Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Meestal roem ons op onsself wanneer ons groot hoogtes bereik het. Eintlik weet ons dat die Here daardie talente en vermoëns aan ons geskenk het maar ons dink nie veel daaraan nie en word graag voor ander mense vereer. God sê in Exodus 28 aan Moses om met die kunsvaardige mense te reël om vir Aäron heilige klere te maak waarin hy die Priesteramp sal beklee; en dan maak God dit duidelik wie daardie kunsvaardige mense is: ...wat Ék met die gees van wysheid vervul het..." Laat ons deurentyd die eer aan God gee vir al ons prestasies, dit kom Hom toe.
DIE ONTDEKKING VAN MIKROBES
WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (1)
SKOOLPROJEK
Jac Schoonens
Die groot Duitse skeikundige, Justus von Liebig, het op 'n keer gesê: "Die wetenskap moet die belangstelling van elkeen hê..." En hoewel dit reeds meer as 'n eeu gelede is dat hierdie woorde uitgespreek is, het hulle ook in ons tyd nog niks aan waarde verloor nie. Inteendeel. En van alle takke van die wetenskap is die leer van die mikrobes een van dié wat die naaste aan die daaglikse lewe van die mens staan. Daarom gaan ons in 'n volledige reeks oor die kleinste organismes in die wêreld, maar, wat die grootste invloed op ons lewens uitoefen, meer leer oor daardie vriende en vyande van ons, iets wat almal behoort te weet soos Von Liebig gesê het.
Dit is in die ou Hollandse stadjie Delft, omstreek 1675. Die voorjaarsonnetjie rig sy vrolike strale op die graggies en skilderagtige bruggies, en op "De porceleijne Fles" waar die beroemde 'Delfts blauw' gebak word, en die strale val ook deur die klein venstertjies van die huis van die koopman Antoni van Leeuwenhoek. Hier word hulle weerkaats in die glansende metaalinstrumentjies wat sorgvuldig op rakke gebêre is. Die instrumente lyk maar baie eenvoudig; 'n paar skroewe, twee plaatjies en tussen die plaatjies klein stukkies glas. Maar daar is van hulle wat baie kosbaar is, van silwer gemaak, en in 'n Japanse lakkissie is daar selfs een van goud.
Tog is dit nie die silwer of die goud wat hulle die waarde gee nie, dit is die klein stukkies glas wat Van Leeuwenhoek ure lank geduldig geslyp het tot lensies met 'n sterk vergroting. Toe het hy die lensies gemonteer en daardeur alle moontlike voorwerpe bekyk, soos 'n vlieg se kop, 'n houtveseltjie, 'n stukkie huid en honderd ander dinge. Dit was vir hom 'n wonder om te sien hoe die mondjie van 'n vlooi lyk of hoe bloedliggaampies in die stertjie van 'n paddavissie beweeg.
Toe op 'n dag... in die vertrek is Marietjie van Leeuwenhoek besig om af te stof. Met die mikroskopies is sy baie versigtig. Sy weet mos hoe trots haar vader hierop is, en dat hy niemand deur die lensies laat kyk nie.
Sy wonder waar hy op die oomblik sal wees. Miskien iewers in die stad om – soos daardie dag by die slagter – 'n oog van 'n bees te gaan haal, of om van een van die bome aan die grag 'n stukkie bas af te sny, of om by sy vriend, die apteker, een of ander kruid te koop. Want altyd is hy op soek na iets om deur sy mikroskopies te bekyk.
Hierdie keer is hy egter nie ver weg nie. As Marietjie in die tuin kom sien sy hoe haar pa met belangstelling oor die rantjie van die reënbak tuur. Sy weet dat hy nou weer oor iets nadink, en dat sy hom nie mag steur nie. Maar meester Antoni het haar tog opgemerk.
"Maria, gaan haal tog gou vir my die blou kommetjie uit die spens, my kind."
Die dogter loop die huis in en is 'n oomblikkie later terug met die kommetjie. Sonder 'n woord neem haar pa die bak en en wanneer hy die reënwater daarin skep sê hy: "Ek wonder of daar iets in sal wees."
