Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As iemand jou 'n onreg aangedoen het en jy probeer hom terugkry – daarom iets sleg aan hom terug te wil doen – dan is jy besig om in te meng met God se genade en vergifnis. As jy die saak nie in liefde kan skik nie, gee dit in gebed vir die Here en laat Hy dit op sy tyd hanteer sonder om Hom voor te skryf hoe, want jy het nie van beter geweet nie – Hy sal.
DIE GELDMAG (12)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
Die SA-Stigting
Tot sowat twee dekades gelede het Suid-Afrika nog nie persoonlik kennis gemaak met die stigtings van die groot geldmanne soos ons dit in die VSA leer ken het nie. Dit beteken egter nie dat die verteenwoordigers van die geldmag voor daardie tyd stilgesit het nie. Die geskiedenis van Suid-Afrika sedert Uniewording in 1910 toon verskillende momente waar die mag en invloed van die groot geldmag in die politiek en ook op ander terreine in Suid-Afrika baie skerp waargeneem kon word. Dit sal dwaas wees om te ontken dat agter die Nasionale Konvensie van 1909 self belangrike geldmagte geritsel het. Die bloedige mynstaking van 1922 en die ineenstorting van die ekonomie met die groot depressie van 1929 is nog twee voorbeelde wat in dié verband genoem kan word. In 1939 is Suid-Afrika van die kantlyn af in ’n uitgerekte en bloedige oorlog ingeruk. Oorloë is een van die erkende en belangrikste middele van die groot geldmag om sy oogmerke te bevorder. Agter die Tweede Wêreldoorlog het die groot geldmag geskuil, net soos wat die geval met die Eerste Wêreldoorlog was.
Op politieke gebied in Suid-Afrika was die ou Suid-Afrikaanse Party en sy latere opvolger, die Verenigde Party, die politieke verlengstuk van die geldmag hier en ook in die buiteland. Hy is gefinansier uit die bodemlose put van die ryk geldmanne. In die vyftigerjare het die Super-rykes onder beskerming van mnr. Oppenheimer byeen gekom om ’n fonds van een miljoen pond te stig in ’n berekende aanslag om die regering van dr. Malan te vernietig. Dit was nadat die ryk geldmanne op 26 Mei 1948 hulle grootste terugslag ondervind het toe die Afrikanerdom weer die politieke mag in Suid-Afrika verower het. Die geldmag het skielik gestuit teen ’n nuwe opwelling van nasionalisme wat hom nie net in die politiek laat geld het nie, maar ook na ander terreine van die samelewing uitgekring het — die kultuur- en kerklike terrein om maar net twee te noem. Die verteenwoordigers van die groot geldmag was aanvanklik totaal verlam, maar dit wil nie sê dat hulle daarvandaan stilgesit en die Afrikaner die geleentheid gegee het om ongehinderd sy gang te gaan nie. Na die aanvanklike skok van die politieke nederlaag van 26 Mei 1948 het hulle vinnig herstel en reeds aan die begin van die vyftigerjare het hulle met nuwe planne gekom om die mag van die nuwe nasionalisme te breek. Die uitgerekte konstitusionele stryd oor die Kleurling-stemreg in die jare vyftig en die stigting van die United South Africa Trust Fund om die Malan-bewind te vernietig, is twee voorbeelde van die nuwe planne wat gesmee is.
Dit was egter politieke leiers soos dr. Malan, mnr. Strijdom, mnr. C.R. Swart, dr. E.H. Louw, in die vyftigerjare, en dr. Verwoerd in die jare sestig wat steeds tussen hierdie mense en die Afrikanervolk gestaan het. Solank hierdie kaliber leiers daar was, was die Afrikaner veilig. Daar was in daardie tyd natuurlik ook ’n ander faktor wat die aanslag van die geldmag bemoeilik het. Dit was die betreklike finansiële onverbondenheid van die Afrikanervolk se openbare verteenwoordigers. Die Afrikaners in die sake- en nywerheidswêreld was nog maar ’n handjievol en die oorgrote meerderheid van hulle wat wel reeds in die geldwêreld gevestig was, was nog stewig veranker aan die beginsels en strewes van hulle volk. Die ekonomiese welvaart in Suid-Afrika het ook nog nie daardie afmetings aangeneem dat die diepere waardes van die Afrikanervolk daardeur aangetas kon word nie. Dit was eers in die sestigerjare, toe Suid-Afrika ’n ongekende voorspoed golf betree het, dat die toestand ingrypend begin verander het en die eerste flitse van die naderende bedreiging op die horison waargeneem kon word, ’n Nuwe geslag Afrikaners het in die dekade Sestig sy verskyning gemaak. Dit was Afrikaanssprekendes wat voor die versoeking van vinnig ryk word en alles wat daarmee gepaard gaan, geswig het. Hulle wat altyd in die skaduwee van die verteenwoordigers van die Engelssprekende geldwêreld beweeg het, het besluit dat daar vir hulle vinniger resultate en baie groter dividende gewag het in ’n bondgenootskap met die vreemde geldmanne as wat die erflatings van die Reddingsdaad- bond en die Ekonomiese Instituut hulle kon bied, selfs al het dit dan beteken dat hulle die ideale en beginsels van daardie Afrikanerliggame sou moes afsweer.
