Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kyk wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het en vra jouself: Wat doen ek vir Hom? Onthou, Hy is oppad terug aarde toe om verantwoording te eis. Wat wil jy graag van Jesus hoor? “….Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel…. " of “…werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis…? " Die keuse is joune!
GROND- MIKROBES, ONS VRIENDE
DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (9)
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes
Jac Schoonens
As ons 'n bietjie oor die lewe van die mikrobes in die grond wil gesels, dan is dit nie nodig om 'n vrag grond van nader te bekyk nie. Nee, nie meer as – laat ons sê - 'n vingerhoed vol sal nodig wees nie. Want in daardie klein bietjie grond, wat so ongeveer 'n tiende van een ons ( 'n ons is sowat 30 gram) weeg, kan ons miljoene en miljoene lewende wesentjies kry.
Talrykste onder hulle is die bakterieë. In daardie ou vingerhoedjievol grond kan meer bakterieë wees as wat daar mense in sommige lande is. Maar nie alleen bakterieë nie, ook oerdiertjies en swamme, wiere en nog andere mikrobes behoort tot die bevolking van die grond.
Miskien kan 'n mens 'n beter voorstelling van die 'lewendige' grond vorm as jy jou probeer voorstel dat jy self nie groter as 'n mikrobe is nie. Daarvoor sou jy jou ongeveer tienduisend keer kleiner as 'n normale mens moet maak. Die wêreld sal dan 'n bietjie anders lyk. Die vingerhoedjie wat nie meer as ⅝ duim (sowat 2 cm) hoog en breed is nie, sal vir die mikrobe-mens 'n berg van 500 voet hoog en met dieselfde deursnee wees. Die klein sandkorreltjies sal in swaar klippe en rotsblokke verander wees en ons sal stewige skoene moet aantrek om die tog deur die geheimsinnige vingerhoedberg te kan maak.
Dis warm en vogtig in die berg. In die ruimtes tussen die sandkorrelklippe en die reste van die gedeeltelik verteerde plante wat nou so groot soos boomstamme lyk, sypel die water deur, en as ons oë aan die donkerte gewoond geraak het sien ons dat ons ons in 'n omgewing bevind met 'n plante- en dierelewe wat aan 'n egte wildernis herinner.Maar tog lyk dit 'n bietjie anders. Daardie plante byvoorbeeld, is in die eerste plek die swamme, soos die groen penseelswam, die kwasswam en nog ander. Ons sal later sien hoe nuttig hul bedrywighede in die grond kan wees. Maar tog loop ons ook skadelike swamme raak, soos die fusarium-soorte wat daarop uit is om plante siek te maak. Partykeer kos dit baie moeite om deur die plantegroei heen te kom. Uit die swamspore – wat vir ons nou groter as volstruiseiers lyk – het die swamdrade gegroei. Daardie swamdrade lyk vir ons so dik soos boomstamme, en op verskillende plekke gewaar ons die vernuftig gevorme spoordraers. Swamme behoort tot die laagste plantjies en hulle het nie chlorofil (bladgroen) nie. Daarom lyk die swamdrade nou net witagtig en deurskynend.
Maar ons loop ook ander plant-organismes raak wat wél 'n kleur het. Hulle is ook maar mikroskopies klein, maar noudat ons self ook nie groter as 'n mikrobe is nie lyk hulle vir ons so groot soos struike en bome. In die flou lig kan ons duidelik die kleurstowwe in die selsap sien, en ons herken hierdie plante as wiere.
As ons in die wonderlike wêreldjie by 'n sandkorrelklip 'n draai gemaak het sien ons 'n dooie grondwier, en dis hier waar ons die eerste bakterieë raakloop. Hulle lyk vir ons nog maar klein, omtrent so groot soos 'n hoendereier. Ander lyk meer na 'n wors. Sommige het 'n lang stertjie (sweephaartjie) waarmee hulle hul vinnig laat voorbeweeg – die nitrietbakterieë. Ander het meer as een stertjie, en daar sien ons 'n lang bakterie met baie sweephaartjies oor sy hele liggaampie. Dit is die hooibasil.
Dis duidelik te sien dat hierdie bakterietjies besig is om die dooie wier op te peusel. Dit is 'n snaakse gesig. Hulle het geen pootjies om hul voedsel vas te hou nie en ook geen bekkie met tandjies om hul kos af te byt en te kou nie, en tog vreet hulle. Op die plek waar die bakterie langs die wier sit, kan 'n mens sien dat dit stadig oplos asof daardie plekkie deur een of ander stof ontbind word. Maar ons weet mos van watter werktuie die bakterieë en ander mikrobes hul bedien om kos te verteer. Deur sy huidjie, die selwandjie, skei die bakterie ensieme af. Die ensieme los die dooie wierliggaampie op en die bakterie suig die halfverteerde kos deur sy selwandjie weer op om dit in sy liggaampie verder te verteer.
