DIE NUWE WÊRELDORDE (6)

GODSDIENS EN DIE NUWE WÊRELDORDE

(Lees reeks by Die Nuwe Wêreldorde)

Koos Bester

"Dit is duidelik dat Suid-Afrika vinnig en met mening deur politici, geldmag- en godsdiensleiers aan die sinistere magte van die politiek, ekonomie en godsdienste uitgelewer word...  Dit sal alle godsdienste, van 'n vervalste weergawe van die Christendom en die Oosterse afgodediens af tot by voorvaderaanbidding en swart toorkuns insluit...  Die ANC skakel 100 persent by hierdie internasionale benadering tot die bevordering van 'wêreldvrede' en die instelling van die Nuwe Wêreldorde in...   Die sogenaamde Nuwe Wêreldorde beteken dus vir die Protestantse Afrikaner en alle Protestantse Christene niks anders as 'n nuwe en veel intenser fase van stryd teen die ideologieë nie. "

Oor die buite-politieke betekenis van die Nuwe Wêreldorde, veral op die gebied van die godsdienste, is veel geskryf. Daar kan kritici wees wat aanvoer dat daar te veel waarde geheg word aan die betekenis wat op die gebied van die godsdienste aan die Nuwe Wêreldorde gegee word. Ander kritici weer kan sê, of daaraan toevoeg, dat die godsdienste, ook die Christendom, die publisiteit wat saam met die Nuwe Wêreldorde gaan, raaksien en die geleenthede wat dit aan die godsdienste bied, wil uitbuit. Hulle ry dus as't ware op die rug van die publisisteit wat die Nuwe Wêreldorde kry.

Dit kan wel waar wees dat daar opportunistiese munt uit die beweging geslaan kan word. Ernstiger en behoudende waarnemers in die Christendom is egter tot die teendeel oortuig.

  Van netso ernstige betekenis is die feit dat die Nuwe Wêreldorde en sy ontplooiing so netjies, asof bedoeld en met voorbedagte rade, gesinchroniseer het met byvoorbeeld die magswenteling in Suid-Afrika, waar die uiteindelike wenner die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en sy meelopers in die ANC was.

Om een van die behoudende waarnemers, prof JS Malan van die Universiteit van die Noorde in dié verband aan die woord te stel:

In Time van 13 September 1993 het die volgende berig deur Michele Donley oor 'n beraad van die Wêreldparlement vir Godsdienste verskyn. Die beraad is van 26 Augustus af vir agt dae in Chicago gehou onder die beskrywing: 'Chicago se kosmiese geheime beraad'. Die saamtrek is as die wêreld se grootste byeenkoms van godsdiensleiers bestempel.

Een van die Boeddhiste-monnike het opgemerk dat dit soos 'n supermark van godsdienste was. Vir agt dae lank het 7 000 afgevaardigdes van honderde gelowe ernstig in Chicago se Palmer House Hilton Hotel met mekaar geargumenteer en ernstig menings gewissel. Die hele spektrum van godsdienste was daar, van Taiisme tot Druïdisme ('n orde van die Keltiese towenaars); van Zoroastrianisme tot by die aanbidders van die Godin van die Aarde.

Die Parelent van Wêreldgodsdienste is die eerste sodanige byeenkoms in 100 jaar. Dit is volgens die voorsitter van die vergadering, eerw, David Ramage van Chicago, belê om 'n nuwe gespreksbasis vir ons tyd te skep.

Daar was verskeie kleiner byeenkomste om uit te kies – 700 werkswinkels, lesings, besprekings, uitstallings en opvoerings om presies te wees. Gedurende die week het Christelike en Joodse leiers die geleentheid gehad om met Hindoe-swami's, Moslem-imams, Djaina en Boeddhiste-monnike, Teofiste, Confucianiste en verskeie ander te koukus. Die byeenkoms is met die ondertekening van die Verklaring van Universele Etiek afgesluit. Dit is voor die tyd deur 'n Roomse teoloog van Switserland, Hans Kung, en andere opgestel. Die verklaring van nege bladsye veroordeel geweld tussen godsdiensgroepe, die besoedeling en vernietiging van die omgewing, diskriminasie op grond van geslag, en bepleit 'n kultuur van onderlinge respek, geregtigheid en vrede.

