“Is jy nou daaroor?”
“Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel, as jy nog steeds jou eie lewe wil neem, moet jy my betyds waarsku. Hier is vuurwapens, so jy kan een van hulle gebruik. Ek wil nie bloed aan of in my kar hê nie, en jy skiet dalk net vir my raak. Ek wil dit nie hê nie.”
“Nee, ek is nou okay. Jy is die eerste mens in ‘n lang tyd wat vir my omgee. Ek bedoel...”
“Ja, ek weet wat jy bedoel. Ja, ek is bly ek was betyds.”
“Waar kry jy hierdie ding?”
“Watter ding?”
“Hierdie een wat ons mee ry.”
“Dis nie ‘n ‘ding’ nie. Dis my voertuig. Ek het lank na so ‘n ‘ding’ gesoek. Daar is baie manne wat goed opbou, maar nie elkeen werk goed nie. My neef ken van karre en hy het saam met my geloop soek na een wat eenvoudig, sterk, betroubaar en goed in die veld sal wees.”
“Nou wat was dit oorspronklik?”
“In sy eerste lewe was dit ‘n Nissan Patrol, ek raai so ‘n 1972 model. Dit was in ‘n ongeluk, die onderstel was gebuig en die laaibak verfrommel. Iemand het die enjin vervang met ‘n nuwer Nissan vier punt twee diesel, met ‘n turbo. Die ratkas is ‘n vyfspoed in plek van die oorspronklike driespoed een. Die laaibak, soos jy agtergekom het, is gemaak uit lipkanaal en ‘n geriffelde vloer. Die bande is Mickey Thompsons, wat ek dink ‘n groot klomp gekos het - ek weet nie.”
“Hoe weet jy so baie van karre af?”
“Ek is ‘n vrou, maar ek is nie onnosel nie. Wat ‘n man kan weet, kan ek ook.”
“Nou, as ek mag vra, waarheen is ons op pad?”
“Ek het jou mos al gesê, ons gaan berge toe.”
“Magaliesberg?”
“Miskien, miskien nie. Eintlik is die Magalies te naby die stad en ek dink daar gaan baie mense daarheen vlug. Ek dink eerder Noorde toe, die Soutpansberge, die Wolkberge of selfs die enetjie naby Vivo, die Blouberg. Ons sal nog sien.”
“En wat is my doel of plig in die prentjie?”
“Om lewendig te bly en as ek reg is, gaan dit ‘n voltydse beroep word.”
“Dankie, Santi.”
“Waarvoor?”
“Dat jy my lewe gered het, maar ook dat jy my saamvat. Ek hoop jy sal nie spyt wees nie.”
*
Die N1 is naby die Warmbad-afrit gesluit. Ruben en Dina ry deur die veld, tot hulle by die hoofpad kom, verby die versperrings wat kwaad en desperate mense oor die snelweg gemaak het. Warmbad, oftewel Bela -Bela soos dit herdoop is, is plek-plek verlate, maar hulle moet uiteindelik deur die buitewyke en weereens die veld ry om aan die anderkant van die dorp te kom.
Dis duidelik dat hulle nie baie ver op die N1 kan hou nie en vat die ompad na Zebediela toe, dan die ompad, verby Kushke-skool en weer by die ou pad, net om weer aan te sluit by die N1 naby Pietersburg.
Anderkant die afrit na Louis Trichardt toe is die pad finaal en duidelik onbegaanbaar gemaak en hulle kan weereens verby die kantversperrings van die pad ry, deur die buitewyk naby die Mall of the North en dan is hulle op pad verby Moria en die ZCC se saamtrek, wat gelukkig nie oorspoel op die teerpad nie.
Die Land Cruiser is gemaklik en hulle voel amper asof die hele scenario met die woedende gepeupel wat hulle telkens raakloop deel van ‘n ander werklikheid is. Ruben let op dat Dina haar handwapen elke keer as daar dreigende gevaar is, uit die holster langs haar sy haal en in haar hande vashou. Hy sê niks daaroor nie.
Nie ver anderkant Moria nie, staan ‘n lelike voertuig met groot bande en ‘n oop dak langs die pad. ‘n Sterkgeboude, mooi vrou staan met haar geweer en waghou terwyl ‘n man besig is om een van die wiele te ruil. Op die ingewing van die oomblik hou Ruben langs hulle stil. Die vrou rig die geweer dreigend op hulle, tot Ruben die venster laat sak en sy kan sien hulle hou nie ‘n bedreiging in nie.
“Kan ons help, Mevrou?”
“Julle kan. Het julle vuurwapens by julle?”
“Ons het.”
“Ek sal bly wees as julle net kan bly tot ons die wiel geruil het. Ons voel baie kwesbaar met die pap wiel.”
“Ons het en sal bly wees om julle te help. My naam is Ruben de Leeuw en dit is my suster, Dina.”
“My naam is Santi Niemand en dit is André Joubert, maar mense noem hom ‘Boetie’.”
Ruben klik uit die Land Cruiser, maar los sy geweer op die sitplek in die voertuig.
“Kom, Boete, laat ek jou help.”
Met twee manne wat die swaar wiel ruil gaan dit vinniger en as hulle die kar uiteindelik laat sak, vra Ruben:
“Waarheen gaan julle?”
“Ons soek na ‘n plek waar ons miskien veilig kan wees, totdat ons weer huis toe kan gaan.”
“Waar is julle huis?”
“Pretoria. Julle?”
“Ook en ons soek ook na ‘n plek waar daar minder moeilikheid sal wees. Ek het ‘n toepassing op my foon en ons ry maar agter dit aan.”
“Ruben, om eerlik te wees, ons weet nie juis waarheen ons moet gaan nie. Ons het gedink aan die Magalies, maar dit lyk te veel na ‘n voortekkerkamp daar. Miskien hier naby, of selfs verder Noord?”
“Julle kan saamkom as julle wil. Ek dink nie ons gaan veel verder as Magoebas nie.”
“Dankie. Hoe dink jy, André?”
“Ja... as ons kan.”
*
Frans Neethling is in sy element. Die voertuig is sterk en ry lekker, is gemaklik en bekwaam, maar sy grootste vreugde is wanneer die pad deur mense versper word. Hy kan uiteraard nie oor groot klippe, stompe of verby uitgebrande karre, lorries en busse kom nie, maar waar hulle net met lywe en kleiner klippe die mense voorkeer, ry hy tot hy so veertig meter van hulle af is, hang sy regterhand by die venster uit en skiet wild en sonder genade op die klein skares, tot hulle genoeg dooies, gewondes of beseerdes het, om dan verwilderd pad te gee.
Soms sal hy selfs stilhou, sy hande bo-op die Prado se dak laat rus en nog skote op hulle aftrek. Hy het ‘n hele bakhand vol rondtes by die plaasboer afgevat en hy hou sy magasyne vol.
In een van die sakkies met CD’s, wat hy agter in die voertuig gekry het, is ‘n opname van George Thorogood and the Destroyers se “Bad to the Bone”, wat hy oor en oor luister, saamsing en dis asof hy sy menswees uiteindelik gevind het.
Frans Neethling is inderdaad sleg tot op die been, maar hy hoef nie meer voor te gee nie, hy is nie meer ‘n kapelaan in die Lugmag nie, hy is vry. En ditvoelwonderlik!
(Eindspel)