Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"...my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense." – Prediker 12:12-13
DIE WIT HORISON (3)
EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE
DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961
Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het
Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960
Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan vier nog leef en al vier tans (2017) in hul tagtigerjare is:
Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur (Tans woonagtig Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige (Tans woonagtig in die Kaap)
Theo van Wyk – Weerkundige (Tans woonagtig in Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes,Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede
Die leser sal met verdrag ook lees van ander Suid-Afrikaners wat slegs as waarnemers die volle reis meegemaak het asook van 'n hele aantal Noorweërs teenwoordig.
EERSTE ROBBE EN DIE ADMIRAAL SE PIKKEWYN
Die middag om drie-uur, ná die begrafnis, was daar groot opgewondenheid. Ons was op 58.3 grade suid en 1.0 graad wes, toe Stoppelbaard, die skerpskut-offisier, die eerste rob ’n kopskoot van die voorstewe af gee. Robbeskerpskutters gee altyd kopskote sodat die pelse nie beskadig word nie. Ons wou nie robbe skiet slegs om ons jagterslus te bevredig nie, maar om kos bymekaar te maak vir die poolhonde wat ons slee op die vasteland moes trek.
Almal het na daardie kant van die boot gestorm want min van ons het al voorheen ’n rob gesien, wat nog te sê ’n Antarktiese rob!
Almal se aandag was getrek deur die helderrooi bloedstreep op die blinkwit sneeu - soos ’n rooi sloot in die sneeu gebrand.
"Dit is ’n Godsbestiering,” het Kosie gesê.
Ek het vraend na hom gekyk.
"Dit het ons almal se aandag van die somberheid van die oomblik getrek,” het hy gesê, "en die spanning van die afgelope week gebreek.”
Ons uiteenlopende kennis omtrent robbe wat ons die laaste paar dae uit boeke bekom het, het ons na lange beraad en driftige bespreking laat besluit dat dit ’n klein Weddell-rob was. Moontlik het ons hom ook maar met die eerste oogopslag geklassifiseer omdat sy soort net in Antarktiese waters voorkom. Chappie het met die insiggewende inligting gekom dat die groot Weddells nie ver van die ysbankfront gaan nie. Dis net die kleintjies wat so ver weg speel. Hulle dwaal tot aan die rand van die plaatys, en wanneer hulle na twee jaar groot genoeg vir grootmensgeselskap is, keer hulle na hul geboorteland terug om daar langs sy kuste te lewe en om in die winter op die see-ys aan te teel.
Dis ’n donker, blouvaal rob, baie donkerder op die rug as op die sye en pens, ’n Kort snoet met klein tandjies wat amper soos die melktande van ’n kind lyk. Net sy oog- en byttande is sterker ontwikkel om, wanneer die water toegeys is, ’n luggat deur die ys te beitel. Andersins het hy ook nie groot en sterk tande nodig nie, want hy lewe van krill, van die euphausia-familie. Hierdie krill is poterige, rooibruin gediertetjies, sowat twee duim lank, waarvan duisende kort-kort uit die water spring en soos ’n warrelwind daaroor gons. Hulle lyk in liggaamsbou soos die garnale aan die Natalse kus.
Magnar, die vriendelike jong matroos, en sy vriend, Steinar, het rats oOr die kant gespring, die katrolkabel saamgesleep en dit met ’n skuifplankie aan die stertswempote van die rob vasgemaak. Die elektriese katrol het die rob vinnig agterstevoor oor die ys laat gly en oor dolboord gepluk.
Vernuftig en vinnig, binne ’n paar sekondes, het Steinar hom oopgesny, die harslag en binnegoed uitgeskeur en oorboord gegooi en die bloed op die dek met die waterslang afgespoel.
"En dit met kaal hande,” het ons hom bewonder. Ons het nie daaraan gedink dat die rob ’n warmbloedige soogdier is en dat dit in die koue aangenaam is om jou hande tussen sy ingewande te verwarm nie.
