Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Siekte takel mens af na liggaam en gees; jy kan keer dat dit jou gees ontmoedig: as jy dink jy is 'n slagoffer van siekte sal jy presies dit wees; stel eerder jou doelwit om 'n oorwinnaar daaruit te wees – meesal is dit jou veggees wat jou binne God se wil laat herstel.
DIE ANTICHRIS SE VOETSTAPPE (1)
Lees reeks by Die Antichris se voetstappe
Ds AE vd Berg
Voorwoord
Die mensdom staan op die vooraand van die ingrypendste verandering in sy ganse geskiedenis. Die Bybel noem dit die 'groot verdrukking' (Mt.24) en die ryk van die Antichris (2 Thess.2:4). Dit wat eers ver in die toekoms gelê het, is tans besig om voor ons oë te verwerklik. Die meeste mense sien dit egter nie raak nie. Namate dit verwerklik, word die naderende voetstappe van die Antichris al hoe duideliker gehoor.
God het dit wat aan die einde van die tyd gaan gebeur, deur die profeet Daniël en die apostel Johannes laat voorspel. Die Antichris gaan uit die Roomse Kerk (RK) opstaan. Rome is die regisseur en Europa die verhoog vir die laaste wêreldtoneel. (Sien my boeke 'Die Laaste Pous' en 'Die Derde Tempel').
Die Heilige Romeinse Ryk (HRR) herleef sewe keer. Ses van hierdie herlewings is reeds geskiedenis. Die laaste een is voor die deur. Dis ʼn magsblok van 10 nasies wat met die wederkoms van Christus skouspel-agtig vernietig gaan word.
Rome was lank die godsdienstige, politiese en ekonomiese middelpunt van die wêreld en ʼn versinnebeelding van Babilon. Die apostel Petrus groet sy medegelowiges vanuit Rome as ‘n mede-uitverkorene in Babilon” (1 Pet.5:13). Babilon hou van meet af aan met georganiseerde afgodery, laster en vervolging verband.
Die RK is soos ʼn duif met roofvoël-instinkte. Dit het ʼn bedenklike geskiedenis van gruweldade wat in die Naam van Christus gepleeg is. So anders as ons Here Jesus Christus, het Rome wel voor die Satan neergeval om “al die koninkryke en hul heerlikheid” te verkry (Mt.4:8,9). Daarvoor het sy vir meer as 1,200 jaar ʼn onheilige band met bose aardse heersers gesmee.
Dis besig om weer te gebeur. Alle paaie lei nie na Rome nie. Die een na die hemel loop baie ver by Rome verby!
Hoofstuk 1
DIE ONTSTAAN VAN DIE EUROPESE UNIE
1.Die sug na eenwording
Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het Europeërs ernstig na eenheid begin streef ten einde die gruwelvorm van nasionalisme wat hulle tydens diè oorlog beleef het, te probeer genees. Hierdie versugting het Robert Schumann, eertydse Franse Minister van Buitelandse Sake, Jean Monnet, en Konrad Adenauer ʼn gesamentlike verklaring in Mei 1950 laat uitreik wat die Schumannverklaring genoem word. Daarvolgens moes ‘n tussenstaatorganisasie geskep word om Europa vreedsaam te herorganiseer.
ʼn Jaar later het die ESSG (Europese Steenkool en Staalgemeenskap) met die Verdrag van Parys tot stand gekom. Dis deur België, Frankryk, Italië, Nederland Wes-Duitsland en Luxemburg onderteken. Dit het in 1957 tot verdere samewerking gelei toe genoemde lande die Verdrag van Rome onderteken het.
Kort hierna het die EEG, ʼn doeane-unie, sowel as die Europese Atoomenergie Gemeenskap (EURATOM) hul by die ESSG gevoeg ten einde samewerking vir die ontwikkeling van atoomenergie te verkry. In 1967 het diè organisasies saamgesmelt en die Europese Gemeenskappe (EG) gevorm waarna ‘n Europese Kommissie, Europese Raad en Europese Parlement in werking gestel is.
Die Verdrag van Rome word allerweë as die geboorteuur van die latere Europese Unie (EU) beskou. Die Verdrag van Parys was basies net die bevrugting. Die Verdrag van Maastricht (Februarie 1992) het die EU egter ʼn nuwe karakter laat aanneem en Europa in die rigting van strukturele eenheid begin dryf.
2. Die Europese Unie
Die EU is ʼn internasionale organisasie van 27 Europese lidlande met onderlinge ekonomiese, politieke en geregtelike samewerkingsooreen-komste wat met verskeie kragvertonings op die wêreldverhoog vrede en voorspoed vir Europa beding. Dit het drie hoofsentra - Brussel, Luxemburgstad en Straatsburg.
