Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is nooit ’n regte of verkeerde tyd om die waarheid te spreek nie; dis altyd nou!
DIE MOORDVIRUS (4)
Lees reeks by Die Moordvirus
EJG Norval
VIGS IN AFRIKA (2)
Aanvanklik het die eerste VIGS-toetse die aantal siektes in Afrika hopeloos oorskat en in Uganda was soveel as 66% van die kinders positief getoets. Met die nuwe ELISA-toets moes die syfers weer aangepas word, byvoorbeeld soos gesien in die oorskatte 1985-syfer van 55% vir Zambiese STD-klinieke, wat na hertoetsing aangepas is tot 29%. In Afrika doen meer vroue as mans die siekte op. Die infeksie blyk ook meer aggressief te wees in sekere dele van Afrika aangesien die dood dikwels na so min as vyf jaar intree, terwyl dit in die VSA tussen 10 en 12 jaar eers 'n ernstige stadium bereik.
Een van die MIV-variante wat in Zaïre gevind is, is die sogenaamde NDK-MIV wat immuunselle 10 000 keer vinniger dood as MIV-variante wat in die VSA voorkom. Volgens die NS:Mei 1988 het navorsers MIV-infeksies in Zaïre beskryf wat die slagoffers binne drie jaar uitgewis het. Sommige navorsers het geglo dat die swartes in Afrika se immuunsisteem meer vatbaar vir die virus is, en heel moontlik ook dat die subtipe MIV wat in Afrika voorgekom het, vinniger versprei het. Die Afrika-MIV verskil ook baie van die Westerse variante wat hul genetiese struktuur betref.
Die siekte groei teen 'n vinnige tempo in Afrika en in 1990 was daar na raming sowat 5 miljoen gevalle in die kontinent. (Dit is natuurlik nou feitlik onmoontlik om vas te stel hoeveel miljoene gevalle jaarliks voorkom want behalwe dat daar nie ernstige aandag aan gegee word nie, woon daar miljoene swartes in gebiede waar die dood vanselfsprekend aanvaar word en hulle soms nie eers bewus is dat die VIGS-virus die oorsaak van die dood is nie.)
In die 1980's was 80% van Lusaka se hospitaalbeddens deur MIV-positiewe mense beset, terwyl kindersterftes met 15% bo die verwagte tempo gestyg het. Teen 1991 het die aantal MIV+ mense in Sub-Sahara Afrika aangegroei tot 'n geraamde 6 miljoen en teen hierdie tempo sou die kontinent 90% van die wêreld se MIV+-persone huisves. Die NS:Junie 1991 het berig dat meer as nege uit tien nuwe infeksies op daardie tydstip in die nog ontwikkelende lande voorkom.
Volgens die WGO was daar in 1990 reeds een uit elke 40 mense in Afrika MIV-positief. In Kampala was daar na raming 2,5 miljoen vroue geïnfekteer en het die aantal MIV+ mense in die Sub-Saharagebied van 2,5 miljoen in 1987 gestyg tot 6,5 miljoen in 1992.
Die WGO het geraam dat daar in 1992 wêreldwyd sowat 9 tot 11 miljoen MIV-positiewe gevalle was (waarvan 1 miljoen kinders en twee derdes daarvan in Sub-Sahara Afrika.) Teen Desember 1993 het Afrika reeds 10 miljoen uit die wêreldtotaal van 15 miljoen MIV+ persone gehad. Hiervan het sowat 'n half miljoen of sowat 5% reeds VIGS gehad.
Tydens die 1992 Amsterdam VIGS-konferensie het dit aan die lig gekom dat sowat 10% van Sentraal-Afrika se MIV-positiwiteit te wyte was aan MIV-besmette bloedoortappings. Die meeste van die siek mense besef nie dat hulle die virus dra alvorens simptome in die gevorderde stadium verskyn nie. Saam met die MIV-positiwiteit is daar 'n sterk verwantskap met Tuberkulose. In een Zimbabwe-studie was 48% van TB-lyers ook MIV-positief, en in Kampala was die syfer 40% in Maart 1987.
