Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet ons hoegenaamd wat dit in praktyk beteken om waarlik en volkome op God te vertrou? Is dit nie dalk waarom dit so haglik met ons volk in hierdie land gaan nie – omdat ons nie in vertroue gehoorsaam aan Hom is nie. Luister wat sê die Psalmdigter in Ps 84: "Hy sal die goeie nie onthou (weghou) aan die wat in opregtheid wandel nie. HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!"
PSIGIATRIE – WERKTUIG VIR DIE HUMANISME
Hierdie opsommende gedeeltes uit die boek, Genees en Voorkom, geskryf deur Susan du Plessis dui aan hoe selfs die psigiatrie ingespan word om humanisme te bevorder en sodoende Christelike Afrikanernasionalisme af te takel. Hierdie artikel is met dank oorgeneem uit ‘n Nuusbrief van die Afrikaner Nasionalistiese beweging.
Die woord psigiatrie beteken letterlik "om die siel te genees". In die agtiende en negentiende eeu was dit psigiaters se verantwoordelikheid om na kranksinniges om te sien. Die haglike toestande in die gestigte waarin die kranksinniges opgesluit was, het dit ‘n onplesierige werk gemaak. Teen die einde van die negentiende eeu, met die materialistiese filosofie as agtergrond, het die psigiatrie egter begin wegbeweeg van die versorging van die kranksinnige na die voorkoming en uitroeiing van kranksinnigheid. In 1909 het die Nasionale Komitee vir Geestesgesondheid in Amerika tot stand gekom. Weereens het John D. Rockefeller sy sak geskud en miljoene gepomp in die ontwikkeling en oprigting van psigiatriese hospitale en die opleiding van psigiaters, sielkundiges en geestes-gesondheidwerkers.
Kinders word die teiken
Die definisie van wat kranksinnigheid is, is tot so 'n mate verbreed dat die eerste navorsingstudie, wat in 'n skool in Baltimore in 1913 uitgevoer is, bevind het dat 10% van die skoolkinders psigiatriese hulp benodig. Loodsprogramme is ook in die Sing Sing-gevangenis begin. Die resultaat was dat psigiatriese departemente by howe vir jeugmisdadigers en gevangenisse tot stand gekom het. Die geestesgesondheid-beweging het vinnig uitgebrei. Teen 1930 was daar reeds assosiasies vir geestesgesondheid in 24 lande, insluitende Kanada, Engeland, Rusland en Australië. Kinders was die vernaamste teiken en die geestesgesondheid-beweging het derhalwe die leidende rol gespeel in die ontstaan van die kinderleiding-beweging, 'n beweging wat in die twintigerjare gefloreer het. Die oogmerk was om jeugmisdaad en gedragsprobleme by kinders te voorkom.
Kinderleiding-klinieke, waar die kind saam met sy gesin behandeling ontvang het, het oornag verrys. Nodeloos om te sê, is die doelwit nooit bereik nie, en vir jare daarna het die mislukking groot verleentheid veroorsaak wanneer daarna verwys is. Maar in plaas daarvan om uit hierdie mislukking die les te leer dat hulle idees verkeerd was, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat hulle nie gou genoeg ingegryp het nie. Aangesien hulle geglo het dat ouers te onkundig oor kinderontwikkeling is om hulle kinders doeltreffend groot te maak, het die Nasionale Komitee vir Geestesgesondheid 'n veldtog oor kinderopvoeding vir ouers geloods. Maar die Komitee se hindernis was dié van vrywillige deelname. Ouers kon nie gedwing word om na die Komitee se raad te luister, dit te aanvaar of dit uit te voer nie. Derhalwe het daar net een alternatief oorgebly: die skole. Soos Ralph Truitt, die hoof van die Nasionale Komitee se Afdeling vir Kinderklinieke in 1927 geskryf het: "...die skool moet die fokuspunt van ons aanval wees."
