Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons huil Here, ons rou oor ons volk wat so verdruk en uitgemoor word. U sien dit en U weet dit. En U bemoei U met ons ellende want U weet hoe swaar ons kry. Help ons om te onthou dat U ons nooit sal vergeet nie maar nou met ons werk sodat ons weer na u sal wil terugkeer. Help ons ook veral om te onthou dat U reeds die finale oorwining oor die Bose vir ons bewerk het, en dat 'n nuwe aarde en 'n nuwe hemel aan die kom is.
DIE KOEI SE PENS – 'N GISKUIP
DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES (14)
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes
Jac Schoonens
Soos ons gesien het, kom die mikrobes by die mens en die nieherkouende diere eers na die twaalfvingerige derm in aksie. Tot hier vind die vertering eintlik net plaas deur die ensieme wat deur die weefselselle van die verteringsorgane afgeskei word.
By die herkouers – soos die bees en die skaap – staan die saak 'n bietjie anders. In hul voormage, of liewer, in hul grootpens (rumen) is 'n ongelooflike getal mikrobes onafgebroke besig om die voedsel op te deel en ook om ander stowwe op te bou.
VERTERING VAN VESELAGTIGE STOWWE
Die herkouer se kos bestaan vir 'n groot deel uit veselagtige voer, soos hooi. 'n Nie-herkouende dier en natuurlik ook die mens, kan met sulke veselagtige kos nie veel uitrig nie omdat hul verteringsorgane nie ensieme afskei wat die sellulose vesel, kan verteer nie.
Daartoe is slegs sellulose-afbrekende mikrobes deur middel van hul ensieme (sellulase) in staat, en hierdie mikrobes kom nie in die ingewande amper nie voor nie, maar wel in die pens van die herkouers.
Die pens is 'n unieke orgaan. Dit het 'n inhoud van ongeveer 25 gelling. Die pH daarin is ongeveer neutraal. (7); die temperatuur is sowat 39oC (104oF); dit bevat nie suurstof nie, sodat slegs anaërobiese bakterieë daarin werksaam is. Die getal mikrobes per gram pens-inhoud kan geskat word op ongeveer 10,000,000,000. Per ons is dit dus nog 28 maal soveel. Dit is dus glad nie vreemd dat in die giskuip, wat die pens is, die sellullose-vertering baie keer vinniger as in die grond plaasvind nie.
Daar is baie verskillende mikrobesoorte in die pens aanwesig: klein koeëlvormige, stafie- en spiraalvormige bakterieë, maar ook gisselle, swamme en baie protosoë, die oordiertjies. Deur middel van die ensiem sellulase breek hulle die sllulose af.
Een van die groot verskille tussen die sellulose-afbrekende bakterieë in die grond en dié in die pens van die herkouers, is dus dat eersgenoemde suurstof nodig het (aërobies is) terwyl die pensbakterieë anaërobe is en dus sonder suurstof kan lewe.
Hierdie pensbakterieë wat in die mis van koei aanwesig is, is dus slegs aktief as in die komposhoop, waarby die mis gevoeg is, anaërobiese toestande heers.
OPBOU VAN EIWIT
Sellulose bestaan slegs uit koolstof, waterstof en suurstof. Dit bevat nie stikstof nie. Tog het die mikrobes stikstof in een of ander vorm nodig om hul protoplasma te kan opbou. Daarsonder is dit vir enige lewende wese- dus ook vir die mikrobes – heeltemal onmoontlik om te lewe. Uit 'n normale somervoeding kry die koei voldoende eiwit om die pensmikrobes aan die gang te hou, en sal die sellulose-vertering normaal sy gang gaan.
Maar wat van die winter, wanneer die beeste grotendeels op droë veldweiding staan? Grashooi bevat baie vesel, en deur die vertering hiervan kan voldoende energie verskaf word. Maar hierdie voer bevat baie min eiwit (-stikstof) sodat die mikrobes geen kans sien om te vermenigvuldig nie. Gevolglik sal die mikrobegetal in die pens afneem en daarmee ook die sellulose-vertering. Die gevolg is dat die dier se kos te min word, eintlik nie werklik te min in volume nie maar dit verteer te swak sodat te min waardevolle stowwe deur die koei se liggaam opgeneem word. Die gevolg is dat die gewig van die koei afneem.
Die boer kan dit voorkom deur 'n meer eiwitryke hooi (lusern- of peulplanthooi) te voer, of vis-of vleismeel as aanvullende kos te gee. Dis egter baie belangrik om te weet dat die herkouers nie van die ingewikkelde eiwitte afhanklik is om te dit te verander en as hul eie liggaams-eiwit te gebruik nie. Die pensbakterieë is naamlik in staat om eenvoudige stikstofverbindinge vir die opbou van die hul bakterie-eiwit te gebruik. Na hul afsterwe is die bakterie-lykies as eiwitbron ter beskikking van die koei. Een van die eenvoudige stikstofverbindinge wat die bakterieë kan gebruik, is die urea. Dit word in die pens deur middel van die ensiem urease verdeel in koolsuur en ammoniak. Hierdie ammoniak word deur die bakterieë gebruik om aminosurevan te maak en daarvan weer eiwit.
Urea is nie duur nie maar 'n goedkoop stikstof- of eiwit-bron. Dit kan goed as 'n aanvullende voer dien. Op hierdie manier kry die bees sy aanvullende eiwit in die vorm van bakterie-eiwit.
Dit sal egter nie deug om net urea as voer of byvoer te gee nie; dit is selfs gevaarlik. Die bakterieë kan die urea nie gebruik as hulle nie gelyktydig suiker in 'n bepaalde verhouding kry nie. Die goedkoopste suiker wat die boer hier kan gebruik, is melasse.
Dat 'n koei taamlik veel eiwit moet opbou, is wel duidelik as ons net onthou dat sy daagliks in die melk ook weer baie eiwit afstaan.
Hoe gunstig die aanvulling met urea en melasse op die gewig van die bees werk, is te sien uit 'n ondersoen van dr Clark op Onderstepoort. Hy het destyds agt ossies gedurende drie wintermaande met hooi alleen en agt ander met hooi, urea en melasse gevoer. Die eerste groep het aan die einde van die tyd gemiddeld 60 pond aan gewig verloor; die twee het egter 44 pond opgetel!
OPBOU VAN VITAMIENE
Behalwe dat die pensbakterieë vesel verteer en eiwitte opbou, produseer hulle ook belangrike vitamiene. So byvoorbeeld sorg die Flavobacterium vitarumen vir die opbou van bepaalde B-vitamiene. Die toevoeging van urea en suiker bevorder die opbou van vitamiene soos riboflavien, nikotiensuur, biotien en pantoteensuur.