Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die waarheid van 'n huwelik is dat God ons verskillend gemaak het – ons kan nie eenders dink nie, maar ons moet saam dink.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (17)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die eerste paar myl gaan vinnig verby. Franci se aandag word afgetrek deur die omgewing, Oubaas se manewales voor die perd uit, waar hy so af en toe ‘n fisant uit die lang gras opjaag, agter ‘n trop tarentale aanhardloop en hy verras ‘n vlakhaas amper, voordat laasgenoemde in ‘n gat af verdwyn, waar hy probeer om agterna te gaan, besef die gat is te klein, dan met sy voorpote grawe en tjankies van frustrasie maak. As Franci hom roep, kom hy aangehardloop, die haas vergete.
Middagete is eenvoudig, met ‘n stukkie biltong, wat sy met Oubaas deel, ‘n beskuit wat sy sommer so hard en droog eet. ‘n Paar slukke uit haar watersak en sy ry verder.
Sy slaap die aand in ‘n smal klofie anderkant die Suikerbosrante. Dis koud, maar sy trek haar kombers styf en as Oubaas nadersluip en haar met ‘n growwe voorpoot krap, maak sy die kombers oop en hy klim styf teen haar rug in.
Die gedagte aan Emma maak ‘n dowwe kol op haar maag, amper soos ‘n stuk lood wat daar lê en met ‘n snik op haar lippe en ‘n diepe sug uit haar binneste, raak sy aan die slaap. ‘n Paar skelm trane loop uit haar oë.
*
Colley is in ‘n baie slegte bui. Hy besef dat sy militêre loopbaan, maar ook sy politieke aspirasies hom soms dryf om desperaat op te tree. In China en aan die Kaap van Goeie Hoop het dit tot dusver vrugte af gewerp, maar met die paar nederlae op sy kerfstok, besef hy dat goeie nuus die koningin se ore moet bereik, voodat sy ‘n besluit neem om hom terug te bring Engeland toe. Natuurlik sal hy weer sy pos as professor by Sandhurst kan kry, maar dit sal in die skadu van sy mislukking wees as generaal en bevelvoerder.
Die feit dat sy pa nie ryk is nie, inderdaad nie eens om hom ‘n kommissie te kon koop toe hy dit nodig gehad het nie en hy die afkeuring in die oë van sy aristokratiese mede-offisiere kon sien, die effense koue skouer wat hulle daarom op hom gedraai het, het diep in sy wese letsels gelaat. Hy het so ver gekom as om ‘n stafoffisier te word, bloot op eie meriete. Hierdie besef dat hy ook intellektueel sy “peer group” se meerdere is op alle gebiede, maak dat hy nog meer minderwaardigheid ervaar het.
Hy besef dat die brandende ambisie om sy merk te maak, nie net as bevelvoerder nie, maar uit eindelik as politikus – hy sou graag die goewerneur van die hele Suidelike Afrika onder Britse bewind wou word - niks anders is nie as om die spul op hulle neus te laat kyk. Hierdie alles-of-niks dryfveer het hom tot hier gebring en al wat in sy pad staan is ‘n bende half-mak barbare, wat hulleself Boere noem. Tog moet hy erken dat die Boere hom tot dusver uitoorlê het. En die gespuis skiet so goed!
Colley kyk na die berg genoem “Amajuba” wat nie baie ver van waar hy is nie, voor hom staan soos ‘n impediment vir sy toekoms as held en bewese generaal. Hy sou graag meer wou wees as bloot net Sir George Pomeroy Colley. Indien moontlik, al is hy nie vanuit Britse adel nie, sou hy sy lewe wou slyt as ‘n aristokraat, as Lord Colley. Net om hulle te wys!
*
Generaal Nicolaas Smit het self sy perd geneem en veldkornet Jan Verwey gaan soek. Hy kry hom waar hy en sy manskappe op die kruin van ‘n lae koppie sit en wag. Daar is ‘n effense laagtetjie bo-op, waar hulle sorg dat die kampvure nie hoog brand nie, net genoeg vir koffie en kos, en ‘n bietjie hitte in die vroeg-oggend.
“Werda!” kom dit waar hy nog ‘n honderd of so treë van die voet van die koppie is.
