Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jare laat wel plooie op ons gesig, maar die mens wat sy geesdrif vir die lewe verloor, kry plooie op sy gees!
AFRIKA EN DIE WÊRELD
Dis nie my gewoonte om op bydraes in Gelofteland kommentaar te probeer lewer nie. Veral nie as daar geen datum by 'n artikel verskyn nie en 'n nie-gereelde leser moet raai wanneer dit geskryf is. 'n Onlangse artikel deur ds André E. van den Berg en 'n tweede met verwysing na die Floydstorie wat blykbaar die VSA en die wêreld op horings het, het my egter laat besluit dat dit miskien tyd geword het om hard-op oor dié sake te dink.
Die eerste artikel gaan oor die agter-geblewendheid van Afrika, of dan van die subkontinent, suid van die Sahara waar die wiel ook blykbaar nie vir die eerste keer sy rol gekry het nie. Of dit altyd die geval was weet 'n mens natuurlik nie, aangesien daar bv sedert die Drakensberge ontstaan het, baie waters in verskeie oseane gevloei het. Maar die verre verlede daargelaat.
Die algemene trant van die eerste artikel is na myns insiens skynbaar versigtig krities-intellektueel, maar bevat tog 'n paar aannames wat 'n mens laat wonder. Beteken beskaafdheid en die vermoë om nie aan 'voorvadergeeste' hoef te glo nie, nie miskien ook 'n gevaar nie? Lei dit nie moontlik tot 'n globale materialisme waarin die intellek los van die geestelike verlede die oplossing van al die mens se probleme in 'n gnostisisme soek nie? Dit sou selfs skadelik vir die geloof soos dié van 'n kind kon wees. 'n Geloof wat vir ons juis in die tyd waarin ons 'n 20/20-visie so nodig het, haas die enigste is wat 'n mens deur vele krisisse kan dra. Ons beleef immers 'n tyd waarin ons nie anders kan nie as om juis weer na die essensiële van dinge te soek en dan in die lig daarvan ons lewe in te rig of minstens dan helderheid te probeer kry.
Hoewel nie bloed-offers, brandstigting en wilde danse wat soms na 'n getoi-toi lyk, die antwoord kan wees nie, moet ons miskien weer, soos die Atheners in Paulus se dae op die Areopagus, kennis neem van 'n 'Beskermende Teenwoordigheid' wat ons nie intellektueel kan verklaar nie. 'n 'Gees' wat ook deur ons voorvaders erken en gedien is en meer as net by Bloedrivier, uitkoms gebied het.
Die tweede artikel, oor die Floyd-opstande, met verwysing na Rick Joyner, hou ook die gevaar van 'n Sub-Sahara Afrika in. Wat sou kon gebeur as, sou 'n mens jouself kon afvra, die beweerde Joyner-visioen van 16 Mei 1993 werklikheid moet word? Indien dit soos tydens die Mfecane grootliks 'lokaal' en in eie geledere sou woed, sou oorlewing vir sommige miskien tog moontlik wees en sou die visie van 'n ou profeet dalk ook sin maak.
Aan die ander kant sou 'n mens natuurlik ook Rick Joyner van Morning Star Ministries se bona vides kon bevraagteken. Veral in die lig van wat Wikipedia oor hom en John Bailey, Jim Bakker en Todd Bentley, lg blykbaar 'n geloofsgeneser, te sê het. En daarmee is die moderne, intellektueel-georiënteerde mens terug by die ou probleem: hoe om visioene en gesigte te evalueer en te interpreteer. En tog. In en deur dit alles, klink 'n wyse woord van ene Paulus wat die goeie stryd gestry en die geloof behou het. Hoewel 'n mens dan tog wonder hoe hy die liefde, vanuit die mens se hoek gesien, hoër kon ag as die geloof.
Uiteraard is ierdie skrywe nie bedoel as kommentaar of evaluering nie. As sodanig is dit slegs maar 'los gedagtes' tydens 'n grendeltyd wat 'n mens opnuut na helderheid en 'n werkbare strategie laat soek.
- 'n Toevallige, naamlose leser. - 9 Junie 2020