Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons uit die krisisse waar ons troos van ons hemelse Vader kry, nog iets leer: Hy troos ons NIE om ons te vertroetel nie maar om weer van ONS troosters vir ander te maak.
DIE GELDMAG (17)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
D.P. DE VILLIERS
Dit is van belang om kortliks te let op die rol wat adv. D.P. de Villiers, voorsitter van die Internasionale Bestuurskomitee van die USSALEP en besturende direkteur van Nasionale Pers Beperk, deur die USSALEP in die Suid-Afrikaanse politiek begin speel het. Aan die begin van die sewentigerjare het hy ’n aanstelling as appélregter van die hand gewys en daarna besturende direkteur van Nasionale Pers geword en gaandeweg al hoe meer na vore getree as segsman van ’n klein groepie Wes-Kaaplandse liberaliste (hulle is deur dr. Rupert teenoor die skrywer, Allen Drury, geïdentifiseer as die “Cape Liberal Nats) oor die Kleurling-politiek.
In Julie 1971 het adv. De Villiers voorgesit op die eerste vergadering van die Internasionale Bestuurskomitee van die USSALEP in Suid-Afrika. Daar het linkses uit die Afrikaans- en Engelssprekende seksies van Suid-Afrika met Swart, Kleurling- en Indiërleiers en Blankes en Negers uit die VSA saam koppe bymekaar gesit oor die binnelandse rassepolitiek van Suid-Afrika met spesiale verwysing na die politieke toekoms van die Kleurlinge. Op daardie tydstip is ook opnuut nuwe klanke vanuit Wes-Kaapse politieke kringe gehoor in verband met ’n plan vir die hervorming van die Senaat, sodat Kleurlinge saam met Blankes sittingsreg in die Senaat kon kry. Dit was ook net ’n maand voordat dr. Hastings Banda, van Malawi, as gas van mnr. Vorster na Suid-Afrika gekom het om, soos hy dit gestel het, “apartheid met vriendskap te vermoor.”
Agter geslote deur op die USSALEP-konferensie by die Johannesburgse lughawe het adv. De Villiers aan die afgevaardigdes die versekering gegee dat die Kleurlinge binne vyf jaar verteenwoordiging in die Blankes se politieke bestel sou kry, sy dit in ’n hervormde Senaat, of in ’n ander wetgewende liggaam ook al.
Teen die einde van die konferensie het adv. De Villiers sekere opsienbarende stellings in ’n onderhoud met ’n verslaggewer van die Sunday Tribune gemaak. Die eerste belangrike stelling was dat hy hom sou beywer vir die totstandkoming van ’n “veelrassige super-parlement” waaraan die Blanke Parlement ondergeskik sou wees. In so ’n nuwe bedeling, het hy gesê, sal die Blanke Parlement slegs oor Blankes jurisdiksie hê en geen beheer oor ander rassegroepe kry nie. “Die huidige Blanke Parlement sal in werklikheid gelyk wees aan die Verteenwoordigende Kleurlingraad, die SA Indiërraad of enige tuislandregering. Die superparlement sal bestaan uit gelyke verteenwoordigers vir elke rassegroep en almal saam sal die land deur middel van konsensus regeer. Uitvoering van die besluite wat deur die super-parlement geneem word, sal aan die verskillende verteenwoordigende liggame oorhandig word, sodat elkeen sy eie rassegroep kan administreer in terme van die besluite wat deur die hoër liggaam geneem is.
“Ek sal alles in my vermoë doen,” het hy gesê, “om hierdie super-parlement ’n werklikheid te maak. Mense mag dit politieke integrasie noem, maar dit is die enigste oplossing vir Suid-Afrika se probleme. Dit is veral belangrik dat dit moet slaag, omdat die een of ander metode gevind moet word om die Kleurling ’n gelyke seggenskap in die regering van Suid- Afrika te gee.”
Adv. De Villiers se siening van die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika stem nogal verbasend ooreen met die grondwetlike voorstelle wat mnr. Vorster in Augustus 1977 in Kaapstad bekend gemaak het en wat in 1980 verder gevoer is met die ondersoek van die Schlebusch-kommissie. Dit is die “radikale konstitusionele hervormings” waarvan adv. De Villiers se kollega in die SA-Stigting, mnr. O’Dowd, in 1967 gepraat het. Die Regering het weer presies by die tydrooster gehou wat agter die geslote deure van die ryk geldmanne vir hom uitgewerk is.
Uit inligting wat klaarblyklik na die Engelstalige pers gelek is, het dit ook geblyk dat adv. De Villiers in die vooruitsig gestel het dat sg. “klein apartheidsmaatreëls”, soos afsonderlike geriewe en bewysboekbeheer, so gou moontlik afgeskaf gaan word; dat alle Nieblankes die geleentheid moet kry om hulle eie huise te besit, en dat Swart woongebiede binne die Blanke stede deur Bantoerade as voorspel tot Swart munisipaliteite geadministreer moet word. Binne sewe jaar na hierdie konferensie het al die sake ’n werklikheid geword.
Wie sal nog wil ontken dat die SA-Stigting, net soos sy eweknie in die VSA, die Council on Foreign Relations, die verskuilde regering van Suid-Afrika geword het? Dit is daarom ook geen wonder nie dat Rapport, toe hy in 1971 die tien “magtigste” manne in Suid-Afrika aangewys het, drie Stigtingsmanne — dr. Rupert, mnr. Oppenheimer en dr. Wassenaar — saam met twee Swartes, kapt. Gatsha Buthelezi en opperhoof Kaiser Matanzima, by die groep ingesluit het. Kort daarna het dieselfde blad weer vyftien “Afrikanerleiers” gekry wat onderneem het om mnr. Vorster te help om Suid-Afrika se dringendste landsprobleme voor die einde van die huidige dekade” (al weer die jaar 1980) op te los. Hierdie vyftien “Afrikanerleiers” lees soos die lys van trustees van die SA-Stigting. Planne wat deur hulle aan die hand gedoen is, sluit in: Die Swartman moet regte kry; veelrassige oorkoepelende liggame is noodsaaklik om menseverhoudinge te verbeter; die salaris- en loongaping tussen Blankes en Swartes moet vernou en uitgewis word; “onnodige en negatiewe skeiding” tussen Blank en Nieblank moet verwyder word.
Vervolg...