Die inspirasie vir hierdie grootskeepse intergeloofsbyeenkoms kom van die wêreld se eerste sodanige dialoog wat in 1893 gedurende die groot Chicago Wêreldtentoonstelling gehou is, maar toe was daar net 400 afgevaardigdes van 41 gelowe teenwoordig.

Hoewel die vergadering nou, ná 'n eeu, aansienlik meer verteenwoordigend van die wêreld se godsdienste is, was dit nogtans nie 'n byeenkoms wat sonder konflik verloop het nie. Sikhs en Hindoes uit Indië het byna handgemeen geraak en moes deur die polisie uitmekaar gehou word. Vier Joodse groepe het hulle steun as gevolg van die Nation of Islam se leier, Louis Farrakan (wat Suid-Afrika al besoek het), se teenwoordigheid onttrek. Ortodokse Christene het die beraad verlaat toe hulle gehoor het dat daar hekse en leiers van ander okkultiese groepe teenwoordig was.

Die Wêreldparlement van Godsdienste probeer ernstig om die inisiatief wat met die Chicago-beraad geneem is, te behou. 'n Strategie vir die bevordering van wêreldvrede word gevolg, en die eerste saak op hul agenda was die reëling van 'n groot byeenkoms in Milaan, Italië, tydens Internasionale Vredesdag op 21 September 1993. Afgevaardigdes van 90 verskillende godsdienste was op hierdie byeenkoms teenwoordig.

Die byeenkoms is deur Mikhael Gorbatsjof, voormalige president van die Sowjet-Unie, geopen. Hy het gesê dat die verskillende godsdienste en politieke groepe op aarde ruimte vir mekaar moet bied, anders sal daar nooit wêreldvrede wees nie. Hy het die vredesluiting tussen Israel en die Palestyne (wat intussen herhaaldelik verbreek is en honderde dooies en gewondes gelaat het - skrywer) as 'n groot deurbraak bestempel omdat die twee groepe daardeur bewys gelewer het dat hulle mekaar kan akkommodeer.

Binne die raamwerk van die Internasionale Vredesdag se doelstellings van versoening oor grense heen het die hoofrabbi van Jerusalem 'n besoek aan die pous gebring. Die Vatikaan erken nie die status van Jerusalem as Joodse hoofstad nie, maar alle aanduidings is dat hierdie twee partye nou ook nader aan mekaar beweeg.

Verskeie regerings, en ook die Verenigde Nasies, steun die inisiatief vir die vestiging van 'n Bond van Wêreldgodsdienste. Hulle sien dit as 'n belangrike bydraende faktor, indien nie die deurslaggewende faktor nie, vir die skepping van 'n mistieke wêreldbroederskap wat die grondslag vir die internasionaliseringsbeweging van die Nuwe Wêreldorde moet vorm. Deur samewerking van die Wêreldkonferensie oor Godsdiens en Vrede, 'n kategorie-twee en VN-erkende, nie-regeringsorganisasie, was die VN ook onregstreeks betrokke by hierdie gebeure.

Onder die opskrif, 'Suid-Afrika vinnig by die Nuwe Wêreldorde ingetrek', skryf prof Malan verder: "Dit is duidelik dat Suid-Afrika vinnig en met mening deur politici, geldmag- en godsdiensleiers aan die sinistere magte van die politiek, ekonomie en godsdienste uitgelewer word. Die valse vrede wat deur die inisiatief van hierdie drie magsgroepe nagestreef word, word veral onder die vaandel van multi-godsdienstige organisasies soos die SA Raad van Kerke en Wêreldkonferensie oor Godsdiens en Vrede bevorder.