Kyk ons nou verder, dan sien ons orals bakterieë. Hulle skiet soos visse deur klein waterstroompies wat oor die sandkorrelklippe sypel, of hulle eet hulself rond aan bakterie-voedselstowwe wat gewoonlik uit plantedeeltjies bestaan. Op plekke in die vingerhoedberg waar dit maar droog is en waar ook geen kos te kry is nie, sien ons klompies klein bolletjies en dik stafies. Hulle is rubberagtig taai en ons kan rustig op hulle trap sonder om hulle te beskadig. Hierdie goed is bakterieë wat met hul winterslaap besig is en daarom in 'n spoortjie verander is. Die bakteriespoortjies wag nou net vir kos en vir vog om hul bakterielewens opnuut te begin.
As ons verder stap, hier en daar oor klippe moet klim en oor die oorblyfsels van afgestorwe planteselle moet tree, word ons skielik deur 'n vlegwerk van lang drade vasgekeer. Dis onmoontlik om daardeur te kom en ons moet 'n ompad loop om ons tog voort te sit. Trouens, die reuk wat deur die drade versprei word is vir ons, mikrobe-mensies, darem 'n bietjie sterk, en dit dwing ons om so gou moontlik hier weg te kom. Hierdie draadvormige organismes is die straalswamme, wat die grond sy tipiese grondreuk gee, soos ons reeds beskryf het.
In ons haas om weg te kom struikel ons amper oor 'n vormlose massa wat vir ons so groot soos 'n vark lyk, wat hom traag in 'n laag water voorbeweeg. Dit doen hy nie met egte pote nie maar met vals pote. Deur op verskillende plekke op sy huid tydelik uitstulpings te maak, kruip-swem die diertjie. Hy beweeg na 'n klompie bakterieë wat 'n entjie verder besig is om 'n plantveseltjie te verteer. Stadig kom die lomp dier nader en as hy langs die bakterieë gekom het, steek hy twee van sy vals pote uit. Hiermee omsluit 'n bakterie sodat dit gevang is en deur die logge massa opgepeusel word.
Ons het kennis gemaak met 'n belangrike bewoner van die grond, die amoeba of wisseldiertjie, so genoem omdat hy sy vorm so maklik verander. Die amoeba behoort tot die groot groep van oerdiertjies of protosoë. Die protosoë is egte bakterie-eters en dit lyk asof hulle belangrike rol in die reëling van die bakteriegetal in die grond speel. Is daar baie bakterieë in die grond, dan is die protosoë goed van kos voorsien. Hulle kan lekker ontwikkel en vermeerder sodat hul getal steeds groter word. Maar omdat hulle 'n groot slagting onder bakterieëaanrig, sal die bakterieë minder word. Gevolglik sal daar vir die protosoë 'n kosskaarste intree, en sal hul getal moet afneem. Omdat daarmee ook hul behoefte aan kos (dus aan bakterieë) kleiner word, sal die bakterieë weer 'n kans kry en toeneem. Hierdeur word 'n ewewig tussen die verskillende mikrobegroepe in die grond behou, en dit dra by tot die grond se vrugbaarheid.
So kan ons ure lank deur die vingerhoedberg ronddwaal en oral duisende en duisende mikrobes ontmoet. Dis natuurlik nie moontlik om aan te dui presies hoeveel mikrobes daar in so 'n vingerhoed vol grond aanwesig is nie. Dat hang van soveel verskillende faktore af. Om egter by benadering 'n beeld te gee van die aantal mikroskopies klein wesentjies in een vingerhoed vol grond kan ons as volg skat: Tien miljoen bakterieë, een miljoen straalswamme, tweehonderdduisend swamme, tweehonderdduisend wiere, een miljoen protosoë.
Hierdie getalle wissel na gelang van die samestelling en bewerking van die grond, en verder van die klimaat, vog, temperatuur en lig, wat die grond en daarmee die mikrobegroei beïnvloed. Ryk grond bevat meer bakterieë as arm grond, en ook die aard van die bemesting is belangrik. Verder word die getal bakterieë kleiner met toenemende diepte. Maar ook op dieselfde diepte in die grond kan die bakterie-getal sterk skommel, en hiervoor sal die vraatsugtige protosoë in 'n groot mate aanspreeklik gehou moet word.
Dan is daar ook die pH van die grond wat 'n invloed op die mikrobe-lewe het. In suur grond sal die swamme nog goed kan gedy, maar die bakterie-getal sal nie hoog wees nie. Is die grond minder suur en meer aan die alkaliese kant, is die swammegroei minder goed; bakterieë en straalswamme voel egter lekker in sulke grond. Word die grond nog meer alkalies, dan sal die straalswamme nog tevrede wees, maar die bakterieë sal in hul groei gestrem word.
Natuurlik speel ook die voggehalte van die grond 'n belangrike rol. As die grond baie droog is sal dit veral onder die bakterieë 'n groot aantal sterfgevalle meebring. Die swamme en straalswamme kan droogte 'n bietjie weerstaan. As die grond egter te nat is sal die toestand vir die bakterieë net so ongunstig wees omdat daar dan te min suurstof tot hul beskikking is.
Op hierdie tog deur die vingerhoedvol grond het ons net 'n vae indruk gekry van die bedrywigheid wat daarin afspeel en van die ontelbare, klein wesentjies wat op hul manier besig is om die grond te 'bewerk' en daardeur die plantegroei – en dus ook die boer by sy werk – ondersteun. Hoe nuttig hulle in dié verband kan wees sal ons in die volgende aflewering sien.