Dissipline word ‘n probleem
Mislukking op skool is beskou as die groot sondebok, wat lei tot gevoelens van minderwaardigheid, gedragsprobleme soos stokkiesdraai of jeugmisdaad, onttrekking, 'n antisosiale houding, of 'n geslote persoonlikheid. Die oplossing was voor-die-hand-liggend. Die beklemtoning van akademiese prestasie moes verwyder word. "Die onderwys moes meer fokus op persoonlikheidsontwikkeling", het psigiater William A.White in 1927 geskryf. Skooldissipline was ook 'n euwel. Wangedrag van kinders is "nie 'n sonde nie, maar 'n simptoom".Soos Cohen opgemerk het: ''Gesondheidsdeskundiges het onderwysers versoek om minder aandag te gee aan die kind se sigbare gedrag en meer aandag te gee om die kind se motiewe, wat 'min of meer onbewustelik' die gedrag onderlê, en waaroor die kind min beheer het en nie verantwoordelik gehou kan word nie." Deur grootskaalse bemarking het die Komitee se idees die nasionale besluitnemers oor onderwyssake bereik. In 1930 het die Withuis 'n konferensie oor kindergesondheid en -beskerming gehou, wat deur 1 200 kundiges bygewoon is. 'n Betekenisvolle gebeurtenis by hierdie konferensie was die betrokkenheid van 'n groot aantal sielkundiges wat die idee van geestesgesondheid wou opraap. Almal was afkomstig van die Universiteit van Columbia se Onderwyskollege in New York. Op hierdie wyse vind daar samesmelting plaas van die doelstellings van die Progressiewe Onderwys Assosiasie en van die Nasionale Komitee vir Geestesgesondheid. Hand aan hand sou die psigiatrie en die sielkunde nou saamwerk om die verval in die volgende dekades te bewerkstellig. In 1948 het die geestesgesondheid-beweging 'n wêreld-organisasie gevorm wat die World Federation for Mental Health (WFMH) genoem is. Die doel van die organisasie was om psigiatriese ingryping in alle aspekte van die samelewing te iplementeer – die laerskool, hoërskool en universiteit, die mense wat die onderrig verskaf en die beginsels waarop hulle werk, die publieke lewe, die politiek en die industrie. Volgens John R. Rees, die president van die WFMH, was die onderwys en die kerk maklike teikens. Die moeilike teikens was die regstelsel en die mediese wetenskap.
Moraliteit ook ‘n probleem
Moraliteit, die gedagte van reg of verkeerd, is as die grootste oorsaak van geestessiektes beskou, en "ingryping" was veral daarop gemik om moraliteit uit elke afdeling van die samelewing te weer. Chrisholm, 'n psigiater en medestigter van die WFMH, het verklaar dat die mens bevry moet word van sy belasting van goed en kwaad: "Ons is gedwing om allerhande bygelowe te sluk wat aan ons voorgehou is deur ons ouers, Sondagskool- en skoolonderwysers, politici, predikante, koerante en andere wat 'n dwingende begeerte gehad het om beheer oor ons te verkry. 'Jy moet soos die gode word, met kennis van goed en kwaad,' goed en kwaad waarmee beheer oor kinders uitgeoefen kon word, waarmee lojaliteit teenoor familie, nasie en die gemeenskap afgedwing kon word en waarmee kinders blind gehou kon word vir hulle glorieryke intellektuele erfenis... Die onvermydelike resultate is frustrasie, minderwaardigheid, neurose en die onvermoë om die lewe te geniet, om helder te redeneer of om ‘n wêreld te skep wat geskik is om in te leef."
In 1950 het die Nasionale Komitee vir Geestesgesondheid van die nasionale toneel af verdwyn, en saamgesmelt met verskeie ander organisasies om die Nasionale Assosiasie vir Geestesgesondheid te word. Die infiltrasie van die geestesgesondheid-beweging het nou momentum gekry, en die skool het toenemend die teiken geword om hulle idees te verkondig. Teen 1952 is die eerste DSM uitgegee, waarin 'n lys van 112 "psigiatriese versteurings" gegee is. Vandag is daar 374. In die konsep van "psigiatriese versteurings" het die psigiatrie 'n verskoning gevind vir sy mislukking om die mens en die kind se probleme te voorkom en op te los. Terselfdertyd is die ouer en die onderwyser van sy skuldgevoel, wat deur die behavioristiese denkskool tot stand gebring is, bevry. Die vraag, "Waar het ons verkeerd gegaan?" is toenemend vervang met die gedagte dat niemand aanspreeklik gehou kan word vir die kind se probleme nie aangesien hy aan 'n ongeneeslike "siekte" ly. Die psigiatrie het 'n verdere mylpaal in 1962 bereik. Deur skrikwekkende statistieke van "psigiatriese versteurings" in die samelewing te rapporteer – sonder enige bewyse daarvan – het psigiaters die goewerneurs by 'n goewerneurskonferensie in Amerika oortuig om 'n beslissing goed te keur dat alle state psigiatriese programme sou befonds. Maar die werklike oorwinning van die psigiatrie en sielkunde het eers in 1965 gekom, toe psigiatriese programme in skole werklik bekragtig is. Hierdie wet het massale federale fondse toebedeel en die skooldeure oopgemaak vir 'n stortvloed van psigiaters, sielkundiges, psigiatriese sosiale werkers, psigiatriese programme en sielkundige toetse wat tot vandag toe voortduur. Die aantal opvoedkundige sielkundiges in Amerika het vanaf 455 in 1969 tot 16 146 in 1992 vermeerder. Teen 1994 het kinderpsigiaters, sielkundiges, voorligters en spesiale onderwysers in Amerikaanse skole byna die aantal onderwysers in getal oortref.
