Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u al gesien hoe mense in hierdie moderne tyd van spanning en angstigheid altyd 'n luide lawaai om hulle verkies om hulle gemakliker te probeer maak? Baie mense ervaar stilte nie as 'n volheid en weelde nie maar as 'n leegheid, nutteloosheid of selfs 'n bedreiging. Stilte is vir hulle soos 'n gapende afgrond waarin hulle dreig om te val. As ons verhouding met God reg is, sal ons nie die angstigheid van stilte ervaar nie maar dit sien as 'n tyd waarin ware wysheid tot ons kom, wanneer jy groei tot 'n rype mens, daar waar ons God goed hoor. Maak vir jou elke dag stiltyd waarin jy leer om werklik te luister.
STOP VIGS...
...HEILIG SUID-AFRIKA SE SEDELIKE GEDRAG!
Die voorspoed of verval van ʼn volk hang baie van die sedelike peil van sy burgers af. Van die 22 beskawings wat al tot ʼn val gekom en van die wêreldkaart verdwyn het, het 19 weens sedelike verval tot niet gegaan. Suid-Afrika se sedelike peil verkeer in bodemlose put met die hoogste voorkoms van VIGS ter wêreld! Nagenoeg 18% van alle volwasse Suid-Afrikaners is besmet en die getalle styg steeds soos wat die gat in ons morele osoonlaag groter word.
In 1982 was twee homoseksuele vlugkelners die eerste mense wat in Suid-Afrika met VIGS gediagnoseer is. Vyf-en-twintig jaar later was 5,7 miljoen mense in Suid-Afrika besmet. In 2010 alleen het 280,000 mense in ons land daaraan gesterf; 42% van die sterftes daardie jaar!
Niemand weet vir seker waar en wanneer VIGS begin het nie. Dit was nie altyd daar nie. Die algemene verklaring is dat dit iewers in Afrika ontstaan het waar mense wat die vleis van sekere ape geëet het ʼn virus na mense oorgedra het. Dis hoogs onwaarskynlik. Daarvoor het die virus net te vinnig versprei!
VIGS staan vir verworwe immuniteit gebrek sindroom. Die naam sê dat dit van nêrens gekom het nie maar miljoene lewens geëis het toe mense se immuniteit-sisteem skielik ophou werk het. Die VIGS epidemie vergelyk met die Swart Plaag wat eeue gelede in ʼn betreklik kort tyd van die een land na die ander versprei en miljoene lewens in Europa en Engeland geëis het.
VIGS versprei soos ʼn veldbrand. Mediese dienste word oorlaai. Lykshuise is vol, begraafplase loop oor en miljoene kinders word wees agtergelaat. Na berekening sal ʼn derde van Suid-Afrika se bevolking teen 2020 met VIGS besmet wees. Desondanks word die simptome van die plaag behandel maar die oorsprong daarvan nie aangespreek nie.
VIGS is egter nie die eerste plaag wat die mensdom tref nie. In 14de eeu het Engeland ʼn bevolking van 6 miljoen gehad. Toe die Swart Plaag die land in 1348 tref, het hierdie getal drasties gedaal en in 1500 op slegs 1,6 miljoen te staan gekom. Oor sewe geslagte heen is 4,4 miljoen Britte dood!
Die geskiedenis het ʼn manier om homself te herhaal. VIGS het ʼn soortgelyke bedreigingspartoon. Die ergste van alles is dat beide die Swart Plaag en VIGS verhoed kon gewees het indien maatreëls wat duisende jare gelede bekend gestel is, net toegepas is. Die genesing is in die wêreld se top boekverkoper opgeskrywe - die Bybel.
Die Swart Plaag het sy oorsprong in die omgewing van die Swart See gehad nadat ʼn Oosterse leër die Krimskiereiland in 1346 aangeval het. Hulle is spoedig deur so ʼn onverklaarbare plaag geteister, dat hulle die aftog moes blaas. Dis deur vlooie op swart Asiatiese rotte veroorsaak. Toe hierdie rotte weens ʼn plaag begin vrek het, het die vlooie ander gashere gevind – mense. Mense het begin siek word en by die duisende gesterf sonder om die oorsaak van die plaag vas te stel. Die plaag het via matrose in Europa beland en later na Engeland versprei en binne ʼn jaar ʼn kwart van die Britse bevolking uitgewis.
Mense het destyds gedink dat dit iets in die lug was terwyl dit in werklikheid op die grondvlak voor hulle voete was. Interessant genoeg was Jode die minste daardeur geraak. Die onderliggende oorsaak van dié plaag was onhigiëniese toestande. Jode wat die Bybelse gesondheidswette gehoorsaam het, het destyds basies niks oorgekom nie.
VIGS ontspring ook uit vullis – dié van die siel waaraan die toenemende onsedelikheid van ons tyd gekenmerk word. Soos wat daar vir die Swart Plaag ʼn Bybelse genesing was, is daar ook vir hierdie een genesing. As mense maar net na God se Woord wil luister!
Die regering bewillig jaarliks baie geld om die verspreiding van VIGS te probeer beperk. Die een peperduur projek na die ander is geloods om mense aan te moedig om veilige geslagsomgang te beoefen. Miljoene kondome is gratis versprei en allerlei antivirale medisynes het hul verskyning gemaak sonder dat iets werklik gewerk het. Hierdie medisynes bied nie genesing nie, maar vertraag slegs die dood.