Stroke ys het in alle rigtings uitgeskiet, maar gelukkig was die waterbane tussen hulle nog wyd genoeg. Die Polarbjorn het volstoom langs die waterbane geseil, asof hy die ys uitjou. Waar ’n strook ys sy weg versper het, het hy net effens stadiger gegaan, gevoel-voel soos ’n hond wat aan ’n klip ruik, en dan gedoen wat hy wou. Net die dowwe gestamp van die ysterplate teen die ys. lets afwisselends na die eentonigheid van die vorige paar dae toe daar nie eens seesiekte was om jou besig te hou nie.
Ysberge het soos glaskastele op die liglyn getoring. Dit het gelyk of hulle in die pakys vasgeknel was. Regs voor het een sy pieke, met diep valleie tussenin, 300 voet in die lug opgestoot. Kort daarna het ons naby een wat ’n groot skeur feitlik dwarsdeur sy logge liggaam gehad het, verbygeseil. Die kleiner stuk was besig om af te stig of af te kalwe, en na die kalwery sou Ma haar ewewig verloor en met ’n dowwe gerammel bolmakiesie slaan om haar ysige, blinkblou onderwêreld die lug in te stoot.
Hierdie ysberge ontstaan aan die Antarktiese vasteland. Die arms van die inhamme breek af, die gletsers stoot hul tonge die see in en gee geboorte aan plat tafelberge, myle lank en ’n paar myl breed. Die seestrome en die getye vreet die ysberg onegalig aan een of ander kant en onder weg. Eers staan hy skeef soos ’n tafel waarvan die een poot geknak het, en uiteindelik kantel hy om. Sommige van hulle wat op die liglyn lê, was ten spyte van die feit dat hulle omgeslaan het, nog twee tot drie myl lank.
Hulle span hul onderwaterse ses-sewendes in die dieper seestrome en word weswaarts deur die Weddell-see tot naby Suid-Amerika meegevoer. Dan noordwaarts, en na jare kom hulle oos- waarts terug op omtrent die breedtegraad van Bouvet-eiland om daar hul smeltproses voort te sit en te beëindig.
Met hul seile diep in die seestrome gespan, word hulle teen die rigting waarin die pakys beweeg, meegesleur. Agter hulle is oop water of gebreekte pakys wat of gou weer aanmekaar ys of oop bly as genadige gebaar teenoor ’n strompelende boot. Voor hulle uit laat hulle die teenstribbelende pakys opboggel. As ’n boot tussen die twee wedywerende kragte te lande kom, sal hy fyn gedruk word. Daar is egter geen gevaar as die kaptein se oog skerp en nugter is nie.
’n Geelgoue rob het aan bakboord op ’n ysskots gelê en slaap. Stoppelbaard het skaars gekorrel, toe klap die skoot. Net so rustend het die rob bly lê. Weer ’n kopskoot. Magnar en Steinar het hom in ’n kits op die boot gehad en net so gou as die eerste keer sy binnegoed uitgehad en oorboord gegooi.
Die vel met sy dik laag olierige spek het, soos Niklaas sou sê, swaarder as die rob self geweeg. Met ’n paar swaaie van die blink lem het Steinar dit van die karkas afgeslag. Ek sou die spek nooit van die pels afgeskil gekry het as Magnar nie feitlik al die werk gedoen het nie. Toe het ek die vel goed met Johannes se kombuis-sout gepekel, opgerol en vasgebind en op die eilandplatform bo-op die brug in die sneeubries gaan sit.
Die een was ’n klein krapvreter, ook die wit rob van Antarktika genoem. Hy is die geliefkoosde dis van die jagwalvis en is die volopste van al die Antarktiese robsoorte. Hy het klein, gevurkte tande waarvan die buitenste lobbe soos krapknypers na binne gedraai is en waardeur hy plankton en krill uit die water sif. Hy het sy naam van die vorm van sy tande gekry, nie omdat hy krappe vreet nie, want in sy gebied is daar geen krappe nie.
Die snywonde aan die ou groot krapvreterbul wat ons kort daarna geskiet het, het getuig van menige benoude oomblikke en ontkomings uit die kake van die jagwalvis.
