Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons kan elk dag saam met Dawid bid in Psalm 69: "o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie... Red my uit die modder en laat my nie sink nie..."
DIE GELDMAG (5)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
DIE 'ROUND TABLE'
Vir ’n Afrikaner wat ’n sin vir die geskiedenis het, was die Rhodes-beurse nog altyd iets wat jy op ’n groot afstand gehou het. Die vroeg gestorwe, skrander dr. Tobie Muller, van Stellenbosch, wat al nasionalisme verkondig het lank voordat die Nasionale Party in 1914 tot stand gekom het, het bv. ’n aanbod van ’n Rhodes-beurs van die hand gewys. So ook die ewe skrander dr. H.F. Verwoerd, wat later Eerste Minister van Suid-Afrika en die skyf van haat van die moderne Rhodes-Milner-politiek geword het. Ander Afrikaners (of juister, Afrikaanssprekendes) het Rhodes-beurse aanvaar. Hulle het al tot in die kabinet gevorder:dr. Hilgard Muller, voormalige Minister van Buitelandse Sake, was een en dr. Piet Koornhof, Minister van Samewerking en Ontwikkeling, is ’n ander. Dit is miskien nie blote toeval dat albei ’n paar jaar gelede deur die Vrymesselaars vereer is met die Orde van Malta nie.
Sulke Afrikaanssprekende Rhodes-beurshouers het na Suid-Afrika teruggekeer, uiterlik soms onveranderd, soms ook nie. Maar moontlik, sonder dat hulle in hulle jeugdige ongevormdheid geweet het, het hulle deel geword van die wye netwerk in die Engelse wêreld waardeur die oogmerke van die Rhodes-beurse bevorder word.
Prof. Quigley skryf in sy reeds genoemde Tragedy and Hope dat Rhodes teen 1895 ’n jaarlikse inkomste van een miljoen pond uit diamante en goud gehad het wat “vir misterieuse oogmerke aangewend is.” “Hierdie oogmerke,” gaan hy dan voort, “het gewentel om sy begeerte om die Engelse volke te federeer en al die bewoonbare wêrelddele onder hulle beheer te bring. Vir hierdie doel het Rhodes ’n deel van sy groot fortuin nagelaat om die Rhodes-beurse by Oxford in te stel.” Daar kan dus geen twyfel bestaan oor die doel waarmee Rhodesbeurse aan Afrikaanssprekendes toegeken word nie. Daar kan ook ewe min twyfel bestaan oor die redes waarom ’n Tobie Muller en ’n H.F. Verwoerd hulle nie by so ’n skema teen Afrikaner-nasionalisme laat betrek het nie.
’n Skrywer wat in die VSA ten nouste gemoeid was met die Rhodes-beurse en met die Rhodes-Milner-strewe in die algemeen, is Frank Aydelotte. Hy het in 1946 die boek, American Rhodes Scholarships, laat verskyn. Hy skryf onder meer dat “hulle (die studente) agterkom dat by Oxford so baie van die beginsels waaraan hulle altyd sonder vraag geglo het, hoegenaamd nie aanvaar word nie; dat so baie dinge wat hulle altyd as onverstandig en gevaarlik beskou het, as vanselfsprekend aanvaar word.” En die dinge waaraan die jong studente “altyd sonder vraag geglo het”, is natuurlik die instellings en tradisies van hulle voorgeslagte. Maar dit is ook die geskiedenis van hulle volk in sy botsing met die Rhodes- Milner-politiek. By Oxford leer hulle om die dinge te verwerp en die Rhodes-Milner-waardes in die plek daarvan te aanvaar.
Aydelotte skryf ook uitdruklik: “Die Rhodes-student kry uit sy Oxford-ervaring ’n internasionale beskouing.” Die woord “internasionaal” is natuurlik ietwat verwarrend. Wat werklik bedoel word, is dat so ’n student “onnasionaal” teenoor sy eie volk word.
