Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself – Prediker 10
DIE GELDMAG (16)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
HARRY FREDERICK OPPENHEIMER
’n Mens kan die rol van die SA-Stigting nie in isolasie van die politieke filosofie van die belangrikste verteenwoordiger van die geldmag in Suid-Afrika, mnr. Harry Oppenheimer, beoordeel nie. Hy was immers die groot dryfkrag agter die totstandkoming van die SA-Stigting, en deur die samewerking van groot name in die geldwêreld het hy die bevordering van sy eie politieke en ander oogmerke gesien. Hy was ook die dryfkrag agter die stigting van die ou SA United Trust Fund waarmee die Regering van dr. Malan vernietig moes word. Hy het die Progressiewe Party in 1959 tot stand laat kom en was altyd die “finansiële ruggraat” van hierdie party. Hy is ook die medestigter van die Stedelike Stigting. Dit is daarom interessant om te weet wat mnr. Oppenheimer self van die SA-Stigting gesê het en hoe hy sy rol in die binnelandse politiek beskou het
.
In die sestigerjare het daar ’n blaadjie getiteld Africa South verskyn. Dit is deur die uitgewekene, Ronald Segal, geredigeer. In die uitgawe van April-Junie 1960 (Vol. 4 nr. 3) word ’n lang artikel gepubliseer onder die titel “Portrait of a Millionaire: I, Harry Oppenheimer.” Die hele artikel is in die eerste persoon geskryf en gee dus onmiskenbaar die indruk dat dit ’n persoonlike belydenis van mnr. Oppenheimer is.
Die eerste verwysing na die SA-Stigting verskyn in die volgende paragraaf: “ . . . maar in subsidiëring van die Verenigde Party (in ’n stadium toe die meeste van my kollegas hulle daaraan onttrek het) het ek net die nodige en vanselfsprekende ding gedoen. Ek het die United South Africa Trust Fund saam met tien van my vriende (Eric Gallo, R.B. Hagart, en Claude Leon is weer saam met my in die Stigting) gestig en deur hierdie organisasie het ons fondse na die Verenigde Party gekanaliseer. Toe ons die tweede dekade van Nasionale Partybewind binnegegaan het, het die toestand ’n nuwe benadering geverg. Die heftige teenkanting teen Nasionalisme wat die eerste dekade (1950-60) gekenmerk het, was nie langer wenslik nie . . . Gevolglik was ons genoodsaak om ander planne te maak. Dit is waar die SA-Stigting in die prentjie kom. Dit het ’n tweeledige taak: binnelands en buitelands.”
Mnr. Oppenheimer, die inisieerder van die SA-Stigting, erken dus hier dat die Stigting eintlik in die lewe geroep is om die werk van die ou United Trust Fund voort te sit. Wat veral van belang is, is hoe mnr. Oppenheimer die Stigting se binnelandse taak sien.
“Binnelands,” lui die artikel, “moet dit daarna streef om baie van die vyandighede wat vandag deel van ons lewe is, uit te skakel. Die spektakel van Blankes wat onder mekaar rusie maak, kan nie anders as om gedagtes by die Nieblankes te plant nie. Gelukkig het ons prominente koerantverteenwoordigers in die SA-Stigting se raad en hulle sal toesien dat kritiek teen die Regering se rassebeleid gematig bly. Dit geld nie slegs hulle eie kritiek teen die Regering in hoofartikels nie, maar ook kritiek van die groot verskeidenheid organisasies en individue wat die pers vryelik as medium vir hulle aanvalle op die Regering gebruik.”
Dan gaan mnr. Oppenheimer betekenisvol voort: “Wanneer die lug gesuiwer is van vyandighede, sal ons ook die weg baan vir die samesmelting van die twee Blanke seksies. Dit, na alles, is die enigste veilige weg om van dr. Verwoerd ontslae te raak. Alle ander metodes sal eintlik net sy posisie konsolideer. Ons moet hom van binne ondermyn.”
