Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nie wat in die mond ingaan maak die mens onrein nie, maar wat uit die mond uitgaan, dít maak die mens onrein – Matt 15:11.
MISLEIDING VAN DIE VOLKERE (1)
Klaus Dieter Vaqué
Lees reeks by Misleiding van die volkere
"Vandag is die wêreldverhoog in gereedheid gebring vir die derde bedryf (die Derde Wêreldoorlog; - skrywer) wat die doel het om die proses te voltooi. Die geldmag en die rewolusionêre mag is klaar formeel gevestig en wel in duidelik afgebakende simboliese vorm; ('Kapitalisme of Kommunisme') en in presies gedefineerde vesting ('Amerika' of 'Rusland'). Die prentjie wat vir die massas gewys word om genoeg onrus by hulle te verwek, is dié van 'n vyandige en wanhopige konfrontasie ... Dit is die spektakel wat openlik vir die mense as wêreldtoneel voorgehou word. Maar wat daarvan as manne van dieselfde gesindheid, met dieselfde geheime doel voor oë in albei kampe baas is en hulle doelwitte probeer bereik deur die botsing van die massas?"
Douglas Reed in Behind the Scene.
In hierdie boek is daar nou al baie oor die agtergrond van die huidig onverklaarde oorlog teen Suid-Afrika geskryf. Die leser word versoek om, op grond van die beskrewe werklikhede, die gebeurtenisse en veral die toekomstige verwikkelinge, self vas te stel of die insigte in hierdie boek strook met die waarheid. Vir miljoene mense lê hierdie waarheid nog altyd verborge in die donker van vyandelike propaganda, wat Pete Simple van die Londense "Daily Telegraph" as ‘n wêreld vol leuens beskryf het.
Die tragiek van hierdie aanslag op Suid-Afrika is nie soseer geleë in die feit dat so baie goedgelowige mense (Christelike organisasies, predikante, studente, professore en welmenende huisvroueverenigings deur protesaksies, boikot-oproepe en massa-demonstrasies, sonder dat hulle dit weet of wil, die vuil werk van 'n internasionale samesweerderskliek ondersteun (en so van hulself die "nuttige idiote" maak volgens Lenin se uitspraak), maar dis eerder daarin geleë dat hulle ywerig help om die tak af te saag waarop hulle self sit.
Indien Suid-Afrika as 'n belangrike hoekpilaar van die Weste moet wegval, sou Amerika en die lande van Europa asook ander Westerse bondgenote 'n selfmoordstap nader wees aan afhanklikheid van verborge magte, wie se doel dit is om alle demokratiese nasionale state te vernietig.
Aan die Rooies, Groenes en Linkses van alle kleure en geure sou 'n mens wel die sosialistiese paradys waarna hulle so verbete strewe van harte gun. Waarvan hulle nie die minste benul het nie is egter die feit dat hulle op die ou end saam met die versmaaide bourgeoisie deur dieselfde "superfinans-monopoliekapitaliste" wat ook die Sowjetse "arbeider- en boereparadys" opgerig het en oorheers, uitgebuit word. Daarvan sal hulle tog seker ook nie baie hou nie!
Laat ons dus gewaarsku wees dat al die voorgegewe redes vir die huidige vyandskap teen Suid-Afrika valse voorwendsels is. Suid-Afrika is net een van hierdie eeu se slagvelde in 'n stryd waarin alle volkere van die Weste verwikkel is. Die kragte van die wêreldrewolusie werk vandag van albei kante van die ystergordyn af en dit is wat hulle werk so gevaarlik en suksesvol maak.
Dit is ook die rede waarom die KGB-kolonel en leier van die verbode Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SACP), Joe Slovo, in die Weste die allergrootste bewegingsvryheid geniet het; waarom die terroriste van die "African National Congress" (ANC), wat deur kommunistiese state geskool en bewapen is, in Westerse hoofstede amptelike kwartiere en kantore mag onderhou en waar vir die ANC-leier van daardie tyd, Oliver Tambo die rooi tapyt uitgerol is wanneer hy deur hoë regeringsverteenwoordigers ontvang is.
Dit is die rede waarom die barbaarsheid van die brandende "nekband", wat deur die ANC teen onskuldige Swartes in Suid-Afrika gebruik is, die leidende koerante in die hele Westerse wêreld nie verhinder het om Winnie Mandela as 'n heldin op te hemel nie alhoewel sy hierdie onvoorstelbaar wrede massamoord openlik met geesdrif goedgekeur het. ("Met ons vuurhoutjiedosies en ons halsbande sal ons hierdie land bevry!")
