Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus is altyd by jou. Om só 'n Vriend te hê wat so naby jou is, gee jou rede om elke dag met 'n dankbare lag te takel.
WIE SWAAI DIE SEPTER? (5)
Dr Michael J. Hurry
Lees reeks by Wie swaai die septer?
Die groot towerlamp: bioskoop, radio, televisie (1)
Namate 'n kultuur verval, verloor dit sy werklikheidsin en begin dit skuiling nek in verskeie vorms van ontvlugting. 'n Moedverlore, verwarde en opelose volk val terug in 'n wereld van subjektiwiteit en fantasie. Die liberalisme het die fonteine, wat 'n gesonde nasie voed, vergiftig. Lewensdoelgerigtheid van gees hang af van groepsgebondenheid, trots, patriotisme en vertroue. Die liberalisme ondermyn juis hierdie eienskappe en vervang groepsgebondenheid met integrasie; trots met skuldgevoelens; doelgerigtheid met rigtingloosheid; patriotisme met wêreldburgerskap; vertroue met wanhoop. Materialisme en selfbelang vervang godsvrug en gemeenskaplikheid. Die patologiese simptome wat vertoon word is 'n terugtrekking na die fiktiewe, onbetrokkenheid en die drang om die eerllikheid op 'n afstand te hou. Dis hier waar die film- en televisienywerhede hulle rol so meesterlik speel.
Humankind cannot bear very much reality. (Die mensdom kan nie te veel werklikheid verdra nie) sê T S Eliot. Verdieping in verhale was nog altyd vrugbaar en in die verlede was dit 'n waardevolle vorm van ontvlugting. Karakters in romans en dramas het baie mense betower en beïnvloed. Met dié dat die eesgewoonte kwyn, het die films die funksie van romans oorgeneem, dog met twee baie belangrike verskille:
Lees vereis aktiewe deelname van die leser. 'n Roman vereis dat die leser sy gawes van intellek, verbeelding en aanvoeling aanwend om dit wat maar net simbole in ink is te omskep in digterlike werklikheid. Hy moet evalueer en kritiseer sodat 'n ingewikkelde sintese gestalte kry. In vergelyking hiermee is film- en televisiekykers hoofsaaklik passief en reageer allereers op gehoor- en visuele prikkels.
Tweedens, 'n groot roman is 'n skatkis van ondervinding. Dis die neerslag van die wysheid en insig van 'n voortreflike intellek. Dis 'n wyse waarop 'n lewensaspek betekenisvol of beduidend voorgestel kan word. Aldus kan die ondervinding van 'n denkbeeldige karakter lei tot waardevolle ooreenstemming of vergelyking met ons eie werklike lewensomstandighede. Die leser word met ander woorde verryk deur die letterkunde. Groot letterkunde openbaar nie sy volle betekenis by die eerste deurlees nie. Die toets van sy grootheid lê juis daarin dat herlees dit nie afgesaag laat klink nie, maar inderdaad die waarde en genot daarvan verhoog.
Daarteenoor bied die film en televisie 'n verdraaide en minderwaardige beeld van die lewe, gerig op die smaak en begrip van die massa. Dit is grootliks bedoel as plaasvervanger vir deelname. Die kyker kan sonder enige inspanning en geheel en al tweedehands die genot van geweld, seks, sadisme en sport ondervind. Soos by nuusblaaie, sou dit erg genoeg wees as dit al was, maar omdat die film- en beeldradionywerheid in die hande van die internasionale geldskieters en hulle werktuie is, geniet die ondergrawing van die Christelike beskawing absolute voorrang en beoog hulle om dit in 'n mindere, maar veral meerdere mate, subtiel deur hulle programme te bewerkstellig.
Die propaganda-doelwitte van die filmnywerheid kan soos volg saamgevat word:
- Die vernietiging van die Christendom en die afkraak van Christelike geestelike leiers;
- Die vernietiging van die huwelik, van reinheid, vaderlandsliefde, dissipline, wetsgehoorsaamheid — trouens van alle moraliteit.