Ook in ons land word die grondslag dus vir noue samewerking tussen 'n toekomstige antichristelike regering en 'n valse ekumeniese godsdiens gelê. Dit sal alle godsdienste, van 'n vervalste weergawe van die Christendom en die Oosterse afgodediens af tot by voorvaderaanbidding en swart toorkuns insluit...

Die ANC skakel 100 persent by hierdie internasionale benadering tot die bevordering van wêreldvrede en die instelling van die Nuwe Wêreldorde in. Nelson Mandela word as messiaanse figuur voorgehou wat vrede, voorspoed en eenheid in die land sal bewerkstellig. Internasionale leiers van die Nuwe Wêreldorde, insluitende pres Bill Clinton van Amerika, vestig hulle hoop op hom om die NWO in Suid-Afrika te laat slaag. Met die oog hierop het die ANC hul beleid en propaganda drasties hersien om by die nuwe riglyne aan te pas. Hulle ontken nou dat hulle party 'n ateïstiese siening ten opsigte van godsdiens huldig, en spreek hulle volle steun vir die multi-godsdienstige beweging uit...

In die media word hierdie nuwe benadering natuurlik uitgebeeld. Op die voorblad van die Argus van 13 September is 'n kleurfoto van die geleentheid toe aartsbiskop Lawrence Henry die mis aan Mandela bedien het. Hierdeur wys Mandela aan die wêreld dat hy hom met die Christendom vereenselwig. Op bladsy 5 van dieselfde koerant is egter 'n foto van Mandela saam met die indiërs, waar hy in die byskrif 'n 'honary Indian' genoem word. Hindoe-konnotasie word hierdeur veronderstel.

Net 'n dag later, in die Argus van 14 September, is 'n foto van Mandela waar hy saam met Moslems afgeneem is, in noue assosiasie met hulle. Inderdaad 'n allemansvriend wat nou agterkom dat goedsdienstige propaganda hom geweldig kan help om sy doel as NWO-leier in Suid-Afrika te bereik.

Die Afrikaanse Protestantse Kerk se maandblad, Die Boodskapper, van September 2000, berig op sy beurt van die Wêreldparlement van Godsdienste se byeenkoms in Kaapstad (van 1-9 Desember 1999 gehou):

Altesaam 4 000 van die verwagte 8 000 mense het vir die byeenkoms opgedaag. Hulle was uit 90 lande afkomstig en dit was die derde keer dat hierdie sogenaamde parlement gesit het. 'n Port Elizabethse Metodiste predikant, Peter Woods, verklaar dat hy tydens die sitting 'n smaak vir intergeloofsdialoog ontwikkel het, en nou 'n begeerte het om weg te bly van die sektariese ghetto's van uitsluitende dogma... Kaapstad is gekies vanweë die belangrike rol van godsdiens en spiritualiteit in die stryd teen apartheid... Die uitvoerende direkteur van die Raad, Dirk Ficca, sê byvoorbeeld: 'Ons glo dat godsdiens en spiritualiteit 'n unieke rol in sosiale transformasie moet vervul.' En Nelson Mandela sê in sy toespraak: 'Sonder die Kerk en religieuse instellings sou ek nooit vandag hier gewees het nie.'

'n Aantal kerke word in die amptelike program by die Suid-Afrikaanse borge gemeld: die Rooms Katolieke Aartsbiskop van Kaapstad, die Anglikaanse Kerk, die Metodiste Kerk van Suidelike Afrika, Morawiese Kerk van Suid-Afrika, Nuwe Apostoliese Kerk en Rhema Ministries.

Elke oggend begin met gebede en meditasie... Die stem van die roeper weerklink, 'n ghong word geslaan en 'n heks in beswyming roep histeries na Beatrix... Daarna word daar werkswinkels en praatjies gehou oor onderwerpe soos die rol van die ghoeroe, sangoma, Heilige Aarde, Wat is die Wikka?, Dans met die Goddelike en die Jain-beginsel van Eenheid...

