Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons herdenk die Slag van Bloedrivier as 'n groot daad van God in ons geskiedenis, 'n daad wat ons nie mag vergeet nie en aan óns opkomende geslagte moet oordra. Daarby gedenk ons dit as 'n groot daad in die geskiedenis van die Kerk van die HERE in ons land en oor die hele wêreld.
DIE WIT HORISON (8)
EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE
DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961
Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het
Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960
Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan drie nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:
Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - op 27/02/2017 oorlede
Theo van Wyk – Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede
Die leser sal met verdrag ook lees van ander Suid-Afrikaners wat slegs as waarnemers die volle reis meegemaak het asook van 'n hele aantal Noorweërs teenwoordig.
WIT MAANHARE - AANKOMS
Twee keer het die voorstewe met ’n harde slag teen ysblokke gestamp, vir ’n oomblik het die boot op sy agterpote gestaan soos ’n perd wat voor ’n versperring deins, wild gekantel om sy balans te herwin, en tussen die gebarste ysblokke neergeplons.
Die kleiner stukke het hy onder die grotes laat induik of bo-oor geskuiwe. Die wakkerskud het jou net vir ’n oomblik laat luister of die ys weer teen die ysterplate klap. Wanneer jy dit en die gedreun van die motore hoor, het jy geweet jy hoef nie op te staan om ysblokke te gaan wegstoot nie. Met ’n gevoel van tevredenheid en selfvoldoening het jy omgedraai en die komberse stywer om die nek getrek om die sluimering van die slaap nie te verloor nie.
Hoe lank ek geslaap het, weet ek nie. Toe ek in die verdwalende donker van die kajuit wakker skrik, het ek dofweg die dreuning van die motore gehoor, maar geen ysgeklap teen die voorstewe nie. Vir ’n oomblik het ek gedink dat dit maar weer tyd was om ys te gaan wegstoot. Ek het gehoop dat daar al genoeg buite op die ysplaat was om dit te doen.
John Venables het opgewonde die kajuit binnegestorm. Toe hy die lig aanskakel, het sy gesig nuuswaardig geskitter en kon ek sien dat dit oor iets besonders was.
"Dis oop see net waar jy kyk. Dis net te ongelooflik!” het hy gesê.
Hy was verheug oor die aanvang van ’n nuwe strekking in sy nuusberigte. Toe het ek fyner geluister. Die water het gesuis soos die boeg daardeur speel. Ek het my na die voordek gehaas.
Die golwende oseaan het weer eens om ons gestrek. Wit maanhare het langs die boeg gestaan. Die seebries het prikkelend in my neus opgestu. Die skroef het lustig vleismeul gespeel en agter aan albei kante ’n golf uitgemaal tot wie weet waar. Na die wekelange gevoel asof jy op ’n skotskar oor klippe deur ’n wit Karoo stamp, was jy weer eens bewus dat jy op ’n boot staan wat werklik water kon klowe.
Dit was ongelooflik na die wekelange stroewe gesukkel deur die ys. Ek het gedink aan die koddige ysfiguurtjies wat by Bouvet- eiland op die water gewieg het. Aan die pieringys en die groot blokke wat in al hoe groter stukke saamgesweis het hoe verder ons gekom het, totdat hulle een aanmekaar plaat gemaak het, en die neus van die boot wat die wit veld omgedolwe het soos ’n ploegskaar sooie op ’n saailand. Daarna die homperige heuwelrigheid waarvan die son die skaduwees verander het, en waar die dag en nag in mekaar gesmelt en ’n ryke kleurtoneel afgespeel het. Ek het gedink aan die gesoek na waterbane en die welkome vonds van ’n poeletjie water waar die pikkewyn soos ’n swart gans op die water geseil en waar die wasem van die jagwalvis se stink asem hoog in die lug opgestoom het.
Dit alles was so ’n nuwe ervaring dat jy lank daarvan wou geniet. Maar toe jy versadig was, het jy die drang gewaar om die oop waters te sien, jou vaart te versnel en jou bestemming te bereik.
Dit was bykans ongelooflik.
Uiteindelik was ons in die tien myl bree kusstrook water wat deur die landwind oopgestoot word. Ons was in die oostelike strook, wat weswaarts skiet na die Weddellsee, wat kort anderkant wes begin en strek tot waar Grahamland ver wes uitboog.
Gemengde gevoelens het hulle van ons meester gemaak. Ek was bly oor die vooruitsig van die aanvang van ’n nuwe fase en die verwerkliking van die ondememing. Daar was ook rede om jammer te wees, jammer oor die naderende afskeid van vriendelike, hulpvaardige en waardige waarnemers wat ons vergesel het, en nadat hulle ons gehelp het om voorrade af te laai en te karwei, weer moes terugdraai.
Daar was Kosie met sy ronde gesig en kaalkop en sy altyd seevierende glimlag en gevatte opsomming van netelige situasies. Chappie met sy swart pet hoog op sy voorkop teruggestoot wanneer hy uit sy herinneringe opdiep en vertel van die aangename swaarkrydae as vlieënier in sy eskader. Lorrie met sy wipneuslaggie en onomwonde uittrap van iemand wanneer hy meen dat die persoon horn anders behandel het as wat hy verdien het. Die pligsgetroue Klei, wat weer sy "wecht” sal terugkry wanneer Chris op die ysland atgergelaat is, en wat reeds op jeugdige leeftyd sy weg in die lewe so vol vertroue en met sekerheid gevind het. Jannie se sonnige glimlag en stralende oë wanneer hy beskeie vertel van sy fotografiese prestasies. Die kommandeur met sy vaderlike lewenswysheid en glasie in die hand. Die admiraal met sy "Hi, you chaps”-benadering en sy ondervinding met twee pikkewyne op die Antarktiese ysvelde.
