Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
My seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet – Spreuke 1.
HULPBRON-OORLOË
OORLOG LEI TOT KONSOLIDASIE VAN MAG
Die oorlog in die Oekraïne bring heelwat vraagstukke na die oppervlak. Een daarvan is of die hele gebeure beplan is tot voordeel van die NWO. Op die oog af wil dit so lyk aangesien Amerika met NAVO Rusland uitgelok het tot Poetin daarop gereageer het. Die meeste oorloë word gevoer vir heel ander redes as wat gesê word.
Terwyl baie ryk liefdadigheidsorganisasies en stigtings beweer dat hulle bevorderaars van vrede is, is die werklike agenda allesbehalwe vrede. Oorlog is 'n gunsteling NWO-strategie. Dit is 'n middel tot 'n doel, aangesien oorlog ekonomiese stimulus en sosiale verandering bied wat dan gebruik kan word om mag te konsolideer en te sentraliseer.
Sodra jy dit besef maak selfs hoofstroom-interpretasies van die geskiedenis dit voor die hand liggend. Elke betekenisvolle konflik eindig in 'n onderhandelde vredeskonferensie en elke onderhandeling vestig verdere sentralisasie van mag binne groter streeksliggame of interregeringsorganisasies, wat konsekwent soewereiniteit vernietig en kragte konsolideer.
Sal die oorlog in die Oekraïne uiteindelik dieselfde NWO-doel dien? Heelwaarskynlik. Tydens 'n beleggingskonferensie van 28 Maart 2022, het Larry Fink, uitvoerende hoof van BlackRock, verklaar dat Rusland se oorlog teen die Oekraïne 'n nuwe wêreldorde sal veroorsaak wat globalisering in 'n ander fase sal neem.
Die vernietiging van globale voorsieningskettings sal maatskappye dwing om nuwe verskaffers nader aan die vraagpunt te soek. Alhoewel ons dalk nog nie kan sien hoe hierdie herorganisasie sal lyk nie, is daar geen twyfel nie dat ons op die punt staan om te betree waarna die joernalis Michael Lind verwys as "hulpbron-oorloë".
Rusland en die Oekraïne is saam verantwoordelik vir meer as 'n kwart van die wêreldwye koringuitvoere. Rusland en Wit-Rusland produseer saam byna die helfte van die globale uitvoer van pot-as, 'n belangrike voedingstof wat in kunsmis gebruik word, terwyl Rusland meer as 'n vyfde van die ammoniak-uitvoere produseer wat in globale landbou gebruik word.
Op sy beurt oorheers Sjina die wêreldwye produksie van baie noodsaaklike minerale soos molibdeen, en indirek deur te belê in litiummyne in Australië, platinummyne in Suid-Afrika en kobaltmyne in die Demokratiese Republiek van die Kongo.
Volgens Lind is dit moontlik om “groen” of “skoon” te wees sonder om ons lewenstandaard prys te gee maar volgens kenners sal dit maar moeilik gaan. Byvoorbeeld, vir die doelwit om alle voertuie in die VK teen 2050 elektries te maak, sal al die neodymium wat wêreldwyd geproduseer word, en driekwart van die wêreld se litium nodig wees. En dit net vir ‘n klein landjie soos Brittanje!
Ander Europese lande en die VSA sê ook hulle wil hê dat alle voertuie teen 2050 elektries moet wees. Kortom, die omgewingsidealiste se doelwit om weg te doen met gasaangedrewe voertuie is net ‘n droom. Daar is nie genoeg minerale hulpbronne vir selfs 'n klein land soos die VK om dit binne die volgende vier dekades te bereik nie. Dieselfde geld vir groen energie.
Afgesien daarvan, is "skoon" energie nie skoon nie, so, die hele uitgangspunt is bedrog. Son-, wind- en hidrokragtoerusting benodig almal aardgas, olie en minerale. Sulke oorgange bereik dus niks in terme van omgewingsbeskerming nie. Ons benodig steeds dieselfde massiewe myne, dieselfde gas- en olie-ontginning.
Om terug te keer na hulpbron-oorloë: dit sal seker nie ophou totdat die Derde Wêreldoorlog plaasvind nie – dit lyk reeds of dit bitter naby is. Ons hoef ook nie te twyfel oor die feit dat dit ‘n kernoorlog met die ergste vernietiging van hulpbronne sal wees nie. Dit wil lyk of ons hier in Suid-Afrika nie te betrokke by daardie oorlog sal wees nie aangesien ons nie oor kernwapentoerusting beskik nie. Die moontlikheid dat ons in vrede gelaat sal word is dus groot maar dit sal net God se genade wees wat ons dan hier aan die suidpunt van Afrika veilig hou te midde van ons eie probleme.