Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dié mense wat leef asof daar nie lewe ná die dood is nie, gaan niks wen as hulle reg is nie en alles verloor as hulle verkeerd is. Mense wat leef asof hulle aardse lewe hulle toekoms gaan beïnvloed, sal niks verloor as hulle verkeerd is nie, en alles wen indien hulle reg is.
DIE GELDMAG (8)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
Vorster en die Geldmag
Vir die verteenwoordigers van die groot geldmag hier en in die buiteland moes die verwydering van dr. Verwoerd van die politieke toneel in Suid-Afrika deur die kommunis Tsafendas ongetwyfeld ’n belangrike moment in hulle veroweringsplanne gewees het. Dr. Verwoerd was die een man teen wie hulle altyd gestuit het in hulle berekenings om deur hulle geld die politieke mag in Suid-Afrika te verower. Hy het tussen hulle en die Afrikanerdom gestaan en telkens moes hulle sien hoe hulle planne deur hom verongeluk is. Die vooruitsigte op sukses het na 30 Maart 1966, toe dr. Verwoerd in daardie verkiesing binnelands nuwe hoogtes bereik het, baie skraal gelyk. En na die uitspraak in die Internasionale Hof in Den Haag oor die Suidwes-saak in Julie van daardie jaar het hierdie man in die buitewêreld feitlik tot ’n onaantasbare posisie uitgestyg. Die planne van die internasionale magshebbers en die magte wat agter hulle geritsel het, was erg deurmekaar gekrap. Die sluipmoord op 6 September 1966 in die Volksraad het egter alles oornag verander.
Dit kan met taamlike sekerheid gestel word dat die verteenwoordigers van die groot geldmag hier en in die buiteland op daardie tydstip nie veel omgegee het wie dr. Verwoerd sou opvolg nie. Die Afrikanerdom het hom in ’n leierskapkrisis bevind soos nog selde in sy bestaan en die teenstanders van Afrikaner-nasionalisme het geweet dat die Afrikanerdom op daardie tydstip nie op so ’n leierskapkrisis voorbereid was nie. Die man Verwoerd was op daardie tydstip vir die Afrikaner onvervangbaar en die vyande van die Afrikanerdom het dit geweet. Wat hulle ook geweet het, is dat nie een van die drie vernaamste aanspraakmakers op die opvolging van dr. Verwoerd — John Vorster, T.E. Donges en Ben Schoeman — toegerus was om oor te neem waar die hand van die sluipmoordenaar tussenbeide getree het nie.
Die keuse het op Vorster geval en ek glo nie dit het die verteenwoordigers van die antinasionale politiek lank geneem om te besluit dat dit die regte keuse was nie. Hulle het waarskynlik lank tevore reeds ’n studie van die man gemaak en presies te wete gekom wat sy kwesbaarste plekke was, waar hulle hom kon druk en waar hy sou toegee. Die verloop van sake in sy eerste bewindsjare het hulle waarskynlik ook oortuig dat die keuse van die NP-koukus op 13 September 1966 vir hulle ’n uitstekende keuse was.
Die vraag is al dikwels gestel wie mnr. Vorster se adviseurs in die politiek was. Daar is al telkens aangevoer dat sy politieke agtergrond nie van so ’n aard was dat dinge soos uitwaarts, dialoog, detente en wegbeweeg van diskriminasie sy breinvrugte kon wees nie. Hy was nie ’n politieke denker in die sin wat dr. Verwoerd een was nie. Baie name van mense wat ’n invloed op mnr. Vorster kon uitoefen, is met verloop van tyd genoem en dit is seter waar dat hy van tyd tot tyd vertrouelinge om hom vergader het na wie hy geluister het. Maar namate sake onder sy bewind ontplooi het, het een ding baie duidelik geword: dat die verteenwoordigers van die groot geldmag, die ryk geldmanne, ’n groot invloed op die Vorsterpolitiek uitgeoefen het. ’n Man soos dr. Rupert het bv. die toegang tot mnr. Vorster gevind wat hy nie by dr. Verwoerd kon vind nie. Daarby het mnr. Vorster se familiebande van sy vrou se kant hom ook in aanraking gebring met die verteenwoordigers van die Afrikanergeldmag in die Suide en hulle moes ongetwyfeld ’n baie sterk invloed op hom uitgeoefen het.
Dit is in die binnekamers van hierdie geldmag-verteenwoordigers waar die planne gesmee is om die ekonomiese magte aan te wend om die binnelandse politiek in bepaalde rigtings te stuur. Dit is in daardie binnekamers dat die uitwaartse beleid, detente, dialoog, wegbeweeg van diskriminasie en radikale konstitusionele hervormings gebore is. Mnr. Vorster, met luitenante soos dr. Hilgard Muller, mnr. Pik Botha en dr. Piet Koornhof om hom, het die kanaal geword waarlangs die planne van die geldmag in die politiek ingedra is en konkrete beslag in beleidsformulerings gekry het.