“Moenie skiet nie, dis ek, Nicolaas Smit!”
“Generaal Smit?”
“Netso, Neef. Staan af.”
Twee burgers staan uit die lang gras op, hulle roere nie direk op hom gerig nie, maar in so ‘n posisie dat hulle dit vinnig kan doen.
“Ek is op soek na Veldkornet Verwey. Is hy hier by julle?”
“Hy is. Bossie, vat Oom Nieklaas na die veldkornet toe, as jy nie omgee nie.”
Wanneer die twee ruiters aankom, staan Jan op en hou hulle dop.
“Middag Oom Nieklaas.”
“Dagsê, meneer. Is jy veldkornet Verwey?”
“Ek is, Oom.”
Sodra hy van sy perd af is en naderkom, haal Nicolaas Smit sy hoed af en strek sy hand na Jan uit. Jan sien aan die sombere trek om die ouer man se gesig dat iets groot fout is. Hy wil nie eens dink wat dis is nie en hou sy gedagtes dinkloos.
“Ek het slegte nuus, Neef.”
“Sê maar, Oom, ek luister.”
“Hoe sê ek dit saggies? Nee, daar is nie ‘n manier nie. Jou dogtertjie, Emmarentia, het omgekom aan die skarlakenkoors. Ek is inniglik jammer om dit aan jou te moet meedeel.”
Die eerste gedagte wat by Jan opkom is ‘n skuldige gevoel, want hy het gedink dis dalk Franci wat dood is. Direk daarna, saam met die skuldgevoel en verligting, is dit asof hy ‘n doodskoot kry.
“Is die oom seker?”
“Ongelukkig, ja. Dit kom direk van Oom Paul Kruger af, wat ‘n ruiter gestuur het. Hy sê ook dat jy nie moet terughaas nie, aangesien jou wederhelfte heel moontlik op pad hierheen is.”
“Hiernatoe? Maar hoekom sal sy so onbesonne wees?”
“Terwyl ek aan die ry was, het ek self daaraan gedink, Neef. Al wat ek kan dink is dat sy nie in haar allenigheid die smarte wil uitleef nie.”
Jan maak sy oë vir ‘n lang oomblik toe, sodat die klomp inligting by hom kan insink. Sy dogterjie het die lewe gelaat, sy vrou Francesca is ongedeerd, maar op pad hiernatoe, alleen en in moontlike gevaar. Wie weet of daar nie kakies of inboorlinge op haar pad kan wees nie?
Sy klompie manne het die woorde gehoor wat Nicolaas Smit gesê het en hulle kom nader om naby Jan te wees. As Nicolaas Smit die gebaar sien, besef hy hy is oorbodig. Hy draai om, sit sy hoed op sy kop en klim in die saal. Hy lig sy hoed vir oulaas in Jan se rigting en ry dan woordeloos weg.
*
Voordat ‘n mens vir die eerste maal ‘n geveg ingaan, is jou vrees anders as voor ‘n twee, derde of meermale s’n. Voor die eerste maal weet jy werklik nie wat om te verwag nie. Sal jy dapper kan wees, sonder om terug te deins, sal jy jou kop kan oplig en terugskiet, en sal jy die dood kan tegemoet gaan as dit jou beurt is? Indien jy raakgeskiet word, sal dit baie seer wees, sal jy manmoedig dit kan deurstaan? Hoe gaan jy die wete dat jy iemand doodgemaak het, al was dit geregverdig en deel van ‘n opdrag, kan verwerk? Dit is al die vrae wat eers beantwoord kan word gedurende en na jou eerste betrokkenheid by ‘n geveg.
Omdat jy weet waarvoor jy jouself inlaat, het ‘n tweede geveg ander vrese. Sal jy weer manmoedig en dapper kan wees en jou kant bring? Gaan die ontsaglike skok van die skielikheid daarvan, die intensiteit, die trauma, jou weereens onkant vang? Sal jy weer, soos die vorige keer, die hele tyd wens dit gaan oor, voordat dit te laat is vir jou?