Waarom die mite voortleef
Dit is kenmerkend van die mens dat hy 'n verklaring vir elke verskynsel, wat hy teëkom, wil hê. 'n Verklaring dra grootliks by tot die mens se gevoel van sekuriteit. Hierdie behoefte aan sekuriteit is so groot dat, as hy 'n verskynsel teëkom waarvoor hy nie 'n logiese en rasionele verklaring kan vind nie, hy een sal fabriseer. Die antieke Grieke, byvoorbeeld, kon nie 'n rasionele verduideliking vind vir die daaglikse beweging van die son deur die hemelruim nie, en het die storie van Helios en sy vurige strydwa versin. Die Egiptenare, daarenteen, het geglo dat hulle songod Ra die son soos 'n heilige kewer deur die hemelruim stoot. Vandag, danksy die werk van wetenskaplikes soos Galileo, Kepler en Copernicus, weet elke skoolkind dat dit net lyk asof die son deur die lugruim beweeg, en dat dit eintlik die beweging van die aarde is wat die illusie skep. Ondanks die wetenskaplike strewe van die moderne mens is die behoefte om 'n verklaring vir elke raaiselagtige verskynsel te vind so oorweldigend, dat sy teenstrydige behoefte aan logiese en wetenskaplike denke hom dikwels nie daarvan weerhou om "verklarings" te versin wat niks minder twyfelagtig is as dié van Helios en Ra nie. Sedert die ontstaan van die teorie dat aandag- en gedragsprobleme by kinders 'n siektetoestand is, is hierdie verklaring 'n kontroversiële aangeleentheid. Dit is hoegenaamd nie verbasend nie, aangesien hierdie teorie niks meer as 'n gefabriseerde, mitiese verklaring is nie. Die feit dat hierdie siening populêr is, verleen geen wetenskaplike geldigheid daaraan nie. Voor dit bewys is dat die aarde rond is, het almal geglo dat dit plat is. Die populariteit van die idee het dit nie waar gemaak nie. Dit gebeur dus nie altyd dat die wetenskap "vorder deur konsensus," soos Galaburda beweer nie. Die vraag wat ons onsself moet afvra, is hoekom 'n teorie bly voortbestaan ten spyte van oorvloedige bewyse dat dit onwaar is (met ander woorde 'n blote mite is), en daar met 'n praktyk volgehou word alhoewel dit onsuksesvol, of skadelik is? Waarom leef die idee van ADHD voort ten spyte van oorvloedige bewyse dat dit nie 'n mediese toestand is nie? Waarom word Ritalin toenemend voorgeskryf ten spyte van bewyse dat dit op die kort- of langtermyn geen positiewe effek op kinders se akademiese prestasie het nie, en dikwels skadelik is? Waarom word ons kinders blootgestel aan onderwyspraktyke wat reeds as mislukkings bewys is en derhalwe kinders se toekoms ruïneer? Een moontlike rede is onkunde. Daar is sielkundiges, psigiaters en medici wat aan teorieë glo en praktyke beoefen, bloot omdat dit is wat en hoe hulle op universiteit geleer is. Hulle aanvaar die teorieë wat hulle geleer word as die waarheid en die praktyke wat op hierdie teorieë gebaseer is as suksesvol, sonder om dit ooit te bevraagteken. Ek kan hierdie persone se dilemma goed verstaan. Ek het self ook vir baie jare onkrities gestaan teenoor alles wat ek op universiteit geleer het. Dit het baie lank geneem voordat ek besef en aanvaar het dat die menswetenskappe nie 'n eksakte wetenskap is nie, en derhalwe die spoor heeltemal byster kan raak, en in werklikheid ook het. Soos Popkin en Stroll tereg opgemerk het, is die geskiedenis van die wetenskap deurtrek met teorieë wat eens deur en deur geglo is deur die wysste mense en later deur en deur in twyfel getrek is.