Om seker te maak dat hy goed begryp word, vat mnr. Oppenheimer dan sy vorige stellings soos volg saam: “Om op te som: Die onmiddellike taak van die SA-Stigting is om ’n atmosfeer te skep waarin dit moontlik sal wees om ’n koalisie van gematigde elemente in die Regering en die Opposisie te bewerkstellig . . . In werklikheid is die totstandkoming van die SA-Stigting die terugkeer van die groot geldmag tot die politiek. Dit is hoog tyd. My sakekollegas het die toestand te lank laat versleg.”
Hier is die werklike doelstellings van die SA-Stigting soos gesaghebbend verskaf deur die belangrikste stigterslid van die organisasie. Verder in die artikel stel mnr. Oppenheimer dan die vraag: “Om te probeer om Verwoerd deur die stembus te vervang, is absoluut futiel. Dit, so meen ek, word deur almal aanvaar. Is daar dan enige alternatief vir die samesmelting van gemagtigdes wat die Stigting voorgestel het?” En dan sluit die artikel af met die volgende persoonlike belydenis “Ek dink ek kan die grootste krediet vir hierdie opwindende beskouing vir myself opeis; tog is al wat ek gedoen het net om myself te laat lei deur wat in die belang van Anglo-American is. Is u nog onoortuig? Hoe kan wat goed is vir Anglo-American, ooit sleg vir Suid-Afrika wees?”
Kan daar nog enige verdere bewyse verlang word vir wat die werklike oogmerke van die SA-Stigting is as hierdie persoonlike belydenis van mnr. Oppenheimerr En kan ’n mens mnr. Oppenheimer kwalik neem dat hy na sy samekoms op 22 November 1979 met mnr. P.W. Botha aan die hele Kabinet in sy hotel in Johannesburg selfvoldaan verklaar het “Die Nasionale Party soos ek hom geken het, is besig om verkrummel. Die Regering is op ‘n koers geplaas waarop daar geen terugkeer meer sal wees nie.”
Dit is baie duidelik dat die SA-Stigting in die uitvoering van sy politieke planne deur verskillende fases gegaan het: aanvanklike toespitsing op die buiteland, daarna ledewerwing onder die Nie-blankes; toe die toelating van Swartes, Kleurlinge en Indiërs as trustees en dan uiteindelik die toespitsing op die binnelandse politiek met die een groot motief soos mnr. Oppenheimer in die Segal-artikel geskets het: koalisie van die gemagtigde elemente in die Verenigde Party en die Nasionale Party. Onder die gematigdes word natuurlik bedoel “gematigdes” van die linkse politie, want dit is vanselfsprekend dat mnr. Oppenheimer nie in die gematigde regse politiek sal belang stel nie. Dit is bv die verklaring waarom ’n man soos mnr. Colin Eglin vervang moes word as leier van die PFP met dr. Frederick van Zyl Slabbert. Langs hierdie weg wil mnr. Oppenheimer, via die geldmag weer vir die Engelssprekendes mede-seggenskap in die politiek magsuitoefening in Suid-Afrika verseker.
En dit is uiters betekenisvol dat ’n persoon soos prof. J.H. Coetzee, van die Potchefstroom se Universiteit, teen die einde van 1979 in Woord en Daad skryf dat dr. Van Zyl Slabbert al hoe meer sy taal begin praat, en dat hy (Prof. Coetzee) ’n koalisie van elemente in die Nasionale Party en die Progressiewe Party voorsien.
Mnr. Oppenheimer het sy persoonlike politieke filosofie wat hy dan ook deur die SA-Stigtirig bevorder wou sien, saamgevat in ’n gedenklesing wat hy op 12 Augustus 1970 aan die Universiteit van Rhodes op Grahamstad gelewer het. Hierdie toespraak is gehou vyf en sewentig jaar na die Jameson-inval in Transvaal en juis daarin kom die ergste belediging vir die Afrikanervolk na vore, maar tegelyk ook die aard van die Oppenheimer-politiek.
Cecil John Rhodes, sê hy was reg om die Boerevolk van Transvaal te probeer vernietig. Rhodes het net te gou en op die verkeerde manier te werk gegaan deur deel te hê aan die Jameson-inval. Mnr. Oppenheimer sê beskouing is ook dat “stamhoudings” (sy woord vir nasionalisme) nie versoenbaar is met die lewe en groei van ’n groot, moderne staat nie.
