Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Welgestelde mense word dikwels deur ander beny en bewonder. Rykdom besit egter die gevaar om jou afgod te word en dan is daar nie ruimte vir God in jou lewe nie. As iets vir jou te belangrik geword het, vertrou die Here om jou daarvan te verlos. God kan 'n kameel deur 'n naald se oog kry – Hy kan 'n ryke laat afsien van sy verknogtheid aan sy aardse goedere en hom red.
DIE GELDMAG (13)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
TOEKOMSVISIE
Toe dr. Verwoerd in September 1966 gewelddadig van die toneel geruk is, het ook die belangrikste versperring tussen die Afrikaner en die groot geldmag verdwyn en het ons die taal van die Botha’s begin hoor. Hulle het die taal begin praat wat die verteenwoordigers van die groot geldmag wou hoor. Hulle het inderdaad niks anders geword as die spreekbuise van die super-rykes, wat deur hulle enorme rykdomme en die invloed wat daarmee saamgaan, as die werklike beleidmakers en regeerders in Suid-Afrika na vore getree het.
Wie is hierdie mense? Laat ons hulle van naderby beskou. Hulle is ryk sakemanne en nyweraars wat hulleself aan die begin van die sestigerjare in ’n liggaam bekend as die Suid-Afrika-Stigting saamgesnoer het.
Hulle het ook Afrikaanse sakelui in hulle geledere opgeneem, maar soos elders het hierdie Afrikaanssprekende sakelui ’n ondergeskikte rol gespeel en is hulle bygebring bloot om die indruk van groot patriotisme oor die taal- en politieke grense heen te wek. Na buite het hulle voorgegee dat hulle oogmerk sou wees om Suid-Afrika se swak beeld in die buiteland te verbeter. Dit was egter net ’n voorwendsel, want dit is byna ondenkbaar dat mense met sulke uiteenlopende politieke beskouinge so iets sou kon vermag. In werklikheid het hulle geglo dat hulle met hulle ontsaglike ekonomiese mag die binnelandse politiek in die rigting kon druk wat vir die bevordering van hulle belange noodsaaklik geag word. Wat die werklike oogmerke van hierdie Stigting-mense is, het in September 1967 duidelik geblyk uit ’n geskrewe stuk wat deur mnr. M.C. O’Dowd opgestel en in naam van die SA-Stigting versprei is.
Mnr. O’Dowd se siening van die politiek kom kortliks daarop neer dat daar ’n bepaalde patroon in die ekonomiese ontwikkeling van lande is wat ooreenstem met soortgelyke patrone van sosiale en politieke ontwikkeling. Hy is oortuig daarvan dat Suid-Afrika die “normale patroon” van politieke, sosiale en ekonomiese ontwikkeling sal volg — van minderheidsregering, deur ’n liberale era tot ’n welvaartstaat. In die proses, sê hy, sal Suid-Afrika se rassevraagstuk opgelos word, of miskien sal dit blyk dat so ’n vraagstuk nooit bestaan het nie.
Dit is belangrik om daarop te let dat mnr. O’Dowd meen dat ekonomiese ontwikkeling in die finale instansie die aard van die Suid-Afrikaanse gemeenskap sal bepaal. Hy voorspel dat Suid-Afrika teen 1980 “radikale konstitusionele veranderinge” sal aanbring, wat die Regering in ’n era van liberalisme sal inlei en wat uiteindelik ook die land se rasseverdelinge sal oplos. Mnr. O’Dowd sê dat so ’n ontwikkeling nie noodwendig gepaard hoef te gaan met ’n verandering van regering nie. ’n Verandering van bewind is nie ’n voorvereiste daarvoor nie. Dit sal spontaan kom.
Dit is die Stigtingsmanne wat saam met mnr. O’Dowd na die jaar 1980 as die begin van die era van liberalisme, die jaar van radikale konstitusionele hervormings sonder noodwendig ’n verandering van regering, gekyk het. Hulle het volgens ’n vaste tydrooster gewerk en daar is nie veel van hierdie tydrooster afgewyk nie. Die jaar 1980 word aangedui as die begin van die nuwe bedeling van politieke magsdeling tussen Blankes, Kleurlinge en Indiërs, wat uiteindelik die weg moet baan vir Swartes se inbring in ’n veelrassige politieke bestel. In 1974 het Die Vaderland berig dat mnr. Vorster ’n plan uitgewerk het waarvolgens Rhodesië binne vyf jaar ’n Swart meerderheidsregering sou kry. Daar is nie afgewyk van hierdie tydrooster nie. In 1975 het die VVO se Spesiale Verteenwoordiger vir “Namibië”, Sean McBride, gesê Suidwes-Afrika sal binne vyf jaar onafhanklik wees met ’n Swart regering aan bewind. Dit lyk of hier ook nie baie van die tydrooster van die geldmanne afgewyk gaan word nie.
