Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een groot bron van ongelukkigheid by mense is die gewoonte om jou lewe uit te stel na 'n toekomstige datum. Meeste mense is gedurig besig om hulself ongelukkig te maak omdat hulle vandag se mooi dinge en geleenthede verloor terwyl hulle besig is om op die toekoms te fokus. Gebruik elke dag, gryp die dag wanneer jy opstaan – Carpe Diem!
GIFTIGE 'ORGANIESE' KOSSE UIT SJINA
AKTUEEL: SJINA EN SY SOGENAAMDE ORGANIESE KOSSE
Kriewelkop
Sjina het die laaste jare ook Suid-Afrika se industrieë soos Siener voorspel het, soos 'n "geel slang" ingesypel. Nie net besit die Sjinese reeds onrusbarende hoeveelhede nywerhede in ons land nie, maar word 'n groot verskeidenheid produkte vanaf Sjina ingevoer waaronder ook hulle sogenaamde organiese voedsel. Persone wat in alle erns verantwoordelikheid neem vir hulle gesondheid, konsentreer juis op die gebruik van organiese voedsel al is dit duurder, om sodoende spuit- en gifstowwe te vermy. Hiermee is die kat nou uit die sak want organies gekweekte voedsel is duurder as ander voedsel en is die wins vir die Sjinese winsjagters dus groter.
Die waarheid is dat Sjina geen beperkings stel op die hoeveelhede swaar metale in gesertifiseerde organiese voedsels nie. Daar is ook geen beperking op die teenwoordigheid van sintetiese chemikalieë in hierdie kosse en voedselaanvullings nie. Groot hoeveelhede lood, alluminium, amalgaam, talle ander metale en selfs arseen word hierin aangetref.
Wat die meeste mense verkeerd verstaan, is dat die begrip organies nie in die handel beteken dat daar 'n beperking op swaar metale en chemiese stowwe in voedsel is nie. 'Organies' verteenwoordig die manier waarop die produk gegroei het of vervaardig is, menende dat die boer nie spuit- en gifstowwe BYGEVOEG het nie. Dit beteken ook dat die grond waarin die produk geplant is vir 'n sekere aantal jare sonder hierdie stowwe moet wees voordat dit gesertifiseer kan word as 'n 'organiese' veld - maar nie in Sjina nie.
Wat die organiese 'sertifisering' egter nie verteenwoordig of aanspreek nie, is die omgewingsbronne. Daar kan hoë besoedeling van water of chemiese spore in die grond van industriële bronne wees want 'n boer mag besoedelde water gebruik om sy produk nat te lei en steeds sy 'organiese' etiket op sy produk behou.
Die gevolg is dus dat organiese produksie in 'n skoon omgewing skoon voedsel oplewer terwyl 'organiese' produksie in 'n besoelde omgewing besmette voedsel oplewer. Sjina se landbou is een van die mees besoedelde nagmerries in die hele wêreld, soos die foto hierby ook aantoon.
Ons weet dat Suid-Afrika vanaf 1994 nie onbesproke is wat omgewingbesoedeling betref nie en ons is vinnig besig om in te haal, maar Sjina is ons baie jare voor omdat hulle daar sonder die nodige wetgewing nog altyd toegelaat was om enigiets in hul riviere te gooi. Die water in riviere en damme is so erg besoedel dat dit soms aan die brand slaan. 'n Sjinese omgewingsinspekteur is onlangs 30 000 dollar betaal om 20 minute in 'n plaaslike rivier uit te hou! En dit is hierdie water wat gebruik word vir besproeiing om 'organiese' voedsel te kweek.
Daar is egter een uitgesonderde produk naamlik goji bessies wat in die hoërliggende dele van Sjina groei en wat ver van die besoedelde stede en riviere is. Hierdie bessie is met talle laboratoriumondersoeke sover die enigste produk vanuit Sjina waarin nie 'n hoë aantal gifstowwe gevind is nie. Groot oorsese voedselmaatskappye soos "Health Ranger Select" en "Storable Organics" het alle voedselinvoere van Sjina verban behalwe die invoer van goji bessies.
Sjina is 'n land waar melamien summier in baba-melkformules bygevoeg word wetende dat dit babatjies se dood kan veroorsaak; Sjina is die land waar kinders se speelgoed met verf behandel word wetende dat dit breinskade veroorsaak; die land waarvan troeteldierkosse se hoë chemikalië jou dier kanker gee en doodmaak, kortom, 'n land waar geen morele waardes hoër geag word as die strewe om korrupte kortpaaie te gebruik na groter winsgrense nie.
Waarom word hierdie inligting nie openlik aan die publiek bekend gemaak nie? Natuurlik het dit 'n politiese oorsprong. En voordat Sjina nie sy siening oor omgewingsbesoedeling verander nie – en dit kan nie oornag gebeur nie! - is daar geen manier waarop die meeste ingevoerde produkte, en veral kosprodukte uit hulle geledere veilig is nie.