Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, dankie dat ek weet U wil juis hierdie siekte gebruik sodat mense wat na my kyk, sal kan sien dat ek anders is en optree omdat ek aan U behoort; sodat ek in hierdie donker tyd 'n blinker, kragtiger getuie van u liefde kan wees.
DIE ANTICHRIS SE VOETSTAPPE (3)
Lees reeks by Die Antichris se voetstappe
Ds AE vd Berg
WIE SWAAI DIE SEPTER?
1. Die Duitse droom
Net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het invloedryke Duitse sakelui en Nazi militariste geheime vergaderings met Roomse bankiers gevoer en hulle oorreed om die oorlog te help befonds. Baie van hierdie dokumente het ná die oorlog aan die lig gekom. Die Roomse Kerk het beslis ʼn vinger in die Duitse pastei gehad!
Die ideologie van die oppermagtige mens het miljoene Duitsers begeester en Adolf Hitler vinnig opgang laat maak. Hy het die Duitse volk aangespoor om die droom van ʼn Derde Duitse ryk te verwesentlik en ʼn oorlog ontketen waarin nagenoeg 50 miljoen mense hul lewe verloor het. Na die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog is daar teen Duitsland opgetree wat in 25 jaar se tyd twee bloedige oorloë in Europa ontketen het. Sy is gedemilitariseer.
2. Herbewapening
Hierdie demilitarisering was egter van korte duur. Met die aanvang van die Koue Oorlog was die Weste bevrees dat Rusland Wes-Europa kon binnedring en is die vorming van ʼn Europese Verdedigingsgemeenskap in die vooruitsig gestel. Toe daar niks van kom nie, het Brittanje en Amerika die besluit om Duitsland te demilitariseer ter syde gestel en in NAVO (Noord Atlantiese Verdragsorganisasie) opgeneem.
Gevolglik is Duitsland in 1955 herbewapen om Amerika in die prentjie en Rusland daar uit te hou. Terselfdertyd kon Duitsland onder die duim gehou word. Frankryk was egter teen die herbewapening van Duitsland gekant en haar van NAVO onttrek.
3. Propaganda
Die Duitsers het egter nie hul geskiedenis vergeet nie en geleidelik van hul na-oorlogse verdraagsame pasifisme en boetedoeninghouding wegbeweeg. Vandag beywer Duitsland haar weer vir wêreldleierskap en maak van alle denkbare metodes en propaganda gebruik om hierdie doelwit te bereik; selfs van kanale waarin niemand ʼn Duitse jakkals verwag nie!
Hitler het daarin geslaag om binne ses jaar die sterkste militêre mag in Europa sonder noemenswaardige kommunikasietegnologie op te bou. Al wat hy tot sy beskikking gehad het, was ʼn ideologie en ʼn begeesterde volk wat bankvas agter hom gestaan het. Daarna het Naziïsme elke faset van die Duitse volk deurstroom en meedoënloos meegesleur.
Die mag van die massamedia om gedagtegange te skep of te verander, moet nooit onderskat word nie. Josef Goebbels, Hitler se Minister van Propaganda, het bv. die radio gebruik om die Nazi-ideologie aan die massas te verkoop. Die onophoudelike stroom van leuens het spoedig die verlangde vrugte afgewerp.
Die EU beskik vandag oor baie meer as wat Goebbels gehad het – die massamedia! Dis na berig word goed oppad om die eerste handel- en politieke liggaam te word wat 100% internetdekking in al sy lidlande sal hê. In Februarie 2009 was dit blykbaar net 7% kort van die doelwit.
Gevolglik is die vrees vir Duitsland terug. Sy het vandag meer mag as ooit tevore sonder om een skoot te skiet. Die EU is in werklikheid die enigste gesagsliggaam wat haar militêr kan bedwing. En dit sal nooit gebeur nie. Die EU is ʼn Duitse ontwerp en die rol wat Duitsland daarin speel, is te groot om enigsins teen haar te kan optree. Die EU is vir alle praktiese redes Duitsland en Duitsland die EU!
4. Frankryk
Frankryk speel sedert die Napoleontiese oorloë ʼn belangrike rol in Europa. Alhoewel sy groot genoeg was om haar wil op Europa af te dwing, het sy nooit oor die nodige politieke, ekonomiese en militêre mag beskik om haar volksbelange doeltreffend te beskerm nie. Haar leiers moes maar altyd bondgenootskappe met ander volke vorm.