- Die propageer van veelrassigheid en bloedvermenging.
Een van Blake se kernspreuke was dat iemand wat veralgemeen, 'n idioot is. Ek is dus van plan om dit wat vir sommige na verregaande bewerings mag lyk, te bewys deur die ontleding van werklike films, of deur tegnieke aan te toon wat die bioskoopganger dadelik uit eie ondervinding sal herken.
Die aanval op die Christendom was eers subtiel, slinks en betreklik bedees, maar deesdae is dit onverbloem. Twee films, Mahler en The Old Gun sorteer onder uitgesproke godslasterlikes, terwyl ander soos The Graduate meer geslepe is. Propagandistiese stof, vermom as komedie, soos in laasgenoemde film, is nietemin doeltreffend om af te takel.
The Graduate met Dustin Hoffman in die hoofrol, eindig met 'n huweliksbevestiging waarin Hoffman se nooi voor die altaar staan op die punt om met 'n ander man te trou. Hoffman bars die kerk binne, gryp die bruid voor die altar weg en hardloop in die paadjie af, gevolg deur die gebelgde bruidegom, priester en kerkgangers. Die kerk het glas swaaideure. Toe hy die deur bereik, gryp Hoffman 'n groot koper kruis en swaai dit soos 'n swaard rond. Die kerkgangers deins terug en hy en sy nooi benut die verposing, spring by die deur uit, stamp die glasdeure toe en druk die kruis tussen die handvatsels in. Die film eindig met die kerkgangers vasgevang in die kerk, mokerend teen die deure, terwyl Hoffman en sy meisie in die bus wegry.
Oppervlakkig mag dit baie snaaks voorkom as 'n mens se humorsin in die rigtng lê, maar op die dieper vlak is daar gemene bedoelinge. In die eerste plek word die kruis vertoon as wapen van onderdrukking en vrees wat die huweliksgaste laat terugdeins. Vervolgens is daar die bybedoeling dat mense in 'n kerk vasgekeer word deur hulle godsdiens — die kruis hou die deur toe waarteen hulle slaan om uit te kom. Hierdie toneel gee 'n ironiese kinkel aan Christus se woorde: "Klop en vir julle sal oopgemaak word." Op onderbewuste vlak is die aanslag tog geslaagd en die ingewydes verlustig hulle in die wete van 'n bedekte doelwit.
The Old Gun vertel die verhaal van'n Franse dokter wat weerstandsvegters in sy hospitaal behandel. Uit weerwraak neem die Nazi's sy vrou en klein dogterjie na 'n plattelandse berghut en rig 'n vlamwerper op hulle. Laasgenoemde gebeurtenis word in 'n angswekkende vertraagde tempo vertoon. Die dokter kom op die verkoolde lyke af en vomeer. Hy strompel dan na die kapel en kom af op die afgemaaide lyke van weerstandswerkers wat in grillige houdings op die vloer lê. Twee standbeelde, een van Christus en een van die maagd Maria aanskou die toneel van die slagting. In sy sielenood slaan hy albei beelde van hulle voetstukke af, sodat hulle flenters op die klipvloer val. Die gewaarwording van boosheid wat hierdie toneel wek — 'n sensasie, 'n uitstraling van louter verdorwenheid en van iets oneindig afskuwelik, moet ondervind word. As die teenwoordigheid van satan ooit tasbaar gemaak is, dan is dit in hierdie toneel.
