Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Talle mense ontvang die Woord van verlossing die eerste maal met soveel blydskap maar die oomblik wat daar probleme in sy lewe kom vergeet hy van die Genade wat hy reeds ontvang het en gaan maar weer net soos 'n onbekeerde persoon te werk – dan was sy blydskap tevergeefs.
DIE GELDMAG (14)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
UITWAARTS MET DIE STIGTING
Toe mnr. Vorster kort na sy bewindsaanvaarding met sy sg. uitwaartse beleid begin het, was dit duidelik wie se taal hy gepraat het. Dit was die taal wat toe reeds lank deur die leidende figure in die SA-Stigting gepraat is. Die uitgangspunt van die beleid was die gevaar van isolasie, wat nooit deel van die NP se beskouinge was nie maar wel die van die Stigting. Die hele klemtoon in die beleid van afsonderlike ontwikkeling is deur die voorstanders van uitwaartse beweging so verskuif dat die binnelandse beleid van Suid-Afrika al hoe meer soos ’n onderdeel van die buitelandse beleid begin lyk het. Dit was die grondliggende botsing tussen dr. Verwoerd en die geldmanne dat dr. Verwoerd nie daartoe wou instem nie. In die sin het mnr. Vorster dr. Verwoerd se standpunt verlaat en die Stigtingsmanne se standpunt heelhuids aanvaar.
Hierdie Stigtingsmanne se standpunt, wat aanvanklik in die uitwaartse beleid en later in die dialoog- en detente-beleid weerspieël is, is basies dat die eise van Blanke voortbestaan nie deurslaggewend moet wees by die bepaling van beleid nie, maar dat die voortsetting van betrekkinge met ander lande deurslaggewend moet wees, ongeag die toegewings wat dit in die binnelandse politiek meebring.
Dit bring ’n mens terug by die basiese botsing in die Suid- Afrikaanse politiek, naamlik die van die nasionaliteitlose geldmag teen Afrikaner-nasionalisme wat in ’n vorige eeu uitgekristaliseer het in ’n Cecil John Rhodes teen ’n Paul Kruger. Rhodes het ook sy Afrikaanssprekende Iuitenante gehad en was op ’n tyd selfs ’n vertroueling van die Afrikanerbond. Uit ’n latere beoordeling van mnr. Oppenheimer se beskouinge sal die stelling duideliker word. En dit moet in gedagte gehou word dat mnr. Oppenheimer die invloedrykste trustee van die SA-Stigting is en hierdie organisasie eintlik as nie-amptelike front gebruik vir die bevordering van sy eie beskouinge en die van Anglo-American.
Die wortel van die sg. uitwaartse beleid het waarskynlik in die ekonomiese en finansiële dryfvere van die SA-Stigting gelê. Die geldmanne van die Stigting wou Suid-Afrika ’n soort werkwinkel van Afrika maak of, soos dr. Malan dit destyds gestel het, ’n markplein vir die wêreld — sonder natuurlik enige bekommernis oor wat dit vir die Blankedom hier sou impliseer. Die aanknoop van diplomatieke betrekkinge met Swart Afrikastate het hierin ’n rol gespeel. Daar is ’n besliste element van nasionale vernedering in die onderhandelinge met Afrikastate, soos dit aanvanklik in die geval van Malawi geblyk het, maar later duidelik bevestig is toe mnr. Vorster met sy detente-avontuur in Afrika begin het. In die geval van Malawi is R8 000 000 teen vier persent rente geleen in ruil vir diplomatieke betrekkinge, wat dan deur Malawi se segsmanne bestempel is as ’n manier om apartheid te vernietig. Sulke betrekkinge kan geen verheffende uitwerking op ’n selfrespekterende nasie hê nie. Dit is ’n manier van aftakeling van nasionale selfrespek wat die grondslag van nasionalisme is.
Hierdie soort selfbedrog van regeringskant om voor te gee dat hy vriende maak terwyl hy aan sy vriende geleentheid gee om hom van binne te ondermyn, is tipies van die liberale politiek wat in die SA-Stigting sy voedingsbodem gekry het. Die gepraat oor dialoog met Afrikastate het in dieselfde kategorie geval. Dit is opvallend dat toe daar aan die begin van mnr. Vorster se bewind sprake van dialoog met Ghana was, die segsmanne van Ghana gesê het dat hulle bereid is tot ’n sogenoemde dialoog, maar dat hulle dit gesien het as ’n metode om apartheid te vernietig en dat hulle daaraan sou deelneem op die uitdruklike voorwaarde dat hulle apartheid verdoem. Daarin is dieselfde element van vernedering. Hoe kan daar samespraak wees wanneer Suid-Afrika se standpunt uit die staanspoor verbode is? In so ’n dialoog sou daar net gepraat kon word oor die metodes en tempo van aftakeling en prysgawe van apartheid en oor die politiek van die VVO. Dat Suid-Afrika hom in so ’n vernederende situasie laat betrek het, is waarksynlik net te wyte daaraan dat die geldmanne van die SA-Stigting handelsbetrekkinge met die Swart state wou uitbrei en dat hulle die politieke invloed wou gebruik om die pad oop te maak om toekomstige handelstransaksies te beveilig.
Dit was uit die staanspoor duidelik dat daar vir die SA- Stigting ’n duidelike politieke taak gestel was. Die onuitputlike finansiele bronne waaruit hy gevoed word, verseker dat hy stelselmatig en berekend sy politieke aktiwiteite sou kom verruim. En namate die politieke verdelingslyne tussen die Regering en die Opposisie al vaer geword het, sou die Stigting ook al meer ’n be- leidsbepalende rol vervul. Hy is daarop ingestel om nie openlik ’n politieke program te verkondig nie, hoewel dit algaande meer so gelyk het, maar net soos die destydse SA United Trust Fund van mnr. Oppenheimer sal hy sy steun gee aan politieke partye en sekere politici wat bepaalde doelstellings bevorder. Namate die politiek in Suid-Afrika ontwikkel het, het dit geblyk dat sowel die Opposisie as die Nasionale Party al verder van die volk weggedryf het. Op die manier het hulle al hoe meer blootgestel geraak aan die bevrediging van hulle finansiële behoeftes deur die groot geldmanne. En op die manier het die Stigtingsmanne ’n nog groter houvas in die politiek gekry. Toe ’n man soos mnr. Piet Cillie, toe redakteur van Die Burger, in daardie tyd gesê het dat ’n “dinktenk” nodig geword het om die hele rassebeleid te herformuleer, en sir Francis de Guingand geantwoord het met ’n voorstel van ’n gekose komitee van alle partye, wat later ook beaam is deur mnr. Willem van Heerden, destyds redakteur van Dagbreek, kon ’n mens byna seker wees dat so ’n “dinktenk” reeds in die geheim bestaan het agter die gewels van die SA-Stigting, die USSALEP en die SA Institute of International Affairs. Dat dit die invloed was wat by die herformulering van beleid deurslaggewend moes wees, was toe reeds duidelik.
Vervolg...