Frankryk het in 1948 met die eerste samesprekings wat tot die stigting van die ESSG (1951) gelei het, by Europese eenheid betrokke geraak. Toe genl. Charles de Gaulle in 1959 president van Frankryk geword het, wou hy munt uit Duitsland se na-oorlogse skuldgevoelens slaan en Europa in Frankryk se guns probeer swaai. Toe dit nie werk nie, het hy ʼn ommekeer gemaak en die Duitsers oortuig dat dit wat vir Europa goed was, vir beide lande voordelig was. Daarna het Frankryk die leiding geneem en Duitsland gerugsteun.
Frankryk het Europa vir bykans 30 jaar oorheers en die EG gebruik om eie belange te bevorder. Met die val van die Berlynse muur (1989) is Duitsland herenig en het Europa van rigting verander. Dit het Frankryk ʼn vuishou laat kry wat haar vandag nog laat steier. Die hereniging was die begin van ‘n Duitse ontwaking waarna Duitsland die voortou geneem en haar wil op lidlande begin afgedwing het.
Duitse diplomate het bv. die Euro ontwikkel; ʼn geldstelsel wat volgens Duitse reëls bestuur word en waaruit Duitsland nie net ekonomies nie, maar ook polities voordeel trek. Dis selfs na Oos-Europa uitgebrei en raak al meer gewild.
Dit het van Duitsland die EU se grootste handelsvennoot gemaak. Nie Frankryk nie. Krake tussen Frankryk en Duitsland is besig om al hoe groter te word. Die EU het van ʼn Franse voertuig van strewes in ʼn Duitse een verander. Duitsland se rol as vastelandleier tydens die 50e herdenking van die Verdrag van Rome was opmerklik. Sy word al hoe sterker terwyl Frankryk al hoe meer kantlyn toe skuif. Frankryk het, soos al die ander lidlande, ʼn volgeling geword!
5. Brittanje
Brittanje het ʼn wesentlike probleem met die EU. Edward Heath het die Britse volk in 1973 mislei toe hy Brittanje by die EU betrek het. Heath het voorgegee dat die EU ʼn onskuldige handelsorganisasie was wat baie voordele vir Brittanje kon hê. Dit was ʼn leuen. Die EU is doelbewus besig om lidlande deur middel van ʼn sentrale, federale owerheid van hul regeermag te stroop!
Die EU knou die Britse bankwese so ernstig, dat beleggers telkens die slegste daarvan afkom. Staatsbeheerde banke moes al van hul takke sluit net om aan die EU se eise te voldoen. Gevolglik veg Britse bankmagnate tans ʼn verlore stryd om bevredigende oplossings te probeer vind. Brittanje het ʼn lakei van die EU geword!
Daarbenewens ondervind Brittanje ernstige probleme met immigrante-werkers. In 2009 het Britse werkers gestaak en die EU se sosialistiese arbeidswetgewing die skuld vir die arbeidsonrus gegee. EU arbeidswet-gewing moedig lidlande as’t ware aan om van goedkoop volksvreemde arbeid gebruik te maak.
Die meeste Britse vakbonde het die EU weens sy sosialistiese arbeidswet-gewing blindelings gesteun. Daarna het hulle dagdrome in nagmerries verander. Die EU kan bv. ʼn skeepsvrag vreemde werkers in enige lidland aflaai sonder dat daardie land iets daaraan kan doen. Wie walgooi en die behoeftes van sy eie werkers beskerm, tree dan onwettig op. Dit gebeur wanneer die fyn skrif van EU verdrae nie gelees word nie!
Elke land moet sy reg op selfbeskikking soos goud bewaar en so ver as moontlik van internasionale skikkings wegbly. Dit het Brittanje baie van haar selfbeskikking laat verloor! Dit het die goeie verstandhouding tussen die staat en sy burgers geskaad. Geen wonder dat Brittanje sukkel om na die belange van haar burgers om te sien nie!
Daar bly vir Brittanje geen ander uitweg oor as om uit die EU te tree nie. Dit gaan egter vir haar bittere gevolge hê en kan selfs haar ondergang beteken. Siener van Rensburg het baie jare gelede in ʼn gesig gesien dat Brittanje geheel van die wêreldtoneel verdwyn. Dit laat ‘n mens dink, nie waar nie? Internasionale skikkings bied maar selde die lewe. Dit baar gewoonlik die dood!