Mahler is 'n verhaal van 'n Joods-Oostenrykse komponis van die laat negentiende en vroeg twintigste eeu wat die held van die film is. Ongeveer 'n kwartier word gewy aan 'n surrealistiese uitbeelding van Mahler se bekering tot die Rooms-Katolisisme, wat, so beduie die film, slegs gedoen is om Mahler in staat te stel om direkteur van die Weense Staatsoperahuis te word. Daar word gewys hoe Mahler starre, granietrotse nader waarop daar 'n reusekruis staan. Hy dra ‘n groot Dawidster in sy arms. Dan fokus die kamera op die kruis, wat eintlik die hef van 'n reuseswaard is. Bo-op die kruis marsjeer 'n stewige en afstootlik- seksuele vrou in paradepas met 'n Nazi-stormtroephelm op die kop en haar lippe blou geverf. Glurend buk sy af na Mahler wat nou teen die rots uitgeklim het en trek hom saam met haar teen die kruis op. Met 'n hamer omskep sy die Dawidster in 'n swaard en wys daarmee na 'n grot in die rotswand, waaruit rook borrel. Mahler neem die swaard en verdwyn in die grot, om 'n rukkie later terug te keer met 'n afgekapte varkkop op die swaard se punt. Met die bebloede kop in sy hand bestyg hy weer die kruis waar hy gedwing word om om die snoet te suig — 'n walgliker en viesliker skouspel kan mens jou nouliks voorstel.
Hierdie films is 'n paar jaar gelede by die Pretoriase filmfees vertoon. Waar was die Suid-Afrikaanse Sensorraad en waarom is geen protes aangeteken nie?
Tegnieke wat ek persoonlik in films gesien het, sluit in die wys van 'n priester wat 'n wedrenkaart invul terwyl hy die Heilige Nagmaal bedien; Martin Luther wat sy grootste godsdienstige inspirasies ervaar, terwyl hy in die toilet is; 'n priester wat 'n kruis oor 'n waansinnige hou en as beloning daarvoor vermoor word en dosyne tonele van verdorwenheid van monnike en nonne, of priesters wat in die geheim vroueliggame bewonder. Priesters word dikwels as onbekwame sotte voorgestel. Voeg hierby die vloedgolf films oor satanisme en die swart kunste en die patroon word duidelik.
The Old Gun is ook 'n standaard voorbeeld van die onophoudelike haatveldtog wat oor die afgelope 35 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog teen Duitsland gevoer word. Dit is maar een in 'n eindelose reeks propaganda-pogings teen "Nazi-gruwels." Die intelligente teaterganger sal homself afvra waarom slegs Gestapo-gruwels op film vertoon word? Loketverkope het daar niks mee te make nie. As mens dan sadisties is en graag na wreedhede kyk, waarom sien 'n mens dan nooit Swart, Russiese, Chinese, Kambodjaanse of Kubaanse gruwels nie? Uit daardie oorde sal daar beslis nie 'n gebrek aan stof wees nie. Teen een dokumentêre film oor Swart wreedhede, Afrika Addio, was daar sterk protes en versoeke vir verbanning, asook venynige, vyandige persresensies. Natuurlik was die produksie dié van 'n klein onafhanklike groep en nie een van die groot filmmaatskappye nie.
Maar in een na die ander film, maand vir maand, jaar na jaar, verskillend net in die graad van slinksheid en afgryse, gaan die meedoenlose haatveldtog voort om anti-Nazifilms uit te ryg. Hierdie soort propaganda is een van die metodes om 'n reuse-skuldkompleks by die Weste te veroorsaak en terselfdertyd alle regse bewegings te kelder. Vaderlandsliefde en volkstrots lei tot fascisme en fascisme tot menseslagting.
Die filmoorlog teen die Westerse Beskawing word gerig teen spesifieke kwesbare teikens wat versigtig gekies en aangewys word. Ons het vlugtig na die aanval op die godsdiens gekyk. Om 'n volk ten gronde te laat gaan moet sy geestelike fondamente vernietig word sodat die weg vir materialisme gebaan is. Stoflike welvaart sonder geestelike waardes of geloof is 'n snelweg na die verderf. As godsdiens die stene is waarmee 'n volk gebou word, is gesinseenheid die sement waarmee dit geheg word. In die veiligheid van 'n gelukkige huisgesin, gebou op Christelike beginsels, ontvang die kind op vroeë en ontvanklike ouderdom 'n morele wêreldbeeld wat later feitlik onuitwisbaar geanker is. Dit is dus nie verbasend dat die huwelik en die gesin hoofteikens van die filmnywerheid is nie. Net soos met anti-Duitse propaganda is die aanvalle afwisselend maar aanhoudend.