“Suid-Afrika,” sê hy, “het nog nie ’n finale antwoord gegee op die vrae wat Rhodes geopper het nie — die vraag of daar vooruitgegaan word as ’n verenigde, moderne volk in tred met die res van die mensdom, en of, in ’n poging om die afsonderlike identiteit en tradisies van Suid-Afrika se stamme en nasies onveranderd te bewaar, daar teruggeval word in ’n laer nie.”
Uit mnr. Oppenheimer se lesing is dit duidelik dat al opsig waarin hy met Rhodes verskil, die kwessie van metode is. “Rhodes,” verklaar hy, “het sy antwoord op Suid-Afrika deur mag afgedwing en daarom misluk.” Hyself glo dat ekonomiese ontwikkeling alles sal bewerkstellig wat Rhodes beoog het. “Ekonomiese groei vereis beweeglikheid en snel veranderende lewens- en denkwyses; dit spring oor grense; dit gee nie om vir rasse- of kleurverskille nie.”
Oor die basiese strydvrae van Suid-Afrika beklemtoon mnr. Oppenheimer dat hy net soos Rhodes dink. Oor Swart-Wit verhoudinge sê hy dat Rhodes se visioen van ’n groot, moderne nywerheidstaat waarin alle beskaafde mense gelyke regte geniet, nog geldig is. Apartheid moet dus verdwyn. Oor die verhouding Afrikaner-Engelsman sê hy dat “stamhoudings” nie te versoen is met die lewe en groei van ’n groot en moderne staat nie. Afrikaner-nasionalisme moet dus verdwyn. Oor Suid-Afrika se verhouding met die buiteland sê hy dat die lewe van ’n groot, moderne staat nie te versoen is met isolasie van die res van die wêreld nie. Dit kan ook nie versoen word met ’n weiering om verandering te erken nie.”
Hierdie taal van die vernaamste verteenwoordiger van die groot geldmag in Suid-Afrika klink bekend. Dit is die taal wat geleidelik deur die liberaliste in Afrikanergeledere oorgeneem is toe hulle gaan skuil het agter die voorgewel van verligtheid in hulle aanslag op die Afrikanernasie se tradisionele lewensbeskouinge. Die gebruik van woorde soos “isolasie”, “terugval in die laer”, “verandering”, “gelyke regte”, “afskaffing van diskriminasie op grond van ras of kleur”, het die bekende idioom van die liberaliste in die Nasionale Party en die Regering geword.
In sy lesing van 12 Augustus 1970 het mnr. Oppenheimer gesê: “Rhodes was nogtans nie verkeerd deur te dink dat die
Transvaalse Republiek van pres. Kruger nooit deel kon vorm van ’n moderne, verenigde Suid-Afrika tensy dit grondig verander word nie.”
Hierdie woorde is net ’n herhaling van die rou Britse propaganda van die vorige eeu teen die Boere. En dit is duidelik af te lei dat mnr. Oppenheimer dit toepaslik maak op die huidige Afrikanerdom wat na sy mening — en die mening van die Verligtes in die Regering — ook “grondig verander” moet word.
As regverdiging van die Rhodes-politiek teen die Transvaalse Republiek sê mnr. Oppenheimer: “As daarjn Blanke gemeenskap was, so selfvoldaan, so agterdogtig teen vreemde invloede, dat hulle selfs teen groot materiële koste geweier het om saam te werk aan die bou van ’n verenigde, moderne land, dan moes die gemeenskap vernietig word. Soos Rhodes die saak gesien het, het die gemeenskap homself hardkoppig en dwaaslik gestel as ’n versperring in die weg van die noodwendige evolusionêre vooruitgang van die geskiedenis. Suid-Afrika moet kies: vooruit as ’n moderne, verenigde nasie in tred met die res van die mensdom, of terug in die laer ten einde homself, so goed hy kan, te verdedig teen die veranderde lewens- en denkwyse van die buitewêreld in ’n poging om die afsonderlike identiteit en tradisies van sy stamme en nasies onveranderd te hou.”