Vir die verteenwoordigers van die Engelse geldmag was dit ’n belangrike deurbraak. Met sulke mense, losgeruk van hulle nasionale ankers, kon hulle ’n fianansiële vennootskap sluit wat later ’n verlenging na die Afrikaner se politiek, sy kerk en sy kultuurlewe sou vind. Die Dekade Sewentig het dan ook vir hulle dividende opgelewer wat hulle nie in hulle wildste drome kon voorsien nie.
Soos verwag kon word, het die “suksesse” van Afrikaanssprekendes in die geldwêreld ook ’n nuwe geslag Afrikaners in die politiek na vore gestoot. Mense wat tot op daardie tydstip as blote randeiers in die politiek beskou is, het skielik die groot politieke apostels geword — met ’n taal en ’n boodskap wat hulle voorgangers van die jare veertig, vyftig en sestig in hulle graf sou laat omdraai.
Laat ons besoek aflê by die Volksraad in sy tweede sitting van 1970 en die taal beluister wat hierdie nuwe geslag begin praat het. Aan die woord is die agterbanker van Wonderboom, mnr. R.F. (Pik) Botha, wat menige kollega en kennis van hom in die nominasies wat die algemene verkiesing van April 1970 voorafgegaan het, verras het toe dit geblyk het dat hy ook ’n blouaartdraer geword het. As tema vir sy nooienstoespraak in die Volksraad het mnr. Botha oorlede Eleanor Roosevelt se Deklarasie van Menseregte uitgekies en gepleit dat die Regering van mnr. Vorster hom in groter mate daarmee moet vereenselwig. Vir hierdie lofbetuiging aan wat die waarmerk van die volkome ekstrak van die hedendaagse liberalisme dra, het die jonge Botha die gelukwensing van Rhodes-beurshouer en Minister van Buitelandse Sake, dr. Hilgard Muller, ontvang.
Daarvandaan het mnr. Botha in 1971 na die Internasionale Hof in Den Haag gegaan en in ’n onderhoud met die Nederlandse beeldradio verklaar dat Suid-Afrika gevorder het van ’n tydperk van oorheersing tot ’n tydperk van ontwikkeling in sy binnelandse rasseverhoudinge en in sy beleid teenoor sy buurstate. “My Regering,” het hy gesê, “glo dat sy beleid gelykheid sal meebring, want my Regering glo in gelykheid en menslike waardigheid,” het hy gesê. En in 1974 vind ons hom in New York as Suid-Afrika se Ambassadeur by die Verenigde Volke waar hy in Oktober 1974 verklaar: “Die Regering se beleid is wegbeweeg van diskriminasie op grond van ras en kleur, omdat kleur- en rasdiskriminasie nie regverdig is nie.”
So het die Dekade Sewentig begin met ’n jong man wat vanuit Afrikanergeledere hom gaan stel het naas die bitterste vyande van Suid-Afrika; ’n dekade wat afgesluit is met ’n totale oorgawe aan die groot geldmag deur ’n ander Botha in mnr. Oppenheimer se hotel in Johannesburg. En tussenin het die Afrikaner ooggetuie gespeel van die vendusie van die Blanke in Rhodesië, Mosambiek, en Angola, het Suidwes ook fluks gevorder op daardie weg en is die Blanke in Suid-Afrika besig om die een na die ander vesting te ontruim.
Vervolg...