Toe die SA-Stigting in 1960 tot stand gekom het, is klem daarop gelê dat dit ’n nie-politieke liggaam is waarin mense van verskillende politieke oortuiginge saamgetrek word om Suid-Afrika in die buiteland te “verkoop.” Maar vir diegene wat die koers van die organisasie noukeurig gevolg het, is dit duidelik dat die SA-Stigting uit die staanspoor as ’n politieke drukgroep bedoel is. Enersyds wou die ryk geldmanne seggenskap in die politiek hê, maar hulle wou nie soos ’n gewone lid aan ’n politieke party behoort nie. So ’n politieke organisasie met lidmaatskap wat beperk sou wees tot lede van ’n soort ekonomiese herrenvolkie, sou hom in staat stel om bo-oor die tradisionele partyverdeling mense in ’n liggaam te betrek vir die bevordering van die groot geldmag se oogmerke sonder om deur ’n bepaalde politieke party te werk.
Die tweede rede waarom die Stigting uit die staanspoor in die politiek was, is omdat die meerderheid van sy trustees uitgesproke menings gehuldig het oor die sake wat die Stigting moes hanteer. Mnr. Oppenheimer, mnr. Eric Gallo en etlike ander was trustees van die ou SA United Trust Fund, wat die fonds van R1 000 000 beheer het waarmee die Torch Commando gefinansier is en waarmee mnr. Oppenheimer die regering van dr. Malan en adv. Strijdom wou breek. Mnr. Oppenheimer het sedert daardie tyd verder links beweeg en sit vandag saam met verskeie ander lede van die Stigting in die Progressiewe Party.
Daar is veral twee opvallende maniere hoe die SA-Stigting sy politieke invloed uitoefen. Dit het aanvanklik voorgegee dat dit tot stand gekom het om Suid-Afrika se beleid van afsonderlike ontwikkeling in die buiteland te “verkoop” en Suid-Afrika se aansien in die buitewêreld te verhoog. Wat in die praktyk gebeur het, is veelal die teenoorgestelde. Die kommunikasiekanale wat die Stigting aanlê met die buiteland, word gebruik om die buitelandse standpunte en vereistes in Suid-Afrika in te dra en om binnelands subtiele druk uit te oefen, sodat die binnelandse beleid verander kan word om die buiteland tevrede te stel.
Leidende figure in die SA-Stigting het self die beste bevestiging hiervoor verskaf. So bv. het sir Francis de Guingand, sy eerste voorsitter, sosiale verkeer tussen Blanke en Nieblanke leiers op amptelike staatsfunksies bepleit op grond daarvan dat dit die buitewêreld sou beïndruk, en bygevoeg dat die binnelandse verhoudinge tussen Blank en Nieblank op dieselfde basis geplaas moes word as die verhouding tussen Blankes binne Suid-Afrika en Nieblankes van buite die Republiek. Dr. Jan Marais, ook ’n latere voorsitter, het in dieselfde idioom as sir Francis gepraat toe hy verklaar het dat die hele beskaafde wêreld nie meer diskriminasie op grond van ras of kleur of agtergrond sal duld nie.
Daar sal later teruggegaan word op die politieke uitsprake van leidende figure van die SA-Stigting. Hier kan daarmee volstaan word dat die Regering die politieke uitsprake van die Stigting sy eie gemaak het en dat ’n man soos dr. Marais in 1977 gelyktydig vir sowel die Progressiewe Party as die Nasionale Party aanvaarbaar as parlementêre kandidaat was.