Dit is ook die rede waarom Suid-Afrikaanse “kerkmanne” soos aartsbiskop Tutu, dr. Allan Boesak, dr. Beyers-Naude en andere, wat nooit hulle simpatie vir Marxisties-terroristiese "bevrydingsbewegings" weggesteek het nie en nie omgee om hulle preke onder Rooi vlae met die hamer en sekel te hou nie, in die Weste soos helde vereer word en — soos biskop Tutu — selfs met die Nobel-vredesprys bekroon is.
Hierdie "helde" van Suid-Afrika, die lieflinge van alle liberales en van die Westerse pers, geniet in Suid-Afrika self maar min aansien en is volgens meningsopnames aan die meeste Swart Suid-Afrikaners heeltemal onbekend, alhoewel hulle hulle in die buiteland graag voordoen as verdedigers van die "onderdrukte" Swart massas.
Dit is die rede waarom die bomplanters en massamoordenaars van SWAPO en die ANC in die Weste nie summier gearresteer en uitgelewer word soos vroeër gedoen is nie sodat hulle vir hulle afskuwelike terreurdade gestraf kan word. Vandag word hulle in die vergaderings van die VVO ontvang en deur Westerse regeringsmense gevlei en geëer, ontvang miljoene uit Westerse belastingsgeld en aan die misleide volkere word hulle voorgestel as verteenwoordigers van "bevrydingsbewegings" van suidelike Afrika aan wie alle simpatie, eer en agting toekom. Om die ironie van die saak nog te onderstreep word daar met hulle beraadslaag oor die "probleme" van lande wat hulle maar net nog van hoorsê ken, omdat die meeste van hulle reeds vir tientalle jare uitgewekenes is.
Die liberale Staatspresident P.W. Botha daarteenoor wat soos nog niemand voor hom nie duur hervormings en maatreëls ten gunste van die Swart Suid-Afrikaners deurgevoer het en hom daardeur die wrewel en afval van 'n groot deel van sy Blanke kiesers op die hals gehaal het, wie se populariteit onder die Swartes so groot was dat hy sonder noemenswaardige persoonlike beskerming in Swart woongebiede kon optree waar sy toesprake meesal met dawerende applous en gesing en gedans beantwoord is, — hierdie gematigde Afrikanerleier word deur feitlik alle Westerse regerings vermy, sleggesê en as persona non grata behandel.
Is daar nog meer bewyse nodig vir ons stelling dat een-en-dieselfde wêreldrewolusieprogram gelyktydig deur die Weste en die sogenaamde kommunistiese wêreld uitgevoer word? Dat daar op die hoogste vlak samewerking bestaan? Hoe anders kan die massiewe oordrag van Westerse rykdom en Westerse tegnologie verklaar word, waardeur die Sowjetunie tot die status van 'n belangrike nywerheids- en militêre mag aangehelp is?
Die doel van hierdie onverklaarde oorlog teen Suid-Afrika is dus 'n omwenteling van dieselfde soort as die wat reeds in Angola, Mosambiek en Rhodesië deurgevoer is. Daaruit kan 'n mens aflei dat die resultaat wat in daardie lande behaal is, voldoen het aan die verwagtings van die maghebbers aan albei kante van die "ystergordyn." Kan 'n mens so blind wees om die samewerking tussen "kapitaliste" en "Kommuniste" in hierdie siniese skaakspel nie raak te sien nie?
Dit is tog orals maar dieselfde: Die Weste, d.w.s. die Verenigde State en Wes-Europa voorsien die geld, die voedsel, die materiaal en die toerusting. Die Sowjets lewer die oorlogsmateriaal; die Oos-Duitsers organiseer die geheime diens; die Noord-Koreaners stuur die instrukteurs; die Israeli’s die tegniese bemanning; die Rooi-Sjinese help waar nodig en die Kubane en Russe stuur soldate waar daar meer geweld benodig word.
Dis nie die kwaliteit van beriggewing nie, maar eenvoudig net die kwantiteit aan disinformasie, wat dit vir die alledaagse mens so moeilik maak — ook hier in Suid-Afrika — om die paar belangrike feite wat bymekaar hoort saam te voeg tot 'n geheelbeeld wat dan alles duidelik maak en verklaar.
Die misleiding van die volkere het in hierdie eeu sulke afmetings aangeneem, dat daar skaars nog iemand is wat nog weet wat hy mag glo of wat nie. In die Oosblok kyk die mense asof gehipnotiseer na die "oorlogstokers" in die Weste aan wie daar duiwelse planne toegeskryf word en by ons in die Weste vertel die politici dieselfde van die Ooste.
