Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toets jy nog telkens jou eie lewe aan elkeen van die Tien Gebooie van God? God het ons uitverkies om sy kinders te wees en Hy vra dat ons Hom met ontsag en eerbied dien. Dit sluit in dat jy in woord en daad jouself aan sy wil onderwerp in gehoorsaam en getrouheid aan al tien die gebooie – nie net sommige van hulle nie.
OORLOG IN DIE OEKRAÏNE…
…vanuit ʼn Bybelse perspektief
Anita Joubert
Om hierdie oorlog wat nou op almal se lippe is vanuit ʼn Bybelse perspektief te sien, is dit nodig om te gaan kyk hoe die Here met volke in die tyd van die Ou Testament gewerk het. Hy het nog nooit verander nie. Dit is presies dieselfde God wat ons vandag nog aanbid. Hy is nog steeds in beheer van hierdie skepping wat Hyself geskep het, al dink Satan dat dit aan hom behoort om te verwoes en te vernietig en uit te deel, soos wat hy probeer het met Jesus toe hy vir Hom, in die woestyn, al die koninkryke van die wêreld wou gee, as Jesus net sou neerval en hom aanbid.
Satan het wel vir ʼn tyd lank beheer oor die aarde verkry – Jesus self het hom die owerste oor hierdie wêreld genoem– net sodat God sy volmaakte raadsplan kan voltooi, en dan gaan Satan in die bek geruk en baie swaar gestraf word. Elke volk, en veral sy leiers, sal nog steeds verantwoordelik gehou word vir hulle dade voor die God van Geregtigheid, en wanneer hulle beker van sonde en ongeregtigheid volgeloop het, gaan God hulle nog steeds straf net soos wat in die Ou Testament gebeur het. Die King James-Vertaling praat van die “cup of iniquity.” Ons lees onder andere in Genesis 15:16, toe die Here ʼn verbond met Abraham gesluit het en Hy vir hom sê dat dit eers sy vierde geslag sal wees wat na die land sal terugkeer, want eers dan sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.
God gebruik meestal mense, ander volke, om ʼn volk te straf. Die profete van die Ou Testament het vir jare lank uit hulle harte geprofeteer om die Israeliete te waarsku dat hulle ontrouheid aan die Here, hulle geheul met afgode, en veral die feit dat hulle hul kinders aan afgode geoffer het, hulle duur te staan gaan kom – en dit het. Hulle is weggevoer in ballingskap – die Noordryk deur die Assiriërs en die Suidryk deur die Babiloniërs onder Nebukadnesar.
Ek het onlangs ʼn profesie gelees waarin die Here gesê het dat Hy vir Rusland en Putin as sy oordeelsinstrument gaan gebruik net soos wat Hy vir Nebukadnesar gebruik het om die Israeliete te straf.
ʼn Ander teken van die oordeel van God, is ook om vir ʼn volk geheel en al onbevoegde leiers te gee. Die Here se woorde deur Jesaja in Jesaja 3:4 is: “And I will give children to be their princes, and babes shall rule over them” (King James Vertaling). Die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling stel dit so: “Die Here sal aan onvolwassenes gesag gee oor sy volk, wispelturige mense sal oor hulle heers.” Hierdie is ʼn Skrifgedeelte wat die Here vir baie Christene gegee het hier in Suid-Afrika, net voor die verkiesing in 1994. ʼn Baie goeie vriend van ons het, met groot oë, vir ons kom vertel dat dit die antwoord is wat die Here vir hom gegee het toe hy oor die verkiesing gebid het.
Al vir agt en twintig jaar lank kyk ek saans na die nuus op TV en alles wat gebeur in ons land, bedrog, leuens, diefstal, onbevoegdheid – en ek weet dit is God se oordeel oor ʼn land en volk wat homself eens op ʼn tyd ʼn Christenvolk genoem het. Ek glo nie ons gewone mense sal ooit regtig presies weet wat al die sondes en ongeregtighede van ons vorige regering was nie, wat die beker van ongeregtigheid vir Suid Afrika laat volloop het.
Die afgelope paar jaar hoor ʼn mens weer waarskuwingsprofesieë teen Suid Afrika se huidige regering en ek weet, weer eens het hierdie regering se beker van ongeregtigheid volgeword – dit is net ʼn kwessie van tyd. God slaap verseker nie. Die Psalmskrywer skryf in hoofstuk 121:4 dat die Beskermer van Israel nie sluimer of slaap nie.
Die Oekraïense regering word as een van die mees korrupte regerings in die wêreld beskou, en dit maak sin dat hulle onder God se oordeel is.
Nou is die vraag: “Kry onskuldige mense swaar in die proses?” En die antwoord is “Ja, baie!” Dit breek eintlik ʼn mens se hart. Ons as gesin was vir baie jare lidmate van ʼn baie groot gemeente wat ʼn hele aantal sendelinge uitgestuur en finansieel onderhou het. Ons het onder andere ʼn egpaar uitgestuur wat geroepe gevoel het om in die Oekraïne te gaan werk. Die man het destyds pas sy Teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi en hulle is met blink oë hier weg om ʼn bydrae in God se koninkryk te gaan maak. Hulle het hierdie afgelope 25 jaar geleer om vlot Russies te praat, ʼn gemeente op die been gebring en opleiding vir baie studente gegee wat leiers van gemeentes geword het. Ons het nog al die jare steeds kontak met hulle. Toe die oorlogswolke begin saamtrek het my skoonseun vir hulle gevra of hulle gaan vlug, maar hulle antwoord was: “Nee! Dit is vir ʼn tyd soos hierdie dat God ons geroep het. Ons moet hierdie mense help.” Ek is nou op een van hulle gebedsgroepe en ontvang daagliks nuus en gebedsversoeke van hulle. Hierdie gesin, wie se huis nie besonder ruim is nie, huisves en voed elke aand tussen 30 en 40 vlugtelinge voordat hulle hul die volgende dag na die grens neem waarvandaan hulle landuit kan vlug. Die meeste van hierdie vlugtelinge is nie Christene nie en hoor vir die eerste keer die evangelie van Jesus Christus in die huis van hierdie sendeling-egpaar. Die meeste bars in trane uit en reageer positief daarop. Ek het video’s gesien van Christene wat op treinstasies staan en sing en die Here loof en prys. Ander video’s wys mense wat op hulle knieë in die sneeu staan en die lewende God aanroep. ʼn Mens sien dan maar net hoedat God besig is om, te midde van hartseer en swaarkry, sy uitverkorenes bymekaar te maak. Hy moet al hoe harder roep want die tyd is baie min, en Hy moet Homself hoorbaar maak bo die lawaai van hierdie wêreld.
Ons moet nooit dink dat God van enigiets vergeet, of dit miskyk of verskoon nie. Dit is net wanneer ons ons sondes bely en laat staan, en werklik berou daaroor het, dat Hy ons vergewe en dit vergeet om nooit weer daaroor te dink nie, want Jesus het ʼn baie hoë prys daarvoor betaal.