Watter oorheersende invloed die geldmag op mnr. Vorster se denke gekry het, blyk uit ’n toespraak wat hy op 22 Augustus 1978, minder as ’n maand voor sy uittrede uit die aktiewe politiek, voor die kongres van die Verbruikersraad in Pretoria gelewer het. By die geleentheid het hy gesê: “Daar sal betekenisvolle veranderinge gemaak moet word as die afskaffing van ongelykheid in ons sosiale stelsel prioriteit moet geniet. Dit sal met materiele opofferinge deur die Blankes gepaard moet gaan. Ek twyfel nie daaraan dat dit gedoen sal word nie.”
Wat mnr. Vorster hier aan sy gehoor wou oordra, het dr. F.J. Cronje, voorsitter van Nedbank en een van die belangrike verteenwoordigers van die groot geldmag in Suid-Afrika, op 4 November 1976 in heelwat blatanter vorm in Durban gesê. “Die lewenstandaard van Blankes,” het hy by hierdie geleentheid verklaar, “moet daal, maar dit kan nie toegelaat word dat die lewenstandaard van ander rasse daal nie.”
Mense wat na aan mnr. Vorster gestaan het, sê dat hy tydens sy bewind besondere bande met sulke geldmanne soos dr. Rupert, dr. Etienne Rousseau, dr. Tommie Muller, dr. A.D. Wassenaar, dr. Jan S. Marais en andere gehandhaaf het. Toe ’n man soos mnr. S.E.D. Brown reg aan die begin van mnr. Vorster se bewindsoorname op die linkse politieke denke van sommige van Suid-Afrika se nywerheids- en sakeleiers gewys het, het die destydse Eerste Minister hulle in sy beskerming geneem. Hy het hulle as goeie Afrikaners bestempel en mnr. Brown as ’n agent provocateur voorgestel.
Hierdie sake- en nywerheidsleiers het almal trustees van die SA-Stigting geword wat reeds die stempel van Suid-Afrika se onsigbare en verskuilde regering gekry het. Op hulle beurt het hulle aanvanklik groot lof vir mnr. Vorster gehad en hom in ’n baie gunstige lig teenoor dr. Verwoerd probeer stel. Hulle het hom geprys vir sy buigsaamheid, sy aanpasbaarheid en sy pragmatisme. In die laaste jaar of wat van sy bewind het daar egter van die kant van die geldmanne blykbaar ’n taamlike afkoeling gekom van die warme verhouding wat voorheen tussen hulle en die Eerste Minister bestaan het. Hulle groot klagte teen hom op daardie tydstip was blykbaar dat hy nie vinnig genoeg na hulle sin beweeg het nie. ’n Besoekende Duitse akademikus, dr. Theo Hanff, het bv. vertel dat dr. Rousseau in ’n gesprek met hom erken het dat hy baie teleurgesteld in mnr. Vorster is. Hy het verduidelik dat daar op daardie tydstip geen dryfkrag meer by mnr. Vorster te bespeur was nie en dat hy skynbaar net die tyd afgewag het om uit te tree. Wat dr. Rousseau, volgens die Duitser, die meeste gekwel het, was dat mnr. Vorster nie meer ontvanklik was vir nuwe idees en nie meer na hulle wou luister nie.
Tussen dr. Verwoerd en die ryk geldmanne het nooit dieselfde hartlike verhouding bestaan as wat daar tussen hulle en mnr. Vorster geheers het nie. Die verklaring hiervoor is voor die hand liggend: die ekonomiese magte het nie veel trek aan ’n sterk prinsipiële politieke leier nie, omdat die groot geld en beginsels nog nooit intieme bedmaats was nie. Dr. Verwoerd het nie in vyandskap met die geldmanne gelewe nie, maar dit is ook bekend dat hy hom nie deur hulle laat voorskryf het nie. Hulle kon hom nooit buig om hulle oogmerke te pas nie.
Dr. Verwoerd het in sy dae nie geskroom om van die geldmanne skerp tereg te wys nie. Hy het dikwels in die openbaar met mnr. Oppenheimer gebots oor laasgenoemde se politieke uitsprake — iets wat in die Vorster-bewind nooit gebeur het nie. Mnr. Vorster het hom weerhou van ’n konfrontasie met die groot geldmanne en het hulle bemoeiing met die politiek heeltemal oor die hoof gesien. Teen die einde van sy bewind het hy wel in die Volksraad ’n skrams hou na mnr. Oppenheimer gemik na aanleiding van Andrew Young, die Amerikaanse Neger- politikus, se besoek aan Suid-Afrika as gas van mnr. Oppenheimer. Hy het mnr. Oppenheimer gevra om te toon waar hy staan. Die Suid-Afrikaanse beeldradio het daarna ’n geleentheid aan mnr. Oppenheimer gebied om op hierdie vraag te antwoord en hy het dit in taamlik aanmatigende terme gedoen. “As mnr. Vorster nou nog nie weet waar ek staan nie,” het hy die vraag beantwoord, “is hy nie so slim as wat ek gedink het nie.” Dit was die enigste geleentheid dat mnr. Vorster en die grootbaas van Anglo-American swaarde gekruis het, maar dit was op ’n tydstip toe die geldmanne kennelik nie meer veel waarde aan mnr. Vorster geheg het nie.
Vervolg...