WEES NIE BEVREES OF VERSKRIK NIE

Hierdie ekonomiese oorlog wat tans deur die Illuminati (die wêreldgeldmag) teen ons land en die hele wêreld gevoer word kan alles verander indien hulle slaag. Ons wat reeds so naby aan ‘n ekonomiese ineenstorting was sal slegs met God se genade weer ‘n bestaan kan maak wanneer hierdie aanslag afgeweer is. Ons is soos meeste ander lande in ‘n grendeltydperk, daar word kwarantyn toegepas, talle besighede wat forseer word om gesluit te bly sal nie die ekonomiese aanslag oorleef nie, die landsburgers is onder polisie en militêre bewaking met talle gevalle van aanranding en selfs persone wat gedood is deur die “bewakers”. Intussen staar ons grootskaalse plundering en anargie in die gesig want daar is al geruime tyd miljoene hongeres sonder salarisse en lone  daar buite; daarby word die “normale” aanslag teen die blanke  ook nog voortgesit.

Maar die troos wat ons as kinders van die lewende God het is dat Hy ons nie vergeet het nie en steeds in beheer is – kyk net na die lieflike reën die afgelope tyd; iets wat net Hy kan maak! Ons is steeds sy volk, wel stukkend en verskeurd, sommige totaal verdwaald, maar steeds ‘n volk van God.

Die lewe van enige volk wat in die verlede deur die wil van God in aansyn geroep is, duur nie net 300 of 400 jaar lank nie.  Die Afrikanervolk het sedert sy ontstaan nog skaars geleentheid gehad om die doel waarom God hom hier aan die suidpunt van Afrika geplant het, te verwesenlik.  Daarom glo ons vas en seker dat die Here vir ons volk ná hierdie louteringsproses nog ‘n groot taak het om hier aan die suidpunt van Afrika as leier van die nasies te volbring.

In Josua 1 vers 9 het die Here vir sy geroepe dienskneg gesê:  “Wees sterk en vol moed.  Wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here is met jou, oral waar jy heengaan.”  Die dapper Josua het dit geglo  en met bomenslike krag, met die hulp van die Here, Israel se vyande verslaan en die beloofde land weer in besit geneem.

Daar was ook later in die geskiedenis van Israel die onverskrokke Gideon wat met net 300 man en die hulp van die Here die duisende Midianiete verslaan het.  So was daar ook in die geskiedenis van die toe nog klein dapper Afrikanervolkie, manne soos Christiaan Rudolf de Wet en Jacobus Herculas de la Rey, wat ook met die hulp van die Here die demoniese Britse magte drie jaar lank weerstaan en teruggeslaan het.

Nou het daar weer ‘n tydperk in ons geskiedenis aangebreek, waar die Here weer self vir ons ‘n leier moet aanwys om ons te verlos van die demoniese vyand wat ons tans onderdruk.  Sal ons volksgenote nie ernstig saam op die knieë gaan en bid dat God vir ons weer so ‘n man sal voorsien nie?  So ‘n leier vir wie die Here sê:  “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie, want Ek is met jou, oral waar jy gaan!” sal met die hulp van Bo in staat wees om ons te verlos en te bevry  van hierdie helse magte wat ons regeer en saam met die wêreldmage teen ons oorlog voer.

Maar geliefde mede-Afrikaner, as u self weggedwaal het van God en sy gebod en Hom nie meer dien nie, keer dan terug en verootmoedig u voor Hom, sodat ons eendragtig saam kan bid om verlossing uit ons verdrukking.  Onthou, die Here is almagtig.  Net Hy kan ons red en verlos uit ons nood. Wees dus nie bevrees of verskrik nie want Hy sal vir ons uitkoms uit hierdie woestyn gee.