Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Versoekings is baie verskillend. Die verdorwe gedagtes wat ons aanhits om die wet te oortree is versoekings. Hierdie gedagtes word óf deur ons eie begeertes aangevuur, óf deur die duiwel wakker geroep. Ook die dinge wat eintlik self nie sleg is nie, word versoekings deur die lis van die duiwel. Dit gebeur wanneer dinge oënskynlik onskuldig só aan ons opgedis word dat dit ons van God wegtrek.
DIE GELDMAG (2)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
SAAM IN DIE RAND CLUB
Ondersoek na die werkinge van die geldmag en die invloed wat dit op die politieke mag uitoefen, is vandag nie ’n baie gewilde onderwerp nie. Dit was trouens nog nooit ’n gewilde onderneming nie, want as daar een ding is wat die verteenwoordigers van die groot geldmag soos die pes haat, is dit dat hulle planne, hulle skemas, hulle knoeiwerk onder die soeklig geplaas moet word. Dit het verder ’n ongewilde onderwerp geword, omdat die massa-media, wat grotendeels deur hierdie geldmag beheer word, ’n beeld van die rykes en die super-rykes opgebou het van onaantasbare wesens. soort godjies, wie se dade en planne nie bevraagteken mag word nie. Hulle het ’n soort ekonomiese herrenvolkie geword wat verhewe bo enige kritiek is.
Selfs sommige politieke leiers duld nie enige kritiek op die verteenwoordigers van die geldmag nie, dikwels omdat hulle self vasgevang is in die net van hierdie geldmanne, of weet dat hulle politieke voortbestaan deur hierdie mense beheer word.
Daar is egter ook politieke leiers wat hulle nie deur die verteenwoordigers van die groot geldmag laat voorskryf nie. Sulke politieke leiers word dan die verklaarde vyande van die groot geldmag omdat hulle as stuikelblokke in die verwesenliking van die rykes en super-rykes se oogmerke beskou word. Dit is waarom daar teen ’n man soos dr. H.F. Verwoerd in sy bewind as Eerste Minister van Suid-Afrika die kreet “Verwoerd Must Go!” soos ’n refrein vanuit die linkse kringe opgeklink het.
Dr. Verwoerd het, soos min voor hom en na hom, die bedreiging van die groot geldmag begryp. Hy het nie geskroom om in die openbaar daarteen te waarsku nie. Hy het tussen die groot geldmag en die Afrikanervolk gaan stelling inneem. Daarom het hy ’n verklaarde vyand van die geldmag geword en is sy verdwyning van die politieke toneel dikwels deur die verteenwoordigers van die geldmag gewens. Hy het baie duidelik begryp wat hier besig was om te gebeur en hy het nie teruggedeins om dit in die openbaar te sê nie.
Toe dr. Verwoerd op 25 September 1965 ’n byeenkoms in sy kiesafdeling Heidelberg toegespreek het, het hy gesê dat Suid-Afrika nie net met ’n buitelandse geldmag te doen het nie, maar dat ’n nuwe geldmag binne Suid-Afrika aan die ontwikkel was. Afrikaanse kapitaliste en Suid-Afrikaners in die algemeen, het hy gesê, is besig om toenemende beheer in magtige finansiële, nywerheids- en mynondernemings te bekom. Met die ontwikkeling van hierdie Suid-Afrikaanse geldmag moet die politieke lewe van die land in ag geneem word. Dis noodsaaklik dat die nuwe geldmag nie weg- groei van die nasionale belang en ’n geldmag vir eie onthalwe word nie, het dr. Verwoerd gesê en toe bygevoeg: “Daar is ’n wesenlike gevaar dat die Suid-Afrikaanse geldmag sal saamsmelt met die geldmag wat vreemd aan Suid-Afrika en sy volk is. Die land sal moet toesien dat die ontwikkelende geldmag trou bly aan die nasie en nie in botsing kom met die ideale en veiligheid van sy mense nie.’’
Dit was voorwaar profetiese woorde. Hoe profeties is meer as dertien jaar later bevestig toe ’n man uit daardie kringe, dr. H. Adam, in Desember 1978 kon skryf dat die stem van Anglo-American Corporation, en dus ook die stem van sy grootbaas, mnr. Harry Frederick Oppenheimer, vandag in die koukus van die Nasionale Party gehoor word. Hoe ongelooflik dit ook al mag klink, dit is waar. Dit het gebeur omdat dr. Verwoerd se opvolgers of nie die bedreiging van die groot geldmag begryp het nie, of dit wel verstaan het, maar niks daarteen kon doen nie omdat hulle die gevangenes van daardie geldmag geword het. Mnr. B.J. Vorster het met sy verkiesing as Eerste Minister in September 1966 plegtig onderneem om in sy voorganger se voetspore te volg, maar twee jaar later, op 1 November 1968, gaan sit hy in die Rand Club in Johannesburg aan met die verteenwoordigers van die groot geldmag.
