Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet waak teen die sorge van hierdie wêreld dat dit ons nie insluk nie, anders het ons geloof nie veel waarde en kan ons nie vrugbaar wees in ons geestelike lewe nie.
WIE HET DIE OORLOG IN VIËTNAM GEWEN?
Prof Willem Jordaan
Hiermee wil ons eers graag dr Willem Jordaan van harte geluk wens met die toekenning van 'n besoekende professoraatskap in die VSA in die politieke wetenskap. Gelofteland is baie bevoorreg om hierdie politieke ontleder as skrywer bloot te stel. Dankie professor, vir al u insiggewende artikels wat u aan die lesers van Gelofteland beskikbaar stel!
Op 30 April 1975 is die oorlog in Viëtnam beëindig met die verowering van Saigon deur Kommunistiese magte en die oorgawe van generaal Duong Vanh Minh en sy kabinet. Die laaste Amerikaanse soldate moes baie vinnig die land uitvlug.
So, tensy mens ‘n Rambo-aanhanger is, is daar op die oog af nie twyfel dat die Kommuniste die oorlog gewen het en die VSA die onderspit gedelf het nie.
Maar wat het toe gebeur?
Viëtnam het nooit vergoeding ontvang vir die massiewe skade wat deur die VSA aangerig was nie. Inteendeel. In 1993 is die nuwe Viëtnam-regering gedwing om te teken dat dit daardie skade self sou moes betaal. So is Viëtnam gedwing om Washington te betaal vir die skade wat die VSA en sy marionette-regering aan Viëtnam aangerig het.
Dit het egter verder gegaan as dit. Alhoewel Viëtnam in name ‘n Kommunistiese regering het, is hierdie regering volledig onder die juk van die Wêreldbank en die IMF. Dit was ‘n “voorwaarde” om die ekonomie van Viëtnam te “herstel”. Hanoi moes die IMF $140 miljoen betaal alvorens ‘n nuwe lening toegeken sou word. So het Viëtnam, wat veronderstel was om die oorlog minstens op die slagveld te wen, die ekonomiese verloorders geword. En dit het in effek die prysgawe van sy soewereiniteit beteken.
Enige IMF-lening het verdere voorwaardes: privatisering, devaluasie van die geldeenheid en sogenaamde “normalisering” van handelsbetrekkinge. Laasgenoemde beteken dat VSA-maatskappye toegelaat moet word om die ekonomie oor te neem. Meer as 5 000 van die 12 300 staatsbeheerde korporasies het bankrot gegaan en die bevolking is in armoede gedompel. Krediet was beskikbaar – teen ‘n rentekoers van 35% wat geen firma wat wou oorleef kon bekostig nie.
Die ekonomiese “herstrukturering” het tot gevolg gehad dat 1 miljoen werkers en 20 000 staatsamptenare hulle werk verloor het. Hongersnood het 25% van die bevolking getref. Die pryse van goedere en dienste het sodanig gestyg dat dit vir die meeste ‘n saak van oorlewing in Viëtnam geword het.
Verpligte skoolfooie is ingestel en 750 000 kinders kon nie meer skoolgaan nie want hulle ouers kon dit nie meer bekostig nie. Klinieke en hospitale het in duie gestort en malaria, tuberkulose en diarree het toegeneem. Mediese dokters het byvoorbeeld $15 ‘n maand ontvang.
Vandag verdien die werkers in fabrieke (waar Amerikaanse Nike-skoene vervaardig word) 20 Amerikaanse sent per uur – sowat R2,80 per uur, R22,40 vir ‘n 8-uur werksdag – R500 per maand. Wie kan lewe met R500 per maand?
So, Amerika is seker tevrede dat hy minstens die ekonomiese oorlog in Viëtnam gewen het....
Wat my bring by Suid-Afrika. Die gemors by Eskom, die SAL en ander staatskorporasies stuur net op een ding af: Lenings vanaf die IMF wat privatisering van Eskom en die res sal beteken. In hulle onkunde dink mense dit gaan ons redding wees. Regtig? Sonder kompetisie gaan die privaat eienaar van Eskom tariewe stel wat hy wil (om wins te maak), gaan derduisende hul werk verloor, gaan die rand verder waarde verloor, gaan pryse oral styg en is grootskaalse armoede met gepaardgaande groter onrus en misdaad ons voorland.
In ‘n multi-rassige en multi-etniese land moet u maar weet: As u dink dit gaan nou erg; wag tot bogemelde inskop – en dit is nie meer baie vêr voor ons nie.
Kyk na Viëtnam en besef dan die skrif is aan die muur.