Die huwelik is moeilik genoeg op sigself, sonder die vloedgolf films, met huweliksontrou as norm, of wat die opwinding van geheime verhoudings uitbeeld, asook die gekmakende en onderlinge vernietigende invloed van verveling en eentonigheid in die huwelik. Maar dit is 'n eensydige beeld van die huwelik wat die towerlamp projekteer. Films van kunsgehalte soos Cries and Whispers en A Delicate Balance is nog gevaarliker omdat die troebel huweliksverhoudings skitterend weergegee word en dus 'n blywende indruk naak. 'n Mens voel naar en vuil na so 'n vertoning.
Sulke films is gerig op die intellektuele kyker en is betreklik skaars, want propaganda word veral op die massa gerig wat komiese stof en pornografie verkies. Die meeste anti-huwelik-films is goedkoop parodieë waarin die wenslikheid van 'n onskuldige flirtasie en stoutwees en daarmee wegkom vertoon word. Die volgende tree is nou maklik. Tradisionele waardes moet verwerp word sodat jongmense, die toekomstige staatsburgers, 'n filmgerigte benadering tot die lewe kan ontwikkel. Gevolglik ontwikkel ook die nuwe verering vir die anti-held, die tienerrebel, bordeelstandaarde en misdadige sedes.
‘n Film waaroor die tieners rasend was, is Grease met die bleek John Travolta in die hoofrol. Hierdie film se boodskap vir die Westerse jeug is deurgaans duidelik. Die heldin, Olivia Newton-John, is 'n onskuldige, liewe, maagdelike meisie wat verlief raak op 'n verwaande, skewebek-eendstert, dis nou Travolta. Die heldin se preutse houding word as 'n snaakse Viktoriaanse afwyking voorgestel, wat haar van alle lewenspret en sosiale populariteit uitsluit. Travolta se pogings om, terwille van haar, aan skoolsport deel te neem, is slegs 'n werktuig in die hande van die regisseur om sulke bedrywighede bespotlik voor te stel op die trant van Kipling se "muddied oafs and flannelled aols." 'n Flou sub-intrige gaan oor die tienermeisie wat dink sy is swanger. Nie een van haar maats is geskok nie. Hulle is eerder geamuseerd, maar darem simpatiek. Die film bereik sy hoogtepunt wanneer die swangerskap 'n vals alarm blyk te wees en Olivia Newton-John se verandering in die meisie van 'n boef met swaar grimering en spanbroek en al, bereik is. Goed het sleg geword en sleg goed — voorwaar 'n walglike voltooide sirkel.
Die boodskap is duidelik — sedewette is oudmodies en belaglik. Tieners moet wegbreek uit die knellende en outydse stelsel en hulleself uitleef in vrye geslagtelike verkeer en in die subkulture van die boewewêreld. Die danssessies en popliedere waarmee tieners so geredelik identifiseer, maak slegs die gifdosis smaakliker. Weinig nadenke is nodig om te begryp hoe hierdie houding huwelike, wat gegrond is op voorhuwelikse reinheid en wedersydse respek, ondermyn, of wat, op meer wêreldse vlak, gemik is op 'n veilige lewe en permanente verhouding.