Die ysstroke het breër geword en die waterbane smaller en korter.
Die boot moes meermale die ys stormloop. Hy het gestamp, dan weer getru as die ys agter nie reeds weer toegemaak het nie, en dan weer gestorm.
"Hy speel bokrgam met die ys. Hy moet hom net nie bloedneus slaan nie,” het Blackie skaterend opgemerk.
"Ja-nee, ons sal lank op die ys moet ronddrywe voordat iemand ons kan oppik,” het ek gesê.
"Ons drgywe dan mos Argentinië toe, nê, dokkie? Ek was nog nooit daarg nie.”
Dit het gelyk of twee bokramme aan die baklei was. Die boot stamp sy skerp boeg eers skuins teen die ysstrook, dan reguit en dan weer skuins teen die anderkant. Wanneer die strook in lang repe bars en hom deurlaat, het hy sy sin gekry. Anders draai hy verleë om en seil noordwaarts in die rigting van Kaapstad om te probeer om om die digte pakys te kom.
Na al die gebokram het die motore van die boot warm geword. Ons moes toe tussen die ys gaan lê waar die water stil is en die boot nie rol nie, sodat bootwerktuigkundiges en Chris nuwe suierpenne kon insit. Die volgende ses-en-dertig uur het stil verbygegaan; stil na die aanhoudende gedreun van die motore en die gestamp van die boeg teen die ys.
Die son het laat ondergegaan. Deur die nag het dit helder skemer gebly.
Die gesels van die aand het tot laat in die nag gestrek. Bier, whisky, brandewyn en slimpraatjies. Die kommandeur het telkemale ’n heildronk op die kaptein ingestel, en die kaptein het elke keer ernstig manierlik teruggeglimlag. Een staan op en kom na ’n ruk met sterk kerrie-eiers terug. Gelukkig te sterk vir die meeste om te geniet, maar die paar met blikmae het toe soveel meer om te eet. Gert se maag is van die dikste porselein gemaak; die Noorweërs s’n van botter.
Toe die son kort na twee in die oggend onder sy kombers uit verskyn, en een vir een na sy slaapbank gaan of na die kombuis om koffie te soek, het dosyne blikproppies en leë drankbottels die skoon witheid om die boot ontsier. Dit is maar die mens: wat skoon en ongeskonde is, verander hy na die onsierlikheid van sy eie gemaksug. Die voorsmaak was aangenamer en prikkelender as die gevolg. Dik koppe was tot laat die middag te swaar om orent te kom.
Die oggend van sestien Desember het Hannes ’n kort Geloftediens gelei. Almal was daar, buiten Chris, wat na die onafgebroke hulp van ses-en-dertig uur aan die bootwerktuigkundiges, nog geslaap het.
Hannes het gebid dat, soos die gebede van ons voorouers meer as ’n honderd jaar gelede verhoor is, ook ons s’n verhoor moet word waar ons die vreemde invaar. En gee liefde teenoor mekaar, net soos aan hulle wat agtergebly het.
Die kommandeur het gelees: "As ek die liefde nie het nie, is ek ’n klinkende simbaal ... Dit was eenvoudig en indrukwekkend en het ons in stilte laat dink en verlang. Daar het so baie gedurende die afgelope twee weke gebeur, en op die wit vlaktes kon nog so baie wag.
Om drie-uur die middag was die boot in die ys beset. Ons hele klomp het met stokke, koevoete en ysspiese oorboord gespring om die ys weg te breek en te stoot. Daar was ’n wilde geskarrel en gelag terwyl almal oor dolboord terugtuimel en sommige op hul mae beland en soos haastige pikkewyne oor die glibberige dek toboggan ry. Alles moes vinnig gaan, want die boot moes aanhou beweeg voor die ys hom weer kon vaskleef.
Terwyl ons besig was om die boot los te woel, het ’n middeljarige keiserpikkewyn kom kyk waaroor al die lawaai en gewerskaf gaan.
