Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die herstel van ’n volk deur sy godsdiens te herstel, is ’n wenresep vir elke volk op aarde; ook vir die Boerevolk. Ons kla graag oor die onreg van die ANC-regering, maar wat het ons volk in hierdie penarie laat beland? Dieselfde ding wat Juda as volk in ’n penarie laat beland het - godsdiensverval. As ’n volk se godsdiens verval, verval die volk.
‘N NUWE KOUE OORLOG?
Dr Danie Theron
“ Die VSA dreig selfs om kernwapens onder die vaandel van oorlog twv selfverdediging aan te wend. President Donald Trump dreig die ganse wêreld nou openlik met kernoorlogvoering. Iran en Noord-Korea moet op feitlik daaglikse basis hoor dat dit die medisyne is wat die VSA op hulle sal toepas.... Rusland tree toenemend op soos 'n groot moondheid en is sy politici en regeringslui koel en beredeneerd; anders as die VSA s'n wat telkens histeries en arrogant tekere gaan. En anders as wat die Media Konglomeraat voorgee, begeer Rusland vrede en die VSA oorlog.... Die geldmag-beheerde media raak al hoe meer desperaat in hulle verkondiging van leuens oor Rusland. Dis juis hierdie desperaatheid van die VSA en Brittanje wat nou 'n Tweede Koue Oorlog inlui. En dit sal nie veel kos om dit in 'n volskaalse militêre offensief te verander nie. Maar anders as destyds kan die VSA en sy bondgenote hierdie keer hulle hand oorspeel. Rusland is nie meer 'n teddiebeer nie.”
Die Koue Oorlog wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog tot en met die val van die Berlynse Muur geheers het, was 'n tydperk waarin veral die VSA sy greep op die wêreldpolitiek versterk het en die USSR, veral weens sy beleid van kommunisme, sy greep verloor het.
Hierdie toedrag van sake het voortgeduur toe talle van die USSR se voormalige republieke sedertdien weggebreek het en Rusland feitlik geïsoleerd gelaat het. Dat Rusland boonop opgesaal moes sit met 'n swakkeling soos Boris Jeltsin in 'n tydperk wat hy dit allermins kon bekostig, het sake vir die land net verder vererger.
Sake het egter 'n dramatiese wending geneem toe Vladimir Poetin as president verkies is. Poetin het Rusland as't ware uit die as laat opstaan en Rusland het hoe later, hoe meer, 'n bedreiging begin word vir Amerikaanse heerskappy in die wêreld. Die VSA span nou alles in om Poetin in 'n swak lig te stel, maar bykans elke poging misluk. Die gevolg is 'n nuwe koue oorlog en erger nog, indien die situasie nie beredder word nie, 'n volskaalse oorlog.
Amerikaanse mag en arrogansie
Sedert veral 11 September 2001, in seker die grootste vertoning van militêre mag sedert die Tweede Wêreldoorlog, het die VSA getoon dat daar niks is wat in sy pad sal staan om sy invloed na elke kontinent uit te brei nie. Min mense besef dat juis hierdie imperiale strewe die toekoms van elke land in die wêreld in die weegskaal plaas. Omdat die VSA dit egter onder die dekmantel van "die herstel van demokrasie", "verantwoordelikheid om vrede te handhaaf", "selfverdediging", "pro-aktiewe optrede" en nog vele meer, voorhou, is hierdie optredes aanvanklik ondersteun. Onthou u nog? "Saddam het wapens van massa-vernietiging!" Dat dit 'n blatante leuen was om verdere vastrapplek in die Midde-Ooste te verkry en beheer oor Irak se olie, is grootliks misgekyk. Die gevolg na 15 jaar is dat Irak aan flarde geruk is. Wat waar is vir Irak, is waar vir talle ander state.
Wat verstaan moet word is dat globale oorlogvoering die neo-liberale agenda vanuit Washington oorheers. Globalisering gaan gepaard met oorlog. Hierdie projek word vanuit Wallstraat gedryf tesame met wat bekendstaan as die Militêre Industriële Kompleks, Groot Olie, "Big Pharma" en die Media Konglomeraat.
Op 7 Oktober 2001 is die Globale Oorlog teen Terrorisme begin. Die naam alleen was klaar regverdiging vir inmenging in die Midde-Ooste, Afrika en Asië. Intussen is dit oor en oor bewys dat Al Qaeda en al die sogenaamde "terroriste-organisasies" soos ook ISIS-Daesh, skeppings is van die CIA.
Die VSA kon vir hierdie oorlog staatmaak op sy ongeëwenaarde militêre vermoë en het hy arrogant voortgegaan om oorlog te voer onder die dekmantel van "voorkomende oorlogvoering" ("pre-emptive warfare"), waar valslik voorgegee word dat oorlog gemaak moet word as 'n manier van selfverdediging! Die VSA dreig selfs om kernwapens vir hierdie doel aan te wend. President Donald Trump dreig die ganse wêreld nou openlik met kernoorlogvoering. Iran en Noord-Korea moet op feitlik daaglikse basis hoor dat dit die medisyne is wat die VSA op hulle sal toepas. Volgens die VSA sal die gebruik van kernwapens die hele wêreld veiliger maak (“make the world a safer place”); iets wat deur die Media Konglomeraat vir soetkoek opgevreet word.
