NOG BRUTALE DIKTATORSKAP...

Ontmoet Amerika se vriend: Saoedi-Arabië

Dr JJ Snyman

Met die afsterwe van koning Abdullah van Saoedi-Arabië, het 'n spektakel hom afgespeel wat die gewone man op straat weer eens, in sy onkunde, misgekyk het. En hoe jammer tog, gesien die ware toedrag van sake.

Saoedi-Arabië is die grootste produsent en uitvoerder van olie in die wêreld. Dit was al rede genoeg vir Barack Obama, David Cameron, prins Charles, Frankryk se Hollande, Afghanistan se president Ghani, Spanje se koning Felipe VI, die Turkse president Erdogan en Pakistan se eerste minister, Sharif om hulle na Riyadh te haas toe die 79-jarige koning Salman ingesweer is as Abdullah se opvolger.

Maar hoe lyk hierdie koninkryk? Saoedi-Arabië is 'n absolute en brutale diktatorskap. Die staat is vernoem na die koninklike Saud-familie wat die olierykdom en gevolglik ook die staat vir hulleself ingepalm het.

Nou word die land as hulle eie beskou en dienooreenkomstig bestuur. Hierdie beheer geskied deur grootskaalse onderdrukking van die res van die bevolking, waarskynlik die ergste in die wêreld. Geen politieke teenstand word geduld nie en daar is geen opposisie nie en ook geen vakbonde nie.

Onthoofding vir enigiets, van politieke opposisie tot homoseksualiteit vind gereeld plaas - gemiddeld een elke vier dae! Dié wat onthoofding vryspring word in die openbaar met klippe doodgegooi of hulle oë uitgekrap, bene afgesit, tande uitgekap, deur medikasie verlam of, as jy baie gelukkig is, net in die openbaar met lyfstraf begroet.

Elke staatsdepartement behoort aan die koninklike gesin. Terwyl 60% van die bevolking onder die broodlyn leef, leef die 4 000 lede van die familie en die 30 000 aangetroudes in absolute weelde. Hoe nader jy aan die koning is, hoe ryker is jy.

Die regering doen geen moeite om statistieke in te samel oor armoede nie, ook nie oor ongeletterdheid of werkloosheid nie; 33% van die 27 miljoen inwoners is immigrante en het geen regte nie alhoewel hulle 80% van die arbeidsmag uitmaak. Vroue word nie geag as deel van die arbeidsmag nie en is die ongeletterdste in die wêreld. Sowat 1,5 miljoen vroue werk as slawe en geen vrou hoegenaamd het enige regte nie. Nogtans het Christine Lagarde, president van die Internasionale Monetêre Fonds koning Abdullah as “a strong advocate for women” beskou. Die uitvoerende direkteur van die World Food Program, Ertharin Cousin het hom beskryf as 'n “true humanitarian leader, always on the side of the world’s hungry poor.” VN Sekretaris-generaal Ban Ki-moon het hierby aangesluit en hom bedank vir sy “generous humanitarian and developmental support” in die Midde-Ooste.

Aangesien Wall Straat, VSA olie-maatskappye, VSA militêre maatskappye en die banke sulke astronomiese bedrae uit hierdie koninklike rowersbende van Saoedi-Arabië maak, word geen steen onaangeraak gelaat om hulle aan bewind te hou nie. Die korporatiewe media moet hierdie "respek" wat die koninklike familie verdien, uiteraard uitbasuin om die persepsie te handhaaf. Vyf VSA militêre basisse hou die koningsgesin in plek met 20 skepe, 103 aanvalsvliegtuie en 20 000 soldate. Dit terwyl geen eksterne bedreiging bestaan nie! Die Saoedi's se militêre begroting in 2013 was $67 billjoen, die vierde grootste in die wêreld ná die VSA, China en Rusland. Sowat 9,3 persent van die BBP word op wapens bestee, die grootste in die wêreld. 90 persent van die land se inkomste is uit olie en feitlik alles wat daar verbruik word moet ingevoer word. Al die olie is genasionaliseer en word in vennootskap met VSA-oliemaatskappye besit.

Terroristiese bedrywighede wêreldwyd word vanuit hierdie land georganiseer en befonds; van al-Kaida tot ISIS. In samewerking natuurlik met die VSA. Daarvan kan Afghanistan, Libië, Sirië, Irak, Yemen, Egipte en Lebanon onder andere getuig. Die huidige vryval in die olieprys is deur die VSA in samewerking met Saoedi-Arabië georganiseer om Rusland se ekonomie en gevolglik ook sy regering tot 'n val te bring. Netso word die kunsmatige verhogings in die olieprys deur hierdie twee state bewimpel. Almal word gevolglik gevange gehou deur hierdie gebroedsel, en soos ons almal weet, beïnvloed die olieprys ook die prys van elke ander noodsaaklike kommoditeit.

Dit is waarskynlik die korrupste staat in die wêreld. Een waar geen menseregte geduld word nie. En nie een staat in Europa, laat staan nog die VSA, dring aan op "hervorming" aldaar nie. Tog is dit, naas Israel, Amerika se grootste vriend!

Wat 'n haglike toestand is dit nie as 99,9999% (en meer!) van die hele wêreld salig onbewus is van die juk waaronder hy staan, dog soos een man opstaan en saam lof betuig aan diegene wat juis sy verslawing bestendig nie!