Die geldmag
'n Ander rede waarom mites voortleef is natuurlik finansiële redes. Die farmaseutiese maatskappye, byvoorbeeld, is op winsbejag uit. As die mite van ADHD en ander sindrome ophou bestaan, sal sommige farmaseutiese maatskappye in duie stort. Daarom werk hulle aktief daaraan om hierdie mite te laat voortleef en selfs nuwe markte te skep. Tans word grootskaalse bemarking in lande soos Brittanje, Suid-Afrika en selfs Zimbabwe gedoen om die ADHDkonsep te verkoop. Die gevolg sal wees dat die vervaardiger van Ritalin sy winste verder sal kan verhoog. Die geldgod Mammon sal altyd gedien word, ondanks die gevolge. As 'n voorbeeld hiervan kan 'n mens kyk na die geskiedenis van 'n praktyk soos elektriese skokbehandeling (ook genoem "elektroterapie" of "elektrokonvulsieterapie"). Elektro-terapie is ingevoer deur psigiater Ugo Cerletti. Hy het in die laat-dertigerjare gesien hoe slagplaaswerkers elektriese skokke aan varke gee, wat hulle werk om die varke keelaf te sny, vergemaklik het. Daarna het hy hierdie prosedure op mense begin toepas. Aan die einde van sy lewe het Cerletti, toe hy terugdink aan die eerste keer wat hy elektriese skokbehandeling op 'n mens toegepas het, die volgende aan 'n kollega gesê: "Toe ek die reaksie van die pasiënt sien het ek by myself gedink: Hierdie (prosedure) behoort afgeskaf te word." Ten spyte van die feit dat 20% van alle pasiënte wat in die veertiger en vyftigerjare elektriese skokbehandeling ontvang het, kompressie frakture van die werwels gekry het, is hierdie praktyk nie gestaak nie. In plaas daarvan is die gebruik van spierverslappers en narkose tydens behandeling ingevoer.
Elektroterapie
Tydens elektroterapie ontvang 'n pasiënt 'n elektriese stroom van tussen 180 en 460 volt deur sy brein. Dit skep 'n erge konvulsie wat langdurig is en identies is aan 'n "grand mal" epileptiese aanval. Die hele prosedure duur ongeveer vyf tot vyftien minute. Tydens elke behandeling kan verskeie skokke toegedien word, en die meeste pasiënte ontvang 'n totaal van ses tot twaalf behandelings: een keer per dag, drie maal per week. Die meeste pasiënte ontvang ook meer as een reeks behandelings. Voorbeelde van die destruktiewe gevolge van elektroterapie, soos breinskade, geheue-verlies, verlies van stoelgang- en blaasbeheer, delusies en hallusinasies en selfs die dood, is volop in die literatuur. 'n Navorsingstudie oor ouer mense in 1993 het bevind dat 27% van die pasiënte dood is binne een jaar nadat hulle skokterapie ontvang het, teenoor slegs 4% wat met antidepressante behandel is. Binne twee jaar was 46% van die elektroterapie pasiënte dood teenoor slegs 10% van die wat antidepressante gebruik het . In 1994 het ses uit 1 656 persone wat in 1994 elektroterapie ontvang het, binne 14 dae na behandeling gesterf. Dit is 'n sterftesyfer van 0,36%. Hierdie persentasie is gelyk aan die gesamentlike sterftesyfer vir kanker, beroerte, longkwale, motorongelukke, diabetes, HIV-infeksies, selfmoord, lewerkwale (insluitende verharding) en moord in 1994. Ondanks Jan Alleman se geloof dat elektroterapie gestaak is op dieselfde oomblik as wat Jack Nicholson, as die karakter McMurphy in One Flew Over the Cuckoo's Nest gesterf het, is hierdie praktyk steeds algemeen in gebruik. In 1990 was die inkomste daaruit vir die psigiatriese industrie in Amerika alleen 'n geskatte $3 miljard.
Invloed van die humanisme
Die derde rede waarom hierdie mites voortleef en waarom ons kinders blootgestel word aan onderwyspraktyke wat moraliteit afbreek, is omdat die mens homself tot die status van 'n god verhef het. Teïsme, waar God sentraal staan, is vervang met humanisme, die geesteshouding waarvolgens die mens, sy hoedanighede en vermoëns, beskou word as die sentrum van sy doen en late. Die eerste manifes van die humanisme van 1933 laat homself duidelik hieroor uit, asook die tweede manifes wat veertig jaar later die lig gesien het: "...humaniste beskou die wêreld as selfbestaande en nie geskape nie... die mens is deel van die natuur en het ontstaan as gevolg van 'n deurlopende proses... Humanisme verklaar dat die aard van die heelal, soos uitgebeeld deur die moderne wetenskap, enige bonatuurlike waarborge van menslike waardes onaanvaarbaar maak... Die onderskeid tussen die heilige en die wêreldlike kan nie langer gehandhaaf word nie..."