Van teenstand teen die VSA se diaboliese planne was daar tot dusver bitter min te sien. Die sogenaamde "antiwar movement" is so dood soos 'n mossie en die aktivisme wat wel te bespeur is, word befonds deur Wallstraat! Eerder as om te let op die grootste bedreiging vir die voortbestaan van die mensdom, naamlik 'n wêreldwye kernoorlog, word gefokus op klimaatsverandering, rassisme en menseregte. So word die menigvuldige oorlogsmisdade van die VSA (en NATO) in elke staat waar hy inmeng, totaal en al oor die hoof gesien.
Media disinformasie is oral aan die orde van die dag. Noord-Korea hou geen bedreiging vir die wêreld in nie. Ook nie Iran nie. Maar om dit te verkondig hou 'n bedreiging in vir die groot wapenvervaardigers wat die Amerikaanse Kongres beheer. 'n Volskaalse kernoorlog sal uiteraard die grootste vernietiging ooit bewerkstellig. Daarvan is Hirosjima en Nagasaki die bewys. Die voortbestaan van die mensdom is op die spel. Albert Einstein het immers voorspel dat 'n verdere oorlog (dit wil sê, die een ná die Derde Wêreldoorlog), met stokke en klippe gevoer sal word!
Die VSA het NATO geheel en al onder sy vleuels geneem en is daar tans meer as 700 VSA militêre basisse wêreldwyd wat almal onder 'n enkele bevelstruktuur staan. Dit maak die VSA uiters gevaarlik, aangesien slegs die dreigement van geweld voldoende is om aan die VSA se eise toe te gee.
Daarmee saam het die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds; wat ook onder VSA-beheer staan, maatreëls op state begin toepas wat die bevolkings van daardie state verarm het en hulle geheel en al uitgelewer het aan die grypsug van die VSA. Wat in effek gebeur is dat daar 'n globalisering van armoede plaasvind. Enige geldelike hulp aan state gaan gepaard met drastiese hervorming met 'n program wat bekendstaan as "structural adjustment". Die Media Konglomeraat versluier die werklike gevolge van hierdie program, naamlik werkloosheid, hongersnood, armoede en agteruitgang!
Die politiek in die VSA word beheer deur geld. Die groot Amerikaanse banke, die Militêre Industriële Kompleks, Groot Olie, "Big Pharma" en die Media Konglomeraat is in totale beheer van die Amerikaanse landskap. Aanstellings in die Wit Huis word uit hierdie geledere gemaak. Die gevolg is dat elke besluit wat geneem word in belang van hierdie diaboliese magte gedoen word, en nie in belang van die Amerikaanse burgers nie.
Die winsmotief het van alleroorheersende belang geword en wapenverkope en oorloë moet dus aangemoedig word. Oorlog beteken geld vir die banke, oliemaatskappye, wapenvervaardigers en farmaseutiese maatskappye. En die geldmag-beheerde media moet die tromme slaan.
Die opkoms van Rusland
Intussen het die Russiese beer ontwaak. Rusland se ekonomie sal binne afsienbare tyd meeste van Europa se state oortref. Russiese BBP per capita was maar $5000 in die 1990's. Vandag is dit $28000. Tussen 2000 en 2013 het die gemiddelde maandelikse salaris gestyg vanaf $85 tot $931. Rusland het onlangs die VSA verbysgesteek as die wêreld se grootste uitvoerder van graan. Vooruitgang is te bespeur op elke vlak; ook in die vervaardigingsbedryf.
Pas het Poetin ook aangekondig dat Rusland wapentuig ontwikkel het wat dié van die VSA oortref; iets wat die VSA stom gelaat het. Pas het Poetin weer die Russiese presidentsverkiesing gewen met meer as 70% van die stemme wat op hom verenig is. Hy staan sterker as ooit. Die hulp wat Rusland aan Sirië bied in die Midde-Ooste, het sake in daardie gebied dramaties verander vir die VSA en Israel. Amerikaanse heerskappy is nou oral skielik in gevaar.
Oorlogswolke pak saam
Rusland tree toenemend op soos 'n groot moondheid en is sy politici en regeringslui koel en beredeneerd; anders as die VSA s'n wat telkens histeries en arrogant tekere gaan. En anders as wat die Media Konglomeraat voorgee, begeer Rusland vrede en die VSA oorlog.
Die geldmag-beheerde media raak al hoe meer desperaat in hulle verkondiging van leuens oor Rusland. Dat dit aan die belaglike grens, word deur baie misgekyk. Ander verkies weer om hierdie leuens te glo. Intussen het Brittanje, in 'n desperate poging om die Russiese presidentsverkiesing te beïnvloed, so laag gedaal om Rusland van 'n poging tot vergiftiging van 'n oud-spioen en sy dogter in Brittanje te beskuldig sonder om enigsins die saak te ondersoek of bewyse voor te lê.
Dis juis hierdie desperaatheid van die VSA en Brittanje wat nou 'n Tweede Koue Oorlog inlui. En dit sal nie veel kos om dit in 'n volskaalse militêre offensief te verander nie. Maar anders as destyds kan die VSA en sy bondgenote hierdie keer hulle hand oorspeel. Rusland is nie meer 'n teddiebeer nie; nee, die Groot Beer het feitlik ongesiens sy regmatige plek as Groot Moondheid herstel en 'n magsbalans teweeggebring wat hopelik Amerika tot orde sal roep, eerder as om blindelings met sy veglustigheid voort te gaan.
Intussen kan ons maar net asem ophou!