Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dwase leiers probeer dikwels die ware toedrag van sake met onsinnige argumente en niksseggende redenasies om te keer. Benewens hul verstommende onbekookte optredes, wissel baie van hul uitsprake van lagwekkende onkunde tot weersinswekkende dreigemente.
WÊRELDOORLOG III (8)
DIE TEKENS VAN DIE NADERENDE SLAG VAN ARMAGEDDON
John White
Lees reeks by WÊRELDOORLOG III
DIE EKONOMIESE TEKENS
Jesus het nie gesê een van die tekens van sy wederkoms en van die einde van die tyd sal 'n universele hongersnood wees nie; Wat Hy wel gesê het, is dat daar "hongersnood" op "verskillende plekke" sal wees (Mattheus 24:7). Verder aan in dieselfde Skrifgedeelte lees ons Hy het gesê elders in die wêreld sal daar hele volke of groepe volke wees wat sal "eet en drink" asof daar geen môre gaan wees nie. Hulle sal inderdaad die standpunt inneem dat aangesien "my heer talm om te kom" hulle maar net sowel "saam met die dronkaards kan begin eet en drink", (Mattheus 24:48,49).'
Die feit dat hele kulture, voor Jesus se terugkeer na die aarde, vasgevang sal word in 'n kombinasie van 'n obsessie met rykdom, 'n plesiermalheid en 'n gebrek aan onthouding wat sal uitloop op vraatsug en dronkenskap, word in verskeie Skrifgedeeltes genoem.
Paulus het aan Timotheus geskryf:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God" (2 Timotheus 3:1-- 4).
Dit sal 'n tyd wees waarin daar baie mense met baie geld sal wees — tydelik — maar omdat apokaliptiese gebeure om hulle plaasvind en hulle hul bekommer oor die bedreiging van maatskaplike ineenstorting sal hulle hul aan sterk drank vergryp.
In sy laaste verskyning op televisie het wyle Arnold Toynbee gesê dat hierdie dinge reeds besig is om te gebeur: "Mense verwag hulle gaan elke jaar ryker en ryker word, maar hulle gaan nie. Hoe sal hulle dit aanvaar?" Op een manier. Hulle sal saam "met die dronkaards begin eet en drink".
Die Amerikaners het in 1975 sowat 21 miljoen liter alkoholiese drank verbruik. Dit was drie persent meer as die vorige jaar. Alkoholisme, waaraan tien miljoen Amerikaners reeds is die vroeë sewentigerjare gely het, is verantwoordelik vir 75 persent van alle egskeidings, 60 persent van die noodlottige motorongelukke, 50 persent van die moorde en 'n derde van alle selfmoorde. Die Amerikaanse Instituut vir Alkoholmisbruik en Alkoholisme het bereken dat alkoholisme die Amerikaners toe reeds 35 biljoen rand per jaar gekos het. Dit was genoeg geld om al die hongeriges dwarsoor die wêreld te voed. Wat veral baie tragies is, is dat jong mense tans soos nog nooit tevore nie meedoen. Daar is in 1976 bereken dat daar toe reeds sowat 'n half miljoen alkoholiste was wat nog blote kinders is. Navorsing het getoon dat sowat 28 persent van alle leerlinge in die senior klasse van hoërskole 'n alkoholprobleem gehad het – ons kan aanneem dat die persentasie vandag baie hoër is.
Dr. George Strachan, wie se sewentienjarige seun dood is toe hy 'n motor onder die invloed van drank bestuur het, is daarvan oortuig dat daar in Kanada miljoene onbehandelde alkoholiste is. Reeds in die begin van die jare sewentig het noodlottige motorongelukke deur jong mense tussen die ouderdomme 18 en 21 wat onder die invloed van drank was, met 350 persent toegeneem.
Amerika is egter nie die enigste land ter wêreld waar die probleem van drankmisbruik hoofbrekens veroorsaak nie. In Frankryk is die helfte van die pasiënte in hospitale daar vanweë drankprobleme. In Brittanje het "dokters 'n baie ernstige drankprobleem", tot soveel as drie keer die nasionale gemiddelde, beweer dr, Julius Merry, direkteur van alkoholeenheid van die West Park-hospitaal, net buite Londen. In die U.S. News and World Report is in 1976 berig die probleem van dronkenskap was in Rusland van die ergste in die wêreld. Dwarsoor die wêreld is dit net hartsiektes en kanker wat meer mense se dood veroorsaak as alkohol.