En daar wás iets in! In 'n klein waterdruppeltjie – deur die sterk lensie baie vergroot – sien die verbaasde meester Antoni hoe daar klein wesentjies in krioel. Daar is wat stadig swem, en ander wat vinnig deur die water skiet. Dis 'n nuwe wêreld vol "kleine diertjies" wat nog nooit deur die oë van 'n mens gesien is nie.
Antoni van Leeuwenhoek was 'n eenvoudige man en nie 'n geleerde nie. Hy was eerder 'n ontdekkingsreisiger, maar hy het nie na ver lande gereis nie – hy was selfs nooit uit Holland weg nie. Hy het by die huis gebly en daar het hy die wêreld van die kleinste ontdek, van die "kleine diertjies", die mikrobes.
Van Leeuwenhoek het die mikrobes nog op baie ander plekke gekry: in 'n aftreksel van peperkorrels, in die skraapsel van sy tande en in ou asyn. Al sy bevindinge het hy gereeld aan die wetenskaplike "Royal Society" in Londen gestuur, waar hulle hom eers nie wou glo nie. Toe hulle egter later ook mikroskope met sulke sterk lense gekry het, het hulle ook die mikrobes gesien.
Maar die eer van die ontdekking van die mikrobes kom die Delftse koopman, Antoni van Leeuwenhoek toe.
Destyds was almal daar oortuig van dat vlieë, kewers, wurms, maaiers, ja selfs rotte en muise, nie ouers het nie, dat dit uit vullis en modder kan ontstaan. Dit spreek dus vanself dat ook die mikrobes op dieselfde manier in die lewe moes kom. Dit het baie lank geduur voordat bewys is dat dit nie die geval is nie.
'n Tydgenoot van Van Leeuwenhoek, die Italiaanse dokter Franscesco Redi, het aan hierdie teorie van selfwording – van generatio spontanae, soos die geleerdes dit genoem het – begin twyfel.
"Ja," het Redi gedink, "dit mag miskien so lyk, en bowendien is dit ook baie maklik om te beweer dat kleine diere sommer vanself uit drek ontstaan, maar ek kan dit maar moeilik glo."
Redi was amper sewentig jaar toe hy 'n eenvoudige proef uitgevoer het. In twee skoon potte het hy 'n stuk vars vleis gesit. Die eerste pot het hy bedek met 'n stuk gaas maar die tweede het hy oopgelaat. Na 'n tydjie was die vleis in albei potte bederf. Uit die vleis in die pot wat nie bedek was nie, het die maaiers gekruip, maar nie uit die vleis in die bedekte pot nie. Dit moes dus vlieë wees wat eiers in die vleis in die onbedekte pot gelê het. In die bedekte pot kon egter geen vlieg kom nie en dus geen eiers lê nie.
Redi het oor die ontstaan van die insekte 'n boek geskryf wat in 1688 uitgegee is. Maar dit sou byna 'n driekwarteeu duur voordat iemand dit sou lees en besef hoe die "klein diertjies" van Van Leeuwenhoek nou eintlik ontstaan.
*
Papa Spallanzani vind dit die beste vir sy seun Lazzarro om advokaat te word. Hy is dit self ook, en was nog nooit spyt daaroor nie. Ouboet het egter nie baie lus daarvoor nie. In stowwerige aktes en langdradige hofsake stel hy sekerlik minder belang as in die oplos van matesisprobleme, of om na die fluweel-donkere Italiaanse aandhemel te tuur en die flonkerende sterre te bewonder.
Papa Spallanzani het 'n harde kop en hy wil. Ouboet Spallanzani het 'n effens harder kop, en dus...
Hy gaan na Bologna om natuurwetenskappe te bestudeer. Hier werk hy baie hard, laat hom ná sy studie nog as priester ook oplei, en is reeds voor sy dertigste jaar professor in Reggio.
In die ontdekkings van Van Leeuwenhoek stel hy baie belang, en hy sukkel tot hy ook self 'n mikroskoop in sy besit kry. Dan sit hy ure lank deur die lensies en kyk om die wemelende "klein diertjies" te aanskou.