Min kon hy vooraf geweet het dat hy so skielik al die aandag sou geniet. Ons het kring om horn getrek en die geklik van kameras het soos die geruis van ’n haelbui op hom gereën. Dit was onmoontlik om van hom alleen ’n foto te kry. Elke keer was daar ook een van die langer tweebenige gediertes met kamera voor die oog in die gesigsveld.
Baie gou het hy nie meer behae in die oordrewe belangstelling geskep nie. Met sy poot- en pensbewegings het hy probeer wegtrippel en seil om die naaste watergat te haal. Net soos ons byna twee weke gelede die dood bo die hoë golwe verkies het, het hy eerder die kake van die jagterrob verkies as hierdie fotografiese uitbarsting.
Maar toe kom die beste duikskoot wat ’n mens ooit, seLfs op ’n rugby veld, kon belewe. Die admiraal het sy statigheid links laat lê, en toe ek weer gewaar, skuiwe hy so van regs agter af op sy maag verby. ’n Oomblik lank het dit soos ’n tweede pikkewyn gelyk wat toboggan ry. Hy was vasberade om die pikkewyn vas te vat, maar hy het nie besef hoe glad so ’n nat ding kan wees nie. Soos ’n oester het die pikkewyn uit sy omhelsing geglip. Uit die hoogte het hy op die admiraal neergesien, erg onthuts oor die ongewone behandeling en hardhandige betasting. Toe het Blackie ’n keer dieselfde bloutjie geloop en die pikkewyn is half in vrede gelaat. Maar toe hy so ampertjies oor die ysrand gly, het die admiraal ’n oorlogskreet soos ’n Rooihuid gegee: "I must have that penguin!”
Onbeplande, dog vasberade aanvalspogings het gevolg: gestrompel, geval en geduik agter die pikkewyn aan. Met ’n duik asof hy die klankgrens wou breek, het die admiraal weer ’n keer deur die lug geskiet, op die pikkewyn geval en hom met ’n onontkombare greep vasgevat.
Blackie het hom aan die een vlerk beetgepak, die admiraal aan die ander, en Niklaas het die snawel met sy dubbele paar handskoene vasgevat sodat hy nie kon aanhou om sy geniepsige pikke links en regs uit te deel nie. Sukkelend en steunend is die glibberige dier op die boot gelig.
Ten spyte van die pikkewyn-insident was die boot na sowat ’n uur se gestoot en gekap, en met aanmoediging en kritiek van die wat nie afgeklim het nie, los.
Almal het probeer om met die pikkewyn maats te maak, maar voorlopig wou hy niks daarvan weet nie. Blackie het hom tot laat daardie aand geselskap gehou, en hy het later toegelaat dat hy sy kop streel en hom aan die vlerk neem en dan het hy soos ’n kind wat jy oor die straat lei, saamgestap asof jy nie langs hom is nie. Die admiraal het hom "Pappy” gedoop.
Met groot genot en voldoening het die admiraal in die bed gekruip om te droom van ’n opgestopte pikkewyn wat hy voor groot gehore in die Verenigde State gaan laat optree. Min het hy geweet wat die huidige Pappy se planne was.
Sy selfvergenoegdheid was van korte duur.
Van opgewondenheid kon hy nie slaap nie, en baie vroeg die volgende oggend het hy op die dek verskyn om na die welstand van sy Pappy te verneem. Maar daar was geen Pappy nie. Net die wit blertse waar hy gestap het asof hy onbehendig tennisbaanlyne op die dek wou trek. Die een matroos het gesê hy het oorboord gespring. Maar ’n pikkewyn kan nie spring nie. ’n Ander het gesê hy het oorboord gevlieg. Maar ’n pikkewyn kan nie vlieg nie.
Die matrose het nie daarvan gehou om heeldag met ’n lap agter die pikkewyn aan te stap en wit smeersels op die dek af te vee nie. Die admiraal het onverwyld tot die logiese gevolgtrekking gekom dat sy toekomsplanne gesaboteer is. Hy was briesend.
