Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God sal nooit iemand dwing om iets vir Hom te doen nie. Diens aan Hom is 'n daad van volmaakte vryheid. En wanneer jy die HERE dien, vinr jy daarin 'n bron van lewe, 'n sleutel tot die fees van die lewe.
DIE BEDREIGING VAN ISLAM
Ds AE van den Berg
"Europa is na aan haar einde. Sy is soos ’n afgesnyde roos waarvan die skoonheid net ’n rukkie hou... Veiligheidskenners bereken dat 5% van die 18 miljoen Moslems wat in Europa woon Islamitiese terroriste ondersteun of met hulle medelye het. Dit beteken dat daar minstens 75,000 potensiële terroriste binne Europese grense woon."
Rigt. 2:6-12
Die Westerse wêreld staan voor een van sy grootste bedreiging – radikale Islam. Ons hoor elke dag nuusberigte van geweld en doodslag aan die hand van radikale Islamiete. Dink maar aan 11 September 2001 toe Islamiete twee wolkekrabbers in Amerika in puin gelê en 3000 mense die lewe gelaat het. In Pakistan, Irak en Sirië is duisende mense al deur radikale Islamiete gedood. So ook in Afrika waar Christenkerke toenemend deur Moslems aangeval word.
Die wêreld het ’n nood aan ’n Bybelse herlewing en geestelike vernuwing. Want net die Christendom kan radikale Islam vernietig. En met Christendom word ware Bybelse Christendom bedoel en nie die karikature wat charismate en ander dwaalgeeste opdis nie.
Hoe het dit gebeur dat Islam, wat al meer as 1500 jaar oud is, na al die jare nou ’n bedreiging vir wêreldvrede geword het? Dit het hoofsaaklik in Europa begin. Toe Europa die Christendom jare gelede verwerp het, het sy geestelike selfmoord gepleeg. Europa het Humanisme omhels en Islamitiese immigrasie aangemoedig. Deur ondertrouery en die bou van moskees en Islamitiese skole, het sy die deur vir nuwe heersers oopgemaak. Die verval in Christendom in Europa is katastrofies!
Die geskiedenis is besig om homself te herhaal. Gedurende die 15de en 16de eeu het Europa iets soortgelyks ervaar toe dit onder ’n oplewing van heidendom en die uitbreiding van Islam gebuk gegaan het. Dit het haar geloof en vryheid baie ernstig bedreig. Ongelukkig leer Europa nie uit haar geskiedenis nie. Sy maak weer ’n fout!
Ateïsme, Humanisme en die heidendom het Europa moreel, geestelik en eties broos gemaak vir ’n Islamitiese oorname. In Rigt.2:10 lees ons: “En toe ook daardie hele geslag by hul vaders versamel is, staan daar ’n ander geslag na hulle op wat die Here en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie” Wat in Israel gebeur het, het ook later in Europa en elders gebeur omdat mense nie meer met God rekening gehou het nie.
Dieselfde het in Suid-Afrika gebeur - ons sit met ’n geslag wat die genot van aanbidding verwerp het en dit met die aanbidding van genot vervang het!
Europa het ’n nuwe geslag wat van rotsvaste sekerhede van Bybelse Christendom wegbeweeg het en in die sand van ewolusionisme, relatiewe waarhede, duiwelskunste en sinnelike genot vasgeval het. Hulle het soos Esau hul eersgeboortereg vir bog verkoop.
Europa is na aan haar einde. Sy is soos ’n afgesnyde roos waarvan die skoonheid net ’n rukkie hou. Daarna val die blare af en bly daar net dorings oor
omdat dit van die bron van die roosstok verwyder is. Ons vind die gedagte in Joh.15 waar Jesus sê dat ’n loot wat nie in die wingerdstok bly nie, verdroog.
Europa het willens en wetens uit hierdie wynstok geklim en ontbeer nou God se seën, vryheid en voorspoed. Die nuwe geslag van Europa het God vergeet. Van hulle is Paulus se woorde aan die Romeine waar: “omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hulle oorlegginge en hul onverstandige hart is verduister ….hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen… ” (Rom.1:21,25).
Europa het God se seëninge as vanselfsprekend aanvaar en sy heilige Woord veronagsaam. Die Bybel was eeue lank die grondslag en fontein van al hul vryhede, voorspoed en seëninge. Toe sy daarvan ontslae raak, was die dood in die pot. Deur haar babas te aborteer, het sy haar toekoms ondergrawe. Deur haar skole te verwêrelds het sy haar jeug geskaad en deur haar bevolking te verheiden, het sy haar eie bloed verraai en stadig begin selfmoord pleeg.
Islamiete wil Europa hê. In 1945 was daar bv. slegs100,000 Moslems in Frankryk. Vandag is daar 6 miljoen (60 keer meer). Alhoewel die Moslems slegs 10% van die bevolking is, verteenwoordig hulle 70% van Frankryk se gevangenis-bevolking. In Frankryk is 95% van alle veroordeelde verkragters Moslems. So ook 85% van die veroordeelde moordenaars en 58% van veroordeelde diewe!