Daar is en sal nooit ʼn geneesmiddel vir VIGS wees nie. Gelukkig is die mensdom darem nie weerloos teen hierdie plaag nie. Dit kan voorkom word. As mense die aas vermy, sal hulle nie nodig hê om van ʼn hoek in die bek ontslae te raak nie!
Mediese navorsers maak ʼn onderskeid tussen hoë en lae risiko geslagsomgang. Eersgenoemde word as ses of meer verskillende bedmaats per jaar beskou en laasgenoemde as minder as ses. Die Bybel praat anders – een buite die huwelik te veel is alreeds hoë risiko!
Sonder gehoorsaamheid aan God se Woord sal geen oplossing vir VIGS gevind word nie. Die verbreking van Sy wet lê aan die wortel van hierdie plaag. Die kernprobleem is die ongekende onsedelikheid wat die wêreld teister en van alle oorde af aangemoedig word. Jesus praat ook van ʼn toename in pessiektes as teken van die naderende einde van die wêreld. (Mt.24:7).
Toe God die eerste mensepaar geskep het, het Hy geweet dat hulle nie reg van verkeerd kon onderskei en nie vanself sou leer nie. Hy moes hulle onderrig. In Gen.2:16,17 gee Hy aan Adam opdrag oor wat om te eet en wat nie. Gen.3 vertel van hulle ongehoorsaamheid en straf. Wie God se opdragte verwerp, betaal ʼn duur prys!
God het die Tien Gebooie gegee sodat mense gelukkige, gesonde lewens kan lei. Sedeloosheid lei dikwels tot die dood, VIGS en ander geslagsiektes eis jaarliks duisende lewens wêreldwyd. Ja, die verbode vrug in die tuin van Eden was ʼn lus vir die oog, maar die gevolg dodelik.
Enige geslagtelike verhouding buite die huwelik is sonde. God se wet staan vas: “Want Ek, die Here, het nie verander nie...” (Mal.3:6). Wie die gevaar binnestap moenie redding verwag nie!
Tydens die Swart Plaag was die gesondheidstoestande in dorpe en stede haglik. Plaasdiere is dikwels in huise aangehou. Ontlasting en huisvullis is by vensters uitgegooi. Daarbenewens was huise te na aan mekaar. Rotte het in sulke omstandighede gefloreer. Hulle was die draers van vlooie en vlooie die draers van pessiektes.
God het aan Israel ʼn voorskrif gegee wat om met menslike ontlasting te doen: “Jy moet buitekant die laer ʼn plek hê, en daarheen moet jy uitgaan. En jy moet by jou gereedskap ʼn grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak” (Deut.23:12,13).
Die Jode wat God se voorskrifte gehoorsaam het, was tydens die Swart Plaag beter af as ander bevolkingsgroepe. Hul gehoorsaamheid aan die Bybel het tot hul immuniteit bygedra al het niemand dit destyds verstaan nie.
Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler betaal vir VIGS navorsing en die duur antivirale medisyne sonder noemenswaardige vordering. Al hoe meer mense sterf daaraan. Daar is net een oplossing – gehoorsaam God se morele wette. Hy het dit duisende jare gelede al laat opteken.
In die lig van die onkeerbare VIGS epidemie gaan dit ʼn mens se verstand te bowe dat kerke hul ten gunste van homoseksuele verhoudings en huwelike uitspreek. Behoort hulle nie eerder sterker standpunt daarteen in te neem nie? Wie homoseksualisme goedpraat is indirek aandadig aan die gevolge daarvan.
VIGS is ook verpolitiseer. In hospitale mag geen pasiënt se VIGS status bekend gemaak word nie omdat dit polities inkorrek sou wees. Waarom? Omdat dit hoofsaaklik ʼn siekte is wat onder swartes voorkom is en die regering vir ʼn stigma vrees. Wees maar versigtig vir uitdrukkings soos politiese korrek of politiese inkorrek. Niks wat sedelik verkeerd is, kan ooit polities reg wees nie.
Die nuusmedia dwing met VIGS wêreldwye medelye af asof dit ʼn siekte soos masels of waterpokkies is terwyl dit ʼn self toegedien siekte is (Engels: self inflicted disease). Tydens ʼn simposium oor VIGS ʼn paar jaar gelede in Suid-Afrika is die verband tussen hierdie plaag en sedeloosheid nêrens genoem nie terwyl dit die oorsaak van 98% van alle gevalle in Afrika is.
God waarsku dat ongehinderde sedeloosheid nie ongestraf sal bly nie. Hy het selfs twee stede weens homoseksualisme laat verwoes: “...en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand ... as ʼn voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Pet.2:6). God straf nie net enkelinge nie, maar ook gemeenskappe wat sedeloosheid laat begaan.
Die oplossing vir VIGS is eintlik baie eenvoudig – heilig Suid-Afrika se sedelike gedrag. Daarvoor is ʼn bewustelike keuse vir God en die bevele van sy Woord nodig. Suid-Afrika het nie meer kondome of duurder antivirale medisyne nodig nie, maar ʼn hartsverandering.
Ons droom van ʼn land waar God soos in die verlede weer geëer word, wellus nie meer seëvier nie, die jeug sedelik rein leef en die huwelik onbevlek bewaar word. As dit gebeur, sterf VIGS nog in ons huidige geslag uit!