Spallanzani is nie 'n ontdekkingsreisiger soos Van Leeuwenhoek nie, maar 'n ondersoeker – iemand wat by die aanskoue van die natuur "hoe?" en "waarom?" vra. En die vraag: hoe ontstaan die kleinste kreature van die natuur? , hou hom daagliks besig. Hy kan eenvoudig nie glo dat sy geleerde kollegas reg is, en dat insekte en ander lewende wesentjies sommer uit drek kan ontstaan nie.
Op 'n aand sit die jong professor in sy stil studeervertrek en lees. Die warm Italiaanse sonstrale het plek gemaak vir 'n koel windjie wat deur die oop venster die vlammetjies van die vetkerse laat flikker. Die boek wat Spallanzani met sulke gespanne aandag lees, dra die titel Esperienze intorno alla generazione degli insetti, geskryf deur Francesco Redi.
Die skemerige oggendlig dring reeds deur die venster as Spallanzani eindelik die boek toeklap. Bladsy na bladsy het hy bestudeer. Redi het bewys wat hy reeds lank gedink het: generatio spontanae is onsin.
'n Kort tydjie later kry Spallanzani toevallig 'n verhandeling van 'n ander priester, Needham, in Engeland, in die hande. Hierin beweer Needham dat hy bewys het dat die "kleine diertjies" van Van Leeuwenhoek wel deur selfwording kan ontstaan. Hy het naamlik die volgende eksperiment gedoen:
Boeljon van skaapvleis is goed deurgekook en kokend in bottels geskink. Die bottels is met kurkproppe goed diggemaak en daarna selfs nog 'n rukkie in vuurwarm as gelê. Maar na 'n paar dae het die boeljon tog weer gekrioel van die 'kleine diertjies'.
Die "Royal Society" en die hele wetenskaplike wêreld is geesdriftig. Sien jy, het die aanhangers van die selfwording-teorie gesê, sien jy dat dit tog waar is? Waar moet die 'diertjies' vandaan kom? Daar was mos kurkproppe op die bottels. In die vleissop kon hulle mos nie gewees het nie; dit was tog gekook.
Spallanzani is woedend. Dit lyk amper asof hy gaan verloor. En dit kan hy nie verdra nie. Sy vurige Italiaanse bloed kook en hy het baie lus om vir Needham 'n brief te skryf om sy priesterlike kollega te sê om in die toekoms nie meer sulke onsin te verkondig nie. Gelukkig word die brief nooit geskryf nie, want toe Spallanzani 'n bietjie afgekoel het, moes hy toegee dat die proef van Needham tog eintlik glad nie so sleg is nie.
En tog... Daar moet iewers 'n fout wees. Neem byvoorbeeld die kurkproppe. Sou hulle in staat wees om die 'kleine diertjies' werklik te keer? Eintlik wel. Hy het nou reeds so dikwels die 'kleine diertjies' gesien en nog nooit beentjies aan hulle ou lyfies ontdek nie. Of sou hulle miskien net soos 'n slag deur die porieë van die kurk kan kruip? Dit lyk darem 'n bietjie te snaaks. Maar hoe dan? Die kokende vloeistof in die bottel en die lug daarbo koel mos af en krimp. In die bottel ontstaan dan 'n kleinere lugdruk as daar buite en die 'kleine diertjies' sal by die afkoel na binne gesuig kan word.
Daar is nog 'n ander punt waaroor Spallanzani begin te twyfel. Het Needham sy vloeistowwe wel lank genoeg gekook? 'n Mens weet mos nog so min van die lewe van hierdie 'kleine diertjies' , en wie sê dat hulle almal vernietig word as hulle slegs 'n oomblikkie lank gekook word?
Nou begin die vurige Italianer werk. Hy kry bottels en vul dit met boeljon. Hy verseël die bottels egter nie met kurkproppe nie, maar deur die nek toe te smelt. Een bottel sit hy netso weg. Nommer twee lê hy net 'n paar minute in kokende water, maar die ander laat hy ure lank kook.
Die werk is nie net 'n bietjie vervelig nie maar selfs nou en dan gevaarlik. Soms brand hy sy vingers by die digsmelt. By die kook ontplof 'n bottel en laat die skerwe om sy ore vlieg. Dan, as hy dink dat die boeljon lank genoeg gekook het, maak hy die vuur dood, gaan sit die bottels netjies in 'n ry en gaan 'n paar dae rus.