Om tradisionele waardes omver te werp, word die volgende tegnieke gewoonlik aangewend. Die polisie en politici word sonder uitsondering as korrup voorgestel. Deesdae is politici byna sonder uitsondering omkoopbaar as gevolg van die beleid om slegs diegene tot magsposisie te bevorder op wie gereken kan word om, gewillig of onwillig, die beleidsrigtings van die internasionaliste uit te voer. Die polisie van die filmwêreld het egter een belangrike eienskap. Die wreedaardige polisieman, die korrupte konstabel wat hand uitsteek na omkoopsgeld, is altyd wit, so ook die boosaardige misdadiger en groot rampokker. Die Negerpolisieman is altyd die held — opreg, wys, vermaaklik en vol deernis. Dit is deesdae amper 'n vereiste dat elke Amerikaanse film tonele van bevooroordeelde rassediskriminasie insluit, maar ook tonele waarin "liberale" verbroedering as navolgingswaardige ideaal gestel word. Om sulke navolging te bevorder, kry die Neger prestige-rolle soos rekenaarswetenskaplikes, dokters, akademici of wysgere.
Maar om na die argument terug te keer: Omkoopbare polisie en politici versterk die gevoel by die gebreinspoelde massas dat gesag onbetroubaar is en betuigings van sedelikheid altyd skynheilig is. Dit, terloops, is die boodskap van die boek soos Salinger se Catcher in the Rye, waar almal, behalwe die hoofkarakter en sy suster, skynheilig is.
In die vroeë dae van die filmwese is 'n morele kode neergelê deur 'n sensuurraad om te verseker dat die slagspreuk ''misdaad betaal nie" die grondslag van die misdaadfilms was. Die film se einde het die dood, gevangeneming of verydeling van die misdadiger getoon. Hierdie proses is egter stadig afgetakel, eers deur die skurk glansend en aantreklik uit te beeld, sodat die gewone einde waar geregtigheid seevier, onregverdig lyk, daarna deur onbesliste en dubbelsinnige eindes en nou deur die oorwinning van die bose. In die film, Halloween, was die waansinnige moordenaar onvernietigbaar. Koeëls word in sy harspan gepomp, maar na 'n aanvanklike neerslaan op die grond verdwyn die liggaam en bly net die klere agter.
'n Geliefkoosde truuk is om 'n beroemde of gewilde akteur 'n propaganda-rol te laat vertolk. Die glans van sy persoonlikheid omgewe die saak, wat die internasionaliste graag wil bevorder, met 'n gloed van deernis. Sulke akteurs speel gewoonlik die rol van onbevreesde vegters teen die Nazi's.
Die kultus van die anti-held bied 'n fassinerende navorsingsgebied. Die Angele Saksiese prototipe — blonde hare, blou oë, sterk ken, vinnige vuis en ywerigheid om onreg te herstel — het net soos die ridder en sy ridderlikheid in die vergetelheid geraak. Ek betreur sy heengaan, al was hy vatbaar vir satire. In sy plek is daar 'n ongeskeerde, skelmoog vreemdeling, vuilbekkig en slinks. Dink aan die "cowboy"-held van die Wilde Weste-rolprente van die dertiger- en veertiger-jare, die Gene Autry-tipe. Daar was nooit enige twyfel oor wie die held en wie die skurk was nie. Kleredrag was op sigself 'n aanvaarde sleutel tot sedelike karakter. As hierdie films gerig was op 'n gemiddelde verstand-ouderdom van sewe, dan ook hulle moderne eweknie waar die held 'n wynsuipende psigopaat is. Moderne Wilde Weste-films beklemtoon die moed en integriteit van die Rooihuid en verswelg in berou oor die aftakeling van sy land deur die verraderlike Witman. Dit is net so 'n groot afwyking van die waarheid as die oorvereenvoudiging van die Gene Autry-era, maar oneindig skadeliker vir die wit psige.
Die held van die ou soort leef slegs voort in die strokiesprente van die Supermanverskeidenheid waar die onmoontlikheid van die situasie 'n ontkenning van heldemoed in die werklike lewe is.
Die opgang van die anti-held op gesofistikeerde vlakke is ooreenstemmend slinkser.