Hy het my in die eetkamer kom opsoek en ek het hom bekaf in die halfskemer van die gangetjie sien aankom. Net toe hy sy lot wou bekla, het hy met een voet in ’n oop varswater-mangat getrap en halfmas ingetuimel. Dit was nog vurige kole op sy hoof. Ek het my lag vir die komiese, dog patetiese situasie gesluk, en soveel te meer nog toe die bleek gesig uiteindelik weer orent kom en sê: "I feel so mad I can die. You know a sailor is a born liar. Imagine first wanting me to believe that a penguin is a jumping bean, and then assuring me it is a ladybird. In Washington, D.C., they are neither . . .”
Ten spyte van ’n goeie vassit in die middag, het ons op Geloftedag 80 seemyle gevaar en om middernag was ons op 66 grade 30 minute suid en 6 grade 43 minute wes. Die vassit was nou al ’n genot. Dit het geleentheid verskaf vir oefening vir die verkrampte spiere wat in die beknoptheid van die boot nie oefening kon kry nie. Die middag met die terugspring van die ys af oor die kant van die boot het Gawie ’n vlugduik uitgevoer en plat op sy maag oor die dek getoboggan. En so ’n dek kan so glad soos ’n skaatsbaan wees. Die sneeu sif feitlik gedurig saggies op hom neer en vorm op die swart planke ’n dun yslaag.
Die temperatuur het ons met minus 1.4 grade Celsius nog goed behandel. Die water was dieselfde temperatuur en het dus nog nie tussen die stukke pakys gevries nie. Soutwater vries eers by minus 1.8 grade Celsius,
Die daaropvolgende dae het die admiraal baie lewensmoeg gelyk. Hy het niks geëet nie en met ’n lang gesig net stil voor hom gesit en kyk - of doelloos rondgedwaal. Hy het oor Pappy getreur.
Die pakys het dikker en dikker geword en die oopwaterbaan minder en minder. Die hele wêreld was een groot ysvlakte. Vassit was aan die orde van die dag en jy het groter bewondering vir die ysbeertjie gekry wat so moedig sy wilskrag teen die natuurkragte gemeet het.
Baie selde het ’n waterbaan nou nog verskyn, en dan het dit maar baie gehawend daar uitgesien. Dit het net die boot in dikker ys ingelei. Die boot was verplig om om te draai en ’n makliker pad te soek. Hy het noordwes, weg van ons bestemming gevaar, en algaande het ons 42 myl verloor. Dit het die seereis nog langer gemaak, want die een of ander tyd sou ons weer daardie verlies moes inhaal. Niemand het gekla nie. Almal het gelewe vir die genietinge van die oomblik, en die dag van more was iets van die verlede.
Chappie en Kosie het vir hulle ’n skryftafeltjie van appelkissies in hul kajuit gemaak. Toe Tallie hulle vra wat hul bedoeling is, het die gemoedelike Chappie geantwoord: "Ons rig ons in om soos Shackleton van ouds op die boot te oorwinter. Ons gaan lank hier sit.” En toe hy merk dat Tallie se gesig sak, voeg hy by: "Dit was ys soos hierdie waarin Shackleton se boot papgedruk is.”
Tallie se ken het verder gesak, en hy het amper daaroor gestruikel toe hy omdraai om na ’n minder neerdrukkende oord te stap. As jy wou weet hoe dik die ys was, was dit nie nodig om na buite te gaan nie. Jy kon net na sy gesig kyk om die dikte van die ys te bepaal. Dit was ’n sensitiewe ysmeter.
Toe ons twee dae later, vroeg in die oggend, op die dek kom, het daar ’n nuwe Pappy rondgestap. Hy was baie makker en frisser as die eerste, maklik vier voet hoog en sou die skaal tot by sewentig pond trek. Miskien was hy ’n dame. In lewe is dit onmoontlik om die twee geslagte van mekaar te onderskei. Hy het nie die ongepoetse manier gehad om te pik net soos jy dink dat jy sy vertroue verower het nie. Hy het hom smalend verwerdig om aan die vlerk gelei te word, jou dan stip in die oë gekyk wanneer jy met hom praat - net asof hy alles kon verstaan. Dan het hy weer afgekyk en sy kop geskud asof hy diepe meegevoel met jou onverskrokke avontuurgekheid gehad het. Die geel skynsel op sy bors het vars en helder in die moreson geblink en die kanariegeel wat na sy ore strek, het soos ’n stywe Victoriaanse boordjie hom sy nek reguit en styf laat hou. Sy swart manel het soos satyn geglinster.