Hierdie onafwendbare slag by Majuba sal Jan se vierde een wees, indien ‘n mens Isandwana, Rorke’s Drif by die een by Laingsnek tel. In al die voriges het Jan gesien hoe manne raakgeskiet word, die aanhoudende gebulder van kanonne en die knal van honderde gewere ervaar, geluister na die uitskreeu van bevele en in die geval van die eerste twee gevegte, die uitbundige gejil van die naturelle se krygslus. Hy het gehoor hoe manne van skok uitroep, gil van die pyn as ‘n erge wond toegedien is, angsuitroepe as die dood naby kom.
Nou is daar egter die wete dat elke koeël wat geskiet word, dalk joune aan die ontvangskant daarvan kan wees. Alhoewel hy nog nooit van die wet van gemiddeldes gehoor het nie, besef hy dat ‘n man nie elke keer so gelukkig kan wees om die dood vry te spring nie. Dis een van die redes waarom ‘n gesoute vegter, wat homself oor en oor in die verlede bewys het, op ‘n dag net kan ingee, homself op ‘n bondeltjie trek agter ‘n skuilplek en skreeu dat dit tog net moet ophou. Sy grootste vrees is egter dat hy te bang sal word om terug te veg.
*
Francesca het die dag lank en ver gery. Sy, haar perd, Delila, en Oubaas is na liggaam en gees uitgeput. Sy het afgesaal, beskuit en biltong geëet, waarvan sy weer ‘n paar met Oubaas gedeel het, haar kombers skuins onder ‘n boom uitgegooi het, vir Delila gekniehalter het en binne minute is sy aan die slaap. Sy droom van Emmatjie, dat sy nooit werklik dood is nie en eerder net geslaap het. Dis nie vreemd vir ‘n mens om hierdie drome te ervaar nie, maar dit kan net so erg wees wanneer jy wakkerword en die nare werklikheid weereens beleef.
Net na drie-uur die oggend skrik sy wakker, besef wat sy gedroom het en huil van weer voor af. Dis baie koud en ten spyte van die feit dat sy wakker is, besluit sy om nie nou al in die pad te val nie. Sy maak ‘n klein vuurtjie, bring vir Delila nader en die drie sit en staan om die vuurtjie, totdat dit uitgebrand is. Sodra sy weer gaan lê, raak sy vas aan die slaap, met Oubaas wat weer teen haar rug lê.
Skuins voor dagbreek vlieg Oubaas met ‘n diep grom vir so ‘n jong hondjie op, en tjank feitelik dadelik as hy ‘n kaalvoet skop in die ribbes kry. Franci is onmiddellik helder wakker en sien sy is half omring deur ‘n groepie van vier swartmans. Een van hulle het haar geweer in sy hande, wat sy teen die boomstam laat staan het. Oubaas storm weer nader om ‘n byt in te kry, maar weereens kry hy ‘n skop vir sy moeite.
Een van die manne – sy veronderstel later dit is die leier van die groep – pluk die kombers van haar af en tot sy skok sien hy die groot rewolwer in haar hand. Sy het reeds die haan oorgetrek en as hy afbuk om die wapen te gryp, meer uit skok as dapperheid, gaan die skoot af.
‘n Ou .45 Colt skiet ‘n 250 grein koeëlpunt teen sowat 750 voet per sekonde. Op kort afstand is dit meer as net dodelik – dis verwoestend en laat ‘n groot wondkanaal agter. Die wapen draai effens in haar hand. Dis die eerste keer dat sy dit gebruik en die knal, trompblits in die donker en terugskop in haar hand is meer as wat sy verwag het. Wanneer sy die loop afbring vir die tweede skoot, haal haar duim onwillekeurig die groot haan oor en voordat die ander drie tot verhaal kan kom, het sy nog een geskiet. Die ander twee vlieg om en begin hardloop. Sy skiet nog drie skote agter hulle aan in die donker.
Delila het ook geskrik van die geskietery en indien sy nie gekniehalter was nie, sou sy sekerlik weggehol het. Soos dit is, verg dit al Franci se mooipraat en uiteindelik die vashou van die perd se nek om haar tot bedaring te bring. Oubaas blyk nie te seer te wees nie en as sy haastig opsaal en haar kombers, saalsakke en geweer gryp, is sy in die saal.
Sodra dit lig genoeg is, druk sy die leë doppies uit die rewolwer se rol en sit vyf varses in. Sy los die sesde plek in die rol, die kamer onder die haan, oop.