Soos in 1933, glo humaniste nog steeds dat die tradisionele godsdiens, en veral 'n geloof in 'n gebedsverhorende God, wat veronderstel is om te lewe en te sorg vir mense, om hulle gebede te hoor en te verstaan, en om in staat te wees om iets daaraan te doen, 'n onbeproefde en uitgediende geloof is. Die Verlossingsleer, gegrond op hierdie bevestiging, blyk nog net so skadelik te wees, omdat dit mense verlei met die valse hoop van hiernamaalse hemel. Redelike mense vestig hulle verwagtinge op ander metodes van oorlewing, aldus die filosofie van die humanisme. Aangesien daar volgens die humanistiese beskouing geen God is nie, word sondes vervang met siektes, hemel en hel met "hier en nou," absolute waardes en "reg en verkeerd" word "situasioneel" en is gebaseer op 'n individuele "bewussyn" (wat reg is vir my mag verkeerd wees vir jou), en verantwoordelikheid word vervang met menseregte ("Ek bepaal my eie lot," "Ek doen my eie ding," "Ek het my regte," "Ek is 'n vrye gees," "Ek is nie in die wêreld om aan jou verwagtinge te voldoen nie.") Die tweede manifes van die humanisme beskou aborsie, genadedood en selfs selfmoord as "regte." Die doel van die humanisme is om die samelewing te omvorm. Soos Dr. Cuddy opgemerk het: "As daar nie ‘n god is om voor te bid nie, en as die mens sommerso ontwikkel het, dan is hy alleenlik op homself aangewese om die wêreld se probleme op te los."
‘n Nuwe Wêreldorde
Vir sommige humaniste lê die oplossing van wêreldprobleme in ’n eenwêreld regering, 'n nuwe wêreldgodsdiens, 'n nuwe ekonomiese sisteem en 'n nuwe menseras. Vir ander lê dit in rewolusie of ’n versnelde evolusie. Almal het 'n Utopie in gedagte, sommige ’n Marxistiese millennium, sommige 'n Tuin van Eden, sommige ’n anargistiese paradys, waar almal gelyk is, almal van niks ontneem word nie, en almal is vry om te doen wat hulle wil... Kortom, die moderne mens is weer besig om die toring van Babel op te rig. Hierdie keer egter nie met stene en klei nie, maar met filosofieë, ideologieë en teorieë. Aangesien die Christendom, nasionalisme en die tradisionele gesinsbande in die pad staan van die humanistiese doelstellinge, moet hulle vernietig word en die wyse waarop dit gedoen word is deur ons kinders in die klaskamer te breinspoel.
Humanisme is die gemene deler tussen die behaviorisme van Thorndike, die pragmatisme van John Dewey, en die eksistensialisme van Carl Rogers en dit is die dryfveer agter uitkomsgerigte onderwys. Die doel van die onderwyspraktyke wat op Thorndike, Dewey en Rogers se filosofieë gebaseer is, sowel as uitkomsgerigte onderwys, is allermins om die kind 'n behoorlike opvoeding te gee. Soos humanis Paul Blanchard in 1976 gespog het: “Ek dink die belangrikste faktor wat ons voortstu in die rigting van ’n sekulêre gemeenskap is die onderwys. Ons skole mag dalk nie in staat wees om vir Johnny te leer om ordentlik te lees nie, maar die feit dat Johnny in die skool is totdat hy 16 is, maak die eliminasie van godsdienstige bygelowigheid ’n sterk waarskynlikheid. Die meeste Amerikaanse kinders verwerf tans ’n hoërskool-opvoeding en dit sê Adam en Eva en al die ander mites van die sogenaamde geskiedenis die stryd aan”. Miskien kon niemand die humanisme se belang in die skool meer onbeskroomd verkondig het as wat John Dunphy dit in die Januarie- Februarie 1983 uitgawe van die Humanist gedoen het nie: “Die oorlog om die toekoms van die mensdom sal in die klaskamer van die openbare skool gevoer en gewen word... tussen die verrottende lyk van die Christendom... en die nuwe geloof van die humanisme... (en) die humanisme sal seëvierend bo uitkom”.