Hy was baie nuuskierig en het van lawaai, gesels en aandag gehou. Aan die begin miskien nie so gretig nie, maar gretiger toe hy eers besef dat hierdie nuwe indringers nie juis slegte bedoelings het nie. Hy het so nou en dan teen die twee nuwe krapvreterrobbe wat gedurende die nag geskiet is, gaan leun. In daardie pouslike houding het hy ons dan soos ’n hoogwaardige uit die hoogte betrag.
Hy is deur die matrose as soenoffer aan die admiraal van die ys afgehaal. Die kommandeur wat daardie tyd op die brug diens gedoen het, en seker maar die bevel daarvoor gegee het, het die admiraal kort na middernag gaan wakker maak om hom van sy nuwe Pappy te vertel. Hoewel dit so ’n ongoddelike tyd van die more was, het hy glad nie omgegee nie. Sy gesig was van kant tot wal die ene glimlag, en hy het hom dadelik "Grand Pappy” gedoop. Daardie dag het hy omtrent honderd foto’s van sy nuwe vondeling geneem, en sonder om te eet, by hom gesit om te verseker dat hy nie springboontjienukke ontwikkel nie.
Teen die middag het Grand Pappy as ’n toneelspeler ontpop. Hy het dit geniet om met ’n bivakmus as romp, ’n sneeubril om sy nek en ’n sneeuhandskoen aan elke vlerk te paradeer. En wanneer jy met jou rug na hom gestaan het, het hy skelmpies om jou gestap en jou ’n tikkie op jou maag gegee om jou aandag te trek. By tye het hy ook ingestem om met ’n leë sigaretdosie, halfpad in sy romp gesteek, as reklameklong vir ’n sigaretmaatskappy op te tree. Dosyne foto’s en voete rolprentfilm is van hom geneem en hy het die aandag terdeë geniet.
Die vassittery het erger geword. Gereelder en elke slag langer. Die balkies uit Noorweë wat vir die ysstotery gebruik is, het almal gebreek. Ons het ’n paar bondels geteerde bloekompaaltjies uit die ruim gehaal om hulle te vervang.
Selfs lang probeer het nie gehelp om die boot los te kry nie. Daarom het ons op die boot teruggeklim, gesit en koffie drink, gelees of niks gedoen nie. Die enigste uitweg was om dan jou geduld op lyn te slaan en vir die gety en die wind te wag om die werk te doen. Die kaptein het deurgaans op die brug gebly en kort-kort met ’n lang touleer na die kraaines geklim om die terrein te bespied. Wanneer sy arendsoog die geringste barsie in die pakys bespeur, het die motore skielik gedreun en dan het die boeg in daardie skrefie ingebeur en was ons weer op pad.
Op 66 grade 40 minute suid het ons die Antarktiese Sirkel oorgevaar. Die dikker pakys, wat onder groot druk was, en hompe bo die sneeuvlak uitgedruk het, het soos ’n miershoopvlakte gelyk. Die wit, onegalige oneindigheid het tot wie weet waar gestrek. As Langenhoven op die Vrystaatse vlaktes twee weke in die toekoms kon sien, kon hy hier maklik sy insig verdubbel.
Daar was meer vassit as beweging. Tru en stoot, bokram in hierdie en daardie rigting, totdat ys breek of die boot omdraai en weer noordwes vaar met die hoop om later weer sy boeg in die rigting van ons bestemming te rig. Ons sou graag suidwes wou stuur, want op 12 grade wes was daar gewoonlik ’n beter deurkomkans. Vir die klein bootjies is dit na die ooste haas onmoontlik om deur te kom, want daar is die ys baie dikker en meer saamgepers.
Vervolg...