Agterna beskou, lyk dit vir my of die proses doelbewus op tou gesit is, beginnende in die vroeë vyftiger-jare met die eerste kultusfilms met die eerste twee kultushelde, James Dean en Elvis Presley. Tieners het saamgedrom om in hierdie twee jong manne die beliggaming te sien van alles wat hulle ouers afgekeur het. Die glansrebel is gebore en die generasiegaping het verdiep tot 'n afgrond. Die volgende oorgangstadium was die frokkie-en-kleeftrui-geklede homp manlikheid wat onsamehangende liederlikhede brom, soos veral verpersoonlik deur Marlon Brando; of die verheerliking van die vragmotorbestuurder in 'n skitterende film soos The Wages of Fear. Van 'n manlike rebel tot die sosiale verworpene was 'n kort treetjie en die rampokker anti-held van The Godfather-tipe bestaan nou saam met die homoseksuele persoon wat as of 'n onbeskaafde intellektuele mens of 'n ongelukkige wanaangepaste persoon met 'n hart van goud. Die heldin is al hoe gereelder 'n "happy hooker" (vrolike prostituut).
Die filmbedryf is uiters geskik vir propagandadoeleindes, want die kamera-tegniek het 'n geweldige potensiaal vir sintese, deur die emosie en karakters van persone deur opeenvolgende beelde te suggereer. T S Eliot se "heap of broken images" of "objective correlative" konsepte is besonder geldig in die filmwêreld. Die film steun op hierdie tegnieke, want ontleding van die menslike gemoed, wat moontlik is in romans en selfs in 'n mate in alleensprake in dramas soos Hamlet, is moeilik om toe te pas in 'n realistiese aanskouingsmedium. So, byvoorbeeld, het 'n film van Hamlet begin met opnames van die see wat aanswiep teen die mure van Elsinor, afgeneem van bo af met 'n uitsig na onder. Dit het Hamlet se "sea of troubles" doeltreffend voorgestel, maar die film was nie in staat om Hamlet se gemoedsdilemma uit te beeld nie, naamlik "to take arms against it".
Films maak staat op visuele tegnieke — 'n betraande wang, 'n doodskis, 'n landskap, diere (veral voëls), reën, blomme, ens om emosies te simboliseer. Eensaamheid word geskep deur 'n lang afstand, afwaartse opname van 'n smal vertikale figuur, wat verdwerg word deur horisontale ruimte; aggressie deur vlak, opwaartse opnames en afsku deur vertraagde tempo. Hierdie visuele tegnieke word aangevul deur agtergrondmusiek, viole vir sentiment, tromslae vir spanning, skrille elektroniese aksente vir vrees. In die hande van swak regisseurs is die tegnieke goedkoop, maar in die hande van die meesterlike propagandis is hulle trefkrag dodelik, want die deursnit bioskoopganger ondervind gistende emosies, sonder om te besef hoe dit bewerkstelling is of waarom sy houding teenoor een hoofspeler so sterk positief is en so negatief teenoor 'n ander. Opeenvolgende beelde en geluide het op die vlak van die onderbewussyn geregistreer en sodoende word die kyker onbewus gekondisioneer.
Geskrewe propaganda kan ontleed word. As die tegniek van emosionele skrywery verstaan word, verloor dit inderdaad alle trefkrag en wek verset. 'n Mens kan bedrewe welsprekendheid weerstaan, want mondelinge woordespel is nou verwant aan geskrewe truuks en die vals note is herkenbaar. Filmpropaganda is moeiliker om te weerstaan, omdat beelde onwillekeurige verbande optower wat nie die gevolg van openlike en uitgesproke bewerings is nie. Die donker ouditorium met net een ligkol het 'n hipnotiese uitwerking wat die kyker makliker by die gekleurde en bewegende skadu's voor hom betrek. So kan die gifdosisse dan aan die niksvermoedende slagoffers toegedien word.
Vervolg...