Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liewe Here, waarom sukkel ek so om lief te hê? Ek kry dit reg om fatsoenlik, beskaafd en medemenslik te wees, die wet te gehoorsaam, geen verkeerde dade te doen nie. Maar om met liefde en omgee na my medemense uit te reik, dáár Here, is ek in die skuld met opofferende liefde! Leer my asb hoe om lief te hê!?
DIE WIT HORISON (16)
EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE
DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961
Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het
Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960
Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan twee nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:
Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - Oorlede
Theo van Wyk – Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede
Dans van die Suiderligte - Berge toe -Trek van die Voëls (2)
Om twaalfuur het ons 46 kilometer van die basis af die eerste Wilson-stormvoël van ná die winter gesien. Hy het sowat dertig voet hoog gevlieg en kort-kort soos ’n swaeltjie wat insekte vang, geduik. Hy was op pad na die rotse om daar ’n maat te ontmoet en op die louwarm klippe te broei.
Na ’n paar kilometer het ’n vaal skadumis om ons toegesak. Die skip en die konka en al die ander rotspunte het verdwyn. Net die platorand het as bakermat van lig bo die vaal dynserigheid uitgesteek. Ons het gevolglik reg daarop afgestuur. Ons kon nog nie van die kompas gebruik maak nie, want hy het sy rigting na willekeur aangewys en wou nie saamspeel nie. Selfs die handkompas wat Hannes gebruik het, was wispelturig. Na ons terugkeer by die basis het ons uitgevind dat Vic se magnetogram geweldige magnetiese storms gedurende ons tog aangeteken het.
Op 56 kilometer-afstand het twee Antarktiese stormvoëls laag oor die oppervlakte ons van agter verbygesteek en in ’n reguit lyn na die platorand gevlieg. In teenstelling met die alleenloper Wilson- stormvoël tref jy hulle in pare aan. Hulle was op pad na die berge om daar te broei en was swarter op die rug en op die vlerke as toe ons hulle soort laas op die see gesien het. Dit het gelyk of hulle maklik voor donker die warmgebakte rotse sou haal. Gelukkige duiwels! Hulle had geen ysskeure om hulle oor te bekommer nie.
Die berge wat eers so bereikbaar gelyk het, het hul afstand vir ons bewaar. Dit het ons finaal laat besluit om op die voorgenome 65-kilometermerk die voorraadplek te stapel en nie by die berge soos ons op een tydstip gemeen het nie. Nuwe bergspitse het agter die rant na die weste opgeduik, die twee hoogstes waarvan ons gemeen het Boreas en Passat moet wees. Op hul kruine het lede van die Maudheim-ekspedisie van 1949-1952 gruis gevind met alge en lichene daaraan. Op die alge en lichene het luise en myt geteer. Hulle is die enigste inheemse lewe op Antarktika.
Ons het stilgehou en die voorraadplek gevestig op nagenoeg 71 grade suid en op die meridiaan. Op die stapel het ons langsaan die Unievlag die SANAE-vlag wat die vorige nag soos uilvlerke op die dak van die kaboes geflapper het, staan gemaak. Hierdie voorrade sou Hannes en Vic, wanneer hulle later in die maand op ’n uitgebreide sleetog na die berge kom, in staat stel om tot hier te reis. Hier kan hulle dan van tyd tot tyd hul kos en brandstofvoorrade aanvul, en wat oorbly kon dieselfde doel dien vir ’n latere ekspedisie.
Die wind wat die hele dag teen 20 knope gewaai het, het nou sterker geword. Ek het gou die brandstoftenk van die trekker volgemaak. Hy sou weer deur die nag moes luier om te verseker dat ons die volgende oggend ’n lewendige trekker sou he. Vir die nagenoeg 40 myl en die vorige nag se deurwerk het hy 34 gelling lampolie verbruik. Terwyl Hannes nog sistematiese waarnemings gemaak het, het ek as snoepery vir elkeen ’n stuk beeshaas gaargemaak. Nic het dit as afskeidsgeskenk gaan afsaag en in my rugsak geprop. Kort na aandete het ons in ons slaapsakke gekruip.