Soos dr AP Treurnicht dit gestel het: "Enige nuwe wêreldorde wat God se ordening vir die volkereverskeidenheid geweld aandoen, is 'n onbybelse orde en daarom 'n dwase orde. Enige nuwe wêreldorde wat rewolusionêr volke in nie-rassigheid wil opklits, moet bots met natuurlike volksnasionalisme wat nou oral herleef en ontwaak.

As hierdie hoofstuk in die wêreldgeskiedenis hom afspeel, dink 'n mens aan die waarskuwing opgesluit in die woorde in 'n referaat van Totius, gelewer tydens die FAK se Volkskongres oor die Rassebeleid in 1944:

Die volke moet hulle self dus handhaaf, en dit teen die Babiloniese gees van eenmaking. Die wording van nasies en koninkryke dra die goedkeuring van die Skrif, maar wêreldryke nie. Daarom word die wêreldryke as diere in die Skrif geteken (Daniël 7), magte wat oorweldig, nasies opsluk en grense, wat deur God gestel is, tot niet maak. Elke keer duik die Babel-gedagtes weer op, totdat uiteindelik die anti-Christelike kombinasie gesien sal word, koninkryke wat hulle mag sal oorgee aan die dier en een gesindheid sal hê (Openbaring 17:13).

Stryd van ideologie

Het die Nuwe Wêreldorde, die 'post-moderne tydvak' soos ander dit wil, inderdaad 'n einde gebring aan die stryd van die ideologieë, is die vraag wat ten laaste opkom wat die Nuwe Wêreldorde betref. Is daar inderdaad 'n wapenstilstand tussen die kapitalisme, die kommunisme, die fascisme, die nasionaal-sosialisme, die liberalisme, die humanisme, die anargisme of enige ander geestestroming?

Wil enigiemand dit betwis dat dit die Swart nasionalisme is wat die botoon in Suid-Afrika voer en dat sy protagoniste nie hul gewere, splinternuwe R1-gewere in die plek van hul verroeste AK47's tot pikke en grawe versmelt het nie? 'n Terloopse aanspraak dat die ANC-bewind en sy uitinge 'n anachronisme in die Nuwe Wêreldorde is, is totaal onvoldoende. Is Rooi China, Viëtnam en Kuba ook anachronismes?

Ten grondslag van al die mensdom se versugtinge lê steeds die ideologiese bril waardeur hy sy wêreld sien en dit sal nooit anders wees, al skreeu die Sekretaris-generaal van die VN en 'n paar verloopte waarnemers hul kele hees dat dit nie so is nie. 'n Verklaring dat die stryd van die ideologieë verby is, is doodgewoon misleiding of 'n hersenskim.

Kom ons kyk na 'n mening wat in Oktober 46, Kwartaalblad van die Sentrum van Reformatoriese en Kontemporêre Studies (Maart 1987) uitgespreek is oor die sogenaamde "einde van die stryd van die ideologieë":

Die staatkundige toekoms van Suid-Afrika gaan nie bepaal word deur ... strukture nie, maar deur die godsdienstige-kulturele grondslag van die vooruitgangsideaal. Daarom is dit 'n stryd om ideologieë, en om die beheer  oor die proses van die rewolusionêre aanslag, wat die grondslag van Suid-Afrika gaan bepaal... Die ideologieë, as wêreldlike godsdienste, wat die toekoms van Suid-Afrika wil bepaal en waar tussen gekies moet word, staan teenoor die Gereformeerde Protestantse godsdiens en die daaruitspruitende Calvinisme. Die ideologieë wat 'n wesenlike bedreiging inhou is die marxisme, wat die verstand en die hart van die rewolusie is; die sosialisme wat vereenselwig word met progressiwiteit; en die humanisme wat die kleed van 'Christelikheid' vertoon.

Die sogenaamde Nuwe Wêreldorde beteken dus vir die Protestantse Afrikaner en alle Protestantse Christene niks anders as 'n nuwe en veel intenser fase van stryd teen die ideologieë nie.

In die 7e en laaste aflewering wat volg oor die Nuwe Wêreldorde word die sogenaamde "Verbeterde Nuwe Wêreldorde" bespreek.