Daar is vandag 'n Babiloniese bestaan (soos Max Lerner die Noord-Amerikaanse hebsug beskryf het) wat heeltemal afsonderlik is van 'n Babiloniese herlewing. Jean Mayer, 'n voedingkundige van die Universiteit van Harvard, het daarop gewys dat as al die graan wat vandag gebruik word om alkoholiese dranke in Noord-Amerika mee te vervaardig aan die honger menigtes van die wêreld uitgedeel word, die probleem van wêreldwye hongersnood opgelos kan word. Om die waarheid te sê, as die 12 miljoen ton graan wat destyds al in NoordAmerika gebruik is om mee alkoholiese drank te maak, gelykop onder die toe 30 miljoen mense wat jaarliks van die honger omgekom het, verdeel sou word, sou hulle elkeen byna 1,5 kg graan per dag gehad het om te eet. Dit sou meer as genoeg wees om hulle aan die lewe te hou.
Maar hierdie soort mededeelsaamheid gaan nie toegepas word totdat Christus sy herverskyning maak nie. Om die waarheid te sê, die konflik tussen die ryk en arm lande van die wêreld gaan nog verskerp. "Daar is net een soort mens", het die skrywer Oscar Wilde gesê, "wat meer oor geld dink as die rykes, en dit is die armes. Die armes dink aan niks anders nie". Intussen word die arm lande van die wêreld al armer en armer.
Teen die helfte van 1976 was elke Amerikaner gemiddeld meer as R20 000 werd. In Kanada het persoonlike inkomstes tussen 1950 en 1975 met 500 persent toegeneem.
Terwyl hulle hierdie geweldige rykdomme bymekaar gemaak het, het Noord-Amerikaners ook moeg geword daarvoor om aalmoese uit te deel aan die behoeftiges. Noord-Amerikaners is verward en kwaad dat Arabiese kapitaliste hulle skielik verbygesteek het in die wedloop na groter rykdom, dog wat hulle arm bure betref, sê Time, is die nuwe ryk Midde-Oosterse olie-uitvoerders afwesig in die geledere van die mededeelsames. As die Kommuniste nog hoegenaam iets gee, doen hulle dit altyd met die oog op politieke gewin. Dit is dus beswaarlik verbasend dat 'n mens in tydskrifte, koerante, oor die beeldradio en die radio asook uit gesprekke met die wetgewers, steeds weer dieselfde boodskap kry, dat afgesien van die mense wat hulle rykdom met die armes deel uit 'n diepe barmhartigheid, die algemene gevoel vandag is soos iemand dit gestel het, "ons is sat daarvoor om maar net te gee aan 'n ondankbare wêreld. Ons het 'n hele geslag lank met 'n oop hand uitgedeel en het net stank vir dank gekry". Internasionale welsynsorganisasies maak deesdae verklarings aan koerante wat aanleiding gee tot die soort opskrif wat in die Toronto Star verskyn het: "Kanadese reageer nie".
In 1976 is daar in 'n berig in die Billings Gazette in Montana geskryf: "Amerikaners het hulself altyd as vrygewige mense beskou. Ons was nog altyd by magte om iets te doen as mense in nood by ons om hulp aangeklop het. Nou krimp ons inmekaar en twis onderling elke keer as die minderbevoorregtes ons om hulp vra". Die gewone Amerikaner is beslis moeg daarvoor om die spens, die klerekas, die behuisingsagent en die polisieman vir die res van die wêreld te wees. En dis nie net die Amerikaners wat hul doof begin hou vir die sukkelaars se pleidooi om voedsel nie. Die VVO het onlangs belangrike konferensies gereël ; een in Boekarest wat gehandel het oor bevolkingsbeheer, een in Rome oor voedselvoorsiening en een in Vancouver oor behuising. Die indruk wat die beslissings by al drie hierdie konferensies gelaat het, was dat dit van toe af 'n saak is van die mens se onmenslikheid teenoor die mens, dat dit elke man vir homself is. Miskien is hierdie dinge nooit heeltemal so direk gesê nie, maar dit is waarop dit neergekom het.
Intussen maak ons groot rykdomme bymekaar, ons leef weelderig en word vet. Dis ironies dat ons probeer om op te hou eet, terwyl 'n derde van die wêreld se inwoners nie eens die kans kry om te begin nie. Jesus het gesê dat baie ten tye van sy wederkoms besig sal wees nie net om te "drink" nie, maar ook om te "eet".
Julle het skatte vergader in die laaste dae" (Jakobus 5:1 — 3).