Wat mnr. Oppenheimer bedoel, is baie duidelik, al word dit effens deur woorde verbloem. Hy sê dat die Afrikaner sy identiteit, tradisies en nasionalisme moet prysgee of anders gevaar loop om vernietig te word; hy sê dat die Blankedom sy lewens- en denkwyse van apartheid en skeiding moet verander om die Nie-blankes as gelykes te aanvaar; hy sê dat Suid-Afrika grondig verander moet word om in pas te kom met die res van die mensdom; en hy sê dat ekonomiese groei die uitgangspunt moet wees waardeur apartheid vernietig moet word.
Op 22 Mei 1968 het bo ’n artikel in The Times van Londen onder die opskrif “Top 10 man with 200 million pounds” ’n foto van ’n glimlaggende mnr. Oppenheimer verskyn. Onder die foto het Berry Ritchie geskryf dat mnr. Oppenheimer se persoonlike rykdom feitlik seker 200 miljoen pond (destyds R344 miljoen) oorskry, wat hom onder die tien rykste mense in die wêreld plaas en waarskynlik die grootste fortuin buite die VSA verteenwoordig.
Nadat hy mnr. Oppenheimer se ontsaglike aandeelhouding in verskillende vertakkings van die mynbedryf uiteengesit het, het Ritchie voorts geskryf: “Die Oppenheimer-belange word egter verberg onder ’n wydvertakte stelsel van genomineerde aandeelhoudings, soos blyk uit die feit dat slegs 56 000 aandele in Anglo- American in werklikheid in die voorsitter se naam geregistreer is. ’n Groot gedeelte van die fortuin is in Ernest Oppenheimer and Son, die familiemaatskappy wat voor die Tweede Wêreldoorlog as ’n kanaal vir belegging in die lewe geroep is.”
Die skrywer sê voorts dat mnr. Oppenheimer se belange hom net agter agt Amerikaanse miljoeners plaas volgens ’n studie oor persoonlike rykdom wat in daardie tyd in die VSA onderneem is. Op daardie tydstip moes die Oppenheimer-skatte wat nagespoor kon word, digby die 500 miljoen dollar-merk beweeg het, wat hom bo vyf miljoeners in die 300 tot 500 miljoen dollarkategorie geplaas het. “Met groot private beleggings in boerdery en eiendomme,” skryf Ritchie, “is dit haas onmoontlik om mnr. Oppenheimer se inkomste te bepaal, maar dividende op sy aandeelhoudings in De Beers, Anglo-American en Charter Consolidated alleen is jaarliks meer as 3 000 000 pond (destyds R5 160 000).”
Dit is interessant dat Ritchie in sy artikel ook terloops na mnr. Oppenheimer se belange in die boerdery verwys. Afgesien van die groot boerderybelange wat hy deur middel van die uitkoop van duisende hektaar grond en die stigting van groot boerdery-maatskappye bekom het, het in die sewentigerjare ook ’n ander belangrike ontwikkeling gevolg. Dit is toe mnr. Oppenheimer deur sy African Explosives & Chemical Industries (AECI) ’n stewige vastrapplek in die kunsmisbedryf gekry het. Dit is vir hom moontlik gemaak deur mnr. Louis Luyt, die voorsitter van Triomf Kunsmis, wat ’n paar jaar later ’n belangrike front van die Regering in sekere geheime projekte van die ou Inligtingsdepartement geword het. Met die samewerking van die Regering het mnr. Luyt destyds daarin geslaag om, deur ’n aandeletransaksie wat beslis nie tot hulle voordeel was nie, sewe of agt van die grootste landboukoöperasies by sy Triomf Kunsmis te betrek. Nadat hierdie koöperasies ingepalm is as verspreidingskanale vir die Luyt-organisasie, is AECI ingebring, maar onder die uitdruklike voorwaarde dat die stikstofgedeelte, die lonendste bestanddeel van die hele bedryf, vir die Oppenheimer-organisasie uitgehou word. So het mnr. Oppenheimer dan ook belang gekry in wat vandag een van die groot monopolies van Suid-Afrika is.
Daar is tans haas geen vertakking van die Suid-Afrikaanse ekonomiese en nywerheidslewe waarin mnr. Oppenheimer nie ’n belang het nie: die staalbedryf, die steenkoolbedryf, die goud-mynbedryf, diamante, kunsmis, die motorvervaardigingsbedryf (Sigma), die bankwese, die boerdery, om maar net ’n paar te noem.
Vervolg...