Helen Lasell het in 1963 onder die titel “Power behind the Government today” ’n samestelling van dokumente gemaak uit die politieke skemerwereld van die VSA. Daarin gee sy uittreksels uit Aydelotte se boeke en die eerste lui: “Stigting van geheime vereniging met die doel om Britse heerskappy oor die wêreld uit te brei.”
Dat so ’n geheime vereniging volkome inpas by die Rhodes-Milner-politiek, soos dit teen die Afrikaner toegepas is, is duidelik uit die geskiedenis. Maar vir die Afrikanerdom, wat so erg betrokke was by die geskiedenis, het baie van die geskiedkundige feite rondom 1895 tot 1914 al vervaag, en baie van die feite wat nou eers aan die lig kom, word van hulle weggehou deur ’n geinhibeerde onderwysstelsel en verloopte nuusmedia.
Reeds op 5 Februarie 1891 het Rhodes en enkele ander ’n geheime vereniging gestig waarvan Rhodes die leier was. Saam met hom in die bestuur was Milner, Reginald Baliol Brett (later lord Esher) en William T. Stead (wat met die uitbreek van die Engelse oorlog teen Rhodes gedraai en ’n sterk pro-Boerestandpunt ingeneem het). Onder die wat genoem was as “ ’n kring van ingewydes” rondom die kern van die bestuur, was onder meer Arthur (later lord) Balfour, lord Rothschild en Albert (later lord) Grey. Buite hierdie kring van “ingewydes” was daar “’n kring van ondersteuners.” En dit is hierdie selfde “kring van ondersteuners” wat na Rhodes se dood deur Milner as die Round Table georganiseer is.
“Die sentrale deel van die geheime vereniging,” skryf dr. Quigley, “was teen Maart 1891 gevestig. Dit het aangehou funksioneer as ’n formele groep, hoewel die buitekring blykbaar nie voor 1909-1913 georganiseer is nie.”
Vanselfsprekend was die aktiwiteite van hierdie geheime vereniging teen die einde van die vorige eeu op Transvaal toegespits. Die Afrikanerdom is op hierdie ondergrondse wyse beveg en, soos reeds aangedui, het Rhodes vanuit die geheime kringe die pers gebruik om in die openbaar sy politieke doelstellings teen pres. Kruger te bevorder.
Prof. J.A. Hobson, wat selfs in liberale kringe in Suid-Afrika hoë aansien geniet het, het in sy boek, The War in South Africa (1900), die rol van die Engelse pers onder die invloed van hierdie geheime vereniging baie skerp veroodeel. “Die hoofdoel van hierdie pers-sameswering”, skryf hy, “vir die bereiking waarvan elke spier ingespan is, was die oorwinning van die regering en die gewete van Groot-Brittanje.” Die doel waarvoor die regering van Brittanje gewen moes word, was om oorlog teen die Boere te verklaar. Rhodes se geheime vereniging het daarin geslaag. En die gevolg was dat die Afrikanervolk se vrouens en kinders na drie jaar van stryd byna uitgewis is.
“Die magtige Engelse pers van Suid-Afrika, ” skryf Hobson, “besit en beheer deur ’n handjievol rykes wat deur noue finansiële bande aanmekaar gebind word, het eers daarin geslaag om die publiek van Suid-Afrika aan die brand te steek en daarna die gevoel oor te dra op die gemoed van die Britse publiek.”
Vandag moet selfs in Brittanje die feit erken word dat Rhodes en Milner se politiek, wat vanuit die skemer en skaduwee bedryf is, die Britse volk in ’n oorlog teen die Boere gedruk het. Maar in 1899 het die Engelse pers hier en in Brittanje vanuit sogenaamde hoë morele waardes en politieke beginsels die aanvalle op pres. Kruger en die Boere gemaak.
Prof. Hobson skryf een hoofstuk onder die titel “For whom are we fighting?” En sy slotparagraaf lui: “Ons veg ten einde teen ’n klein internasionale oligargie van myneienaars en spekulateurs om Pretoria aan bewind te stel.’’
