Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie kan na sy jeugjare terugkyk en sê dat hy nié voortvarend en onwys gehandel het nie? Soos Dawid moet ons bid: "Dink nie aan my sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!" (Ps 25). So lief as wat die HERE vir die jong voortvarende Dawid was en hom weer op die regte pad gelei het, so lief het die HERE vir jou wat as jongmens onverantwoordelik was, en sal Hy jou weer na Hom toe terugbring. Bid dan verder saam met Dawid: "Om u Naam ontwil HERE, vergeef my ongeregtigheid want dit is groot."
SUURMELK- PRODUKTE
DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (16)
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes
Jac Schoonens
Êrens in Oos-Europa, onder die magtige berge van die Kaukasus, neem die boer en sy arbeiders met hul kos ook 'n leersakkie saam as hulle op die land gaan werk. Die sakkie word op 'n sonnige plek neergesit en die mense gaan aan met hulle werk. Na 'n rukkie kom daar lewe in die sakkie. Dis snaaks om te sien hoe dit met klein skokkies beweeg. Die oplossing van die raaisel is nie moeilik nie. In hierdie sakkie is melk, en dit kan melk wees van beeste maar ook van merries of ooie.
As 'n mens die sakkie oopmaak, sien jy in die melk korreltjies wat die vorm van baie klein blomkooltjies het. Hierdie korreltjies is die Kefirkorreltjies en hulle bestaan uit derduisende mikrobes – in hoofsaak uit:
- die melksuur-bakterieë Lactobacillus casei;
- koeëlvormige melksuur-bakterieë;
- die gissoort Saccharomyces kefir.
Die melksuur-bakterieë maak die melk suur en die gisplantjies verander die melksuiker (laktose) in 'n bietjie alkohol en taamlik baie koolsuurgas. Dis natuurlik die koolsuur wat opborrel en die leersakkie die snaakse spronge laat maak.
Kefir is 'n suurmelkproduk wat reeds baie lank bekend is. In Oos-Europa waar dit baie warm kan wees, was dit nie moontlik om die melk lank vars te hou nie. Die mense daar het reeds lankal gemerk dat as die lebmaag van 'n kalf in 'n houtbak met melk gesit word, korreltjies aan die wand van die bak verskyn, en die melk 'n swak suur, opbruisende en aangename smaak kry. In hierdie toestand is die melk taamlik goed bewaarbaar.
Dit is nie nodig om steeds weer 'n kalf-lebmaag te gebruik nie. Deur net 'n paar korreltjies Kefir by vars melk te voeg sal die korreltjies self ontwikkel en dieselfde gistingsproses laat ontstaan.
'n Ander suurmelkproduk wat sy oorsprong in Bulgarye het, is joghurt. Hierdie produk is melk wat vernaamlik deur twee bakterie-soorte verander is:
- die Bulgaarse melksuur-bakterie (Lactobacillus bulgaricum);
- die koeëlvormige joghurt-bakterie (Streptococcus yoghurti)
Van die eerste bakteriesoort weet ons dat dit 'n stafie-bakterie is wat kragtig melksuur vorm, veral by 'n hoër temperatuur. Die joghurtbakterieë groei egter beter wanneer dit 'n bietjie koeler is. Hierdie bakterieë vorm die stowwe wat die joghurt sy tipiese smaak gee.
In die melkfabrieke word albei bakterie-soorte gekweek en by die gepasteuriseerde melk gevoeg. Eers moet die melk enige ure by ongeveer 104oF (40oC) staan. By hierdie temperatuur ontwikkel die melksuurbakterieë vinnig en vorm melksuur. Daarna word die melk afgekoel tot ongeveer 78oF (20oC), en kry die joghurt-bakterieë 'n kans om die aroma aan die produk te gee.
Dis nie moeilik om ook by die huis joghurt te maak nie. Al wat daarvoor nodig is, is 'n bietjie ou joghurt. Hierin is naamlik die bakterieë wat hulself in die melk verder kan ontwikkel. Vars melk word eers gekook en tot omtrent 120oF afgekoel. Dan word 'n klein bietjie joghurt by die melk gevoeg. Die melk word dan op 'n lekker warm plek neergesit en as dit na 2-3 ure dik en suur is, afgekoel tot ongeveer 80oF. By hierdie temperatuur moet die melk dan nog 5-10 uur bly staan.
'n Suur melk wat vir ons meer bekend is , is karringmelk. Dit is afgeroomde melk waarin die melksuurvormende koeëltjies Streptococcus lactis en die Lactobacillus bulgaricum die hoofrol speel. Ook bakterieë wat spoortjies van bottergeur produseer (Streptococcus citrovoris) kan aanwesig wees en die bottersmaak van die karringmelk verhoog.
Ter afsluit van die suurmelkprodukte noem ons nog acidophilus-melk. Die naam kom van die bakterie-soort wat vir die melksuurvorming verantwoordelik is: Lactobacillus acidophilus. Die acidophilus-bakterieë het belangrik geword toe vasgestel is dat hulle in die menslike ingewande kan lewe en daarin 'n gunstige werking op die spysvertering het. In die geval van sommige maagaandoenings waarvan die ooraak in 'n oormatige werking van verrottingsbakterieë gesoek moet word, kan die acidophilus-bakterieë verbetering aanbring. Hierdie bakterieë produseer ook in die derm melksuur en kan daar verskillende suikersoorte gebruik. Die onaangename werking van die verrottingsbakterieë word deur die suur gestrem en die spysvertering word weer normaal.
Acidophilus-melk word berei deur gesteriliseerde (dus kiemvrye) melk met hierdie bakterie-soort te ent.
Botter ... vervolg