Daar was Gawie, eerlik en opreg, ’n man wat jy kon vertrou. Altyd gewillig en gretig om te doen en te help en na jou stories te luister asof hulle werklik belangrik is. John van die pers, dikwels ontstoke wanneer sy "scoop” sy trefferwaarde verloor het omdat die radiosender oorlaai was of die atmosferiese steurings betydse versending verongeluk het.
Hulle was geen grootmenere of leeglêers, grootpraters of lyfwegstekers nie. Hulle grootsheid het geen plek vir kleinlikheid gelaat nie. Die herinneringe aan hulle sal vir ons geselskap bly.
Naby aan stuurboord het ’n hele broeisel eenderse ysberge gelê, en so ’n bietjie eenkant die moeder van die klomp, maklik twee myl lank. Dit het gelyk soos ’n eend wat haar ses-en-twintig kleintjies vir hul eerste swemles neem. Almal nuwe tafelberge, waarvan twee ’n afgesaagde poot gehad het en aan die kantel was om aanstons speel-speel bolmakiesie te slaan. Ver weg op die noordelike horison het die rand van die pakys ’n blink streep oor die blou water getrek.
’n Entjie voor ons was die laaste smal strokie ys om deur te beur. ’n Mens sal hierdie versperring mis. Die spoed neem skielik af. Versigtig nader die boot, ’n ligte stampie, ’n gerammel van ys, die boot waggel effens, en die kaptein trap weer die versneller weg. Dit was die laaste onegalige gang van die Polarbjorn op sy vaart na Suidpoolland.
’n Keiserpikkewyn het agter die naaste homp uit verskyn en vriendelik-aarselend sy stompievlerke geklap. Toe net weer die sagte streling van die water teen die voorstewe. Die son het so helderwarm soos nooit tevore nie geskyn. Die temperatuur was maar minus 1.7 grade. Aan die suidekant het die glimmende ysbankfront, soos ’n ringmuur om die vesting van die Suidpool, waterpas uit die skoon donkerblou water opgeduik. Langs die ysmuur het ons ooswaarts aangehou, skuins teen die suidoostewind, wat met sy vier-en-twintig knope teen ons gewaai het. Dit was fris soos ’n Karooplaas se oggendlug.
Jy het die nuwe gesig waarna jy so lank uitgesien het, betrag en bewonder, nie dat hy afwisselend was nie, maar omdat hy iets nuuts was. Die grootste afwisseling was in jou gemoedstemming. Die een oomblik was jy ingenome met die toneel, dan eensklaps was dit asof iets jou beklem en jou onseker maak oor wat voorlê. Twaalf maande lank sal ons tien op die sneeuvelde saamboer, elkeen elke dag met dieselfde nege. Tussen ons mag dit eensaam word. Die eensaamheid sal bekoring en nuwe waardes moet ontwikkel.
Twee ysinhamme het ver oos verskyn. Die kaptein het vir die verste een, Polarsirkelbukta, gemik. Die ysveld het daar skuins na die waterkant gesak om die aflaaiery maklik te maak.
Ons het mense en ’n trekker op die sneeu sien staan. Dit was die Nore, van wie party al drie jaar by die basis was, en wat later vertel het dat hulle graag langer sou wou bly. Intussen het nog ’n rooi voertuig oor die bult aangestorm gekom dat die sneeu so staan, en langs die ander stilgehou.
Lustig skel die trompettoeters van die twee voertuie, en nog lustiger antwoord die fluit van die robbeboot, wat nou soos ’n grootmeneer deur die water hardloop asof hy nog nooit in sy lewe in ys vasgesit het nie.
Ons was bly en opgewonde en die kaptein was ingenome, want nou sou hy sy manne betyds vir die robbeseisoen by Newfoundland kon bring. Ons het gewaai en geskree en hulle ook, hoewel ons mekaar se stemme bo die geskal van die trompette en geblaas van die bootfluit nie kon hoor nie.
Die arms van die inham het die wind vasgevat en die water was spieelglad en die lug bewegingloos blou. Die sonlig het skoon op die wit satyn gelê. Alles stil in afwagting.
Die boot het sy neus versigtig teen die ysmuur gestamp en geskuur en ’n oorhangende stuk ys die water laat intuimel om vaster en veiliger aflaaiplek vir die nuwe trekker en die duisende kiste en brandstofkonkas te maak.
Dit was tien minute voor twee die middag, Vrydag, 8 Januarie 1960, ses-en-dertig dae ná ons afskeid van die gawe mense op die Kaapse kaai. Die boot het sy kant teen die ys ingevroetel, en ’n leer is oorgelaat. Die ysvlak was gelyk met die boonste rand van die voordek, sodat die leer as gelyke voetpad gedien het om "aan sneeu” te stap. Magnar was eerste daar. Ander matrose het gevolg om die boot vas te meer. Agt Nore en een poolhond het stil op die ys gestaan.
Daar was geen uitbundige verwelkoming nie. Sonder om hul landgenote te groet, het hulle gehelp om die kabels styf te trek en aan ’n draadlus wat om twee versonke brandstofkonkas, wat betonhard onder die oppervlakte vasgeys was, vas te maak. Toe eers het een van hulle Magnar se hand geskud.
Dit was so anders as die gesellige en rumoerige kaai van die Kaap. Toe die gedreun van die motore ophou, was die stilte oorweldigend. Kosie hier langs my het met gedempte stem gesê: "Ja, hier is ons.”
Meer kon hy op dié oomblik nie sê nie.
Vervolg...