KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (9)

Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster

deur Richard Wurmbrand

Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat

Die Christelike Kerk teen Middernag

’n Vlugteling in Hongkong vertel dat ’n klein selgroepie Christene in die distrik waar hy tot dwangarbeid geforseer is, baie vroeg in die oggend in ’n kelderverdieping byeengekom het voordat hulle gaan werk het. As hulle nie in staat was om bymekaar te kom nie, sou hulle in die vroeë oggend twee-twee saam loop werk toe en onder die voorwendsel van ’n gesprek, sou hulle saggies verse uit die Skrif vir mekaar aanhaal. Hoe goed is dit vir hulle wat ’n skat uit die woord van God in hulle harte versamel het!

Hierdie klein selgroepie is deur die Kommuniste ontdek. Die vlugteling en sy vriend is in die tronk gestop waar sy vriend gesterf het.

Chinese tronke is ware plekke van verdoemenis: vuil, klam, koud en vol insekte. Daar word gemeen dat daar vandag sowat veertigduisend Protestante in die gevangenis is. Die aantal Katolieke moet meer wees.

Maar die vuil selle vorm die agtergrond vir gebeurtenisse van hemelse skoonheid.

Twee Christene het gebewe van die koue in ’n sel. Elkeen het ’n dun kombersie gehad. Een van die Christene het opgemerk hoe die ander bewe en die gedagte het hom te binne geskiet: "As dit Christus was, sou jy jou kombers aan hom gee?” Natuurlik sou hy. Hy het dadelik die kombers oor sy broeder gegooi.

Die volgende dag is meer komberse aan hulle gegee.

Die Christengevangenes moet breinspoeling ondergaan. Kommunistiese indoktrineerders besoek hulle gereeld terwyl hulle in die binneplein van die tronk sit. Toe die Kommunis ’n sekere Christen tot sy oortuigings probeer bekeer, het laasgenoemde in die sand die Chinese skriffigure vir geregtigheid neergeskryf. Die Chinese letters word eerder geskilder as geskrywe. Die ideogram vir "geregtigheid” in Chinees toon ’n lam oor die persoonlike voornaamwoord "ek”. Die Christen het die Kommunis gevra: "Kan jy my sê wat hierdie figuur beteken?” Hy het reg geantwoord: "Geregtigheid.” Toe het die Christen die lam bokant die 'ek' aangetoon en die Nuwe Testament aangehaal: "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem,” die Lam van God wat die sondige "ek” bedek. Die Kommunistiese indoktrineerder het stil uitgeloop. Hy kon self ook miskien ’n Christelike agtergrond gehad het.

Twee Christene is weggelei om gemartel en gedood te word. "Alles is nou verby,” het die een in ’n fluisterstem gesê. Sy broer het geantwoord, "Nee, dit is nie wat Jesus gesê het toe Hy gely het nie. Sy woorde was: 'Dit is volbring.’ ”

Deur sy kruis het Jesus die mensdom verlos. Ten einde mense te bring tot hierdie verlossing wat die Heiland moontlik gemaak het, moet ander gereed wees om kruise te dra. Wanneer ons Chinese broeders en susters dit verdra dat water by hulle neuse opgeforseer word, dat stukke hout wat tussen die kneukels gesit is, styf saamgedruk word, dat hulle elektries geskok en selfs gekruisig word, deel hulle in die lyding van Christus vir die redding van die mensdom.

Dit is nie net geloofshelde wat ly nie. Die Chinese Kerk het nie net getroue nie, maar ook verraderlike leiers gehad.

Dit verbaas ’n mens nie. Onder die apostels was daar ’n Judas. Hierdie verraaiers het van die begin af met die Kommuniste geheul, die gewone gelowige op ’n dwaalspoor gelei en 278 000 die Kommunistiese manifes laat teken.

Die Kommuniste het verraad lief, maar nie die verraaier nie. Nadat hulle hulle gebruik het, het die Rooies die verraaiers tronk toe gestuur om daar saam met die getroue Christene wat deur hulle verraai is, te sit. Hulle het nou tyd vir nadenke in hulle vuil sel. Wat is die beste? ’n Kompromis met die tiranne of reinheid van die siel?

Talle pastors het selfmoord gepleeg uit vrees dat hulle die geheime van die Ondergrondse Kerk in ’n oomblik van swakheid kan verraai. Ons weet ook van leke-Christene wat dieselfde gedoen het.

Ander het kranksinnig geraak, byvoorbeeld eerwaarde Beda Tsang, wat aanhoudend herhaal het: "Tsang Beda, sewe-en-veertig jaar oud. Tsang Beda, sewe-en-veertig jaar oud.” Hy is geen slaap gegun nie totdat hy gesterf het.

Sommige het aan my gesê: "Ek kon dit nie verdra om jou boeke deur te lees nie. Dit gee ’n mens slapelose nagte.”  Dit is juis wat ek daarmee wou bereik: ek wou u in gemeenskap bring met hulle aan wie geen slaap gegun word nie. Ek het ’n gevangene geken wat vir vyf en twintig dae en nagte nie toegelaat is om te slaap nie.

China het 6 000 sendelinge voor die Kommunistiese oorname gehad. Nou het hulle nie ’n enkele een nie. Sommige sendinggenootskappe beraam groot planne vir ’n onsekere toekoms wanneer die deure van China mag oopgaan. Nee, ek wil die deure afbreek. Ons kan nie toelaat dat miljoene Chinese sonder kennis van Christus sterwe in die hoop dat daar in ’n toekomstige geslag ander Chinese salig sal sterwe nie. God het die voorhangsel van die tempel in Jerusalem in twee geskeur. Waarom nie die bamboesgordyn skeur nie? Waarom nie met die Evangelie Rooi China in die geheim binnedring nie, al gaan dit gepaard met die gevaar van gevangeskap en die dood. Die talle sendelinge wat tydens die Boxer-opstand in China gesterf het en die martelare van Kommunistiese tye wat nou verheerlikte heiliges in die hemel is, roep ons om hulle voorbeeld te volg.

Vervolg...