Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra God in ons gebede soos Hy ons geleer het dat ons vergeef sal word, soos diegene vergewe wat teen ons oortree – nie omdat ons in staat is om die skuld van 'n vergryp of belediging te vergewe nie – maar net dat ons toorn, haat en wraaksug vrywilliglik uit ons hart verband kan word.
WIERE EN OERDIERTJIES
DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (5)
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes
Jac Schoonens
Wiere
Wiere kan baie verskillend van vorm wees. Sommige maak lang drade; ander is rond of ovaal. 'n Besondere groep is die kristalwiere. Soos hulle naam aandui, vorm hulle kristalle met 'n kieselpantser wat uit twee helftes bestaan. Kieselaarde is niks anders as ontelbare sulke klein kieselpantsertjies nie.
Hoewel ook hierdie wiere mikroskopies klein is, staan hulle 'n trappie hoër as die swamme omdat hulle – net soos die hoër plante – bladgroen (chlorofil) kan vorm. Bowendien vorm hulle ook nog ander kleurstowwe sodat die groen kleur partykeer in blou, rooi of bruin verander word. In die daagikse lewe kan ons van die wiere sien soos hulle op nat vleigrond voorkom. Dikwels kry ons hulle ook as 'n groen skuim op damwater.
Die wiere is nogal taai. Ook in arm, droë grond kan hulle nog lank lewenskragtig bly. Daar in die 1880's toe die vulkaan Krakatau tot uitbasting gekom en die gloeiende lawe alle lewe op die eiland vernietig het, was dit wieresoorte wat die eerste nuwe bewoners van die eiland geword het. Hulle is deur die wind en die see aangevoer en het in die uitgestorwe bodem posgevat. Deur hul groei en vergaan het hulle die weg vir die hoër plant voorberei, en later jare is die eiland weer normaal begroei.
'n Belangrike eienskap van die wiere is hul vermoë om suurstof aan die grond af te gee. Deur hul bladgroen is hulle in staat om deur assimmilasie uit koolsuurgas en water suiker (glukose) op te bou. In die loop van die proses kom suurstof vry. Net soos oeste op normale grond het rysplantjies, wat op baie nat grond groei, suurstof nodig vir asemhaling. Ongelukkig het nat grond nie genoeg suurstof nie. In sulke grond groei die rysplantjies dan ook maar sleg, en hulle word gewoonlik siek weens 'n suurstoftekort. As daar egter wiere in die grond groei, sal die rysplantjies goed gedy. Die suurstof wat die wiere uitasem, word deur die rysplantworteltjies opgeneem. Sulke plantjies sal dan ook nooit gebrek aan suurstof hê nie.
Oerdiertjies
Die oerdiertjies (protosoë) is net soos die bakterieë eensellig. In daardie een selletjie moet al die lewensprosesse waarvoor die hoër diere miljoene selletjies nodig het, voltrek word.
Tog kan 'n mens in hul liggaampies verskillendes gestruktuurdeeltjies (organelle) gewaar wat elk 'n bepaalde funksie het.
Daar is ook van die protosoë wat hulself teen ongunstige omstandighede kan beskerm . Dit doen hulle deur hulself met 'n waterdigte protoplasma-kapsel te omring. In hierdie vorm is hulle vir lang tydperke bestand teen droogte, koue, hitte of voedselgebrek.
Die protosoë word in vier groepe verdeel:
- Sweephaardiertjies (Flagellata)
- Wortelvoetdiertjies (Rhizopoda)
- Wimperdiertjies (Ciliata)
- Sporediertjies (Sporosoë)
Die sweephaardiertjies word so genoem omdat hulle een of meer sweephaartjies (flagella) besit. So 'n sweephaartjie is 'n draadjie van protoplasma wat aan die voorkant van die diertjie sit. Hiermee roei hy sy liggaampie voort.
Die wortelvoetdiertjies het wortelvoetjies of vals pootjies. Die bekendste van hierdie soort is die amoeba. As die amoeba wil voortbeweeg, kom uit die liggaampie 'n uitstulpinkie soos 'n vals pootjie.
Die pootjie word steeds groter en die liggaampie gevolglik steeds kleiner totdat dit uiteindelik as't ware in die vals pootjie oorgegaan het. Dit gaan taamlik vinnig en word agtereenvolgens herhaal totdat die diertjie sy bestemming bereik het.
Die wimperdiertjies het as bewegingsorganelle sogenaamde wimpertjies (cilia) wat by enkele soorte oor die hele liggaampie versprei is. Van die protosoë het die wimperdiertjies die ingewikkeldste bou. Hulle het 'n taai, elastiese huid en die liggaampies verander nie van vorm nie. In die huid is 'n selmondjie waardeur die voedsel (soos bakterieë) in die keelgaatjie kom. Gewoonlik is die wimpertjies by die selmondjie meer ontwikkel, en hulle dien om prooi met draaibewegings te vang. Onder die wimperdiertjies is daar ook dié wat aan 'n steeltjie vassit.
Hierdie drie soorte protosoë kom in die grond voor; die vierde soort, die sporediertjies, nie.
Hulle is almal parasiete, dit wil sê hulle lewe op of in lewende wesens. Party van hulle is ook siekteverwekkers.
Volgende keer praat ons oor virusse.