In België is 10% en in Holland is 15% van die bevolking Moslems. In België is 50% van alle geboortes Moslems. Brittanje het 30 jaar gelede slegs 82,000 Moslems gehad. Daar is tans meer as 2 miljoen (25 keer meer) en hulle stroom steeds in! Daar is meer as 1,000 moskees in Brittanje en soveel as 25,000 ondersteuners van die Al-Qaeda terroriste-beweging!
Denemarke sit met ’n probleem. Al is slegs 4% van die bevolking Moslems, ontvang hulle bykans 40% van die maatskaplike toelaes. Italië sit met net so ’n kopseer – 95% van haar veroordeelde verkragters en 85% van die moordenaars is Moslems!
Let daarop dat van die 48 Islamitiese lande ter wêreld 46 diktature is. Die regering van Saudi Arabië het onlangs genoeg geld bewillig om nog 1,500 moskees, 210 Islamitiese opleidingsentrums en 2,000 Moslemskole in die buiteland op te rig - hoofsaaklik in Europa.
Veiligheidskenners bereken dat 5% van die 18 miljoen Moslems wat in Europa woon Islamitiese terroriste ondersteun of met hulle medelye het. Dit beteken dat daar minstens 75,000 potensiële terroriste binne Europese grense woon. Geen wonder dat die September 2001 terreur vanuit Hamburg (Duitsland) georganiseer is nie!
Europa is besig om weens ’n gebrek aan kinders te sterf. Europeërs het gemiddeld 1,5 kinders per vrou. Die Moslems in Europa het gemiddeld ses kinders per vrou!
Europa maak reuse foute. Deur haar Christelike erfenis te verlaat, haar ongebore babas te aborteer, sinnelike genot te soek en sedeloos te leef, maak hulle die deur vir Islamitiese beheer wawyd oop. Suid-Afrika sit met ’n soortgelyke probleem. Islamiete verkry al hoe meer beheer oor landsake. Die Westerse wêreld is in ’n oorlog gewikkel.
Wat is die oplossing? In oorlogvoering moet jy drie dinge weet. Eerstens wie die vyand is. Tweedens watter wapens om te gebruik en derdens moet jy ’n duidelike oorlogsplan hê. As gelowiges moet ons God se vyande ontmasker nl. Humanisme en Islam. Ons moet die wapens gebruik wat God tot ons beskikking gestel het nl. Bybelse onderrig, Evangelisasie en gebed. Derdens moet ons godvresende gesinne kweek.
Ons moet egter teen twee uiterstes waak – mense wat weier om die probleem raak te sien en glo dat daar geen probleem is nie. So ook teen diegene wie sê dat daar geen hoop is nie.
Ons moet die probleem erken en dit eerlik en nugter benader. Kerke moet wakker geskud word. Baie van hulle is of vas aan die slaap of so deur dwaalleer verswak, dat hulle geen weerstand kan bied nie. Die mensdom stroom na die hel en daar word weinig evangelisasie of sendingwerk gedoen!
Christene word nie opgeroep om te oorleef nie, maar om te oorwin. Ons durf nie hier aan die einde staan en luier nie, maar spoed vermeerder. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom.8:37).
Om vir Jesus iets te beteken, moet vier dinge oorwin:
- Eerstens moet ons vrees oorwin. “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim.1:7).
- Die tweede ding wat ons moet oorwin, is lafhartigheid: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efes.6:10,11).
- Derdens moet ons onkunde oorwin: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp…” (Hos.6:4).
- Laastens moet ons ongeloof oorwin: “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Joh.5:4).
Die wêreld het nog nooit so ’n nood aan Bybelse hervorming gehad soos nou nie. Ons geloof, ons vryheid en ons ganse gesinslewe is op die spel! “want die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is….” (2 Kron.16:9).
Ons het die geloof, oortuiging en moed van ’n Luther van ouds nodig. Toe hy gedagvaar is om voor die kerklui Europa te verskyn, het hy gesê: “Die Woord van God bind my gewete. Ek staan hier omdat ek nie anders kan nie. So help my God!” Ons het die waagmoed van Ulrich Zwingli nodig wat gesê het: “Julle kan my liggaam doodmaak, maar nie my siel nie!” Calvyn het weer gesê: “Ek staan oortuig in die diens van my God”.
Ons moenie nalaat om ons lig ook vir die vyande van Christus te laat skyn nie. Dawid was ’n veroweraar omdat hy Goliat verslaan het. Jesus was meer as oorwinnaar omdat Hy van Saulus, die vervolger van die kerk, ’n Paulus, die groot apostel ooit, gemaak het. Jesus roep elke gelowige op om meer as oorwinnaar te wees. Moslems moet geëvangeliseer word. Paulus gee vir ons die rede: “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van dié wat in die hemel en dié wat op die aarde en die wat onder die aarde is en elke tong sou bely dat Jesus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil.2:10,11).
Die profeet Habakuk sê “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Hab.2:14).
Laat ons aan die waarheid van die Bybel vashou, God alleen vrees en Hom met ons hele hart, siel en verstand liefhê. Bid saam met my vir herlewing sodat ons meer as oorwinnaars in die stryd kan wees!