Rhodes was reeds in daardie tyd ’n instrument van magte wat buite die Engelssprekende wêreld gestrek het, maar wat hulle finansiële oogmerke deur die militêre en ekonomiese mag van Brittanje bevorder het. “Die oordeelkundige beheer van die pers en die hulp van die finansiële vriende in hoë plekke sal hulle in staat stel om ’n taamlike volledige vorm van ‘boss-rule’ in Suid-Afrika te vestig en in stand te hou,” skryf Hobson voorts.
Hierdie Rhodes-Milner-politiek met sy geheime organisasies en sy verbintenis met die anti-nasionale geldmag het nie na Rhodes se afsterwe doodgeloop nie. Dit is vandag nog net so lewend as in 1899, indien nie meer nie. Die geheime vereniging wat in 1891 gestig is, het na Rhodes se dood ononderbroke onder Milner se leiding voortgegaan. “Hierdie groep,” skryf Quigley, “ het daarin geslaag om toegang tot die Rhodes-skatte na sy dood in 1902 te kry en ook tot die fondse van getroue Rhodes-ondersteuners, soos Alfred Beit (1853-1906) en sir Abe Bailey (1864-1940).”
Daar was dus ontsaglike fondse tot die beskikking van die geheime vereniging. Wat het hulle daarmee gedoen?
Dr Quigley skryf: “Met hierdie rugsteun het hulle gestreef om die ideale wat Rhodes gehad het, uit te brei en uit te voer.”
Die ideale? Om Engelse heerskappy en heerskappy deur die Geldmag wereldwyd te vestig. En die vestiging het in Transvaal begin deur die Engelse oorlog. Die rykdom waardeur hierdie verowering van die wereld gedoen moes word, kom uit hierdie land se diamante, goud en grond wat van die Boerevolk gesteel en geroof is deur die internasionale geldbende wat Rhodes as hulle politieke instrument gebruik het.
Daar is baie getuienis dat die geheime organisasie wat Rhodes en Milner in 1891 gestig het om die Britse politiek te beïnvloed en te beheer, vandag die Engelssprekende wêreld beheer, en dat arms van die geheime organisasie ook die Amerikaans-Engelse politiek in Suid-Afrika bedryf het deur persone in sowel die Nasionale Party as die Progressiewe Party.
Maar dit is veral op die terrein van die geldwese en die pers dat ’n mens hierdie geheime organisasie se spoor moet soek, net soos aan die einde van die vorige eeu. Van die geldwese en die pers werk hy na die politieke en ander lewensterreine.
Wanneer ’n man soos dr. Anton Rupert, wat uit die skraal sak van Afrikaners in die veertiger- en vyftigerjare gesukkel het om op die been te kom, skielik in noue finansiële verhouding kom tot die Rothschilds, wie se verwante voorsate Rhodes gefinansier het, en dan in die Engelse pers bestempel word as ’n “financial wizard”, trek elke kundige Afrikaner sy wenkbroue op. Maar wanneer dit aan die lig kom dat dr. Rupert ook lid van die geheime Abe Bailey Trust is wat direk deur die Rhodes Trust aangestel word, kan ingeligte Afrikaners nie meer veel vrae oor hê nie. Om te begryp hoe Rupert wat as jong student 'n hartstogtelike passie vir nasionalisme as voorsitter van die studentebond geopenbaar het, omgeswaai het tot die liberale man wat hy geword het na sy verhouding met die Rothschilds, vra nie nie veel denke nie.
As ’n mens daarby in ag neem dat die Abe Bailey Trust die koerante van SA Associated Newspapers beheer en dat mnr. Harry Oppenheimer vandag die Argus-groepkoerante besit en beheer, wat op hulle beurt vroeg in die sestigerjare 31 persent van SA Associated Newspapers se aandele besit het (waarskynlik nou heelwat meer), besef jy hoe die geldnetwerk en die pers vandag in dieselfde patroon ingeweef is as in Rhodes se tyd. Daarom kon ’n gewese lid van die Verenigde Party en vroeëre werknemer van mnr. Oppenheimer, dr. G.F. Jacobs, verklaar: “Anton Rupert and Harry Oppenheimer think alike.”
Vervolg...