Die EU is de facto die opvolger van die eertydse EG en die grootste handelseenheid ter wêreld. Dit het talle Europese- en aanliggende lande in ʼn reuse administratiewe magsblok met ‘n eie vlag (1986) saamgesnoer en word al hoe sterker. In 2006 het die EU 493 miljoen inwoners (23 ampstale) en ‘n bruto binnelandse produk van 11.5 triljoen Euro ($15 triljoen) gehad. Daarbenewens het dit ʼn eie geldeenheid (Euro) wat deur 16 van die lidlande as nasionale geldeenheid gebruik word.
Op handelsgebied is die EU ʼn enkel mark met gemeenskaplike handel-, landbou en vissery ooreenkomste. Hierdie gesamentlike, gekoördineerde ondernemings bevorder die groot doelwit van ʼn Europa sonder grense. Burgers van lidlande is kragtens die Schengen Ooreenkoms (1985) ook burgers van die EU en kan in enige lidland werk, woon, reis en belê.
3. Instellings
Die EU het verskeie instellings soos die Europese Kommissie (EK), Raad van die Europese Unie (REU), Sentrale Europese Bank (SEB), Europese Hof van Justisie (EHJ) en die Europese Parlement (EP). Die dag tot dag take word deur onderskeie liggame uitgevoer.
Die Europese Raad vergader kwartaalliks om sake wat voorrangaandag moet geniet, vas te stel. Dit gee aan die EU rigting en beweegkrag en word deur die presidente, premiers en ministers van buitelandse sake van elke lidland gevorm. Die president van die Europese Kommissie is ampshalwe lid van hierdie raad.
Die EU Presidentskap is ʼn pos wat nie deur ʼn persoon, maar ʼn lidland beklee word en wissel tans elke ses maande. Die betrokke lidland aan diens is, is die voorsitter van die vergadering en het die voorreg om die sakelys van die EU vir ses maande vas te stel. Alle besluite word tans by wyse van ʼn meerderheidstem geneem.
Die Ministersraad is die EU se belangrikste besluitnemende liggaam. Dit keur Europese wetgewing goed. Die Europese Kommissie gee weer uitvoering aan die sakelys van die Europese Raad en is in Brussel gesetel. Dit bestaan uit 24 direksies wat elkeen deur ʼn kommissaris gelei word.
Die Europese Parlement word vir ʼn 15 jaar termyn deur lidlande verkies. Daar is tans 734 parlementariërs waarvan 72 Britte is. Hulle bespreek die wette wat deur die Europese Kommissie voorgestel is waarna dit na die Ministersraad gaan. Hulle sien ook na die optrede van die EU se onderskeie liggame om en keur die begroting goed. Hulle is ook bevoeg om die Europese Kommissie tot verantwoording te roep.
Die Europese Hof bestaan uit regters wat deur elke lidland benoem word. Daar is tans 25 regters wat deur nege advokate-generaals bygestaan word. Hierdie hof sorg dat die wette wat geneem word, toegepas word.
4. Lidlande
Om lid van die EU te word, moet kandidate aan die Vereistes van Kopenhagen (soos deur ʼn Europese Raadsvergadering in 1993 goed-gekeur) voldoen. Die Europese Raad (ER) doen daarna die nodige ondersoek. Die Verdrag van Lissabon bevat selfs ʼn formele handels-wyse waarvolgens ʼn land hom aan die EU kan onttrek. Groenland het al in 1985 van die EU onttrek.
Die EU is in 1973 vergroot toe Denemarke, Ierland en Brittanje aangesluit het. Noorweë wou ook toetree, maar het na ʼn referendum daarteen besluit. Na die eerste demokratiese verkiesing in die Europese Parlement (1979) het Griekeland, Spanje en Portugal in 1980 by die EU aangesluit. Daarna het Oostenryk, Swede en Finland in 1985 gevolg.
In 2004 het die EU sy grootste uitbreiding beleef toe Malta, Ciprus, Slowenië, Estland, Letland, Litaue, Poland, Tsjeggië, Slowakye en Hongarye aangesluit het. Daarna het Roemenië en Bulgarye in Januarie 2007 gevolg. Daarmee het die grense tussen Oos- en Wes-Europa verdwyn en het Europa deur Oosterse sowel as Westerse longe begin asemhaal.
Die lys van lidlande is as volg: België, Wes-Duitsland, Italië, Luxemburg, Nederland en Frankryk (1957). Brittanje, Denemarke en Ierland (1973) Griekeland (1981). Spanje en Portugal (1986). Hongarye, Ciprus, Malta, Letland, Litaue, Poland, Slowakye, Slowenië, Estland en Tsjeggië (2004). Bulgarye en Roemenië (2007).