Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer hier gepraat word van 'n 'ander se skuld' word daar nie volksvreemdes ingesluit nie – hier word suiwer bedoel ons geliefdes en bekendes teen wie ons so dikwels verkeerd optree. Omdat ons oordeel juis weens ons sondige natuur subjektief is (dit beteken dat ons nie die vermoë besit om ons eie skuld in te sien nie), is ons geneig om eerder 'n ander se skuld raak te sien. Maar wanneer ons self ons eie skuld opreg bely kry ons wel 'n beter insig en oordeel in ander se optrede. Tog kom die finale oordeel God alleen toe. Onthou dat Hy die volmag het om sy skepsele te oordeel, nie ons nie.
ENSIEME, WERKTUIE VIR MIKROBES
DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (8)
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes
Jac Schoonens
Die ou skeikundiges van so paar eeue gelede het reeds geweet dat deur gisting suiker in alkohol en koolsuurgas verander. Hoe, het hulle egter nog nie geweet nie; totdat die groot Franse navorser, Louis Pasteur, in die middel van die negentiende eeu ontdek het dat gisting deur mikroskopies klein wesentjies, die gisselle, tot stand kom.
Die volgende stap was die oplossing van die vraag: op watter manier verander die gisselle die suiker?
Dis begryplik dat daar in die eerste plek gedink is aan 'n ingewikkelde organisme in die selletjies waarin die suiker omgesit word – net soos byvoorbeeld in 'n koei die voedsel gedeeltelik verander in melk, of 'n hoender se kos in eiers. Maar in 1897 het Buchner 'n klompie gisselle met skerp sand heeltemaal fyn gemaal, gefiltreer, en die 'dooie' selsap aan 'n suikeroplossing toegevoeg. Toe het hy verbaas gesien hoe in daardie vloeistof die koolsuurgas-borreltjies opstyg en die tipiese alkoholgeur ontstaan. Dit kon dus slegs een ding beteken: die gisselle moet oor een of ander stof beskik wat die wonderwerk voltrek. Hierdie wonderlike stowwe word ensieme genoem, na die Griekse woord 'en' = 'in' en 'zyme' = 'gisplantjie'.
Die gisselle produseer ensieme wat hulle deur hul dun selwandjies afskei maar ook ander wat netjies binnekant bly en daar vir die lewensprosesse in die selletjies sorg. Die eerste soort word die ekstra sellulêre en die tweede die inter-sellulêre ensiem genoem.
Dis nie net gisselle wat ensieme produseer nie; alle lewende selle doen dit –dus ook bakterieë, swamme en die selle waaruit plante en diere opgebou is.
Elke ensiemsoort het sy eie bepaalde funksie. Daar is byvoorbeeld die ensiem invertase, wat een deeltjie gewone suiker afbreek tot een deeltjie druiwesuiker en een deeltjie vrugtesuiker. Die ensiem maltase breek een deeltjie moutsuiker in twee deeltjies druiwesuiker op. Dan is daar ensieme wat toegelê is op die verandering van eiwitstowwe en ander weer van vette. So is daar tallose soorte ensieme. Hulle name eindig gewoonlik op –ase, bv diastase, protease, lipase, ens, hoewel daar ook enkele uitsonderings is bv prialine, pepsien, ens.
Elke mikrobesoort beskik oor 'n aantal ensieme. In die geval van die gisting van druiwesuiker tot alkohol gebruik die gissel nie minder as tien verskillende soorte ensieme nie. Die een ensiem breek 'n stukkie van die suikerdeeltjie (molekuul) af, 'n ander las weer iets aan, en so word aan die suikerdeeltjie gesaag en gelym totdat dit uitendelik verander is in 'n alkoholdeeltjie.
Ensieme is eintlik eiwitte. Ons kan ons voorstel dat hulle eiwitbolletjies is waaraan 'n ander klein bolletjie vassit. Hierdie kleiner bolletjies is die ko-ensiem wat die aktiewe deel is. As 'n ko-ensiem sien ons dikwels 'n vitamien- of metaaldeeltjie. Daarom bevat mikrobes deur hul ensieme gewoonlik ook vitamiene. Die bekende bakkersgis is byvoorbeeld baie ryk aan vitamiene van die B-groep.
Ons sal ons egter maar nie te veel verdiep in die leer van die ensieme van die mikrobes nie. Dis sommer 'n baie ingewikkelde gebied. Wat ons net moet onthou, is dat die ensieme die werktuie van alle lewende selle, en dus ook van die mikrobe is.
Volgende keer leer ons wat grondmikrobes is.