Die tweede manier waarop die Stigting sy politieke invloed uitgeoefen het, was om mense op grond van hulle ekonomiese stand of professionele bedrywigheid byeen te bring vir ’n politieke doel. Die SA-Stigting se trustees het aanvanklik geen ander gemeenskaplikheid gehad as ’n betrokkenheid by groot besighede en finansiële instellings nie. Hierdie groot gemene deler is gebruik om hulle in ’n organisasie te verenig wat geen uitgesproke politieke beginsel huldig nie, maar binne die politieke arena beweeg. Die SA-Stigting was dus uit die staanspoor in wese ’n politieke koalisie. Net soos in enige koalisie is alle beginsels opgehef en word mense van uiteenlopende politieke beskouinge in ’n enkele politieke organisasie betrek. ’n Organisasie soos die Stigting kon die maksimum invloed uitoefen as daar gaandeweg byna geen verskil meer tussen politieke partye is nie, of as daar ’n koalisie tussen botsende partye tot stand kom. Die politieke toestand wat in die sewentigerjare in Suid-Afrika ontwikkel het, met ’n duidelike vervanging van die beleidmakers, het hierdie oogmerke bevoordeel.
Namate die Stigting al verder gevorder het in die uitvoering van sy oogmerke, het hy ook al hoe meer die vorm begin aanneem van die Amerikaanse Council on Foreign Relations, waarna vroeer verwys is en wat al beskryf is as die VSA se verskuilde regering. As ’n mens kyk na die ekonomiese beleid wat die Regering in die afgelope aantal jare begin volg het met die begunstiging van die groot geldmag, die afgradering van die eise van Blanke voortbestaan aan die eise van ekonomiese groei, die verarming van ’n groot gedeelte van die bevolking wat oenskynlik goed leef maar al dieper in die skuld raak, en nou ook die konstitusionele veranderinge wat in die vooruitsig gestel word, is dit duidelik dat die invloed van die geldmanne van die Stigting in die regeringskringe baie groot was en steeds is.
Saam met die Stigting is daar nog twee instellings in Suid- Afrika wat min of meer parallel loop en wat klaarblyklik ten doel het om Suid-Afrika se binnelandse politiek te verander deur die inwerking van die buitelandse politiek daarop. Die een is die US-SA Leader Exchange Programme (USSALEP), wat in die VSA sterk verbintenisse met die CFR en ander linkse instellinge het. Die tweede is die SA Institute of International Affairs, wat in Johannesburg gesetel is en bloedverwantskap het met die veelrassige SA Institute of Race Relations (SAIRR) en die Christelike Instituut (Cl). Later, toe staatsgeld gebruik is om allerlei frontorganisasies te stig waarmee die linkse politiek bevorder kon word, het daar ook die SA Vryheidstigting en Assosiasie Internasionaal bygekom. Die name van bekende figure in die geldwêreld is genoem en voorgestel as die groot weldoeners en patriotte van Suid-Afrika wat nie skroom om ’n deel van hulle skatte af te staan om Suid-Afrika se saak in die buitewêreld te bevorder nie. Uiteindelik, toe die Inligtingskandaal ontplof het, is gevind dat hulle maar net hulle naam aan hierdie organisasies geleen het om dit sogenaamd status te gee.
Wat opvallend is, is dat lidmaatskap van hierdie instellings in baie gevalle oorvleuelend is en dat heelwat van die name van die een organisasie ook by die ander organisasies gevind word. Almal is halfgeheime organisasies wat net ’n deel van hulle aktiwiteite bekend maak. Hulle word gefinansier deur die groot en oorgroot maatskappye wat op hulle beurt weer enorme invloed op die koerante het en wat kan verseker dat hierdie halfgeheime organisasies nooit swak publisiteit kry nie.
Van sy stigtingsjare af het die SA-Stigting ’n lang skaduwee oor die binnelandse politiek van Suid-Afrika gegooi. Dit was net die ferme hand van wyle dr. Verwoerd wat hulle teruggehou het. Vir die Stigting was dr. Verwoerd duidelik ’n baie ernstige struikelblok, soos later sal blyk uit verklarings van onder meer mnr. Oppenheimer. Dr. Verwoerd het duidelik begryp wat hier besig was om te ontwikkel en die bedreiging wat dit vir Suid-Afrika ingehou het.
In 1964 het die Stigting sy kop duidelik in die politiek begin uitsteek met ’n land wye veldtog om Nieblanke lede teen R20 per kop te werf. Die poging het misluk omdat dr. Verwoerd ’n stokkie daarvoor gesteek het. ’n Mens moet dus aanneem dat toe die versugting van ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse pers van “Verwoerd must go” op 6 September 1966 bewaarheid is, daar vir die geldmanne van die Stigting ook nuwe visioene opgegaan het.
Vervolg...