Daar steek sin in die verwarring en dit het sy goeie doel, want ons weet mos: "as twee honde veg om 'n been, gaan die derde daarmee heen." Daar word met mening bewapen; die wapenfabrieke in albei dele van die wêreld loop in die hoogste rat. Tussenin word daar op 'n keer ook weer 'n bietjie ontwapen: uitgediende wapens beland op die skrootwerwe en die Pershing-vuurpyle word verwyder net om elders weer opgebou te word. Daarna begin die speletjie weer van voor af. Die laggende derdes is natuurlik die internasionale bankiers wat die wapenindustrieë aan albei kante finansier.
Hoe groot die oorlogsgevaar van die kunsmatig opgeboude kommunistiese imperium vir die Weste werklik is, kan 'n mens soms aflei uit 'n toevallige opmerking van "ingewydes" in 'n oomblik wanneer hulle nie op hulle hoede is nie en die aap uit die mou laat. So word daar vertel dat die eertydse Buitelandse Minister van die VSA, Henry Kissinger, in 'n seldsame gier van diplomatieke vrymoedigheid gesê het: "Die supermoondhede maak nooit oorlog teen mekaar nie; die Europese sosialiste is te dom om dit te verstaan. Die Sowjetunie is daarvoor veels te swak bewapen ...”
'n Merkwaardige aanduiding van die Sowjet se tegnologiese vermoë i.v.m. verdediging en lugafweer het ons gekry deur die destydse vlug van die Duitse jongeling Mathias Rust wat dit sonder enige afleidingsmaneuvers reggekry het om met sy klein sportvliegtuig oor 800 km van "sterk bewaakte" Sowjetgebied te vlieg en op die Rooi Plein in Moskou te land. Die verleentheid wat hierdie voorval meegebring het, kon ook nie uit die wêreld gemaak word deur die onmiddellike ontslag van die verantwoordelike Russiese militêre leier nie.
Die ondersoek na die neerstorting van die Mosambiekse diktator, Samora Machel, se Russiese presidentsvliegtuig oor Suid-Afrikaanse grondgebied het betekenisvolle aanduidings verskaf oor die ongelooflik eenvoudige en verouderde toerusting van 'n Russiese vliegtuig wat darem immers beskikbaar gestel is aan die staatshoof van die land saam met die Russiese bemanning. Waar dit 'n Russiese vlieënier was wat sonder bedenkings die vliegtuig hanteer het, moet mens aanneem dat die vliegtuig die normale "kwaliteit" van Russiese kwaliteit gehad het.
Dieselfde gebrek aan kwaliteit is al vasgestel by vliegtuie wat oor die Westerse gebied neergestort het of deur oorlopers na die Weste geneem is in Amerika, Taiwan, Suid-Korea en ander lande. Hierdie feite word vir die bevolkings van die Weste egter tot 'n groot mate weggesteek om die mite van kommunistiese gelykwaardigheid met die veel verder ontwikkelde tegnologiese en wapenkundige stand van die Weste te bewaar. Die geheime heersers duskant en anderkant die Ystergordyn weet dat die samesmelting van die twee sisteme tot 'n kollekwistiese wêreldstaat slegs dan verkry sal word as die kunsmatig verwekte vyandskapsbeeld tussen Oos en Wes die massas van die wêreld in voldoende mate met onrus vervul, sodat hulle uit vrees vir die dreigende "holocaust" hulle inwilliging vir 'n wêreldregering gee.
Dit beteken nou nie dat die Sowjetunie met die wapensisteme waaroor dit beskik, nie in staat sou wees om die Weste skrikwekkende skade aan te doen nie. Al wat ek wou aandui, is dat die Sowjets nooit van hulle kant af sou aanval of 'n wêreldoorlog aan die gang sit nie omdat hulle — soos Kissinger reeds gesê het — op die einde nie die geringste vooruitsig vir 'n oorwinning oor die veel hoër Weste sou hê nie en dus net hulle eie totale selfvernietiging met ‘n oorlog sou bereik. Hulle atoomwapenarsenaal se enigste doel is vreesaanjaging van die Westerse lande se bevolkings en dit is skrikwekkend genoeg om enige aanvalsavontuur op die Rooi imperium van die internasionale bankiers te verhinder.
Om die Sowjetunie sterk te maak, was dan ook een van punte van die Tweede Wêreldoorlog se oorlogsaanhitsing. Daarvoor moes Duitsland doodbloei en gebuk gaan onder die leuen van skuldigwees waardeur dit gedwing sou word tot 'n ewige plig van boetedoening en skadevergoeding. Maar die hoofskuldiges, die moordenaars van Dresden, Hiroshima, Nagasaki, Katyn, Bromberg ander plekke, die verraaiers van Pearl Harbour en die Wlassow-leër, dié het die klugspel van die Nürnbergse hof voor die wêreld laat afspeel met verkragting van elke reël wat tot dusver vir hofsake gegeld het, hulle was terselfdertyd aanklaers, regters en vonnisvoltrekkers.
Vervolg...