Dagbreek, die gestorwe Sondagkoerant van Johannesburg, het hierdie gebeurtenis destyds aangebied onder die opskrif “Rand Club gee Vorster ’n staande ovasie” en gesê dat mnr. Vorster op
daardie dag geskiedenis gemaak het: Hy was die eerste Premier van die Nasionale Party wat ooit deur die Rand Club as gas uitgenooi is.
Dit is goed om weer ’n keer na hierdie “geskiedkundige” gebeurtenis in die Rand Club en die berig daaroor in Dagbreek te kyk, want dit verskaf insig oor die dinge wat na dr. Verwoerd se dood gebeur het.
“Rhodes en Jameson en Britse konings,” skryf die blad, “ sou sekerlik die toneel met ongeloof in hulle oë gade geslaan het. Meer as twee honderd gaste op ’n dinee in die Rand Club, Johannesburg, het op Vrydag, 1 November, opgestaan en die Eerste Minister toegejuig. Die mynmagnate, die ryk sakemanne en die nyweraars wat teenwoordig was, was in algehele vervoering deur mnr. John Vorster.”
Die blad sê voorts dat die Rand Club oorspronklik die bronaar van die Britse Jingoïsme was. “Dit was hier dat die empire-bouers ontmoet het en hulle beplanning gedoen het. Sedertdien het die klub meer Suid-Afrikaans geword, maar dit het nogtans essensieel Engels gebly. Dit was ’n streng geslote byeenkoms. Sover ons kon vasstel, was die meeste gaste Engelssprekendes — sekerlik nie meer as ’n halfdosyn was Afrikaners nie. Mnr. Vorster het bykans ’n uur in Engels gepraat en het ’n diep indruk gemaak. Dit was ’n invloedryke gehoor bestaande uit manne wat ’n leidende rol in die land se ekonomie speel.”
Mnr. Harry Oppenheimer was daardie aand nie in die Rand Club teenwoordig nie, maar daar kan aangeneem word dat baie van sy handlangers in die sake- en nywerheidswêreld wel daar was. Die Rand Club is ’n eksklusief Brits-Engelse klub en hierom word mense van mnr. Oppenheimer se rasse-afkoms nie daar toegelaat nie.
Maar mnr. Oppenheimer was wel teenwoordig op 22 November 1979 toe mnr. P.W. Botha, die latere Eerste Minister, sy hele kabinet na die Carlton-hotel in Johannesburg geneem het vir sy beraadslaging met die verteenwoordigers van die groot geldmag oor die totstandkoming van ’n sogenoemde Konstellasie van Suider-Afrikaanse State. Daar hoef nie veel gegis te word oor waar hierdie gedagte van ’n konstellasie sy oorsprong gevind het nie. Dit is die resep van die groot geldmag om deur hulle ontsaglike rykdom hulle politieke oogmerke te verwesenlik, wat natuurlik steeds vir hulle groter winste moet verseker.
Dagbreek het op 3 November 1968 na aanleiding van mnr. Vorster se verskyning in die Rand Club berig dat Rhodes, Jameson en die Britse vorste met ongeloof die toneel daardie aand in die Britse klub sou gade slaan. Dr. Malan, mnr. Strijdom en dr. Verwoerd sou sekerlik ook in ongeloof neergekyk het op die toneel wat hom op 22 November 1979 in mnr. Oppenheimer se hotel in Johannesburg afgespeel het. Want wat daardie dag in die Carltonhotel gebeur het, was ’n bevestiging dat die groot geldmag bloedloos die politieke mag in Suid-Afrika verower het. Daardie byeenkoms was inderdaad die verseëling van die onderwerping van die huidige Nasionale Party aan die verklaarde vyande van nasionalisme. Hoe hierdie gebeurtenis se betekenis ook al verbloem word agter valse publisiteit, dit is mnr. P.W. Botha se openbare erkenning dat die Oppenheimers en die Hoggenheimers die aard van die Nasionale Party vernietig het, net soos hulle die aard van die ou Verenigde Party verander en later vernietig het. Vir die Afrikanervolk is dit een van die onheilspellendste fases in die verloop van die politiek sedert die sluipmoord op dr. Verwoerd. Die steek na die hart van die Nasionale Party deur die kommunis Tsafendas op 6 September 1966 in Kaapstad het geëindig in die dood van die Nasionale Party in Johannesburg op die skoot van mnr. Oppenheimer. Niemand besef dit beter as mnr. Oppenheimer nie, daarom kon hy na afloop van die samekoms selfvoldaan aan een van sy koerante verklaar: “Die Nasionale Party, soos ek hom geken het, is besig om finaal te verkrummel.”
Vervolg...