Meer aandag word deesdae aan die finansiële toestand van die Amerikaanse en Kanadese ekonomie gegee as wat die geval vir baie jare was. Miljoene jong mense wat 'n dekade gelede universiteit toe sou gegaan het; gaan deesdae liewer werk. Volgens 'n artikel wat in die New York Times verskyn het, het diegene wat wel universiteite toe gegaan het, van vakke soos biologie, sosiologie en sielkunde oorgeslaan na ekonomie, alhoewel, soos een Harvardse student gekla het: "Ek het die vak gehaat; ek het elke aand gehuil". Maar omdat daar die vrees bestaan vir resessie, inflasie en werkloosheid en omdat mense bang is dat 'n vernietigende depressie weer sy kop kan uitsteek, besef jongmense in die algemeen dat die gemeenskap as geheel hom steeds meer afkeer van 'n soort welsynsbestaan. Anders as hulle hippievoorgangers besef hulle dat 'n groot persentasie van die inwoners van New York van welsyn afhanklik is en dat die toestand nie so kan voortduur nie. Hulle besef dat die Amerikaanse ekonomie 'n openbare en private skuldlas dra van triljoene rande.
Hulle is ook besonder sterk gekant teen die stelsel wat toelaat dat Amerikaanse miljoeners geen federale belasting betaal nie, aldus Charles Vanik, gewese lid van die Amerikaanse kongres. Die aspostel Paulus het gewaarsku dat daar in die laaste dae "volop "verraaiers” sal wees (2 TimOtheiis 3:1,4). Hy het ook gewaarsku dat daar "kwaadsprekers" sal wees (vers 3). Industry Week beweer dat nywerhede, weens die oneerlikheid van werknemers wat hulle beloftes nie nakom nie, jaarliks tussen 10 en 15 biljoen rand verloor, afhangende daarvan wie die valshede pleeg. Om die "firma te kul" is die gemeenskaplike band tussen kantoorwerkers en arbeiders. Sewe en tagtig persent van die misdade wat werknemers begaan, staan met diefstal in verband. Die meeste van die ander misdade is direkte sabotasie. Hierdie feite het aanleiding daartoe gegee dat die Amerikaners na raming hulle besteding aan elektroniese diefalarms van sowat 500 miljoen rand in 1976 verhoog het tot sowat een biljoen in 1984. 'n Mens kan nie anders as om hierdie situasie te koppel aan die voorspelling van die apostel Petrus nie: "... en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit jou trek ". (2 Petrus 2:3).
Ons raak al hoe meer bekommerd oor onverantwoordelikheid. Ons het gelees dat stakings en sloerstakings in die afgelope jare met groot persentasies toegeneem het. Sommige van hierdie stakings was deur onderwysers, dokters en ander professionele mense, mense uit beroepe waarin stakings voorheen nooit voorgekom het nie.
Ondanks die siektes en probleme van die wêreldekonomie, of miskien juis as gevolg daarvan, begin mense deesdae al hoe meer dink en praat in die rigting van unifikasie of 'n sentrale beheerliggaam op gebied van die ekonomie.
Die mees dramatiese ontwikkeling wat na die Tweede Wêreldoorlog op ekonomiese gebied plaasgevind het (en wat baie maklik tot die Derde Wêreldoorlog kan lei) is die totstandkoming van die Europese Gemeenskapsmark. Hierdie liggaam is deur talle vertolkers van die Bybel gesien as 'n voorloper van die opkomende koninkryk van die Antichris. Dit is 'n mening wat onder meer ook deel was van die boodskap van die rolprent The Omen.
Uiteindelik sal die Antichris verrys en sy pogings tot wêreldheerskappy van stapel stuur. Hy sal op ekonomiese gebied 'n universele mandaat of diktatorskap verkry wat weer alle handel deur 'n sentrale rekenaar sal beheer. "En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van die mens; en sy getal is seshonderd ses en sestig" (Openbaring 13:16 — 18).
Ek dink enige redelike mens sal toegee dat geen finansiële stelsel ter wêreld vandag vir die hele wêreld gangbaar is nie. Gewese Kanadese premier, Pierre Trudeau, het die kwaaiste koerantaanval van sy loopbaan op die lyf geloop toe hy twyfel uitgespreek het of die stelsel van vrye ondernerning ooit regtig sal kan werk. Die ironie van die saak is dat die stelsel inderdaad nie geskik is om in die totale behoeftes van die mens te voorsien nie. Arnold Toynbee van die Universiteit van Cambridge het voor sy dood gesê hy is oortuig van die naderende afskaffing van "die stelsel van vrye onderneming op ekonomiese gebied. Die ekonomie self sal dit in boeie slaan". Die boeie sal aangesit word deur 'n diktator wat tans reeds iewers in die politieke skaduwees skuil. Die Antichris sal probeer om 'n diktatoriale ekonomiese stelsel op die hele mensdom af te dwing. Dit sal nie lank werk nie! Dit sal lei tot die Derde Wêreldoorlog. Dog die terugkerende Christus sal 'n regverdige en voldoende ekonomie skep wat die eerste een sal wees wat sedert die val van die mens in die Paradys sal werk. Sedert die sondeval was die mens nog nooit in staat om Kain se pynlike vraag, "Is ek my broer se hoeder?" te beantwoord nie.
Vervolg: Die sosiologiese tekens...