Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
My seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet – Spreuke 15.
DIE NUWE WÊRELDORDE (5)
SOMALIË, NAVO EN DIE VN
(Lees reeks by Die Nuwe Wêreldorde)
Koos Bester
Nog getuienis dat Amerika oor twyfelagtige vermoëns beskik om die Nuwe Wêreldorde te handhaaf en af te dwing, het in Somalië na vore getree. Die Amerikaners het met groot bravade duisende soldate en die vliegdekskip America, op 9 Desember 1992 na die Afrikastaat gestuur om 'n Amerikaanse soort oplossing vir die burgeroorloggeteisterde land af te dwing. In Desember 1993 het die Clinton-administrasie egter druipstert besluit dat sy "sending" na Somalië ingekort word nadat die Somaliërs 24 Amerikaanse soldate doodgeskiet het en 'n versetgroep 'n uitmergelende greep op die ontplooiing van Amerikaanse "vrede" gekry het.
Die America het vir 'n wyle nog aan die Somaliese kus, in die omgewing van die hawestad Mogadisjoe rondgehang en 'n heldhaftige dog baie veilige teenwoordigheid in Somalië se lugruim probeer handhaaf deur sy F-14 Tomcat- en F-18-Hornet-vliegtuie buite bereik van die Somaliërs se geweervuur verby te laat raas. Die America is vervang deur die Independence-vliegdekskip en die America en sy gevegsgroep van 5 500 soldate en matrose is huistoe. Dit het beteken dat sowat 15 000 soldate van die aanvanklike 20 000 oorgebly het.
Nog 'n poging tot die skep van die Nuwe Wêreldorde was druk deur die Clinton-administrasie op Rusland dat Amerika en Rusland nie meer hul langafstand-missiele op mekaar rig nie. Die missiele moes volgens Clinton nou glo "op die see gerig word." Volgens Clinton is die moontlikheid met Boris Jeltsin tydens hul ontmoeting in April 1993 in Vancouver bespreek. Die rig van die missiele op "afgeleë kolle" in die oseaan is volgens Clinton glo deur hom met sy Russiese ampsgenoot tydens hul ontmoeting bespreek. 'n Amerikaanse amptenaar het teenoor die Early Bird (7 Desember 1993), 'n propagandablad van Amerika se militêre inligting, erken daar kan eintlik nie veel waarde aan so 'n ooreenkoms geheg word nie aangesien "dit slegs minute duur om die missiele op nuwe teikens te rig"! Drie voormalige Sowjet-republieke, die Oekraïne, Kasakstan en Wit Rusland, het in daardie stadium oor langafstand-missiele beskik.
Navo
Amerika se rol as polisieman en regter van die Nuwe Wêreldorde blyk uit die Pentagon se druk op Navo-magte om sy vermoëns in Europa uit te brei. Deel van die opdrag aan Navo is egter om dit so te doen dat dit die Russiese Beer, volgens die Washington Post in 'n "winterslaap" met die Nuwe Wêreldorde, "nie steur nie". Navo sou volgens die bedinksel 'n "Vennootskap vir Vrede-ooreenkoms" met nie-Navo-lande probeer beklink het.
Nog 'n gevallestudie uit die wittebroodsjare van die Nuwe Wêreldorde, is die druk deur Amerika op kommunistiese Noord-Korea, dat Noord-Korea sy kernkraginstallasies vir inspeksie deur agente van die Internasionale Atoom-energie-Agentskap moes oopstel. Noord-Korea is 'n ondertekenaar van 'n kernsperverdrag van die Agentskap.
Volgens die Boston Globe van 4 Desember 1993 sou die krisis die Koreaanse skiereiland, Japan, Rooi China, Amerika, en die Verenigde Nasies betrek. "Weens blyke dat Pijongjang op die punt van 'n deurbraak is in die bekom van kernwapens, kan beleidmakers nie bekostig om vir tyd te speel in die hoop dat die probleem homself sal oplos nie," skryf die Boston Globe. Volgens die koerant was Clinton se benadering tot die probleem, ná Amerika se nare avontuur in Somalië, egter om eers "in gesprek" met die Noord-Koreaanse regering te tree.
Yanks-baas in die VN
Amerika se houvas op die Verenigde Nasies blyk uit 'n opmerking van die koerant dat 'n "waarskynliker eerste stap 'n Veiligheidsraad-beslissing behoort te wees, dat 'n handels-embargo op Noord-Korea afgedwing word."
Die KP-lyfblad Patriot, skryf op 10 Januarie 1992 oor die "bewyse" van Amerika se nuwe houvas op die VN onder die opskrif, 'Sionisme-besluit toon Yanks is nou baas in die VVO.'
Die blad verklaar:
"Die herroeping van 'n VN-resolusie dat Sionisme 'rassisme' is, is 'n verdere bewys dat Amerika nou onbetwisbaar die septer in die wêreldorganisasie swaai. Dit is maar die tweede keer in die organisasie se bestaan dat hy 'n resolusie krap: Die Algemene Vergadering het op 16 Desember 1991 'n resolusie van 1975, dat Joodse sionisme 'n vorm van rassisme is, herroep."
Patriot skryf die stap is 'n aanduiding van die posisie van die groot spelers in die internasionale politiek: "In 1975 was die wêreld in die Koue Oorlog gewikkel. Die Sowjet-Unie het in daardie tyd en met geen geringe bydrae van die sogenaamde onverbonde lande nie, 'n groot invloed op internasionale verhoudings uitgeoefen. Dit was ook in daardie jaar dat die Arabiese lande vir die eerste keer hulle olietroefkaart beslissend gespeel het. Die leier van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, Jasser Arafat, het ook in 1974 'n triomfantelike ontvangs in die VN geniet.
"Sedert veral 1991 het Amerika sy afsydigheid van die wêreldorganisasie verander. Die verbrokkeling van die Sowjet-Unie en die kommunisme en veral ook die Golfoorlog het beslissende magsverskuiwings in die internasionale politiek tot gevolg gehad. Dit het aan Amerika die vooruitsig gebied om sake in sy guns in die VN te beklink."
In die volgende aflewering kyk ons na verskillende aspekte in die buite-politieke betekenis van die Nuwe Wêreldorde.