As hy terugkeer, is sy eerste taak om na sy werksplek te stap, en hy sien... Hy het reg gedink! Die eerste bottel wat glad verhit is nie, en die tweede wat slegs 'n paar minute verhit was, bevat 'n troebele vloeistof veroorsaak deur die miljoene van 'kleine diertjies' wat daarin krioel. Maar in geen enkele van die ander bottels is soveel as één 'diertjie' te vind nie.
Dis 'n dag vir Spallanzani!
Hy gaan sit en skryf aan die 'Royal Society' in Londen. Sy woorde vloei soos die ink van sy gansveer. Hy beskryf sy proewe noukeurig. Dan wei hy uit oor die teorie van die generatio spontanae en beskimp die ouderwetse gedagte dat lewende wesens uit modder en vullis kan ontstaan. Maar hy gaan nog verder. Te ver. Soos vurige pyle skiet die temperamentvolle Italianer sy sarkastiese beledigings na die kop van die arme Needham, en laat vir hom weet dat hy sy eksperiment in die toekoms met meer aandag moet uitwerk.
Nou is dit Needham se beurt om kwaad te word en die werk van Spallanzani te kritiseer. Dit word 'n felle stryd, maar eindelik behaal die Italianer die oorwinning. Die teorie van selfwording, van generatio spontanae, is vir goed die wêreld uit.
Nadat die stryd 'n bietjie verflou het en die Italiaanse geleerde 'n bietjie rustiger geword het, is daar 'n volgende probleem wat sy aandag vra. Hy het nou weliswaar ontdek dat selfwording ook vir die 'kleine diertjies' nie moontlik is nie, maar hoe plant hulle dan voort?
Die Engelsman, Elles, meen dat die 'diertjies' mannetjies en wyfies moet wees, want hy het glo 'diertjies' met eiersakkies gesien. Hierdie man is so oortuig van sy eie teorie dat hy openlik stry met die Switser, Saussure, wat weer sê dat dat die 'diertjies' vermenigvuldig deur hulself eenvoudig te verdeel.
Spallanzani volg die stryd met belangstelling en prakseer ondertussen hoe hy die teorie van die Switser kan bewys. Dan kry hy 'n ingewing.
Op 'n glasplaatjie sit hy 'n druppeltjie skoon water. Nou stel hy sy mikroskoop so suiwer moontlik in en maak met 'n skerp naald 'n kanaaltjie tussen die druppeltjies. Op dieselfde oomblik sien hy hoe 'n 'diertjie' deur die kanaaltjie na die druppeltjie skoon water spartel. Vinnig vee hy die kanaaltjie nou weg. Die 'diertjie' is gevang, en nou kan die ondersoeker hom noukeurig dophou. Geduldig sit hy en tuur. Dit duur lank, en sy oog begin te brand. Tog durf hy nie wegkyk nie uit angs dat hy iets nie sal raaksien nie. Eindelik sien hy 'n snaakse ding gebeur. Die staafvormige 'diertjie' word in die middel 'n bietjie dunner.
Spallanzani waag ternouernood om asem te haal. Steeds dunner word die stafie en swem die twee helftes weg van mekaar! Die een 'diertjie' het twee geword!
'n Rukkie later sien die opgewonde ondersoeker hoe daar in plek van die twee nou vier stafies lustig deur die water swem, en dan weet hy dat Van Leeuwenhoek se 'diertjies' by voortplanting nie ouers nodig het nie, maar deur deling vermenigvuldig.
Nadat Spallanzani in 1799 oorlede is, het die leer van die mikrobes – mikrobiologie – eers stadig en toe al vinniger ontwikkel.
Manne soos Pasteur, Koch, Winogradski, Bruce en vele ander het belangrike ontdekkings gedoen. Hulle het stukkie vir stukkie in die wêreld van die kleinste organismes deurgedring, die kleinste wesentjies, waarsonder die lewe op aarde nie moontlik sou wees nie, maar wat waarlik vir ieder en elk die moeitewerd is om beter te leer verstaan.
Volgende keer meer oor bakterieë, virusse, swamme, wiere en oerdiertjies, sommige ons vriende, sommige ons vyande...