Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is – Spreuke 13:24
DIE MIKROBE-SOORTE
DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (2)
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes
Jac Schoonens
Namate meer navorsers hul geleerde koppe oor die mikroskope gebuig het, was dit nodig dat die kleine diertjies van Van Leeuwenhoek 'n naam sou kry. Tot daardie tyd is veskillende name vir hulle gebruik.
In 1878 het Sédillot voorgestel om alle lewende wesentjies wat nie met die blote oog sigbaar is nie, mikrobes te noem – van die Griekse woord mikros wat 'klein' beteken.
Ons kan die mikrobes in 'n hele paar groepe onderverdeel:
- Die bakterieë;
- Swamme;
- Gisplantjies.
Hierdie drie kan ons as die belangrikste beskou. Daar is egter nog meer waaroor ons ook moet gesels. Hulle is:
- Die straalswamme;
- Wiere;
- Oerdiertjies;
- Virusse.
Bakterieë
Van hulle word gesê dat hulle lewendige, eensellige, baie klein organismes is. Hulle is dus lewendig. Miskien lyk dit 'n bietjie snaaks om die nadruk op lewendig te lê maar, soos ons later sal sien, is hulle die kleinste wesentjies waarvan ons seker is dat hulle ook werklik lewe.
Omdat hulle lewe, besit hulle ook die drie hoofeienskappe van lewende wesens, naamlik:
- Dat hulle voedsel kan opneem en dit in stowwe verander wat hul liggaampies nodig het.
- Hulle kan groei.
- Hulle kan voortplant.
En met hierdie eienskappe speel hulle ook in ons lewe 'n baie groot rol.
Hulle is dus eensellig. Dit is sommer 'n baie belangrike faktor.
Die sigbare plante en diere is mos opgebou uit miljoene selle waarvan elke soort tot 'n bepaalde orgaan of weefsel behoort, wat op sy beurt weer 'n bepaalde funksie in die liggaam het. Hierdie selsoorte kan 'n mens reeds aan hul vorm onderskei, soos byvoorbeeld in die menslike liggaam: die silindriese maagselle, die dermselletjies met elkeen sowat 'n honderd suigpyies om die voedsel in die derm op te suig, die kelkvormige slymselletjies, die lang (en andersgevormde) spierselletjies, die beenselletjies met hul aftakkings om die beendere 'n groot stewigheid te gee, die hoekige lewerselletjies en die fyn senuweeselletjies met hul lang 'elektriese' draadjies. Dit is net 'n paar van die verskillende soorte; daar is nog vele meer, en elk het 'n bepaalde funksie.
Bakterië het net een selletjie tot hulle beskikking en daarmee moet hulle klaarkom, asemhaal, kos opneem en verteer, afvalprodukte afskei; hulle moet groei en vermenigvuldig, baie van hulle moet ook beweeg. Kortom, terwyl die hoëre plante en diere hul besigheid met tallose, gespesialiseerde arbeiders (selletjies) verrig, is die bakterie 'n eenmansbedryfie.
Hulle is baie klein, so ongeveer 'n miljoen keer kleiner as 'n mens. Op die kop van 'n duimspyker kan maklik net soveel bakterieë 'n plek kry as daar mense in Suid-Afrika is. Die gemiddelde grootte van 'n koeël-bakterie is omtrent 'n duisendste van 'n millimeter, dit is ongeveer 0.00004 duim ('n duim is 2.2 cm lank).
Die bakterieë word volgens hul vorm in groepe ingedeel. Die vorm kan wees:
- Rond (kokke)
- Langwerpig (basille)
- Spiraalvormig (spirille.
By die ronde koeël-bakterieë is die bekendste die wat soos trossies by mekaar lê: die stafilokokke. Dan is daar wat twee-twee lê: die diplokokke. Ander van hulle bly na deling agtermekaar lê en vorm 'n kettinkie, die streptokokke. Ook is daar wat vier-vier lê, die tetrakokke, en agt-agt in 'n kubusvorm, die sarcina.
Ons die stafies-bakterieë is daar die wat los van mekaar is of ander wat kettinkies vorm – streptobasille.
By die spiraalvormiges is daar soorte wat te kort is om 'n hele spiraal te vorm en maar net 'n krom stafie bly – vibrio.
Hoe vermenigvuldig hulle?
Die bakterieë word ook splitsswamme genoem. Soos ons gesien het, was Spallanzani die eerste wat waargeneem het dat hulle vermenigvuldig deur te splits. Op hierdie wyse ontstaan van een bakterie twee. Daardie bakterieë splits weer en daar is dan vier, en so gaan dit voort. In gunstige omstandighede verdeel hulle elke slag in minder as 'n halfuur. Maar veronderstel nou dat een bakterie een keer per uur splits, dan is daar na een uur twee, na twee uur vier, ens. Dit beteken een bakterie het na 24 uur 16 777 216 nakomelinge. As 'n mens die tyd het om te bereken hoeveel dit na 48 uur gaan wees, kom jy op die fantastiese getal van 281 474 976 710 656!
Sê nou dat alle afstammeling van een koeël-bakterie na hul splitsing agtermekaar sou bly lê, dan sou hulle in 24 uur 'n ketting van 56 voet lank vorm. Na 48 uur sou dit reeds 'n ketting 174 090 myl wees – sewe keer om die aarde!
Spoorvormende bakterieë
Dis goed dat daar ook faktore is wat die bakterieë verhinder om steeds te vermenigvuldig, want anders sou ons moeder aarde binne 'n kort tydjie met 'n dik laag bakterieë bedek wees. Hulle word egter baie gestrem. Taamlik gou kry hulle moeilikheid met hul eie afval of met 'n ander invloed, en kan hulle nie meer vermenigvuldig nie. Dan sterf hulle of vorm 'n spoortjie.
Daar is bakterieë wat, deurdat hulle 'n spoortjie vorm, 'n beter lewenskans kry. As die lewensomstandighede vir sulkes te ongunstig word, ontstaan in hul liggaampie 'n ronde of ovaal knoppie, die spoor. Die liggaampie vergaan en die spoortjie word vrygestel. Dit het 'n taai wandjie wat die inhoud teen droogte, gebrek aan voedsel, te hoë temperature ens, beskerm. Kom die spoortjie weer in gunstiger omstandighede, dan bars die wandjie en uit die spoortjies groei weer die normale bakterie.
Hoe hulle beweeg.
In een van sy briewe aan die Royal Society in Londen skryf Van Leeuwenhoek oor die diertjies wat hy in kosreste tussen sy tande gekry het: "Die grootste soort het 'n baie kragtige en vaardige beweging en skiet deur die water (sy spoeg) soos 'n snoek..."
Van Leeuwenhoek het dus ook reeds gesien dat daar bakterieë is wat voortbeweeg, maar sy lense was nie sterk genoeg om te sien op watter manier nie. Met moderne mikroskope is dit wel moontlik en daarmee is dit duidelik te sien hoe daar bakterie-soorte is wat 'n baie dun en lang stertjie – die sweephaartjie – het. Hiermee maak hulle golwende beweginkies en stoot hulself daarmee vooruit. Ander bakterieë het meer sulke sweephaartjies aan die punt van die liggaampie en ander weer is heeltemal daarmee bedek.
Volgende keer praat ons oor swamme.