Die terugtog het om tienuur die volgende oggend begin. Die wind het teen 35 knope gewaai en ’n sneeuwolk oor die oppervlakte gejaag. Die opsporing van die vorige dag se trekkerspore was baie moeilik. Met so ’n belemmerde sigbaarheid op die oppervlakte was dit onmoontlik om die graad van die helling waarteen jy ry, te skat. Skielik het die kaboes besonder stamperig geword en toe gewaar ek dat ek regs verby die trekker skiet. Hannes het verontwaardig gekyk waarom ek hom so haastig verbysteek en toe vir my gewaai. Tot in die vlei het ek in my kaboes en hy op sy trekker langs mekaar gery. Toe het ek snelheid verloor en die trekker het my weer met ’n geweldige ruk en ’n amperse rondom-draai agter hom aangepluk, net omtrent toe ons oor die yskrake van twee dae tevore is.
Op die gelykte kon ons die oppervlakte beter sien. Twaalf Antarktiese stormvoels het sowat dertig voet hoog in ’n suidelike rigting gevlieg, en kort daarna weer twee swerms van ongeveer tweehonderd elk en toe kleiner troppies van dertig tot vyftig. Toe het die oppervlakte weer besonder dof geword. Swerms stormvoels is ons van vooraf verby, maar nou het hulle laag oor die sneeu gegly en dit het gelyk asof hulle met tye net rakelings die sastrugi vermy. Hierdie wisseling in hoogte van vlug namate daar jagsneeu is of nie, het die indruk geskep dat ook hulle hul rigting aflei van die rigting van die sastrugi wanneer daar nie ysrante en kruine in sig is nie.
Veertien kilometer van die basis af het ons vir die eerste keer weer die punt van die toring gesien. Ons was bly oor die vooruitsig van ’n sagte bed en los komberse, waar almal snork en jy nie saans jou met klere en al in ’n dwangbaadjie moet inwurg nie. Om half- sewe was ons tuis.
Na vergelyking van tye waarop ek en George die voëls gesien het, het dit geblyk dat al die swerms wat ons op pad gesien het, dieselfde was wat George uit die noorde oor die basis sien trek het. Dit was opvallend dat hulle elke keer ’n paar keer om die weertoring gemaal het voordat hulle suidwaarts gepeil het. Die toring dien dus ook vir hulle as ’n rigtingsbaken.
Tot ons verbasing het Dick en Vic vroeg die volgende middag, ’n paar dae voor die beplande tyd, opgedaag. Ons het hulle gaan help afpak en die goed in die molsgat laat afsak. Terwyl hulle twee geëet het, het Dick op baie realistiese manier met handgebare, geblaf, geklap en gevee van die hande die reaksies van die honde beskrywe. Op een afdraand het Jonas onder die slee beland. Toe die slee oor hom gegly het, het hy onbeseerd met sy voorpote voor horn gelê en vee asof hy die slee wou wegvee. Toe hulle by die eerste ysskeur gekom het en hul pote ’n konkaklank uitgelok het, het die hele span in hulle spore verstar. Tiirr het sy eerste poot wat op die konka te lande gekom het in die lug laat bly hang. Toe Dick hulle oorlei terwyl Vic die slee stoot, het hulle tydsaam en sag hul pote op die ysdak neergesit. Tiirr het die oortog drievoetjie-vir-drievoetjie gewaag. Wanneer hulle daarna by ’n yskraak gekom het, het Buster eenvoudig langs die kraak afgeswenk asof dit ’n sleespoor was, en dit gevolg tot waar dit verdwyn voordat hy weer bevele gehoorsaam het.
Dick was hees geskree agter die honde. Hy het sy eie Hollands-Engelse basterterme vir aansporing en bevele ontwerp, aangesien hulle nie na die gewone terme uit ’n nuwe keel wou luister nie. “Come on, boys!” en “Trek, you vreksels!” Hierdie ekshortasies het vuur in hul bloed geblaas.
Vervolg...