid-Afrika) so 'n groot rol in die wêreldgeskiedenis speel dat daarna verwys gaan word as die "Eeu van Afrika."
In vele gevalle gaan die regeringsdokumente dan ook verder en gee inhoud aan die twee begrippe, naamlik:
- dat Afrika 'n kontinent van demokrasie en geregtigheid word waar respek vir menseregte geld,
- dat Afrika 'n kontinent van vrede en stabiliteit word, veral deurdat Suid-Afrika met die ander Afrika lande op ekonomiese gebied saamwerk,
- dat Afrika 'n kontinent van voorspoed word waar 'n ordentlike en groeiende lewensstandaard vir al sy inwoners geld en waar daar nie armoede, sosiale ongelykheid, geweld en siektes soos VIGS voorkom nie,
- dat Afrika ook sy deel bydra tot die ontwikkeling van die wetenskap en die tegnologie in die wêreld,
- dat Afrika "weereens" 'n kontinent van geleerdheid, die kunste en kulturele aktiwiteite word, en
- dat Afrika haar plek saam met die ander kontinente inneem as gelyke rolspeler in die wêreldgemeenskap.
Evaluering
By die evaluering van die begrip "Afrika Renaissance" is drie aangeleenthede ter sprake, naamlik: Het daar werklik sulke groot ryke en beskawings in Afrika bestaan wat deur buitelandse magte vernietig is? Kan bogenoemde doelstellings werklik as 'n "Renaissance" getipeer word? Bestaan daar op hierdie stadium enige bewyse dat so 'n "Afrika Renaissance" suksesvol is al dan nie?
Het daar werklik sulke Afrika beskawings bestaan?
Die gebruik van die term "Afrika beskawings" is misleidend omdat dit die indruk skep dat die beskawings wat in Afrika tot stand gebring is, inderdaad deur "Afrika mense" (Swartmense) tot stand gebring is. Dit is heeltemal onwaar. Die enigste werklike beskawing wat in Afrika tot stand gebring is, is die Egiptiese beskawing. Die Egiptiese beskawing, net soos die Beskawing van Oud-Europa in Suidoos-Europa, is deur Mediterreense Kaukasoïede tot stand gebring. Mens het dus hier te doen met 'n bewustelike poging om die ras-identiteit van die mense wat beskawings in Afrika tot stand gebring het te verduister. Na die Egiptiese beskawing het die Mediterreense Kaukasoïede gemeenskappe in Afrika ook vir Kush, Meroë en Axum tot stand gebring. Hulle is egter op geen manier die Egiptiese beskawing se gelyke nie en kan glad nie as beskawings geklassifiseer word nie.
Vêrder moet daarop gewys word dat die historici wat die geskiedenis in terme van "beskawings" bestudeer het, naamlik Oswald Spengler en Arnold Toynbee, nie een 'n "Afrika beskawing" wat deur "Afrika mense" (Swartmense) tot stand gebring is, aandui nie. Toynbee onderskei tussen "beskawings" en "primitiewe gemeenskappe" en stel spesifiek dat beskawings 'n lang lewensduur het terwyl primitiewe gemeenskappe 'n kort lewensduur het, dat beskawings groot geografiese areas omvat terwyl primitiewe gemeenskappe klein geografiese areas omvat, en dat beskawings groot getalle mense behels terwyl primitiewe gemeenskappe klein getalle mense behels. So, die aanspraak dat daar groot "beskawings" in Swart Afrika was, naamlik Antieke Ghana, Mali, Songhai, Kanem-Bornu, die Hausa "stadstate", Groot Zimbabwe en Mutapa, is totaal onwaar aangesien daar hoogstens van Afrika gemeenskappe gepraat kan word en beslis nie van Afrika "beskawings" nie. Boonop moet daarop gewys word dat meeste van dié gemeenskappe vanweë Arabiese Moslem invloede tot stand gekom het en dat hulle vanweë interne redes tot niet gegaan het en nie vanweë buitelandse ingryping nie.
Kan genoemde doelstellings werklik as 'n "Renaissance" getipeer word?
Indien daar werklik 'n "Renaissance" aan die gang is in Afrika moet daar nou al reeds baie honderde "Afrika mense" geïdentifiseer kan word wat besig is met allerhande nuwe ontwikkelinge op die gebied van die kuns, letterkunde, filosofie, wetenskap, opvoedkunde, argitektuur, musiek en medisyne. Indien daar werklik sulke mense bestaan, sal mens graag wil weet wie hulle is en watse prestasies hulle besig is om te lewer!!!
Andersins moet die "Afrika Renaissance" gesien word vir wat dit is: Op sy beste as nastrewenswaardige ideale vir Afrika en op sy minste as die buitelandse beleid van die Suid-Afrikaanse ANC regering en meer spesifiek die beleid wat Suid-Afrika verwag die ander Afrika state moet navolg.
Bestaan daar enige bewyse dat so 'n "Afrika Renaissance" suksesvol is?
Indien daar dus met die uitgangspunt gewerk word dat die "Afrika Renaissance" die Suid-Afrikaanse regering se ideale vir Afrika is of die beleid wat die ander Afrika state moet navolg, dan behoort dié "Renaissance" in terme van sy eie doelstellings beoordeel te word.
Met betrekking tot die ideaal van demokrasie en respek vir menseregte is Afrika sekerlik die een kontinent waar daar geen sprake van so iets is nie. Byna alle Afrika state is militêre diktature met absoluut geen respek vir enige menseregte nie. Skaars drie maande gelede was daar weer 'n staatsgreep in die Ivoorkus. Net so is die ideaal van vrede en stabiliteit in Afrika 'n illusie. Daar is op hierdie oomblik openlike oorlog of grootskaalse konflik in die "Demokratiese" Republiek van die Kongo, Angola, Burundi en nog vele ander plekke. Dan word nie eers verwys na die misdaad situasie in Suid-Afrika nie – volgens alle aanduidings die ergste in die hele wêreld. Die ideaal om Afrika in 'n kontinent te omskep waar daar ekonomiese voorspoed is en waar daar 'n goeie lewensstandaard geld, is inteendeel juis tekenend van die feit dat daar grootskaalse armoede, sosiale ongelykheid, hongersnood en siektes voorkom. Van al die kontinente word Afrika byvoorbeeld die ergste deur VIGS geaffekteer.
Hoe Afrika 'n bydrae gaan lewer tot die ontwikkeling van die wetenskap en die tegnologie in die wêreld is, soos reeds aangedui, natuurlik 'n groot raaisel aangesien daar maar baie bitter min bekend is omtrent al hierdie slim navorsers en hulle aktiwiteite. Net so is dit 'n raaisel hoe Afrika "weereens" 'n kontinent van geleerdheid, die kunste en kulturele aktiwiteite gemaak gaan word, veral as mens die Suid-Afrikaanse matriekuitslae in ag neem.
Besluit
Siestog, laat hulle maar probeer. Ons sal wel sien hoe vêr kom hulle met hulle idee van ‘n "Afrika Renaissance".