Die eerste Keniaanse MIV-geval is in 1983 gediagnoseer en teen 1988 was reeds 90% van die Keniaanse prostitute daarmee besmet. Amerikaners wat in Kenyatta Hospitaal gewerk het, het in 1987 laat weet dat die getal VIGS-pasiënte in agt maande feitlik verdubbel het.
In die begin van 1988 het 12% van plattelandse en 19% van stedelike Ugandiërs positief getoets, terwyl die Ugandese regering die getal as 6% in 1990 aangegee het. Volgens die NS:Februarie 1991 was reeds 24% van Kampala se inwoners MIV+ en in 1990 was sowat 28% van alle Ugandese besmet.
Mettertyd het MIV al langs die hoof-transportroetes in Sentraal-Afrika versprei omdat die vragmotorbestuurders die gewoonte het om prostitute al langs die pad te besoek. So het die sogenaamde AIDS corridor ontstaan.
Britse navorsers het in Kenia 'n aantal MIV-negatiewe prostitute ondersoek en aangeneem dat die Keniaanse prostitute se genetiese samestelling van so 'n aard is dat hulle teen die siekte bestand is. Volgens die Britte sou die prostitute die sleutel verskaf tot 'n effektiewe entstof. Die Kenia-prostituut-mite het later ineengestort aangesien 'n opvolgbesoek aangedui het dat 50% van die "wonder-prostitute" skielik met volle VIGS gepresenteer het. Dit was 'n gevoelige hou vir die VIGS-kenners se prestige na al die tyd en kostes aangegaan met die 'wonderkuur' wat die Keniaanse prostitute sou inhou.
In Mei 1990 het Zimbabwe se Minister van Gesondheid aangekondig dat die land 2 375 MIV-draers het maar volgens die NS:Mei 1990 was die prentjie baie donkerder: 15% van fabriekswerkers en 7% van bloedskenkers het in die begin 1990 positief getoets, die helfte daarvan hoërskoolkinders. In dieselfde tydperk het 32% van Lusaka en 18% van Malawië se seksueel-aktiewe persone positief getoets, asook tussen 67% en 90% van prostitute en kroegmeisies in Rwanda, Kenia en Uganda.
Volgens die NS:Januarie 1993 was daar 1,5 miljoen MIV-draers, of sowat 15% van die totale bevolking, in Zimbabwe, terwyl een uit elke twee soldate in Zimbabwe se weermag positief getoets het. Daar het die VIGS-syfer geklim van 250 000 uit 'n bevolking van 9 miljoen, tot 25.1% in 1996 en 40% in die jaar 2000.
Die 1996 VN-verslag het egter aangedui dat die infeksietempo in Zimbabwe reeds in 1995 die 40% kerf gehaal het en dat 67% van alle Zimbabwe-vroue MIV-positief was. In 1995 was VIGS die oorsaak van 90% van alle sterftes in hierdie land en doodskisvervaardigers kon kwalik byhou met die aanvraag.
Teen Julie 2000 word berig dat ongeveer 'n miljoen persone in Noord-Amerika en 'n halfmiljoen in Wes-Europa MIV+ is, maar dit is Afrika waar die pandemie die meeste slagoffers eis. Tydens die Madrid 2000 VIGS-konferensie het dit geblyk dat Botswana voorgeloop het met 'n 40% infeksietempo. Die NS:Februarie 1999 berig dat 90% van die kinders in die Sub-Sahara geïnfekteerd is. In 2000 was daar daagliks sowat 6 000 VIGS-sterftes van wie 55% vroulike slagoffers van alle ouderdomme is.
Dit lyk nie juis of die flou VIGS-bewusmakingsveldtogte vrugte afwerp as 'n mens kyk hoe die infeksie buite beheer toeneem nie...